Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Zizzie by ʼn feetjie konsert. (brons)

Deur Marlene Erasmus
Datum gepubliseer: 31 Mei 2020 Aantal woorde: 500 58 Kere gelees 1

Zizzie by ʼn feetjie konsert.
Vroegaand sit mamma my in die bed. Sy lees vir my en soen my sag in my nek.

“Lekker slaap Zizzie, droom van feetjies fraai tot mamma jou weer môre kom wakker maak.”

Met oë toe lê ek en droom in my bed – veilig en warm toegevou. Ek voel hoe ek insluimer – of nee! “Verbeel ek my?”
Ek kyk op en sien hoe die maanlig dans op my vensterbank. Uit die niet verskyn ʼn fee, fraai en fyn. Met skitterpienk vlerke en spierwit rokkie aan. Tik-tik met haar towerstaf aan die maanligblink venster om my aandag so te trek.
“Droom ek alreeds, of is ek nog wakker?”

Opgewonde spring ek uit my bed en maak die ruit saggies oop. Dit is ʼn stil, koel somernag en die briesie roer die blare in die tuin.

“Hallo, wat ʼn heerlike nag vir ʼn maanlig uitstappie?” Die feetjie glimlag fraai en draai haar vlerke na die maan. Ek spring ligvoets deur die oop venster en volg haar na die katjiepiering-bos. In die kring van vuurvliegies se liggies is ʼn skare feetjies bymekaar.

“Kom ons neem jou met ons saam na feetjieland”, nooi hulle my vriendelik uit. Ons huppel deur die popelierlaning waar die ander feetjies op ons wag. Almal is daar – Viooltjie, Madeliefie en kleine Aarbeitjie saam met Sonstraaltjie en Kappertjie, klein.

“Wie is jy?” vra Sonstraaltjie vriendelik toe sy my gewaar. “Wat maak jy hier? Kom jy vir ons kuier vir ons maanligkonsert?”
Ewe belangrik maak Sonstraaltjie die vrolike gesels stil.

“Welkom by ons maanligkonsert hier in die woud!”

Die feetjies is vrolik en gesels saggies met mekaar. Dit is tyd vir hulle om hulle plek in te neem op die verhoog, gemaak van sagte groen mos. Op die woud se vloer is daar hol boomstompe en mosbedekte klippe, wat sitplek verskaf vir die elfies en diertjies klein.

“Stilte, stilte!”

Die feetjiekoor begin die konsert. Met engelstemme sing almal saam. Die sagte melodieë sweef deur die woud en meng met die naggeluide. Oupa Uil ‘hoe-hoe, hoe-hoe’ op vrolike noot saam. Die wolke wieg op die wind en die vlinders klap hulle vlerkies saam.

“Dankie aan almal wat kom deel het in ons plesier” word die laaste item aangekondig.

“Kom Zizzie, ons moet jou by jou huis kry voor jou mamma jou soek”. In ʼn ry stap ons deur die woud terug na ons huis.

Ek glip deur die oop venster en woel my tussen die lakens in. In die sterretjies se lig sien ek vlerke flap van feetjies wat verdwyn. Gou gou is ek in droomland.

“Mamma, mamma, ek was by die feetjies se konsert in die bos!”

“Ja Zizzie, mens kan tog te lekker droom …”

Ek wens dat ek nog in feetjies kon glo soos toe ek klein kindjie was. Ek wens dat ek kon dans op wolke van spookasem, wit en vet. Ek wens dat ek nog kon praat met kabouters en elfies in my tuin – waar ek my vrese kon agterlaat en net weer wees: kindjie klein.

©Marlene Erasmus
(505 woorde)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    1 Junie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2020 – Ek wens dat ek … projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 4

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 42 gaste aanlyn

Bydrae Totale