Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Zambië Kuier – 2.

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 10 Maart 2016 Aantal woorde: 1229 1352 Kere gelees 25

Voor die Avex Air Transport toonbank staan ek en wieg. Dan op die een been en dan op die ander. Ons is te vroeg. ’n Breë musadi beduie met die linkerhand en ’n kopknik dat ons moet wag. Dis nog nie tyd om haar toonbank oop te maak nie. Verder vermy sy alle oogkontak en vroetel agter die toonbank met ’n spul papiere. Ons sal wag tot op die minuut. Tot op die sekonde.

Terwyl almal in die ry wag raak ons aan’t gesels oor die rede vir ons tog na Zambië. Of meer spesifiek na Ndola, waar hierdie vlug sal land. Dit is maar een van twee redes; om vir iemand te gaan kuier wat daar werk of om daar te gaan werk.

Meeste van die manne is alleen. Die getroude manne staan koponderstebo met geboë skouers. Dis lank voor hy weer sal huis toe gaan. Hy voel nog die kinderhandjies wat om sy bene geklou het en ma se lippe sag op syne. Heel moontlik moes sy ook maar haar oë vinnig wegdraai in ’n poging om haar geveinsde dapperheid te handhaaf. Ek weet mos.

Vir hierdie vlug is daar nie iets soos ’n vlugkaartjie nie. Nadat die tasse ingeweeg is en jou naam op die lys afgetik is, word ’n opstap kaartjie uitgereik, waarmee jy toegang tot die vliegtuig sal kry.

Vandaar stap ons deur sekuriteit en doeane waar alle paspoorte gestempel word. Dan die lang stap na hek A5, verby al die belastingvrye winkels, koffiewinkels en restaurante.

Teen hierdie tyd sterf ek al van die dors vir ’n koppie warm koffie en iets te ete. Die laaste koffie wat ek gedrink het, was ’n paar minute na drie vanoggend by die huis en dis nou al skuins na half nege en ek is al in ’n heel ander provinsie. Selfs nie die bankrot-maak pryse weerhou my van ’n vars Cappuccino nie. Ek drink stadig, met toe-oë. Om beter te kan proe my kind. Al die eetgoed is net té duur vir hierdie vrou om Bokka se hard verdiende geld te betaal. Ek sal uithou.

Vandaar wikkel ek die laaste stuk gang af, af met die lang roltrap, draai regs en nog ’n entjie tot by die hek wat vir Ndola gemerk is. Die bekendes wat ek vroeër by die inweeg toonbank gesien het, wag al daar.

Kort voor lank klim ons van ’n bus af, langs die kleinerige helderblou en wit Dornier 328-300. Baie kleiner as die Boing waarmee ek vroeër aangeland het. Dis die eerste keer dat ek in so klein-boetie met slegs sewe-en-twintig sitplekke, moet vlieg en ek troos my daaraan dat as dit vir Bokka veilig tot by sy bestemming kon dra, sal dit my ook daar aflewer.

Tog neem ek kennis van die kennisgewing op die rug van die sitplek voor my: Schwimmweste under dem sitz – Reddingsbaadjie onder die sitplek. Seker vir ingeval ons in Kariba- of Malawimeer sou neerstort. Die enkele vriendelike lugwaardin gee my ook vertroue in my gemoed.

Daar is geen agter-slot-en-grendel kajuit vir die vlieëniers nie. Nee ons sien die twee van hulle duidelik in die deurlose kajuit, sit. Kan selfs hoor as hulle oor die radio of met mekaar gesels.

Met die neus van die vliegtuig skerp na bowe om ons met ’n dreuning die wolke in te, stuur styg ons op. Oor die mikrofoon word ons vertel wanneer ons oor watter Afrika stede en landmerke sal vlieg en dat ons ten spyte van wind van voor en verwagte turbulensie, verwag om twaalf vyf en veertig in Ndola te land.

Die lugwaardin verskyn ’n rukkie later met arms vol bruinpapier kardoesies wat sy aan elke passasier uitdeel. Dis hoe mens jou spyse op hierdie vlug ontvang. Sy kom darem ook later met ’n mini trollietjie verby waaruit ons ‘drank’ bedien word.

In die kardoes is ham kaas en tamatie baguette broodjie in ’n sellofaan sakkie en toegeplak met ’n Woolworth’s plakkertjie waarop die prys van twee en veertig rand verskyn. ‘Daglig diefstal’ as jy my vra en ek wonder sommer dadelik of ek nie met dié lugdiens ’n baie goedkoper diens kan onderhandel nie. Verder is daar ’n klein glasie jogurt, ’n sjokolade muffin en ’n pakkie Fritos. Dit herinner my aan die gelukspakkies wat ons as kinders by die myn se Kersboom ontvang het.

Saam met ’n blikkie druiwesap is die honger gestil en raak ek weer erg opgewonde want nou is die hereniging met Bokka, so te sê ’n werklikheid. So veel so dat ek nie rêrig op die artikels in my tydskrif kan konsentreer nie en ek blaai net en kyk die foto’s. Deur die venster lyk die wolke onder ons soos wat die resep bedoel as dit sê jy moet die eierwitte styf klop tot dit puntjies vorm.

Voor eenuur land ons op Ndola lughawe. Teen die tyd dat die passasiers teen die trap afklim word die tasse al uit die vliegtuig se pens gehaal en op die teer neergesit. Nee dit word nie op ’n trollie gelaai en aangery na ’n draaiband nie. Hier in Afrika is daar nie sulke weelde nie. Ek moet self my tas, my handbagasie, my rekenaarsak en my handsak, die gebou insleep. Amper wil ek soos my pa sê toe hy toeka self die motors gediens het: ‘Ek weet nie hoekom die liewe Heretjie vir my net twee hande gegee het nie!’

Daar binne staan ons almal sakdoek in die hand om die sweet te keer voor dit in jou oë loop. ’n Paar minute voor òns vlug, het SAL met ’n vol vlug geland en nou is daar gans te veel mense vir dié drie amptenare wat die kiekies moet kyk en die paspoorte moet stempel. Nie dat dit hulle hinder nie. Hulle is rustig. G’n haas nie. Gesels en skerts nog so tussendeur onder mekaar, in watookal taal mense in Zambië praat. Dit terwyl die dakwaaiers net al die Afrika-geure met die hitte meng en op jou kop en teen jou nek afdruk.

Toe ek buite is, moet ek rondvra watter van die vele minibusse behoort aan Mopani myn en gaan Kitwe toe. Die bestuurder is vreeslik ordentlik en eerbiedig. Hy neem darem die bagasie uit my hande uit en laai dit in. Lig my in dat daar ’n hele paar ander mense nog moet kom. Ek wou solank inklim, maar besef by die deur dat die voertuig al lank in die son staan en bak het en soek toe maar die koelte van ’n nabye afdakkie op. Uit die son, maar daar is nie wegkruipplek vir die bedompigheid wat om my wange vertoef nie.

Uiteindelik vat ons die pad in die rigting van Bokka se woonplek. Nie ’n sekonde te vroeg nie. Die omgewing is pragtig en die plantegroei is ruig en welig en bottelgroen, want dis midde-in die reënseisoen. Ongelukkig is die reën ook die rede vir slegte paaie vol ekstra potgate. Hier en daar wip en skud ons tot teen die dak. Ek hang vir lewe en dood aan die handvatsel bokant my kop. Nog is dit het einde niet van die beproewinge van hierdie dag nie.

Elf ure na ek vanoggend uit my huis is, twaalf ure na ek opgestaan het, hou ons stil by die kantore in Kitwe. Daar waar Bokka my met ’n breë glimlag inwag.

Word vervolg




TEMAS
6 Kommentaar
  1. Evelyn van der Merwe

    10 Maart 2016

    En ek glo dit was al die ure van wag werd. Lekker gelees.

  2. neels

    10 Maart 2016

    So tipies Afrika as wat jy wil hê en beskryf soos net Lynette dit kan doen. ek is elke treë saam met jou

  3. Viooltjie

    14 Maart 2016

    Hoe lekker reis ek nou saam met jou, Kiekies, al lyk dit nie aldag so maklik nie. Ek kan nie wag om te hoor hoe jou kuiertjie verloop het nie.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 48
Kommentaar telling: 567

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 124 gaste aanlyn

Bydrae Totale