Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Syns vir die Najaarsblomme

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 9 Augustus 2017 Aantal woorde: 1231 695 Kere gelees 7

Roesvlekke op die najaarsblomme vertel haar ‘n storie wat sy nie wil hoor nie. Mae knyp haar oë toe, maar dit help nie. Beelde van wat gebeur het vul haar hele wese.

Twee Feëryke buite Feërie het baklei oor eienaarskap van die land waaroor sy loop. Swaarde het koppe verwyder; pyle het hul merk getref van ver af; Feë bloed het oor die hele vallei gevloei.

Mae sidder. Sy probeer hard om nie meer die strydkrete en gevegsklanke te hoor of die bloed te ruik nie. Sy konsentreer op waar en wanneer sy is.

Dahlias, kosmos, asters en heideblommetjies saam met verskeie ander najaarsblomme lyk asof hulle deel is van ‘n skildery deur ‘n versteurde siel. Die vlekke op die verskeie herfsblomme is die bewys dat die plante die geweld en toorkragte geabsorbeer het saam met die verspilde bloed.

Trane loop saggies oor haar wange. Die geeste van die dooies is nog vasgevang in die heide. Nie eens Ankou, oppasser van die dooies, wil dit waag in hierdie vallei nie.

Die lug is staalgrys. Nog ‘n rede hoekom ander Feë nie daar is nie. Mae snik. Die yster reuk van die bloed wat die grond deurdrenk brand haar neus.

Pyn skiet deur haar en sy laat haar trane en woede vry.

Groen en pers blitse skiet deur die staalgrys lug. Wind druis oor die heide sonder om werklik aan die getoorde blomme te raak. Nie eens die blitse kan die blomme beetkry nie. Reën val sonder om aan die heide te raak – die geweld, toorkrag en verspilde bloed keer selfs dit af. Mae hyg, haar hart klop in haar ore, sy weet sy lyk soos ‘n besetene maar dit stop haar nie. Sy gaan haar toorkrag oor die natuur gebruik en regmaak wat ander gebreek het.

Die dooies kyk steeds hartseer na haar.

Trane biggel saggies oor haar wange. En sy stop die storm. Hulle is reg: sy kan nie die mensewêreld vernietig nie. Dit sal niks reg maak nie.

Mae vee haar trane af. Met ‘n bietjie toorkrag maak sy haarself weer lyk soos dit ‘n koningin betaam. Haar pers rok sleep agter haar en die lang moue wapper saggies in die wind. Sy weet wat sy nou moet doen. Sy laat toe dat haar denke deel word van die landskap, die toorkrag wat daar vloei, die toutjies toorkrag wat vasgeheg aan Feërie is – daar vind sy die Feë Koning, donker en nukkerig. Hy kikker op toe hy haar gewaar. Sy’s nie werklik daar nie, sy’s meer ‘n skim as enigiets anders in sy paleis.

‘Ek het jou hulp nodig. En jy myne.’

‘Klink interessant.’

Sy trek deel van hom saam met haar terug na die heide sodat hy dit self kan ervaar. Hulle is nie lank daar nie voordat hy terugtrek. Sy’t geweet as sy hom wys waar sy is en hoe dit lyk en voel dit baie meer effektief op ‘n wese soos hom sal wees as woorde.

Hy sidder.

‘Wat stel jy voor, Koningin Andromeda?’

Sy weet hy’s ernstig wanneer hy haar so formeel aanspreek. Buitendien, daar’s toorkrag in ‘n naam.

‘Ons moet die mensewêreld tussen ons verdeel. Alle Feë wat nie in Feërie woon nie, sal dan elke sewe jaar ‘n syns moet betaal om op ons land te woon. Alhoewel dit wreed klink, sal dit tragedies soos die een voorkom.’

‘En wat sal hierdie syns nogal wees?’

Sy’s nie seker of sy van die intrigerende kyk in sy oë hou nie.

‘Wat ook al jou hof sterker maak. Vir my sal dit natuurlik prag en kuns wees – al is dit ‘n mens wat dit verskaf.’

‘Dit kan werk… Ek neem aan een syns per groep Feë wat saamwoon? Anders kan dit nogal, a, bloederig raak elke sewende herfs dag-en-nagewening.’ Hy grynslag.

‘Ja.’

Nou kan niemand meer hul vryheid hê nie want duidelik waardeer hulle dit nie. Tog is daar ‘n deel van haar wat teen hierdie hele idee skop.

‘Waarmee gaan ons dit bind?’ trek hy haar uit haar gedagtes.

‘Jou beurt, Ciarán. Ek het laas keer die voorwerp verskaf.’

Hy glimlag asof hy beïndruk is en staan op.

‘Wag vir my op die heide. Ek sal oor ‘n paar oomblikke daar wees.’

Mae knik en gaan terug na haar liggaam; sy trek alle towerkragte terug na haarself en wag.

Dit vat nie lank vir die donker koning om op te daag nie. Hy hou ‘n staalgrys bakkie in sy hand gemaak van metaal wat net in Feërie gevind kan word. Sy kan die bakkie se toorkrag voel. Sy sidder.

‘Kom ons sê net dat dit magtig is en dat dit baie oud is. Dis absoluut perfek vir die doel wat ons dit voor wil gebruik,’ sê Ciarán met ‘n stoute blink in sy oë.

Mae weet sy moet nie verdere vrae vra nie, dit kan net tot onheil lei.

Hulle albei hou die bakkie vas; hulle dink hard oor wat dit moet beteken.

Blomme in pers, pienk, geel, brons, wit, blou, oranje, in al die skakerings daarvan verloor hul kleur en word iets wat nie eens wit is nie – net kleurloos. Om te wys dat hulle die vallei vry maak van al die Feëbloed wat daar gevloei het – en dus die newe-effekte daarvan – word al die blomme diep pers.

‘Kon dit nie ‘n diep rooi of iets geword het nie?’ vra die Donker Koning met ‘n pruil. ‘Dit sou beter simboliek gewees het.’

‘Ten minste weet ons dit werk.’

Hy sug en vir ‘n oomblik lyk dit asof hy hartseer voel oor die hele saak soos hy die dooie Feë dophou. Maar die oomblik gaan vinnig verby en hy is sy gewone vleiende self.

‘Ek sal hierdie in die Grot van Herinneringe gaan plaas. Doen jou soetsappige ding. Tot ‘n volgende keer.’ Hy buig effens en verdwyn.

Mae slaak ‘n sug van verligting. Om saam met die Donker Koning te wees is altyd moeilik, vir redes wat sy nie te diep wil bekyk nie.

‘Eindelik het jy ‘n plan gemaak,’ sê ‘n nuwe stem.

Sy draai om en dit vat alles in haar om haar gesig neutraal te hou. Ankou, die doodsfee wat selfs vir haar nagmerries gee, leun teen sy pikswart koets. Sy het nie eens gehoor toe dit opgedaag het nie.

‘Het jy nie hulp gebring nie?’ vra sy agterdogtig. Sy weet hoeveel Dullahans vir hom werk.

‘Nie vandag nie,’ antwoord hy sag en kyk hartseer na al die geeste wat nog rondhang. ‘Daar’s tye wat net ek kan help.’

Sy knik stil. Miskien is die koplose ridders te wild om hierdie verdwaalde geeste te help. Mae hou hom dop soos hy liefdevol elke Fee-gees na sy koets lei.

Ankou en sy swart uitrusting lyk amper deursigtig teen die pers najaarsblomme…

Elkeen van die geeste glimlag en los vir haar ‘n wit heideblommetjie agter soos hulle in Ankou se koets klim.

Mae sluk die trane weg voordat emosie kan oorneem. Sy’s Koningin van alle Feë. Selfs die wat dood is. Sy moet altyd majestueus voorkom. Hulle het stabiliteit meer as trane nodig.

Soos die heide terugkeer na die natuurskoon wat dit altyd gehad het – nou net met ‘n tikkie magiese praal – verdwyn sy terug na haar eie ryk.

 

*Hierdie storie speel parallel af met Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.




  • TEMAS
    4 Kommentaar
    1. neels

      Julie 25, 2016

      Pragtig soos altyd Ronel

    2. profiel foto van Anze

      Anze

      Julie 25, 2016

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die najaarsblom projek

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 42
    Kommentaar telling: 244

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 28 gaste aanlyn