Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Donker Muse

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 17 Julie 2017 Aantal woorde: 3830 13 Kere gelees 2

Die oomblik toe hulle die Oniks Labirint binnetree knik Ruhan vir haar en gaan sy eie weg. Daphne gee nie om nie. Die tyd wat sy saam met hom spandeer het om die Feetjie Katte te jag en Kaye aan die dood af te staan was nie een van haar beste herinneringe nie.

Hulle het reeds hul kommandant als laat weet wat sy moet deur hul gedagtes met haar te deel toe hulle naby genoeg was om dit te doen. Nou moet Daphne net nog haar goed uitpak en haar kop skoon kry van al die dinge wat so lelik verkeerd gegaan het in die Labirint. Veral as sy nog haar gedagtes weg wil hou van die ander Beskermers – veral dié wat haar dood kan beteken.

Die Oniks Labirint laat nie toe dat sy direk na haar kamer gaan nie. Dit stuur haar deur die tuine. Nie dat sy omgee om die lewendige steen se speletjies te speel nie. Sy kan die tyd gebruik om haar gedagtes in orde te kry.

Brandon se blonde hare glinster in die kunsmatige son. Daphne snak na asem; dit maak amper seer. Sy het amper na hom uitgeroep voordat sy onthou het dat hy die Hertog is en sy maar net ‘n Beskermer. Buitendien, ‘n beeldskone rooikop met foutlose melkwit vel staan langs hom. Sy dra ‘n ysblou chiffon rok wat skaars die grond raak voordat dit agter haar uitsweef.

Jaloesie maak dat Daphne op haar tande kners. Die manier waarop Brandon na die vrou kyk… Sy sluk. Miskien is dit die prinses, sy aanstaande. Daphne het haar nie op die aand van die verlowingsparty gesien nie. Al was sy saam met Brandon in hierdie tuin daardie aand… Sy onderdruk die herinnering van hul soen; die herinnering wat haar lewendig gehou het nadat die Feetjie Kat haar aangeval het.

Brandon se sorgvrye lag maak dat Daphne se kop opruk. Hy klink ‘n biejtie waansinnig. Die vrou se tingelende lag sluit by syne aan.

Die laggende paartjie verlaat die tuin.

‘Iets is baie verkeerd,’ sê ‘n Elfie in ‘n huilstem langs Daphne.

Sy draai om en sien die kneg se vreesbevange oë.

‘Wat bedoel jy?’ dring sy aan.

‘Die Muse Feë is nie veronderstel om mag oor ander Feë te hê nie,’ sê die Elfie, haar fosforglimmende oë groot met vrees.

‘Die Muse Feë?’

‘Toe ek in ‘n ondergrondsestad van die Donker Feë gewerk het, het ek baie van haar soort gesien. Gewoonlik gebruik sy net haar mag oor kunstenaars – en altyd net mense. Haar betowering is nie veronderstel om op ‘n ander Fee te werk nie.’ Die Elfie se punterige ore bewe.

‘Weet jy meer oor haar?’

‘Nee. Net dat sy haarself as Leanne voorgestel het voordat sy die Hertog bekoor het.’

‘Het jy enigiemand anders vertel?’

‘Nee.’

‘Kom saam met my. My kommandant moet dit van jou hoor.’

Daphne was nie meer moeg nie. Haar tuiste was in gevaar – enigiemand wat soveel beheer oor die Hertog kan uitvoer is ‘n bedreiging. En sy weet dat haar kommandant dit van iemand anders as sy moet hoor – omdat sy weet van haar geheim kan haar kommandant dalk dink dis jaloesie wat praat.
#
‘Kommandant?’ vra Daphne soos hulle die kantoor binnetree.

Hulle het baie vinnig daar uitgekom met die Elfie wat die steen van die Oniks Labirint kan manipuleer.

‘Kom in, Daphne.’

Hulle tree die kantoor behoorlik binne, versigtig om nie die hope papiere en boeke te versteur wat orals staan nie. ‘n Hout tafel glim saggies in die dowwe lig en die katana daarop wink vir Daphne. Haar vingers jeuk om aan die antieke Japanese swaard te raak.

‘Jy het gesê dis dringend?’ sê haar kommandant soos sy uit die donkerte van die vertrek verskyn. Haar oë en hare het nog steeds skadus wat daaraan klou.

‘Vertel haar,’ beveel sy die Elfie.

Vinnig, bewend vertel die Elfie die Kommandant van die Beskermers wat sy vir Daphne vertel het van die Hertog se nuwe metgesel.

‘Dit is nie goed nie.’ Die kommandant loop op en af.

‘n Paar oomblikke later daag Ruhan en ‘n Beskermer wat Daphne nie ken nie op.

‘Die drie van julle gaan dit ondersoek. Versigtig en swygsaam,’ sê hul kommandant nadat sy die ander twee ingelig het oor wat hulle te doen staan.

‘Elfie,’ sy draai na die arme bewende kneg. ‘Jy sal die Hertog en sy metgesel dophou. Rapporteer terug na my as enigiets verander.’

‘Seker.’

‘Verdaag.’
#
‘Hoekom kon jy nie net die dag afvat nie? Het jy regtig nodig gehad om ‘n komplot te ontbloot voordat jy nog by jou kamer uitgekom het?’ vra Ruhan.

‘Ek het nie gevra om met jou te werk nie,’ antwoord Daphne kwaai.

‘Hey! Ontspan julle twee,’ sê die jonger Beskermer.

‘Ons het nou net teruggekeer van die Labirint – en nou gaan ons terug,’ sê Ruhan fronsend vir die jong Beskermer.

‘Vertel ons om te onstpan nadat jy tyd in daardie verraderlike plek spandeer het,’ voeg Daphne by.

‘Wat ook al. Terloops, ek’s Henri.’

‘Ruhan.’

‘Daphne.’

Hulle praat nie verder soos hulle rantsoene vir die tog bymekaarmaak nie. Dit was nog vroeg genoeg dat geen ander Beskermers in die kafeteria is nie.

‘Ekstra slaapsak?’ vra Ruhan soos hulle by die gangetjie afloop wat die lewende steen hulle afstuur.

‘Jip. En jy?’

‘Ekstras van alles.’

Hulle deel ‘n wetende kyk. Dit was nie ongehoord om op ‘n misie te gaan nog voordat ‘n Beskermer heeltemal terug is van ‘n ander nie.

‘Het ek twee slaapsakke nodig?’ vra Henri ‘n bietjie angstig.

‘Nie vandag nie. Maar dis ‘n goeie idee om ‘n spaar stel van misie goed in jou kamer te hou – as jy nie in dieselfde ongewasde goed van die vorige keer wil leef nie,’ verduidelik Ruhan.

Daphne is verbaas dat hy dit gedoen het en terselfdetyd glad nie.

‘Dankie,’ sê Henri en kyk orals behalwe vir hulle.

‘Ek neem aan jy het klaar ‘n idee?’ vra Daphne vir Ruhan.

‘Ja. Daar is ‘n bron êrens in die Labirint wat ons kan gebruik. Dit kan dalk makliker wees as om bogrond te gaan om inligting by die Donker Feë te kry wat die Elfie van gepraat het.’

‘Hoe lank gaan dit vat?’ vra Henri.

‘Hang af.’

‘Van wat?’

‘Die gediertes wat in die Labirint woon.’

Daphne ril. Al het hulle die Feetjie Katte gestop om die geheime tonnels te gebruik en die rotte om meer te maak, beteken dit nie dat daardie gediertes nie vir wraak soek nie.

‘Bly bewus van jou omgewing, Henri,’ sê sy en volg vir Ruhan.
#
‘Wat soek ons voor?’ vra Daphne ure later in die Labirint.

‘Die Orakel van Delphi,’ antwoord Ruhan kortaf.

‘Vasgevang hier vir millennia?’

‘Soos baie ander monsters,’ beaam hy.

‘Wat –’ Henri word afgesny deur fakkels wat skielik aan die brand slaan.

‘Ons is hier,’ sê Ruhan ernstig.

Daphne sluk. Wanneer die ouer Beskermer meer ernstig word as gewoonlik weet sy dit beteken gevaar.

‘Wees stil en hou dop,’ sê sy vir Henri toe hy sy mond weer oopmaak om te praat.

Hulle gaan in deur Griekse pilare en volg die flikkerende fakkels na ‘n daklose vertek waar die nag lug opgehou word deur nog glimmende Griekse pilare.

‘En wat het ons hier?’ vra ‘n beeldskone rooikop vrou in ‘n klouende swart rok wat agter haar op die grond sleep.

Daphne kan nie wegkyk van haar groot groen oë nie. Alhoewel haar rooi lipstiffie lyk soos gesmeerde bloed is dit haar oë wat Daphne bang maak. Sy sluk en ruk haarself reg: Beskermers voel nie vrees nie.

‘Jy is die Orakel van Delphi?’ vra Ruhan styf.

‘Ek is.’ Sy hou hulle dop, haar melkwit vel glimmend in die lae lig.

‘Ons het gekom om jou om hulp te smeek.’

‘Regtig?’ Sy lig een wenkbrou óf vraend óf omdat sy hulle amusant vind.

‘’n Muse Fee het ons Hof binne gekom en ons leier betower. Ons moet haar bekoring ontdaan maak,’ sê Daphne.

Die Orakel lag hard en vrolik.

Die Beskermers kyk geskok en amper hopeloos na mekaar.

‘Vergewe my. Dis ‘n lang tyd sedert ek verbaas is deur die kaskenades van die Muse Feë.’

‘Jy is ook een?’ vra Henri.

Die Orakel gluur vir hom.

‘Die ooreenkomste –’

Ruhan sit sy hand oor Henri se mond om hom stil te maak.

‘Ek sal kies om dit as ‘n kompliment te aanvaar,’ sê die Orakel. ‘Die Muse Feë het ‘n uitgesogte skoonheid.’

Daphne probeer hard om nie honend te proes nie.

‘Sal jy ons help? Asseblief?’ vra Ruhan.

‘In ruil vir wat ook al ek wil hê?’ daag sy uit.

‘Binne rede,’ antwoord Ruhan sonder om oogkontak te verbreek.

Daphne bewonder hoe hy op staan teen die gedierte. Sy moet haar eie emosies – iets tussen vrees en veragting – die hele tyd beheer.

‘Goed dan,’ sê die Orakel nadat sy vir ‘n hele tyd in Ruhan se oë gestaar het.

‘Wat wil jy hê?’

‘Oor ‘n oomblik… Nou: die Muse Fee. Soos julle klaar weet lyk hierdie Fee baie soos ek – merkwaardig pragtig. Sy kies net jong, aantreklike mans as haar minnaars. Sy sal hom insprireer tot groot hoogtes in ruil vir sy algehele toewyding. En, natuurlik, sy lewenskrag.’

‘Wat?’ kry Daphne dit reg om te vra.

‘O, dis erg eenvoudig. Hoe langer sy saam met hom is, hoe meer van sy verstand en lewenskrag sal sy van hom vat,’ sê die Orakel met ‘n glimlag.

‘En as hy weier?’

‘Hy kan nie nadat hulle ‘n soen gedeel het nie – een kus en hy is hare vir altyd. Dié wat haar toenaderings verwerp voordat sy hom kan soen… Wel, die dood is baie beter.’

Daphne wil die Orakel se moedswillige glinsterende oë uit haar mooi kop sny.

‘Sal dit self regkom?’ vra Henri hoopvol.

‘Nee. Dit kan net op een manier vir jul leier eindig: waansin, wanhoop en eindelik die dood.’

‘So hoe stop ons haar?’ vra Ruhan.

‘Normaalweg kan jy nie.’

‘Maar?’ druk hy.

‘Hierdie donker muse kon jul leier bekoor ten spyte daarvan dat hy Fee is as gevolg van die Labirint. Alle Feë wat hier onder woon het dit al so lank gedoen dat hulle weg beweeg het van die ware weë van die Feë. En sodoende is julle almal vatbaar vir die betowering van ander Feë.’

Daphne was woedend. Die Orakel put duidelik genot uit hul penarie.

‘Bedoelend?’ vra Ruhan.

‘Vind die een wat die jong man werklik lief het. Een soen van haar en die Muse Fee se bekoring sal breek.’

‘Daar is geen ander manier nie?’

‘Nee. Betowering soos dié betrek dele van emosie wat nie met nog toorkrag ontdaan gemaak kan word nie.’

‘So ons moet net sy ware liefde vind? Dis al?’ vra Daphne. Dit is net té maklik en die manier waarop die Orakel se oë blink maak haar agterdogtig.

‘Nee. Eers moet julle die Muse Fee se hekseketel vind en leeg maak.’

‘Wag. Wat?’ vra Henri en kyk van een na die ander.

‘Hekseketel?’ vra Daphne, nie heeltemal seker dat sy reg gehoor het nie.

‘Sy tap die bloed van dié wat sy nie goed genoeg ag vir haar liefde nie in ‘n hekseketel. Hulle lewenskrag en alles wat hulle is word bymekaargemaak daarin saam met hul bloed. Sy drink hierdie bloedmengsel so gereeld as wat sy kan. Dis die oorsprong van haar mag en skoonheid.’

‘Dankie.’

‘Nou vir wat ek wil hê,’ sê die Orakel voordat hulle kan loop.

‘Ja?’ vra Daphne versigtig.

‘Ek wil hê dat jy,’ sy wys na Ruhan, ‘hier by my bly totdat hulle terugkeer om te sê dat hulle die Muse Fee oorwin het. Net dan kan jy weer gaan.’

‘Goed dan,’ sê Ruhan.

‘Jy’s nie ernstig nie!’ gil Daphne vir Ruhan deur haar gedagtes net met hom te deel.

‘Gaan,’ sê hy op dieselfde manier. ‘Red die Hertog. Net jy kan.’

‘Wat?’ vra sy versigtig, haar hart so wild en vinnig soos ‘n bang haas s’n.

‘Kaye en ek het geweet van die eerste aand af. Dis wat hy jou probeer vertel het toe hy sterf.’

Daphne sluk swaar.

‘En ten spyte van jou vrese, veral dat ek die een sal wees om die vuur by jou teregstelling aan die brand te steek, sal ek jou nooit verraai nie. Ons is makkers. Beskermers. Ons kan nie verhelp op wie ons verlief raak nie.’

Sy staar net na hom, heeltemal geskok.

‘Gaan. Red hom. ‘n Paar dae hier saam met haar sal my nie doodmaak nie.’ Hy grinnik.

Daphne knik en gryp vir Henri om saam met haar weg te gaan.

‘Wat het tussen julle twee gebeur?’

‘Ons het gestry.’

‘Duidelik.’

Sy ignoreer hom en konsentreer op wat sy volgende moet doen: ‘n hekseketel leeg maak en die man wat sy lief het soen. En heel moontlik brand vir verraad.
#
‘Ons moet die Labirint tonnels en kamers naaste aan die Oniks Labirint eerste deursoek,’ vertel Daphne vir Henri soos hulle hul pad terug maak.

‘Dink jy dis waar sy haar hekseketel wegsteek?’ vra Henri.

‘Die lewende steen van die Oniks Labirint sal nie iets soos dit versteek nie,’ antwoord sy met sekerheid. Dit was geen toeval dat die Labirint haar gedwing het om na die tuin te gaan die oomblik toe sy terugkeer van ‘n misie nie: dit wou hê dat sy moet weet dat daar ‘n vyand in hul midde is.

Hulle praat nie weer nie. Die Labirint was heeltemal stil en sonder lewe. Die laaste keer wat sy deur die tonnels en kamers gegaan het was dit vol kaboutermannetjies, rotte en ander gediertes wat vry rondbeweeg het. Nou was daar niks. Dit maak Daphne meer benoud as wat ‘n Feetjie Kat sou.

Hulle soek deur al die tonnels en kamers naby die Oniks Labirint. Geen gediertes, nie eens spinnekoppe, kan êrens gesien word nie. En daar was ook nie ‘n hekseketel nie.

Daphne weet dat dit onmoontlik is dat daar niks is nie. Die Labirint is altyd vol lewe. Nie een van die kamers het iets vreemds of wonderbaarliks in nie.

‘Toorkrag,’ fluister sy.

Henri ruk soos hy skrik van die skielike klank in die stil Labirint.

‘As haar toorkrag op Feë kan werk, dan moet dit sterk genoeg wees om op die Labirint ook te werk,’ verduidelik sy deur haar gedagtes te deel.

Henri sluk angstig en knik.

Daphne verstaan: wat as die Muse Fee hulle op daardie oomblik dophou?

‘Wel,’ sê sy hardop, ‘duidelik het die Feetjie Katte nie teruggekeer nie. Dis ‘n goeie ding. Kom ons gaan huis toe.’

Henri knik en hulle loop. Daphne hoop net dat hulle iets nuuts omtrent hul vyand kan leer.
#
Hulle het skaars die Oniks Labirint binnegetree toe die Elfie wat hulle vertel het dat die rooikop Leanne ‘n Muse Fee is vir hulle nader wink. Die arme ding was aan die bewe.

‘Wat is verkeerd?’ vra Daphne.

‘Elfies verdwyn,’ piep die kneg.

‘Weet jy waar hulle heen gaan?’ vra Henri saggies.

‘Sy vat hulle,’ sê die Elfie terwyl sy op die plek wieg.

‘Jy weet waarheen,’ sê Daphne.

Die Elfie knik.

‘Kan jy ons wys?’

‘Ja,’ piep sy.

Die Elfie reik uit na die mure om hulle en skielik is hulle aan die ander kant van die Oniks Labirint. Sy loop vinnig deur die tonnels, die Beskermers op haar hakke. Hulle beweeg geruisloos deur die tonnels en kamers wat hulle vroeër deursoek het.

Iets ruik vreemd, soos metaal, in die tonnel wat nie vantevore daar was nie.

Die Elfie maak ‘n beweging vir hulle om te stop. Sy wys na ‘n tonnel. Daphne en Henri los haar en beweeg saggies voorentoe.

Wat hulle vind is absoluut afgryslik en te verskriklik om te aanskou.

Die Muse Fee, rooi hare los oor haar rug, drink van ‘n silver beker. ‘n Groot, swart hekseketel staan op ‘n voetstuk.

Daphne kan die bloed oor die vrot reuk van die ontbindende lyke ruik. Sy voel siek. Die lyke van Elfies, kaboutermannetjies, Feetjie Katte en ander lê gestrooi oor die kamervloer. ‘n Paar fakkels skyn helder genoeg om die wonde te sien waar hul bloed gesteel is.

Daphne beduie vir Henri dat hulle moet loop. Die Muse Fee was nog besig om gulsig te drink van haar beker sonder om ‘n druppel op haar wit chiffon rok te mors.

Hulle maak dit terug na die Elfie en die drie van hulle verlaat die tonnel wat skerp ruik na bloed.

‘Wat nou?’ vra Henri toe hulle versteek is in ‘n alkoof.

‘Ons wag.’

Nie lank nadat die woorde haar mond verlaat het nie kon hulle vinnige voetstappe in die tonnel hoor. Toe dit verby hulle is kyk Daphne versigtig uit. Die Muse Fee is oppad terug na die Oniks Labirint.

Sy wag totdat dit heeltemal stil is voordat sy die alkoof verlaat.

‘Kom.’

Hulle tree die kamer van dood binne. Die Elfie kreun. Daphne kyk weg van die pyn op die kneg se gesig; dit was privaat.

‘Gebruik jou toorkrag om vir hulle grafte te grou,’ sê sy vir die ander twee.

Sy gaan na die engiste oop hoek in die kamer en begin om grafte te maak. Hulle vul die gate met lyke maar maak nie die grafte toe nie. Teen die tyd dat al die lyke in die grond is, kan Daphne skaars haar toorkrag voel.

‘Moenie!’ gil sy toe Henri na die hekseketel uitreik. ‘Dit kan beskermingstoorkrag op hê.’

Hy knik en tree terug.

Sy konsentreer hard en lig al die bloed uit die hekseketel uit. Dit sweef deur die lug en besprinkel al die lyke. Toe die bloed klaar uitgedeel is tussen die grafte val Daphne op een knieg en hap na asem.

‘Ek is in orde. Maak die lyke toe,’ sê sy vir die ander.

Hulle gebruik hul toorkrag om die begrawing te voltooi.

Stilte hang oor die vertrek.

Die Elfie haal ‘n akker uit haar sak.

‘Doen dit,’ sê Daphne goedkeurend.

Die Elfie begrawe die akker in die middel van die kamer. Dadelik vul verblindende lig die vertrek. Toe Daphne weer kon sien het ‘n klein akkerboom daar gegroei.

‘Kom ons gaan,’ sê sy terwyl die silwer beker en swart hekseketel wegsmelt in die grond.

‘Wat –’ begin Henri.

‘Dis nou heilige grond. Alle donker toorkrag verdwyn,’ verduidelik die Elfie met ‘n glimlag.
#
‘Ons het ‘n probleem,’ sê Henri deur sy gedagtes soos hulle die Oniks Labirint nader.

‘Wat?’

‘Net ‘n soen van die Hertog se ware liefde kan die bekoring ontdaan maak. Ons weet nie wie dit is nie.’ Hy kyk bekommerd na haar.

‘Hou haar dop en hou haar weg van hom af,’ sê Daphne saggies vir haar metgeselle. ‘Laat my oor die res bekommer.’

Henri maak sy mond oop om te stry, maar die Elfie trek hom saam met haar in ‘n nuwe tonnel in.

Daphne sug. Sy raak aan die lewende steen.

‘Ek het jou hulp nodig. Ons moet hom red,’ fluister sy.

Die steen bewe en ‘n smal gangetjie maak oop.

‘Dankie,’ fluister sy en volg die weg.

Brandon staan alleen in die tuin. Die kunsmatige sonlig maak dat sy blonde hare glim soos ‘n stralekrans.

Daphne sug.

‘U hoogheid,’ groet sy met ‘n vriendelike glimlag.

‘Beskermer, het jy vir Leanne gesien? Ek het iets om vir haar te wys,’ sê hy sonder om na haar te kyk.

‘Mag ek sien?’ vra sy terwyl sy hom nader.

‘Sekerlik.’

Daphne kners op haar tande toe sy sien dat hy Leanne se gesig in die grond van die Zen tuin geteken het.

‘Dis goed, né?’ vra hy; sy blou oë blink koorsagtig.

‘Ja,’ sê sy en gaan staan teen hom.

Hy kyk verward na haar. Hul gesigte is baie na aan mekaar. Sy soen hom. Hy trek dadelik terug, sy hande op haar bo-arms. Sy kan sy hitte deur haar leerbaadjie voel. Iets word helder in sy oë en hy kyk na haar met herkenning.

Hierdie keer soen hy haar. Behoorlik. Heeltemal. Passievol.

Toe hulle die soen breek voel dit vir Daphne asof al die bene in haar lyf gesmelt het.

‘Wat het gebeur?’ vra hy terwyl hy fronsend na die kuns in die sand kyk.

‘’n Muse Fee het jou bekoor.’

‘Jy het my gered.’

‘Altyd.’

Die manier wat hy na haar kyk gee haar weer hoop. Sy sal enige tyd brand vir verraad as hy net vir haar sal kyk met soveel aanbidding en bewondering.

Hy maak sy keel skoon soos die spanning tussen hulle bou.

‘Wat gaan jy met haar doen?’ vra sy.

‘Ek het geen idee nie.’

‘Ek het,’ antwoord sy met ‘n breë glimlag.

Sy haal diep asem. Sy moet gaan voordat iemand hulle vind.

‘Ek moet gaan,’ sê sy terwyl sy nog in sy oë verdrink.

‘En ek moet dit ontdaan maak,’ sê hy en beduie vaagweg na die grond.

Voordat sy nog iets kan sê skuif die grond en sy vind haarself in ‘n ander deel van die Oniks Labirint.

Henri en die Elfie praat met die Muse Fee. Henri vertel haar net hoe mooi sy is en die Elfie wil weet of sy enigiets wil eet.

Daphne wil-wil lag vir die vasgekeerde uitdrukking op die rooikop se gesig. Sy haal haar oniks boeie uit en sluip agter hulle op.

‘Jy is onder arres,’ sê sy en boei die Muse Fee se hande.

Die gedierte spartel en skree.

‘Ek sou stil bly as ek jy was. Jou toorkrag is weg,’ fluister Daphne in die rooikop se oor.

Die Muse Fee sak ineen.

‘Wat gaan jy met my maak?’

‘Ruil vir ‘n ander gevangene.’
#
‘So vinnig terug?’ vra die Orakel.

‘Ek het vir jou ‘n geskenk gebring,’ sê Daphne.

‘O, ja?’ vra die Orakel nuuskierig.

‘Laat Ruhan vry en jy kan haar kry,’ sê Daphne terwyl Henri die Muse Fee binne sig bring.

Die Orakel se oë pop amper uit haar kop uit.

‘Wat ‘n prys,’ adem sy. ‘Gaan!’ beveel sy Ruhan wat baie gelukkig die daklose kamer verlaat.

Toe hy tussen die ander Beskermers staan haal Henri die boeie van die Muse Fee se hande af en stoot haar in die rigting van die Orakel.

‘Julle moet pret hê,’ sê Daphne toe sy wegdraai van die Griekse pilare.

‘Ek sal dit nie vergeet nie,’ sê die Orakel met gevoel.

‘Ek weet,’ antwoord Daphne en loop weg.

‘Ek verstaan dit steeds nie,’ sê Henri to hulle by ‘n ander tonnel afloop.

‘Die Orakel is eensaam, honger vir geselskap. Die Muse Fee het geen toorkrag nie. Hulle kan mekaar geselskap hou vir ewig,’ verduidelik Daphne.

‘Die Orakel voel nou asof sy Daphne skuld,’ sê Ruhan. ‘Sy sal volgende keer verniet help.’

‘Sal die Muse Fee nie haar teen ons vergiftig nie?’ vra Henri.

‘Om haar toorkrag te verloor is veel gawer as om haar aan die Donker Feë te oorhandig vir tugtiging,’ sê Daphne met ‘n skouerophaling.

Sy kan regtig nie veel omgee oor iets anders as die gevoel van Brandon se lippe teen hare nie. Selfs al was dit net om hul Hof te red… Verraad en brandstapels kan maar gaan vlieg: om weer verseker te wees dat sy Brandon se een ware liefde is, is die beste gevoel in die Labirint.
##




  • TEMAS
    3 Kommentaar
    1. profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

      Ronel Janse van Vuuren

      Julie 17, 2017

      Hierdie is die derde verhaal in my reeks “Verhale van die Oniks Labirint”. Soos altyd gaan dit oor die Feë en hulle wêreld binne ons eie. Kommentaar is altyd welkom.

    2. profiel foto van Anze

      Anze

      Julie 19, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie Oop en nuwe projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 39
    Kommentaar telling: 244

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 93 gaste aanlyn