Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Windgatte

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 25 Mei 2019 Aantal woorde: 1754 84 Kere gelees 2

Windgatte, deur Stephan Uys
(waarskuwing: nie vir sensitiewe ruikers nie!)

Ek kom uit twee families vol windgatte. Aan beide pa en ma se kant is daar massiewe stambome propvol windgatte. Maar moet my nou nie verkeerd verstaan nie, ek praat nou nie van daardie windgatte met pampoen-dra-armpies en klein-mannetjie-sindroom nie. My familie het regte egte windgatte; windgatte wat skoolsale kan ontruim en belangrike vergaderings kan ontspoor.

My ma beskuldig my pa van oordrewe flatulensie; so al asof dit ʼn siekte is wat net van sy familieplaas af oorgewaai het. Ek het egter eersterangse ervarings van haar pa en broers se windgatgeite. Oupa (aan ma se kant) was voor sy aftrede ʼn regeringsamptenaar. Sy salaris was deur belastingbetalers betaal en hy het geen tyd vir belastingontduikers gehad nie. Menige maal het ek hom hoor sê: “Dit wat nie belasting betaal nie moet uit.” Dit was gewoonlik net voor- of net na ʼn warm briese uit sy binneste ontsnap het. Ek onthou Oupa moes een oggend vier melkkanne vol melk vir die honde uitgooi want hy het een van daardie belastingontduikers te naby aan die melk laat ontsnap. Ek het nog nooit vars melk so vinnig sien suur word nie. Die honde het nie eers daaraan geraak nie. Ouma het die bakke melk vir twee maande net so daar buite laat bly staan, want elke vlieg binne ʼn vyf tree radius het summier gevrek.

Ma se oorlede oudste broer het weer die gewoonte gehad om my (en later die ander kleinkinders) te vra om sy vinger te trek. As klein seuntjie was dit te lekker om die geluid van ʼn magtige mishoring te hoor as ek met alle geweld sy wysvinger probeer afruk. Dit was natuurlik ‘n geval van trek en vlug! Ek weet nie of dit as gevolg van ʼn langer dermkanaal was, of as gevolg van die baie alkohol wat hy gebruik het nie, maar ek is seker daarvan as jy daai poepe kon bottel kon jy dit as firelighters verkoop het. Ek reken jy sou die verbruikers net moes waarsku teen die moontlikheid van radioaktiewe gasse. Wie weet hoeveel skade het my longe opgetel van al daardie vingertrekkery?

Oupa aan pa se kant was wat hulle vandag sal noem “loud and proud”. Hy was ʼn boer in murg en been en was selde binnenshuis gevind, wat straks ʼn goeie ding was vir Ouma se asma. Alhoewel oupa altyd buite was, het ouma selde of ooit nodig gehad om te wonder waar haar wederhelfte op enige gegewe tydstip was. Sy (en die buurvroue in die omgewing) kon duidelik sy beweging van plant na plant in die tuin hoor. Hy het gereeld “sterwende” voëls in die tuin gekry wat hy dan besorgd huis toe gedra het. Ouma het hulle voor ʼn venster (aan die kant van die huis waar oupa nie werk nie) neergesit. Tien minute later was die voëls wonderbaarlik herstel en weer vol lewe. Oupa het nooit die selfde voël twee keer in die tuin opgetel nie. Ek vermoed die arme voëls het hulle families en besittings bymekaargeskraap en in aller haas na die volgende dorp verhuis.

Oupa het sy windgatgene aan Pa oorgedra. Pa het nie sy talente onder die mat begrawe nie. Inteendeel, hy het gewoeker daarmee soos min ander met hul talente kon woeker. Ek onthou ek het as jong seun eendag ʼn army-fliek gekyk. Daar sien ek toe dat die troepe in Amerika en ek iets in gemeen het – hulle word net soos ek elke oggend met die geluid van ʼn beul wakker gemaak. Die enamel verf in die badkamer het begin afskilfer na ʼn paar maande en Ma moes gereeld al die mure verf want hulle het ʼn groen skynsel begin kry. Ek onthou pa was een aand lus vir tarentaalvleis, maar daar was nie meer haelgeweerkoeëls nie. Hy nooi toe die buurman om te kom skiet, op voorwaarde dat ons ook ʼn tarentaal kry. Die buurman, wat self lief is vir tarentaalvleis, laat hom nie twee keer nooi nie. Hy vertel later, na die jagtog, vir ons wat daar in die bos gebeur het. Hy was glo besig om aan te lê toe daar ʼn swawelwalm van ongekende konsentrasie hom oorval. Omdat hy geen kennis dra van die skade wat so ʼn swawelkonsentraat kan veroorsaak in ʼn man se longe nie, besluit hy om maar die skietery te los en vir sy lewe te vlug. Hy vertel hy het geweer in die hand uit die bos gestrompel terwyl dooie tarentale van bo uit die bome op hom neerreën. Hy was verstom toe hy uit die bos strompel en sien pa is nie saam met hom nie. Hy was nog besig om moed bymekaar te skraap om pa te gaan soek toe pa met so ‘n stuk of agt tarentale uit die bos uit gestap kom. Nie een van ons het die moed gehad om hom te vertel dat pa ook ʼn meester van die “silent but violent” gaslatings is nie. Ma het hom genooi om saam te eet, want hy was ʼn alleenloper en dit het nie gelyk of hy krag het om vir homself kos te maak na sy ervaring in die bos nie. Na ete het ma vir die man ʼn groot bak tarentaal saam gegee om huis toe te vat; die vleis het ʼn baie vreemde gekookte-eier reuk gehad wat sy net nie kon afgesluk kry nie.

Ek het al vantevore vertel van Neef wat my een oggend amper in ʼn koma geplaas het nadat hy ewe gasvry geraak het terwyl ons my bakkie probeer herstel het. ʼn Diep duisternis het oor my gewalm en dit was so hittete of ek moes self ingaan vir herstelwerk. Ek en Neef mag dalk nie die selfde van dra nie, maar ons sit beslis op die selfde tak van die familieboom.

Liefie het ook sommer vroeg-vroeg geleer van my passaatwinde en dat sy nie te vinnig moet kla oor koud kry nie. Een aand (ons was nog nie lank getroud nie) voel ek effe vryerig, maar Liefie sê sy kry koud. Ek is in murg en been mos ʼn probleem-oplosser en synde my voorsate se gene sterk deur my waai het ek ʼn oplossing vir haar probleem. Ek rol so op my sy en maak die atmosfeer in die bed lekker warm, sodat Liefie die koue se byt nie so erg hoef te voel nie, natuurlik met net die edelste van edel bedoelings. Ek het ongelukkig vergeet dat warm lug opstyg. Terwyl ek nog so lê en atmosfeer inpomp tussen die laken en duvet, begin die duvet sweef! Dit veroorsaak dat van die warm lug ontsnap en deur koue lug vervang word. Dit veroorsaak weer ʼn uiters onaangename sikloniese effek in ons bed. Liefie snak-snak na haar asem, so al asof sy sukkel om lug in haar longe te kry. Ek loer in haar rigting, maar my eie visie is effe wasig. Deur die newels sien ek Liefie probeer iets sê, maar dis asof die lug nie lekker oor haar stembande wil vloei nie. Ek proe self dat die lug effe dik is. Teen hierdie tyd het Liefie opgegee om te praat en sy strompel-val na die venster toe. Sy ruk met verwoede spoed die venster oop en druk haar kop so ver moontlik deur die diefwering. Liefie staan en asemteug daar in die venster soos ʼn industriële balkmasjien. Soos vars lug van buite af instroom begin my visie verbeter en ek is bly om te sien dat haar sieklike groen-geel velkleur ook begin verdwyn.

ʼn Minuut later het die duvet al weer snoesig om my kom lê, maar die oop venster stoot steeds ʼn koue briesie in die kamer in. Ek sien Liefie se vel begin al rooi te gloei en ek vermoed dis van die koue windjie. Ek vermaan haar liefderyk: “Maak toe daardie venster voor ek koue vang Liefie, jy laat al die hitte uit die kamer ontsnap.” Maar mens, daar kom ek toe agter haar rooi nek en gesig het weinig met die koue uit te waai. Sal die vrou my nie daar en dan beskuldig van ongeskiktheid en roekeloosheid nie. Sy beskuldig my ma omdat sy my kwansuis nie eers die basiese dinge van opvoeding geleer het nie. Teen die tyd is die kamer al weer yskoud en ek wil nie siek word nie, toe poep ek maar nog ʼn keer…

Ek weet vir ʼn feit dat flatulensie so normaal is soos nies of hoes; maar ek dink ek weet ook hoekom mense so vreemd reageer as dit rondom hulle gebeur. Jy sien, die mens is inherent vrek nuuskierig en baie ongelowig. Hierdie twee eienskappe maak dat dinge sleg skeefloop as daar ʼn poep van epidermiese porporsies in hulle omgewing gelos word – veral as dit sonder die nodige waarskuwende geluide gebeur. Jy sien, eers kry jou neus die vroeë waarskuwing in die vorm van die voorloper-aromas wat soek vir plekke om na toe te ontsnap. Dis nou hier waar jou nuuskierigheid jou sleg indoen. Hoewel jou neus jou waarsku dat iets nie pluis is nie, is jy so nuuskierig om te weet wat dit is dat jy so bietjie dieper asemhaal en soos ʼn fynproewer aan die aroma kou. Nou skop die mens se inherente ongeloof in. Alhoewel jy redelik seker is dat die reuk die werklikheid is en nie net ʼn nadraai van ʼn kindernagmerrie nie, kan jy net nie glo dat daar werklik iets so stink en verstikkend kan bestaan nie. Jou ongeloof maak dat jy nou onwillekeurig diep teug aan die afstootlikheid. Maar nou het jy moeilikheid, want die lug wat jy inasem het weerhake wat orals in jou lugweë vasslaan. Verder is die chemiese samestelling van so ʼn aard dat die ingeasemde lug dik word in jou keel sodat dit voel of jy dit nie kan afsluk of uitblaas nie. Ek het al hoeveel keer gesien hoe mense loop en spoeg-spoeg in ʼn poging om van die obstruksie in hulle kele ontslae te raak sodat hulle net weer bewegende lug in hulle longe kan inforseer. Jy het rêrig moeilikheid as jy in ʼn hysbak is en een van hierdie lugbesoedelaars ontsnap uit sy gevangeskap. Die enigste ding wat jy kan doen is om jou mou of jou hemp oor jou neus en mond te hou sodat die ergste van die besoedeling nie toegang kry tot jou asemhalingstelsel nie.

Daar is darem ʼn silwer randjie om hierdie donker, verstikkende newel – navorsing toon blykbaar dat gereelde poepers minder geneig is om kanker in die derms te kry. Ons mag dalk vind dat die regering eersdaags emissie-belasting begin hef, maar tot dan is flatulensie onbelasbaar en boonop goed vir jou. So gaan vir goud, al word almal rondom jou groen!

©Stephan Uys 2019/01/09




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    28 Mei 2019

    Oe-ê-ê! :-)))))
    En ‘n lang vergete herinnering toe ek op ‘n dag vir Hubby met die vlieegif bygekom het…. Brommers moet mos dood, of hoe?

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 28 gaste aanlyn

Bydrae Totale