Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: November 2018: Dorp/Stad Projek Uitslae en Kommentaar

Deur Inkmoderator
Datum gepubliseer: 17 Desember 2018 Aantal woorde: 1781 337 Kere gelees 3

November Projek: Stede / Dorpies
GEDIGTE WENNERS:
GOUD:

(1) Strandfontein: Carma Shaw
(2) Sag soen die Nylstroomson: Anzé Bezuidenhout
(3) Philidelhia: Carma Shaw

SILWER:

(1) Soektog: Caren Kearley
(2) Wanneer dit reën in Parys: Caren Kearley
(3) Riebeek-Wes: Caren Kearley

BRONS:

(1) Moria: Charleine Collins
(2) Woordeloos Verloof: Marieta McGrath
(3) Ontvlugting: See-Jay-El

GEDIGTE KOMMENTAAR:
1. Woordeloos verloof: Marieta McGrath
Die kere, waar ek stom gedwing is deur enige gedig, kan ek op twee hande tel. Dit gebeur bitter selde dat ek as moderator adjektief-soekend is na die lees van ‘n gedig. Ek is gaande hieroor. Baie geluk met ‘n onoortroffe vers.
2. Riebeek-Wes: Karen Kearly
Ek hou van hoe jy die omgewing as metfoor gebruik om introspektief om te gaan in die vers. Die inhoud in nadenkend. Daar is ‘n paar struktuur veranderinge wat ek sou aanbeveel. Die aandagstreep aan die einde van die eerste strofe is funksioneel, want dit is belangrik dat die leser daar asem skep. Dieselfde is nie waar vir die gebruik daarvan in die tweede strofe nie. Sou jy wou hê die leser moet rus, of sou jy eerder aandag wil vestig op die laaste sin in die strofe? Sou die tweede waar wees, sal ‘n dubbelpunt [:] beter werk. Die woord “grappies” in die derde strofe pla my. Soek ‘n sinoniem vir ligtelikheid of iets dergliks. Die res van die vers (en die geheel) maak sin en ek verstaan die strekiking ten volle. Dankie vir jou deelname.
3. Die onwerklike mooi: Palet
Alhoewel jy oor ‘n streek dig en nie ‘n dorp nie, het ek jou nie gepenaliseer nie. Die Weskus-streek is en sal altyd ‘n besonderse plek wees. Die konstruksie van jou vers is myns insiens bietjie lomp. Ek kan nie regtig my vinger daarop sit nie, maar die vers lees sonder ‘n nodige vloei. Ek dink dit onderliggende idee van eergewing is mooi, tog kyk ek na die tweede sin en dink: sou Kunstenaar met ‘n hoofletter nie voldoende daar gewees het sonder om na “God” te verwys nie? Die “oorvertelling”, en soos sekere skole van gedagte daarna verwys: “Wys meer en vertel minder” is soms meer hinderlik as ‘n bydrae tot jou gedig. Jou vers het baie potensiaal en kan ontwikkel word tot ‘n skittering.
4. Thaba: Paula Paxton
Let daarop dat hoofletters nie ‘n komma [,] in digkuns volg nie. Waak teen lang sinne wat die ritme in jou vers kan hinder. Ek gee ‘n voorbeeld:
“Met heimwee dink ek terug aan ‘n besondere plek,
waar berge troon en ‘n dorpie bedek. [hoog – oorbodig]
In die bosveld, waar natuur jou omring [‘n Plekkie – oorbodig]
en sonbesies die hitte besing. [Die lof – oorbodig / hitte eerder as temparatuur]
Waar ‘n briessie kortstondig verskyning maak [kouewind – oorbodig]
omdat hitte oorheersend teen die aardkors wraak. [homself – oorbodig]
Die reuk van bosveld wat deur al jou sintuie trek,
oor ‘n lappie aarde wat voor mens uitstrek.”
Bogenoemde dien slegs as voorstelle en jy hoef dit geensins te gebruik nie. Sien jy egter hoe die ritme verbeter as die sinne affe geknip word?
(5) Stof van die heimat: Marieta McGrath
Die beelde hierin is lieflik. Die woord “sportverein” sl nie vir almal bekend wees nie, aangesien dit nie gereeld in Afrikaans gebruik word nie. Ter wille van duidelikheid noem ek net hier dit verwys na ‘n “sportsklub”.
Ek hou van die ontwikkeling in die vers. Mooi en die slot is treffend.
(6) Flikkerende liggies: Palet
Ek hou werklik van die volta aan die einde van jou vers. Dit is speels, komies en onverwags. Dit is mooi ontwikkel en die vers-idee is briljant. Dankie vir jou deelname.
(7) Strandfontein: Carma Shaw
Ek hou van die afwisselende rympatroon wat homself in alternatiewe strofes herhaal. Die vers is volgepak met sintuiglike prikkeling en die konstruksie is ongelooflik. Die gedig beskik oor ‘n heerlike toon en ritme en daarom lees hy heerlik. Welgedaan met ‘n uitsonderlike mooi vers. Dankie vir jou deelname.
(8) Sag soen die Nylstroomson: Anzé Bezuidenhout
Die inhoud is keurig, ritmies en heerlik. Dit prikkel die sintuiglike en vertel in besonder hoe natuurskoon dit is. ‘n Pragtige vers. Dankie vir jou deelname.
(9) Jy moet eintlik lief wees vir niks: Palet
Ek verstaan nie hoe die titel van jou gedig en die inhoud met mekaar inverband gebring word nie. Die gedig is effe lomp en ek vind die boodskap daarin verwarrend.
(10) Stilte in Helenabaai: Téarlach
Aangename gedig met ‘n gekonstrueerde rympatroon. Dankie vir jou deelname.
(11) Rondom Graaff-Reinet is berge: Charlene Collins
Ek vind die gedig so effe hakerig en sonder vloei op plekke. Dit is op plekke té kripties. Ek ervaar hoe jy die omgewing wil beskryf, maar soms is minder meer. Ek voel wel dat die gedig genoegsame potensiaal het om mooi ontwikkel te word. Baie dankie vir jou deelname.
(12) ‘n Stukkie Afrika: See-Jay-El
Die inhoud van jou gedig is ongelooflik sintuiglik, en dit is heerlik. Daar is ‘n paar gebruike wat ek wil aanspreek. By die gebruik van die ellips moet die digter versigtig omgaan, want, dit behoort altyd funksioneel te wees. Wat is die doel van ‘n ellips […]? Dit skep tyd of dit laat die geleentheid vir self-interpretasie deur die leser. Dit kan en mag nooit gebruik word vir ‘n pouse of ruspose soos dit by die [;] en die [,] die gebruik is nie. Let daarop. Verder, die gebruik van aksent (hetsy akuut of gravis) moet jy let dat die korrekte vokaal geaksentueer word. Miskien kan jy die gedig effe redigeer en sien of my raad hulpsaam is. Dankie vir jou deelname.
(13) Blarney (Ierland): Lynne Lexow
Baie interessante gedig waaruit ek baie geleer het. Dit is ‘n mite waarvan ek nie geweet het nie. Jou gedig lees en leer heerlik. Baie dankie vir jou deelname.
(14) Kolmanskop in die woestyngebied: Charleine Collins
Ek hou van die storie-toon wat die gedig aanneem. Ek wonder egter of die sinne nie meer kompak en of die gedig in geheel nie meer woordekonomies kon wees nie? Ek het al voorheen ook ‘n gedig oor Kolmanskop gelees (en kan myself nie herinner deur die wie dit geskryf was nie), so dit was heerlik om weer oor hierdie “verwaaide” plek te lees. Baie danki vir jou deelname.
(15) Somerset Wes – Innie Kaap: Ida le Roux
Ek hou van die speelse manier waarop die gedig voorgehou is. Die afrikaapse dialek klink darem altyd heerlik op die oor. Let daarop dat sinne in ‘n nuwe lyn nie met hoofletters moet begin alvorens dit nie deur ‘n leesteken voorafgegaan is nie. Heerlike vers. Dankie vir jou deelname.
(16) Die dorp Carnarvon: Eleen v Deventer Vorster
Kort en kragtige vers. Drie dingetjies:
1. Hoofletters in verse volg slegs ‘n voorafgaande leesteken;
2. Die kappie op ê in wêreld op die eerste “e”;
3. Karoo in daardie konteks met ‘n hoofletter.
Dankie vir ‘n mooi vers.
(17) Brakpan, my plek: Papillon
Die voortdurende gebruik van hoofletters by die aanvang van nuwe sinne is taboe. Ek dink dit is ‘n eerlike gedig wat effe aan ‘n komiese limiriek laat dink. Dit is aards en eerlik om die minste daarvan te sê. Dankie vir jou deelname.
(18) Soektog: Caren Kearley
Ek is altyd stom by die gedagte dat ‘n digter kwesbaar eerlik kan omgaan met ‘n gedagte of idee, en ten spyte daarvan dat dit nie noodwendig op die skrywer self betrekking het nie, word dit tog deel van ‘n eie psige en soeke en ten einde ontdek die skrywer dat hy/sy tog maar eintlik ingesleep word by voltrekking daarvan. Jou gedig is werklik rou-eerlik en dit maak dit besonders. Baie dankie vir jou deelname.
(19) Moria: Charleine Collins
Dit is een van die treffendste gedigte wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die eerlike menslikheid, die aardse aanslag en die heerlike skryftrant maak dit ‘n besonderse gedig. Die vers eindig op ‘n hoogtepunt. Ek is werklik hierdeur beïndruk.
(20) Plek van die verlore bok-ooi – ‘n halfedelsteen: Charleine Collins
Pragtige aardse en menslike “verhaal” verweef in ‘n aanloklike vers. Dit lees heerlik omdat dit eerlik geskryf is. Dit is nogal vir my die geheim van suksesvolle versbou; eerlikheid. Baie dankie vir jou deelname. Aangename vers.
(21) Wanneer dit reën in Parys: Caren Kearley
‘n Lieflike “liefdes-ode” teen die agterdoek van Parys. Heerlike sensuele vers wat lekker ritmies lees. Dankie vir jou deelname.
(22) Ontvlugting: See-Jay-El
Ek dink dit gedig eindig treffend in die stem van Edith: “Geen berou of spyt” wat eintlik ‘n lewensfolisofie behoort te wees. Jou vers is sintuiglik en ritmies. Dankie vir jou deelname.
(23) Philidelphia: Carma Shaw
Besonders, beskrywend, sintuiglik en heerlik ritmies. Ek volstaan. Dankie vir jou deelname.
(24) Herinneringe oor Pofadder: Cornien Naude
Ek voel asof ek ofadder ken na die vers. Aards, menslik, beskrywend en lieflik. Baie dankie vir jou deelname.

Neem kennis skrywers; persoonlike kommentaar op verhale ens. stuur ek direk na julle inboks. Kyk gerus uit daarvoor. Dit maak dit effe makliker om verder daaroor te gesels. IM.

VERHALE WENNERS:

(1) Tant Kotie van Koffiekan: Lynne Lexow
(2) Plastiekwoorde: Ronel Janse van Vuuren
(3) Liewe Antie Koot: Martha Poller

GORREL WENNERS:

(1) Ano: Skouerhoogte tammeletjie
(2) Palet: Die onvoltooide vrede

VERHALE EN GORREL KOMMENTARE
(1) Liewe Antie Koot: Martha Poller
Die storie is briefstyl is heerlik en aards.  Ek sou voorstel dat “Antie” nie so gereeld gebruik word nie want dit kan nogal swaar op die oor word.  Ek neem egter in ag dat die vorige generasies nié sommer ge-jy en ge-jou het nie en daarom die herhaling.  Vir ‘n geskrewe storie is dit egter beter om eerder minder as meer herhaling te gebruik.  Onthou van die funksie van aksente op sekere vokale wat nogal baie kan help met die toon van sinne.  Die storie is heerlik om te lees en ek het dit baie geniet.  Dankie vir jou deelname.
(2) Gatiep se brandewyn: Palet
Let daarop om jou sinne nie té lank te skryf nie.  Maak gebruik van leestekens om die leser die geleentheid te gee om ook te rus.  Met lang sinne loop mens die gevaar dat die leser die strekking verloor.  Verder is die verhaal kostelik en het ek ekker hieraan gelees.  Dankie vir jou deelname.
(3) Plastiekwoorde: Ronel Janse van Vuuren
Heerlike verhaal wat maklik en lekker lees.  Baie dankie vir jou deelname.
(4) Tant Kotie van Koffiekan: Lynne Lexow
Die heerlike vertreltrant van die storie laat die leser gemaklik kou en herkou aan die kostelike storie.  Die konstruksie en die progressive in die storie is funksioneel en lieflik.  Baie dankie vir ‘n baie lekker leesstorie.
(5) Antie Koot in die hof: Papillon
Heerlike storie.  Baie dankie vir jou deelname.

(1) Die onvoltooide vrede: Palet
Interessante inligtingstuk met feite wat soms verstom.  Dankie vir jou deelname.
(2) Shouerhoogte tammeletjie: Ano
Jy behandel die algemene gevoel waarmee elkeen in SA gereeld mee gekonfronteer word.  Al die stories is eintlik skokkend en niemand weet of ons eerder moet lag of huil nie.  Dankie vir jou deelname.

Baie dankie vir almal se deelname.
Geseënde kerstyd vir almal.

Skryfgroete
IM




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Inkmoderator

    18 Desember 2018

    Beste INKers,
    Ek lees deur my kommentaar en sien dat daar ‘n hele paar spelfoute is. Ek is gewoonlik baie streng op julle daaroor en wil myself dus hier self oor die vingers tik. Ek wend gewoonlik ‘n behoorlike poging aan om nie spelreëls te oortree nie, maar hierdie tyd van die jaar as al die werk (persoonlik óók) afgehandel moet word dan glip sulke dinge deur. Dit het egter nie ongesiens gebeur nie, en ek ag myself sterk aangespreek.
    Geseënde feestyd vir almal.
    IM

  2. Ano

    31 Desember 2018

    Die laaste dag van die jaar, en nogal ‘n reenerige een ook! So sit ek effens verveeld (want ek hou my blind vir die werk wat gedoen moet word) en lees so bietjie van die skryfgoed wat onlangs geplaas is. So kom ek heel onverwags op hierdie stukkie kommentare af. Is daar ‘n makliker manier om dit te vind buiten om elke stuk wat geplaas word te lees?

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 126

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 122 gaste aanlyn

Bydrae Totale