Jongste aktiwiteit:

DIE MUUR.

Man en Vrou en baie ander mense woon langs ’n baie hoë muur. Hulle kan hoor hoe lag en gesels mense aan die anderkant. Soms is dit tjoepstil. So stil dat jy die bye hoor zoem en die krieke hoor kriek-kriek. Hulle weet dat die ware lewe aan die ander kant lê. Hulle was eens daar, maar hulle het hul behaaglike woning verloor. Hulle wandelings, sy aan sy met die Heerser, in die koeligheid van die dag.

In die oerwoud aan hierdie kant, is daar altoos ’n gekreun en steun. Snikke eggo deur droë boomtakke. Kokkerotte vlieg teen sononder en raak verstrengel in hulle hare en bedags weer swart en geel torre. Dis óf woestyn warm óf ryp-veld vries-koud. Daar is geen tussenin nie.

Almal probeer aanvanklik oor die muur kom. Hulle gebruik eie krag en verskeie tuisgemaakte apparate. Lang lere wat uit dik takke geprakseer is. Sommige kom byna bo, net voor die leer omkantel of inkonk. Ander gooi ’n tou oor en trek terug. Oor en oor, totdat daar hoop opvlam as dit vashaak. Hulle klim tou-langs en gly-gly. Sommige se kragte raak op en hulle gly weer brand-hand tot onder. Ander kom tot bo, maar verloor balans en val hulself te pletter. Niemand was nog ooit, in eie krag en planne, suksesvol nie.

Dié wat oorleef se moed en hoop vergaan in die niet. Elke dag moet almal hard werk om net-net te oorleef. Hard werk vir ’n skerm oor die kop en kos in die maag. Nee, hulle leef nie werklik nie, hulle bestaan net. Haal hygend asem.

Die wesens beledig, besteel, belieg, rand aan en vermoor mekaar. Ander doen vlees-verterende siektes op. Almal is in rou, oor iemand wat weg is. Iemand wat in die verrottende hoop lyke langs die muur lê. Meeste sou verkies om self eerder daar te lê. Om klaar te wees met ’n hopelose bestaan.

Op ’n dag kom daar ’n man. ’n Man met liefdevolle oë. Met ’n sagte vriendelike stem. Met sy ruwe arbeidershande raak hy mense sagkens aan. Troos hulle, want hy het vir hulle versekerde hoop op uitkoms saam gebring.
Man en Vrou en al die ander, glo hom nie. Een man wat vir almal hoop en uitkoms bring? Dit kan mos nie. Maar hierdie man is anders. Hy gee om. Nee, hy is lief vir hulle. In hierdie dorre, droë, donker wêreld, beloof hy lig, ’n oopgekapte weg om op te stap en water wat die dors vir ewig, hoe lank dit ook al mag wees, sal les. En brood wat nimmereindigende lewe, verseker.

Hy bied hulle ’n woonplek in sy vader se paleis. Sommerso, verniet. Maar hulle glo hom nie. Sinies, want niks is ooit verniet nie. Sou daar net ’n greintjie van waarheid daarin steek, wat sou hulle eers moes doen? Is daar ’n prys wat hulle sal moet betaal?

Ja, daar is ’n hoë prys, maar hy onderneem om dit namens elkeen te betaal. Hy sal hulle skuld op die rekening betaal. Al lyk hy nie soos ’n ryk man nie. Al ken hulle hom nie eers nie. Nee, hulle hoef rêrig niks te doen nie, hy sal alles doen.

Hoekom wil hy dit doen en hoe sal hy dit doen?
Hy vra hulle om net te glo. Te glo dat sy vader die Heerser is aan die anderkant van die muur. Daar vanwaar hulle die vreugde aanhoor. Dat hy hulle saak met die Heerser wil regstel. Dat hy die losprys wil betaal om hulle uit die ontvoerder se hand te red. Dat hy sy lewe sal gee, inruil vir hulle s’n.

Toe hy sterf ontstaan daar ’n gat in die muur. Sommige skarrel hande-viervoet deur. Wat het hulle om te verloor, behalwe leiding en vrees en dood? Sommige sien die gat, maar draai weg. Skepties en ongelowig. Dis net te veel moeite om te probeer as hulle in elk geval weer sal moet terug kruip.

Baie ploeter hierdie kant in die modder en kyk die gat in die muur en die saligheid aan die anderkant, helemaal mis. Hulle kies daarteen om te buk en op hulle knieë te gaan om die gat wat hy oopgesterf het, te sien.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Padlangs het n geregistreerde lid geword