Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DESEMBER 2018 PROJEK: Kommentaar en uitslae – Inkmoderator

Deur Inkmoderator
Datum gepubliseer: 8 Januarie 2019 Aantal woorde: 2678 201 Kere gelees 1

INK: DESEMBER 2018 PROJEK: UITSLAE EN KOMMENTAAR
WENNERS:
GEDIGTE:
GOUD:
1ste: ‘n Klein verhaal van groot tragiet: Carma Shaw – 91%
2de: Verslane loutering: Anzé Bezuidenhout – 87%
3de: Die versteende son: Anzé Bezuidenhout – 79%
SILWER:
1ste: Hand aan hand: Caren Kearley – 82%
2de: Bitternag: Caren Kearley – 72%
3de: Geen
BRONS:
1ste: Klaar! ‘n vlamoorlog in Boers: Charleine Collins – 82%
2de: Wedloop van geloof: Marieta McGrath – 80%
3de: My laaste vir ‘n gryper: Charleine Collins – 72%
Eervolle vermelding:
Toe: Charleine Collins – 71%
Gister se onthou: Alkallie – 71%
XYZ: callie – 71%
Slot: CJ Laing – 71%
ARTIKELS:
Wenner: Die vader van motivering: Ano – 79%
RUBRIEKE:
Wenner: Swart kantjie vir ‘n vreemdeling: Ano – 67%
VERHALE:
1ste: Netbal en maskara: L. Lexow – 69%
2de: Drake vlug: Ronel J van Vuuren – 67%
3de: Griffioene vir die wen: Ronel J van Vuuren – 61%

GEDIGTE (Kommentaar):
Die versteende son: Anzé Bezuidenhout
Ek voel hoe jy die einders ondersoek deur konstant afstand te skep tussen die “ek en jy”; asof die narrator die spasies skep deur die gebeurlikhede in ‘n sin van verlede tyd te pen. Ek het hard gesoek na die werklike tema van “laaste strek en einde” en effe daarmee gesukkel. Ek sien tog ‘n poging om daaraan gehoor te gee en vind die gedig ongelooflik melodieus en paaiend. Die laaste strofe is onoortroffe. Baie dankie vir jou deelname.

Toe: Charleine Collins
Ek dink die kras aanslag maak die gedig baie treffend. Dit lees effe kripties op sekere plekke maar dit dra vir my by tot die emosionele atmosfeer waarna jy gepoog het. Die onderwerp is natuurlik nie ‘n allerdaagse nie maar ek dink jy het dit besonders kreatief bewoord. Baie dankie vir jou deelname.

My laaste vir ‘n gryper: Charleine Collins
Die tipografie val die leser eerste op en by die einde van die vers maak dié spesifieke keuse perfekte sin. Dit stel vir my ‘n keel voor waardeur die “voeding” plaasvind. Dit is baie slim! Welgedaan! Die inhoud lees ritmies, vinnig en dra sterk by tot die “boodskap” wat in die “storie” vervat is. Ek dink dit is ‘n slim gedig wat uiters geslaagd daaruit sien. Dankie vir jou deelname.

Klaar! – ‘n vlamoorlog in Boers: Charleine Collins
Jy is ‘n vars stem en ‘n slim digter. Jou idee in hierdie vers in ongelooflik skerpsinning ontwikkel met ‘n neologismiese woordeskat wat die tone laat krul. Dit is altyd maklik om te sien as ‘n digter tyd ingesit het om ‘n vers te bou en te weeg; die resultaat staan uit.. Ek is gaande hieroor en nie nét omdat jy gewaagd omgaan met seker kragwoorde nie, maar omdat dit smaaklik aangewend en funksioneel is. Die enigste kritiek: onthou in Afrikaans is die dubbelontkenning ‘n moet en daarom sal jou vers op “nie” eindig. Slim en heerlike vers. Dankie.

Laaste strek en einde van ‘n bittereinder: Martha Poller
‘n Pragtige nostalgiese terugblik wat uitborrel in ‘n ode aan jou pa. Heerlik. Dit is ‘n teer vers wat mooi lees. Die troos is: die hemelgangers lees ook poësie. Baie dankie vir ‘n aangename vers.

Leef: Teárlach
Kort, bondig en verby die laaste strek. Ek hou van die sterk vers.

Donker plek: Vlooi Boynton
Die emosie en ervaring wat hierin beskryf word kan en mag die moderator nie aanspreek nie, maar wel die wyse waarop dit aangebied word. My kommentaar het net op die struktuur betrekking. Ek vind die lang sinne vermoeiend en dit steur die ritme erg. Versmaak is meer as nét emosie op papier maar eerder ‘n fyn kartering van hoe die skrywer die leser lei tot ‘n klimaks. Persoonlike ervarings (en veral pynlikes) is ‘n mooi teelaarde vir goeie en eerlike poësie. Die skrywer moet egter let dat die leser deurgaans gebonde moet wees en dit is moeilik met lang en woordoorbode sinne. Ek stel voor dat jy jou emosie behou maar die vers snoei om ‘n meer kompakte en treffende vers te ontwikkel. Baie dankie vir jou deelname.

Verlore wonderland: Vlooi Boynton
Die gedig is omslagtig met baie lang sinne. Dit is steurend ten opsigte van die ritme en metrum. Dan is daar op sekere kritieke plekke ‘n merkbare tekort aan leestekens. Ek stel voor jy redigeer die gedig en oorweeg strenger woordekonomie. Indien ‘n gedig met lang sinne aangebied word is dit moeilik vir die leser om die daadwerklike strekking te volg. Hierdie gedig kan baat by ‘n swaar snoei.

My hart is rou: Vlooi Boynton
Die emosies word rou weergegee en daarin slaag die skrywer deur die titel met die inhoud in ‘n behoorlike sinergie te plaas. Tog vind ek die lang sinne, wat onnodig woordoorbodig is, ritmies steurend. Ek wil voorstel jy redigeer jou vers en bekyk die idee van meer wys en minder sê. Soms is minder meer en behou dit jou leser se aandag deurgaans. Stuur vir my ‘n inboks via INK dan help ek jou om hierdie uitdaging aan te pak. Baie dankie vir jou deelname.

Eindelose strek: Palet
Ek het ‘n paar aanmerkings aangaande hierdie gedig:
1. Wat sou die betekenis van beloftebos wees? Waarom het jy besluit om dit as ‘n term te gebruik?
2. Die kappie op vokale moet korrek gebruik word.
3. Waarom het jy besluit om “Traan” in daardie konteks met ‘n hoofletter te skryf?
4. Die ellips moet direk na die woord volg sonder spasies.
Ek verstaan die strekking van die vers en wat jy daardeur probeer sê het maar die paar tegniese dingetjies krap. Baie dankie vir jou deelname.

Die pylvak se vuur: Martha McMarth
Ek dink jy het vermag wat jy met hierdie vers beplan het. Ek sukkel om die eerste paar sinne van die vers te verstaan, maar dit is wat digkuns so interessant maak, dat elkeen wat dit lees ‘n ander interpretasie kan vorm. Die groot spasie in die laaste strofe tussen van die woorde is nie funksioneel nie. Jy kon dieselfde bereik het deur of ‘n ellips of ‘n lang aandagstreep te gebruik. Baie dankie vir jou deelname.

Saluut!: adéle
Wat my besonder opval in die vers is die alliterasie wat die einde van die eerste strofe en die slot van die gedig met mekaar bewerk. Dit val mooi op die oor. Daar is ‘n paar “idees” (woordkeuses) in die gedig wat ek sou uitlaat of verander, maar dit is persoonlike smaak en neem nie noodwendig weg van jou vers nie. Die idee van ‘n stoet wat verby beweeg is ‘n goeie manier om die tema te ondersoek, want dit is seker elke mens se laaste aardse strek. Dankie vir jou deelname.

Uit my hart net vir jou: callie
Ek hou van die herhaling van die koeplet regdeur die vers. Die omskrywing van die ander emosies en ervaringe is noodsaaklik om die gedig te laat slaag maar ek voel dat beter woordekonomie jou gedig sterker sou laat vertoon. Ek dink jou vers kan sterker ontwikkel word met minder. Dankie vir jou deelname.

Die skulpie vertel: adéle
Die inhoud van die gedig vertel ‘n spesifieke hartseer verhaal wat ek dink met leestekens op funksionele plekke sou kon baat. Die gedagtes voel ook op plekke onsamehangend en dit is asof die universele draad wat die vers bymekaar moet hou, ontbreek. Daar is op die koop toe nie werklik strukturele foute in die vers nie, maar soos eerder genoem sou ‘n leesteken of twee, om rusposes af te dwing, kon bydrae tot ‘n sterker vers. Dankie vir jou deelname.

Boog: Teárlach
Dankie vir jou deelname.

19 September: CJ Laing
‘n Paar tegniese opmerkings:
1. In Afrikaans (sonder uitsondering) is die dubbelontkenning in enige skryfwerk ‘n moet! Indien jou sin ‘n “nie” bevat moet dit daarmee sluit.
2. Die gebruik van die ellips moet altyd korrek plaasvind. Dit is drie punte […] en nie 2 of 4 soos dit die skrywer pas nie. Dan ook, die ellips volg direk ná die woord en word direk deur die opvolgende woord gevolg, sonder spasies.
Dan verder aangaande jou gedig: die oormatige gebruik van die ellips hierin dra nie by tot jou vers nie maar veroorsaak eerder ‘n steurnis. Ek weet jy het gepoog om ‘n sekere emosie te verbeeld maar omsigtigheid en minder is altyd meer funksioneel en suksesvol. Redigeer gerus jou vers en maak van ander leestekens in die arsenaal gebruik om die vers aan te bied.

Die lewenskring van ‘n ma en dogter: L. Lexow
Die aanbieding is enjambies en as digter het jy seker die rede daarvoor goed oorweeg. Ek sou egter, ter wille van die nodige emosie wat hierin ontgun word, van ‘n paar leestekens gebruik maak. Dit sal die leser die geleentheid gee om die nodige rusposes te neem en dan die emosie (en die boodskap) te ervaar. Ek sou hieraan redigeer. Dankie vir jou deelname.

My beasty: Vlooi Boynton
Slegs drie inskrywing per kategorie per lid.

Tydlose eindes: Teárlach
Onthou die dubbelontkenning in Afrikaans. Dit is ‘n spelreël. Kyk na die woordorde in sekere van jou sinne. Die gedig is getrou aan die opdrag maar ‘n paar akademiese dinge moet aandag kry.

Gister se onthou: Alkallie
Die titel van jou vers is werklik geyk. Die inhoud is smaakvol en die beelde is ryk. Ek sou voorstel dat jy van ‘n paar ekstra leestekens gebruik maak op sekere plekke in die gedig om noodsaaklike pouses te bewerk. Ek hou werklik van die vers. Dankie vir jou deelname.

Verslane loutering: Anzé Bezuidenhout
“Afgeëts” met ‘n deelteken eerder as ‘n koppelteken. Die inhoud en beelde hierin is majestieus. Die opdrag om ‘n laaste strek en einde te verdig is mooi hierin nagekom. Die gebruik van leestekens is funksioneel en die tipografie is bydraend tot ‘n ritmiese metrum. Welgedaan. Dankie vir jou deelname.

Wedloop van geloof: Marietha McGrath
Ek wonder of die woord “besluip” mooi is. Ek sou voorstel jy oorweeg die sin soos volg:
“Hoe slu sluip die kettings nader
en klou my enkels, besitlik;”
Indien ‘n vers met ‘n hoofletter begin behoort hy gesluit te word met ‘n punt. Die inhoud is tergend en aangrypend en die emosie is tasbaar. Dit verg behoorlike beplanning om ‘n eerlike gedig te skryf en jou hart te stort sonder dat dit sentimenteel en geyk oorkom: jy het daarin geslaag. Dit is ‘n sterk vers. Ek sou wou sien dat jy die krag verder daarin ontgun deur ‘n effense snoei aan die woordoorbodigheid. Ek hou baie hiervan en sien groot potensiaal daarin. Baie dankie vir jou deelname.

Eendag ewig: Teárlach
Slegs drie inskrywings per lid vir oorweging asseblief.

Jy is die kleur van my hemel: Anzé Bezuidenhout
Is die tema werklik in hierdie vers ontgin? Ek twyfel. Dit is opsigself ‘n heerlike ode en liefdesvers wat baie mooi lees, maar ek dink nie die tema is aangespreek nie. Miskien kan jy per inboks met my hieroor praat indien jy verskil. Dankie vir jou deelname.

Bitternag: Caren Kearley
Dit is so ‘n heerlike ritmiese en pragtig gekonstrueerde vers dat ek dit moeilik vind om jou te penaliseer. Ek vind egter dat die tema nie behoorlik hierin ontwikkel is nie. Laaste strek en einde? Het jy bedoel om die nag wat eindig te gebruik as die onderliggende tema? Miskien lees ek nie diep genoeg nie, maar indien die oorgang van nag na dag (die laaste strek voor die einde van die donker) jou bedoeling was dan is ek verkeerd in my opsomming. Ek wil graag verder hieroor met jou gesels. Stuur asseblief vir my ‘n inboks. Ek gaan jou krit asof ek dit reg verstaan sodat jy nie uitgelaat word vir ‘n moontlike wen in jou kategorie nie.

Hand aan hand: Caren Kearley
Dit is ‘n pragtige vers. Ek wil my verstout en ‘n voorstel maak aangaande:
“want my kop is nog vars en vroegsomer
lê saam met jou kaalgestroopte laatnag woorde
sekeldiep teen die horison van my naakte lyf”, goed lees hom weer:
“want my kop is nog vars en vroegsomer
saam met jou kaalgestroopte laatnag woorde
sekeldiep teen die horison van my naakte lyf”
Sien jy wat ‘n wonderlike beeld word geskep as jy die woord “lê” uitlaat?
Skielik word “vroegsomer” deel van die metafoor om die kop te beskryf en is dit nie meer ‘n seisoenale ding nie. Jy hoef natuurlik nie die voorstel te gebruik nie, maar ek dink dit sou pragtig wees as jy sou. Jou vers is beeldskoon en heerlik. Dankie vir jou deelname.

XYZ: callie
Die tema van ‘n einde is mooi hierin vervat. Die rou en naakte emosie maak die vers sterk. Let assebief daarop dat Afrikaanse spelreëls die dubbelontkenning ten sterkste voorskryf. Dit moet toegepas word. Die gedig is ritmies en mooi aangebied. Dankie vir jou deelname.

Die skemeruur: callie
Die toon in die gedig is mooi. Het die oorgang vanuit die dag in die nag die taak om die tema aan te spreek? Ek weet nie of die tema behoorlik aangespreek is nie maar jy kan gerus van my verskil. Stuur asseblief vir my ‘n inboks dan gesels ons verder oor jou vers. Dankie vir jou deelname.

Net donker: callie
Slegs drie inskrywings per lid vir oorweging asseblief.

Daar is ‘n doel: Eleen van Deventer Vorster
Dankie vir jou deelname.

Nag van vrees: Eleen van Deventer Vorster
Dankie vir jou deelname.

My beste tyd: Eleen van Deventer Vorster
Dankie vir jou deelname.

Verslaan: Alkallie
Die gedig behandel pyn en seer maar ek vind dit moeilik om die tema opdrag hierin raak te lees. Miskien lees ek iets mis. Gesels gerus met my via inboks dan bespreek ons jou vers verder.

‘n Klein verhaal van groot tragiet: Carma Shaw
Dit is ‘n ongelooflike sterk vers. Die konstruksie daarvan is onoortroffe. Die tema word goed onderliggend behandel en dan sluit die vers soos ‘n Wagner simfonie in ‘n uitdruklike klimaks. Die deugsaanduidendes sal jou natuurlik wil aanvat oor jou treffende slot, maar laat ek jou aanraai: selfs God (en veral Hy wat jou die talent te midde van die meesters gegee het) hou van eerlike poësie. Onoortroffe vers.

Slot: CJ Laing
Ek hou van die tipografie in die vers. Dit is lank, lenig en stel nogal die mes voor wat in die gedig beskryf word. Ek hou van die opmaat ritme ten spyte van die naak hartseer inhoud. Die vinnge ritme speel nogal ‘n groot rol in die onderliggende “laat dit nou net klaar wees…ek is keelvol-emosie”. Dankie vir jou deelname. Pragtige vers.

31 Desember 2018: Carma Shaw
Pragtige vers wat mooi beelde vir die leser óók optower. Dankie vir jou deelname.

ARTIKELS:
Die “vader van motivering”: Ano
‘n Baie interessante artikel met behoorlik nagevorsde inligting. Ek het nogal jare teug die boek “Erroneous Zones” gelees en baie baat daarby gevind. Baie dankie vir ‘n lieflike artikel.

RUBRIEKE:
Swart kantjies vir ‘n vreemdeling: Ano
Heerlike (effe komiese) rubriek. Ek het stil geglimlag want kan ons nie almal een of ander tyd hiermee vereenselwig nie. Maak seker dat jou spelling altyd foutloos is. Dankie vir ‘n heerlike lees.

VERHALE:
Splinter drome: Palet
Die storielyn kon myn insiens effe beter ontwikkel gewees het. Daar was geen woordtelling voorskrifte nie en daarom kon die skrywer die geleentheid gebruik het om dit te doen. Die tyd verloor té vinnig in die verhaal en voor die leser werklik intrigant betrokke kan raak is alles reeds verby. Ek stel voor jy redigeer die verhaal en ontwikkel dit beter. Dankie vir jou deelname.

Netbal en maskara: L. Lexow
Heerlik ontwikkelde storie met ‘n lekkerlees inhoud. Die karakter ontwikkeling is ook goed en die verhaal hou die leser se aandag vanaf die eerste woord. Werklik ‘n lekker lees storie. Dankie vir jou deelname.

Griffioene vir die wen: Ronel janse van Vuuren
Dit is werklik ‘n vonkverhaal. Dit sou lekker gewees het om die volle verhaal van die wedstryd te lees. Soos die verhaal hier staan is die afwagting ‘n wedstryd wat dan nooit gebeur nie. Ek sien daarna uit dat jy die verhaal voltooi. Dankie vir jou deelname.

Drake vlug: Ronel Janse van Vuuren
Ek haal my hoed vir jou af vir die ongelooflike interessante karakters en hul name. Jy het vir jouself ‘n “franchise” ontwikkel. EK wens iemand wat animasie rolprente maak kan op jou stories afkom. Stel jouself voor al hierdie karakters word ontwikkel tot ‘n volwaardige animasie reeks. Jy moet dalk in so ‘n rigting begin navrae doen. Dit gaan harde werk verg maar ek dink die Afrikaanse mark kan doen met ons eie “pokemon” reeks. Dankie vir die interessante storie. Dankie vir jou deelname.

My dank aan almal wat deelgeneem het. Ek het, weereens, heerlik gelees aan julle talentvolle bydraes.
Skryfgroete
IM




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 24
    Kommentaar telling: 126

    INK E-formaat tydskrif

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 23 gaste aanlyn

    Bydrae Totale