Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ZELDA HFST 6

Deur neels
Datum gepubliseer: 24 Mei 2016 Aantal woorde: 1537 865 Kere gelees 8

Die oggend is Zelda vroeg op om soos gewoonlik vir hulle ontbyt te maak en is haar voornemens om die saak met Paul oor ontbyt te bespreek. Sy kom egter nie so ver nie en besluit sy om dit die aand te doen.

Min wetende dat Paul met dieselfde gedagte sit is dit n uiters spanningvolle dag wat verbygaan en kom die onderwerp eers weer na aandete ter sprake.

Paul roer die onderwerp eerste aan toe hulle hulle koffie na ete by die kroegtoonbank drink: “Zelda wat nou. Die laaste paar dae is daar groot spanning tussen ons en dit kan nie so aangaan nie. Dit is besig om ons verhouding ernstige skade te berokken”.

Zelda sit haar koppie neer; “Jy is reg Paul, ons kan nie so aangaan nie. Ek het besluit om pad te gee hier. Ek sal more my CV begin uitstuur en sodra ek ander werk gekry het sal ek padgee maar hier kan ek nie langer bly met die vrou wat my ma is net oorkant die straat nie. Ek sal haar nooit kan vergewe nie en die ding sal elke dag aan my vreet”.

Paul sit sy koppie ook neer: “Zelda weghardloop gaan nie jou probleem oplos nie. Dit gaan alles tussen ons vernietig en ek kan dit nie toelaat nie want ek het jou uit my hart uit lief en wil n toekoms saam met jou hê waarin ons kan trou, gelukkig wees en kinders hê.

Die kinders wat jy so graag wil hê Zelda en ek ook saam met jou. Moet ons regtig ons twee se toekoms hierdeur laat vernietig”.

“Nou wat stel jy voor Paul”, vra Zelda.

“Zelda ek praat nie goed wat sy gedoen het nie maar ek kan my voorstel dat sy ook deur die hel gaan en veral nou dat sy weet dat jy weet. Ek wil jou vra om vrede met haar te gaan maak.

Ek gaan nie toelaat dat jy hier weggaan nie. Ek het jou lief Zelda en wil n toekoms saam met jou hê, met jou trou, kinders saam met jou hê wat jy so graag wil hê en ek gaan dit nie opoffer nie”.

Met die staan Paul op stap om die toonbank en trek Zelda van haar stoel af op. hy neem haar in sy arms en dan vind sy lippe hare. Die soen wat volg is warm en passievol en jaag albei van hulle se gevoelens hemelhoog tot Zelda uitasem wegbreek.

“Paul ek het jou ook lief en was nog nooit so gelukkig in my lewe soos in hierdie drie maande nie maar jy vra vanaand baie van my. Ek sal daaroor moet dink en dalk is jy reg, moet ek nou ons geluk weggooi as gevolg van die vrou oorkant die straat. Gee my net vannag om die ding met myself uit te baklei Paul, dit gaan moeilik wees maar ter wille van my liefde vir jou sal ek hard probeer om myself te oortuig om te gaan vrede maak met haar. Kom ou grote kom ons gaan slaap dat ek met myself kan begin baklei en vrede kan maak”, antwoord Zelda.

In haar kamer trek Zelda haar slaapklere aan en trek weer haar dagboek nader: “Liewe dagboek. Ek en Paul het vanaand gesels en hy sê hy het my lief. Hy wil nie dat ek weggaan nie en vra waarom wil ek nou ons geluk weggooi ter wille van die vrou oorkant die straat. Dagboek hy is reg en ek het hom net so lief so ek sal die ding met myself moet uitbaklei vannag sodat dinge tot n punt kom want ons kan nie so aangaan nie”.

Paul skrik so een uur wakker en in die flou maanlig wat deur die kamervenster skyn sien hy Zelda by hom op die bed sit. Sy moes sag ingekom en by hom op die bed kom sit het om hom nie wakker te maak nie. Hy steek sy hand uit om die bedliggie aan te sit maar sy sit haar hand op sy arm om hom te keer.

“Hoekom slaap jy nie Blommetjie”, vra hy.

Zelda vlei haarself teen hom neer: “Paul ek wil jou iets vra. Het jy my werklik lief en wil met my trou en die toekoms saam met my instap of het jy dit maar net gesê om te keer dat ek weg gaan?”.

Paul druk haar teen hom vas: “Ja Blommetjie. Ek het jou lief met alles in my en wil jou nie verloor nie”.

Zelda lê so n paar oomblikke stil langs hom en dan antwoord sy: “Dan is dit goed so ou grote. Ter wille van jou en ons liefde vir mekaar sal ek gaan vrede maak met Sharon maar dit sal n tydjie neem om gewoond te raak aan die gedagte dat ek nou skielik na al hierdie jare n ma het”.

Zelda neem Paul se gesig tussen haar hande en soen hom warm en passievol voordat sy opstaan: “Nou gaan ek slaap ou grote en ek belowe jou as ons opstaan sal ek weer my ou self wees”, en daarmee verdwyn Zelda na haar kamer toe.

Zelda kom haar belofte na en toe sy aangetrek in die sitkamer verskyn maak sy oudergewoonte n draai voor Paul om n lang wolwefluit te ontlok. Tevrede met haar beloning klouter sy op Paul se skoot en gee hom n passievolle soen. Toe sy wegbreek om vir hulle te gaan ontbyt maak fluister sy in Paul se oor: “Hoor hoe lekker reën dit buite. Miskien is dit juis die teken dat ek moet gaan vrede maak en dit is die eerste ding wat ek vanoggend gaan doen”.

Net nadat hulle oopgemaak het verdwyn Zelda onder n sambreel oor die straat. Paar oomblikke later verskyn n nat Andries in Paul se kantoor: “Nou wat is so dringend dat ek jou nou dadelik moet kom sien”.

Vir n paar oomblikke weet Paul nie van beter nie mar dan breek die lig deur: “Andries sy het besluit om te gaan vrede maak met haar ma en sy wil seker nie toeskouers hê nie. Sit jy nou maar net stil en rustig hier by my en los hulle alleen”.

Andries slaak n sug van verligting: “Wel my maat ek is bitter bly hieroor. Dit is beter so anders het ons naderhand met n atmosfeer gesit wat geen mens kan uithou nie”.

Dit is n halfuur later wat Zelda weer oor die straat gehardloop kom in die reën. Terwyl sy die sambreel toevou glimlag sy vir Paul: “Nou toe, ek het gaan vrede maak ou grote. Nou is dit tyd dat jy jou kant van ons ooreenkoms begin nakom, terloops Andries Sharon wil die middag af hê. Ek gaan hier bietjie onderhande neem, haar hare laat doen en vir haar klere koop”.

Andries staan op en begin loop: “Met plesier. Sy irriteer my lankal met daardie vormlose ou rokke en ewige bolla agter die kop”.

Toe Andries weg is skuif Zelda agter die lessenaar in om met haar werk te begin maar Paul vra haar: “Hoe het dit tussen jou en Sharon afgeloop”.

Zelda glimlag van oor tot oor: “Baie goed ou grote. Ons het bietjie gesels, lekker uitgehuil en besluit ons gaan die beste van n ma en dogter verhouding maak. Ek gaan haar vanmiddag bietjie onder hande neem want sy is n mooi vrou vir haar vier en veertig jare”.

Paul antwoord: “Ek is bitter bly hieroor Zelda. Om te vergewe kan n hele nuwe wêreld skep maar as jy bly haat het sou dit ons almal se lewens verwoes het”.

“Paul ek besef nou eers dat die feit dat ek nie weet wie my ouers is nie nog altyd soos n skaduwee oor my lewe gehang het. Ek gaan my bes probeer om my pa ook op te spoor daar in verre Spanje. Danksy moderne tegnologie behoort ek dit te kan regkry. Dink net as ons trou hoe lekker sal dit wees as my pa my in die kerk kan inbring”.

Die middag is Zelda saam met haar ma weg en sien Paul hulle weer net voor toemaak tyd toe die twee die winkel ingestap kom. Paul kan sy oë nie glo om te sien hoe n gedaante verwisseling Sharon ondergaan het nie. Haar blonde hare is los en tuimel ook soos watervalle op haar skouers neer. Die netjiese pakke wat sy aan het beklemtoon elke lyn van haar ferm figuur en besef Paul dat sy n mooi vrou is.

Zelda vra dadelik: “En hoe lyk sy vir jou Paul? Lyk sy nie pragtig nie”.

Paul skud sy kop: “Ek kan nie glo dat dit dieselfde Sharon Verwey is wat ek ken nie. Sy lyk pragtig”.

“Kom ma kom ons gaan slaan gou Andries se voete onder hom uit”, en daarmee verdwyn die twee om oor die straat te stap.

Toe Zelda terug is vra Paul: “En wat is Andries se kommentaar op jou nuwe ma”.

“Hy het na sy hart gegryp en amper in floute geval. Ek is trots op haar Paul en glo my ons gaan die beste van ons ma en dogter verhouding maak. Ons kan haar sommer nooi om Saterdag saam met ons te kom braai”, antwoord Zelda.




TEMAS
5 Kommentaar
  1. Anze

    24 Mei 2016

    Heerlik gelees Neels, ai jy is darem n storieverteller 100!!

  2. neels

    24 Mei 2016

    He he dankie anze

  3. Evelyn van der Merwe

    25 Mei 2016

    Ja-nee jy mag maar. Hoop dinge gaan voorspoedig verloop vir die twee en dat die ma darem gaan sorg vir die nagereg Saterdag.

  4. Ronel Janse van Vuuren

    13 Junie 2016

    Dalk moet jy die deel voor die dagboek inskrywing, deel maak van die dagboek inskrywing heeltemal van Zelda se oogpunt? Dan die res van die hoofstuk net uit Paul se oogpunt skryf. Dit kan dan die leser Zelda se gevoelens oor die saak gee en laat wonder hoe sy voel terwyl ons haar dan sien deur Paul se oë. Die leser – saam met Paul – wonder dan wat gebeur het tussen Zelda en haar ma. Dit bou dan die spanning goed 🙂

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 214
Kommentaar telling: 1107

Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Gebruikers Aanlyn

5 Lede, 92 gaste aanlyn

Bydrae Totale