Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: MEI MAAND PROJEK: UITSLAE EN KOMMENTAAR

Deur Inkmoderator
Datum gepubliseer: 4 Junie 2018 Aantal woorde: 1193 250 Kere gelees 1

Mei Projek Uitslae en kommentaar

Algemene nota: Dit blyk asof ‘n paar deelnemers nie die opdrag verstaan het nie. In hierdie gevalle het ek nie die verse gekrit nie maar net daarop gedui dat daar afgewyk is van die opdrag. Ek sou graag wil hoor van diegene wat dalk misverstaan het of my opdrag misleidend was en met jul terugvoer kan ek sulke misverstande in die toekoms vermy.

GEDIGTE:

(Goud)

Wenner: No. 18; Carma Shaw met Nou weet ek Ma
[2] No. 2; Carma Shaw met Verbintenis
[3] No. 8 Anzé Bezuidenhout met Sereen soos poësie

(Silwer)

Wenner: No. 1; Estelle Rubouw met Ons kombuistaal Afrikaans
[2] No. 7; Caren Kearley met Naelstringtaal
[3] Geen 3de plek toegewys

(Brons)

Wenner: No. 6; Barbara Smit met Mamma
[2] No. 13; Ronel Janse van Vuuren met Wat kan ek sê?
[3] No.15 Jessica Venter met Fondament

Verhale:
Wenner: No. 1  Ronel Janse van Vuuren met Brose baba

Rubrieke: Wenner: Geen inskrywings

GEDIGTE:
Ons Kombuistaal Afrikaans (1)
Ek dink jy het jou besonder goed gekwyt van jou taak met hierdie besonderse ritmiese, welbeplan en uitgevoerde gedig. Dit is vir my altyd ‘n aanwins as ‘n digter suksesvol kan rym sonder dat dit gedwonge klink. Jy het dit meesterlik gedoen en hierdie gedig mag netsowel deur een van ons ou meesters geskryf gewees het. Ek wil jou in besonder gelukwens met hierdie inskrywing. Jy het ongelooflike potensiaal en talent.

Verbintenis (2)
Jy het die opdrag mooi verstaan en ‘n lifelike vers voorgehou. Ek hou van die ongeforseerde rympatroon wat pragtig bydrae tot ‘n ‘singende’ ritme. Die inhoud is sag en gekunsteld. Talentvolle bydrae. Dankie vir jou deelname.

Moedersdag (3)
Hierdie vers is geslaagd omdat ‘n moeder vereer word; ook omdat die onaangename wat deel kan word van so ‘n dag onder die loep geneem word. Ek vind egter dat die opdrag nie nagekom is nie aangesien die verhouding tussen ‘n ma en die taal wat ons gebruik hierin behandel moes word.

Baie jare was sy net daar (4)
Dit is werklik ‘n mooi gedig maar behandel ongelukkig nie die opdrag nie. Die verband tussen ons moeder, liefde en die taal moes volgens die opdrag ondersoek word. Alhoewel dit ‘n besonderse vers is het jy nie daarin geslaag om die opdrag na te kom nie.

Grysheid van my moeder (5)
Ek wil ‘n paar akademiese opmerkings maak: 1. Daar is ‘n oordaad van punte [.] in die vers wat jou dwing om meeste sinne met hoofletters te begin; 2. Hoofletters behoort nie ‘n sin te volg wat met ‘n komma [,] sluit nie. Die inhoud van die vers bied grenslose mootnlikhede om ontwikkel te word in ‘n pragstuk en daarom sou ek voorstel dat jy knip en redigeer. Die opdrag is ook nie in hierdie vers nagekom nie.

Mamma (6)
Ek dink jy het die opdrag mooi verstaan en het ‘n geslaagde vers ingeskryf. Ek persoonlik sou aan die tipografie verander, soos bv.: die eerste sin, wat ‘n strofe op sy eie is kan baie maklik funksioneel deel gemaak word van die tweede strofe. Dan, die ellips wat gebruik word ná die 2de ‘Mamma’ voel ek sou eerder met ‘n dubbelpunt vervang kan word. Jy probeer daar ‘tyd’ of ‘rus’ skep, wat ek dink meer suksesvol met ‘n dubbelpunt bereik sou kon word. Nietemin, jou vers is pragtig en raak. Dankie vir jou deelname.

Naelstringtaal (7)
Die plig van die digter is, eerstens, sou dit ‘n opdragwerk wees, om die taak so nou moontlik na te kom, dan, ‘n unieke en eie aanslag te gebruik, en dan selfs meer, die noodsaaklikste, om ‘n stem van opstand te wees indien daar ‘n gaping daarvoor geskep is. Jy het in hierdie vers gewys dat die politiese soms net so nodig is as die emosionele. Welgedaan. Ek dink jy het jouself besonder goed verwoord; aards en kunssinnig en dan ook opstandig en rebels. Baie goeie poging.

Sereen soos poësie (8)
Ek hou baie van die ‘anglisisme’ sereen, wat eintlik meer in Afrikaans gebruik kan word. As ek dit dan sê, behoort ek seker te verwys daarna as ‘n neologisme maar ek dink nie ek behoort die taalraad se funksie oor te neem nie. Ek hou van die woord. Die benadering tot die opdrag is anders as die ander inskrywings end it is vir my mooi. Die reis en avontuur van die fetus wat reeds voor geboorte daaraan blootgestel word is ‘n lieflike idee. Pragtige inskrywing.

Moeder (9)
Dit is ‘n besonderse ode aan ‘n moeder. Jy het ongelukkig nie die opdrag in jou vers nagekom nie.

Owerste (10)
Dit is ‘n mooi poging maar jy het ongelukkig nie die opdrag nagekom nie.

Moeder is ‘n deel van my (11)
Dit is ‘n menslike gedig met nostalgie en verlange, maar jy het ongelukkig nie die opdrag nagekom nie.

Ode aan moeders (12)
Goeie poging maar jy het ongelukkig nie die opdrag nagekom nie.

Wat kan ek sê (13)
Wat ‘n ander hoek! Miskien moet jy die sku spasie van poësie wél gebruik vir die opstand in jou binneste. Ek dink jou vers is anders en uniek, tog sou ek wou sien hoe die vreemde, die kru en selfs die vaal jou stem word. Poësie is nie vir flouharte nie, maar juis ‘n gereedskapstuk wat verandering en opstand in die soms politieskorrekte wêreld moet bring. Ek sien uit na jou volgende vers wat die rebel gaan openbaar, want aan bande lê behoort nie die digter se leuse te wees nie. Dankie vir jou deelname.

‘n Biddende moeder (14)
Dankie vir jou versorde vers. Jy het ongelukkig nie die opdrag nagekom nie.

Fondament (15)
Dankie vir jou vers. Dis aards, lig en op die man af. Ja, dit is heerlik om in Afrikaans lief te hê en dit ook te praat.

Ek verlang in Afrikaans (16)
Pragtige vers. Mens kan ook verlang in Afrikaans. Ek stoei egter of jy die opdrag nagekom het. Ek dink nie so nie.

Moedersliefde (17)
Dit is ‘n mooi vers maar jy het nie die opdrag nagekom nie.

Nou weet ek, Ma (18)
Wat ‘n uitstaande gedig! Al wat ek hieroor kan sê is: Onoortroffe.

Wie ken ‘n moederhart (19)
Mooi gedig. Het jy egter die taalkwessie genoegsaam aangespreek? Die opdrag was eerder die taalvaardigheid wat moeders kinders leer en nie soveel die ander goeie invloede nie.

Tolbos van genade (20)
Mooi gedig maar jy het nie die opdrag hierin nagekom nie.

‘n Sagte pienk roos (21)
Pragtige ode maar jy het nie die opdrag nagekom nie.

‘n Lewende spikkeltjie (22)
Interessante gedig maar jy het nie die opdrag nagekom nie.

Afrikaans in die moederskoot (23)
Pragtige aardse vers wat wys waar die kind sy eerste tree gee in die taalomgewing. Stories is n wonderlike gereedskapstuk om taal aan kinders bekend te stel.

Ons taal my ma (24)
Jy het ‘n ander invalshoek gebruik om ‘moeder’ en ‘taal’ te bind. Ek dink nie jy is verkeerd om die opdrag so te intrepreteer nie maar ek dink ander lesers mag dalk nie met my saam stem nie. Ek het egter baie van jou vers gehou end it baie geniet. Dankie vir jou deelname.

VERHALE:
Brose baba (1)
Die storie neem ‘n interessante wending teen die einde. Baie slim bedink en geskryf, en ja, die liefde tussen ‘n moeder en haar K9 kinders is ook spesiaal. Mooi geskryf.

Baie dankie aan almal wat deelgeneem het.
Lekker skryf
IM




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. Viooltjie

      Junie 4, 2018

      Baie dankie vir al die harde werk, IM. Ek waardeer dit baie. En baie geluk aan al die wenners 🙂

    2. Estelle

      Junie 6, 2018

      Baie dankie IM, een van die grootste komplimente wat ek nog op my skryfwerk ontvang het! Wees verseker dat dit vir my groot aansporing is…al is ons oud, bly ons maar kinders en floreer op positiewe kommentaar.
      Baie dankie, dit kan geen geringe taak wees om al hierdie werk te beoordeel en terugvoer te gee nie… dit word waardeer.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 27
    Kommentaar telling: 126

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 2,760 gaste aanlyn

    Bydrae Totale