Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Zambie kuier – 1

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 24 Februarie 2016 Aantal woorde: 1130 927 Kere gelees 8

Dis ’n hele trek. Eers moet ek by die lughawe kom. Ek kan nie iemand vra om donker nag al op te staan om my betyds daar te kry vir die kwart-voor-ses vlug nie. Ek kan dit net nie oor my hart kry nie. Daarom bestel ek ’n ‘airport shuttle’ om my vieruur op te laai en moet ek drieuur opstaan om betyds klaar te wees en die huis veilig agter slot en grendel te hê.

Die een sleutel is al die vorige middag by vriendin afgelaai. Sy sal elke tweede dag kom loer of die engele hulle bewaar-werk goed doen en plante natgooi en darem my wilde voëltjies se ‘berry juice’ in die boom hang.

Half vier bel ek die bestuurder net om doodseker te maak hy is wakker. Ek kan die giggel in sy stem hoor vir hierdie wantrouige vrou. Maak nie saak nie, ek moet seker wees hy is op en op pad.

Die tweede sleutel gaan na buurman. Ek moet baie-baie seker wees ek het alles wat ek nodig het en dat elke gat ’n skuiwer voor het, voor ek die traliehek sluit, alarm aanskakel en die sleutel in ’n plastieksak toedraai. Met ’n rekkie om, om dit toe te hou, gooi ek dit oor die muur naaste aan hulle voordeur. Daar sal hy dit oor twee ure optel wanneer hulle ontwaak. Hy sal ore oophou en as die alarm dalk skree, kom kyk wat aangaan.

Twee minute voor vier is my tasse gelaai en ons op pad. Die strate is stil en die huise donker. Hier en daar brand ’n flou badkamerliggie. Toe ons die N2 haal is daar egter heelwat verkeer. Busse, trokke en selfs motors. Daar is selfs mense wat langs die pad wag om opgelaai te word. Ek wonder met simpatie in my hart of hierdie mense elke oggend so vroeg al wikkel. En sommer ook hoe vroeg hulle al saans gaan slaap om genoeg nagrus te kry.

Ek en Duncan gesels oor alles en nog wat. Teen die tyd dat hy my bagasie op die sypaadjie voor die lughawegebou aflaai, is ons sommer ou vriende. Ek weet dat hy sy werk verloor het, maar gelukkig nou een van sy broer se voertuie kan bestuur vir ’n inkomste. Ook dat hy dit so verkies, want nou kry hy baie meer te sien van sy twee laatlam dogtertjies. Van sy seun wat aan Tukkies studeer met ’n sportbeurs. Van sy vrou wat ’n sekretaresse in Epping Industrieel is. Hy vertel interessante dinge oor buitelandse toeriste waarmee hy te doene kry en vra uit oor my lewe en mense.

Saam met ’n lang tou mense pak ek uit en weer in by die sekuriteit toonbanke. Sonder oponthoud is ons binne-in die vliegtuig.

Op die bepaalde tyd styg ons op en ek slaak ’n sug van verligting, want ek sal in tyd wees vir die volgende vlug wat ek in Johannesburg moet haal. Verbasend is daar so vroeg in die oggend, boude op elke sitplek en ek is bly ek het aanlyn ’n sitplek in die gangetjie bespreek.

Twee blink-ronde manne sit tussen my en die venster. Hulle moet die sitplekgordel se gespe vêr uittrek om dit vas te kry. Die knaap wat teen die ruit sit verklaar senuweeagtig, in ’n onmiskenbare Weskus aksent, dat hy vrek bang is vir vlieg.

Die meerderheid passasiers is op pad Johannesburg toe vir werk aangeleenthede. Baie van hulle sal al weer op ’n laatmiddag vlug terugkeer Kaapstad toe. Ander slaap oor vir ’n nag of twee. So ook die manne langs my.

Toe die vriendelike lugwaardinnetjie met haar trollie by ons ry stilhou, wil Bang-Jan weet of sy dalk brandewyn het. Ongelukkig moet hy maar tevrede wees met ’n blikkie Coke, maar dit wil tog voorkom of hy ontspan. Ook maar net tot die vlieënier aankondig dat ons moet vasgespe vir die landing. Hy vee met ’n verfrommelde sakdoek heen-en-weer oor sy voorkop en sy lippe. Hy is glo nóg banger vir die landing. Dat ek hulle gesprekke so afluister, maak my vlug aangenaam kort.

Wanneer die voete grondvat uit die bus wat ons aanry, skarrel almal soos miere in verskeie rigtings. Ek volg van die ander passasiers die gebou in. My twee reisgenote het nog bietjie bly sit. Seker om die lamheid in Bang-Jan se knieë te laat wyk.

Eers toe dit te laat is besef ek almal is nie op pad carousel toe om bagasie op te eis nie. Ek swaai vervaard om maar elke deur wat my uitgelaat het, het van buite ’n geen toegang teken. Dit help nie eers dat ek daarteen staan nie, want ek is aan die verkeerde kant. So sal die deure nie oopmaak nie. Daar is nie omdraai nie. Gedane sake . . .

Dit kos my ’n sekuriteitsdame by die uitgang verduidelik dat ek dom was en smeek om my deur te laat. Sy antwoord nie en vra net: ‘boarding pass.’ Gelukkig, ek weet nie hoekom nie (maar tog weet ek) het ek dit in my paspoort se houer gebêre. Sy lees baie stadig. Tydsaam. Ek kan al ’n eier kook. Uit-bloemieng-eindelik druk sy ’n knoppie en die deur gaan oop en ek vloog na binne.

By die betrokke draaiband gekom wat ons vlugnommer aandui, staan dit dolleeg en doodstil. Die laaste paar passasiers stap langbeen met oorlaaide trollies weg. My hart klop in my keel en albei slape tegelyk. Waar is my tas?

Ek het dit al voorheen oorgekom. Nie dat ek te laat aangekom het nie, maar dat iemand anders hom aan my bagasie gehelp het. Ek moes ’n hele Krismis vakansie met ’n sak grênd skoene en twee stelle Ackermans uitrustings klaarkom. Een in die was en een aan die bas. Ek het bly hoop die lughawensmaatskappy sal my tas opspoor en aan my besorg. Dit het nie gebeur nie. Tot vandag toe nie.

Nou bid ek sommer kliphard en gewaar ’n man in ’n sekuriteit uniform, wat ek stormloop en my tragiese storie vertel. ‘What baggage’, vra hy en ek verstaan nie wat hy eintlik wil hoor nie. Ek sê toe maar met ’n hopelose gevoel in my binneste: ‘A big red bag.’

Hy wink my met die vinger verby die statiese draaiband en wys met dieselfde vinger na die agterste muur, sonder om ’n woord te spreek. Daar, eensaam en verlate, lê ’n windskewe rooi tas. Myne. Weer spreek ek hardop my dank uit. Verbeel ek my, of het ’n stem gesê: ‘Kleingelowige….’ Dalk nie.

Van daar moet ek die rieme neerlê. Na terminaal A vanwaar buitelandse vlugte vertrek, om die privaat vliegtuig van die kopermyn na Ndola te haal. Helemaal aan die vêrste anderkant van die grote O.R. Tambo lughawe.

Kyk uit vir hoofstuk 2 wat later sal volg.




TEMAS
10 Kommentaar
  1. Viooltjie

    24 Februarie 2016

    Kiekies, jy vertel darem lekker. Ek wou net sê, hier kort ‘n hoofstuk of twee 🙂

    • Kiekies

      25 Februarie 2016

      Ja nee, daar sal ‘n hoofstuk of twee volg. Ek beleef tans nog die kuier en sal dit deel soos ek dit ondervind. Dankie baie dat jy kom lees het!

  2. neels

    25 Februarie 2016

    Daar gaan ons vir n heerlike kuier saam met Lynette

    • Kiekies

      25 Februarie 2016

      Hou jou tassies gepak en jou muskietnet byderhand Neels. Ons toer deur die bos. Dankie dat jy saam reis!

  3. Anze

    25 Februarie 2016

    Ai dit is darem altyd lekker om jou bydraes te lees.. so vol opwinding!!! Ek kan nie wag vir die volgende hoofstuk van jou heerlike ondervinding nie!

  4. Ano

    25 Februarie 2016

    Oe yay!! So bly jy het jou tas gekry. Ons ken baie van bagasie wat elders vlieg as die eienaar. Of wegraak. Soms vind dit sy pad terug, soms nie. Ek verstaan ‘n mens kan op JFK onopgeeisde bagasie koop teen ‘n appel en ‘n ei!

    • Kiekies

      7 Maart 2016

      Dit gaan maar stadig hier by my, maar die reis sal een of ander tyd voortgaan. dankie dat jy saam toer.

      • Kiekies

        7 Maart 2016

        Dankie dat jy saam reis Ano. Dalk moet ek eendag op JFK gaan loer of my bagasie nie daar geland het nie,

  5. Evelyn van der Merwe

    4 Maart 2016

    Jy het omtrent met ‘n “bang” weggespring. Stem saam Ano dat jy dankbaar kan wees dis opgespoor.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 45
Kommentaar telling: 558

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 109 gaste aanlyn

Bydrae Totale