Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Willem Farmer en Swaartekrag

Deur Zeekoesteek
Datum gepubliseer: 8 Mei 2016 Aantal woorde: 1548 875 Kere gelees 8

Willem Farmer en Swaartekrag
Ek het nooit geweet waarvandaan Willem Farmer kom nie. Hy was maar net altyd daar. Nou moet ek sê dat “altyd” op daardie stadium nie baie lank was nie. Ek dink hy het uit Springbok se wêreld gekom maar Oupa het altyd gesê hy kom nie van Namakwaland af nie. Sy tande was te bruin. Oupa sal weet. Hy ken Namakwaland. Oupa ry ’n Dodge. ’n Swarte. So hy behoort te weet.
Oupa was ’n Poliesman. In Namakwaland. So hy weet alles. Hy het patrollie gery met ’n kameel in Witsand se wêreld. Dis in die Kalahari. Woestyn. Daai tyd het niemand in die Kalahari ingery nie. Ek meen dit was voor die Goewerment die paaie gegruis het en ’n mens daar kon gaan. Seker dieselle tyd as wat daai Columbus ou die stofsuier uitgevind het. Hy was op pad Amerika toe, toe hy die ding aanmekaargesit het. Toe het Oupa al met ’n kameel daar gepatrollie. Hy was ’n Sersant of iets. Sy beste maat was oom Jonnie Rose. Ek het nie die oom geken nie maar Oupa het altyd van hom gepraat.
Willem Farmer het in die groentetuin gewerk. Dis ’n spesiale werk. Nie elke mens kon in die groentetuin werk nie. Koolplantjies het ’n manier om te vrek as jy nie ’n groentetuin verstaan nie. So sê Willem Farmer. Die koolplantjies het altyd in ’n halwe drom gegroei. Ek weet nie hoe dit daar gekom het nie maar dis waar hulle altyd gegroei het. Dan het jy hulle uitgehaal en uitgeplant in die akker. Dis waar Willem Farmer ingekom het. Hy het baie goed geweet van koolplantjies. En raap.
Willem Farmer het die koei gemelk en die hanslammers bottel gegee maar sy eintlike werk was om in die groentetuin te werk. Hy was, wel, ’n groentetuinman. Sy groente het net anders gegroei. Ek meen sy kool was so groot soos ’n kalf se kop. Party kalwers se koppe is groter as anders sin.
En Willem Farmer het winkel toe geloop met die mandjie. As hy pad gevat het winkel toe het ek altyd saamgegaan. Partykeer het hy met sy fiets gery. ’n Backpedal. Dan het ek op die pyp tussen sy kniekoppe gery. Die mandjie was met ’n riem agterop vasgemaak. By Diepknik het Willem Farmer soms die fiets gestoot teen die bult uit. Dan het ek die handles styf vasgehou. As hy nie moeg was van die TB nie het hy die bult uitgetrap en moes ek vashou vir al wat dit werd is.
Die lekkerste ding van Willem Farmer was die vyeboom. Die boom het Adamsvye gedra. Sulke rooieriges. Ek het baie van daai boom gehou. Die muisvoëls het ook baie van die boom gehou. Selfs die spreeus het daar kom sit. Onder die vyeboom was daar ’n pomp wat die tuin uit die voor uit nat gepomp het. Ek weet party mense noem dit ’n kanaal maar ons het dit “die voor” genoem. Die ou mense het die voor met die hande gegrawe. Dis anders as ’n kanaal. ’n Kanaal word van sement gemaak. Of so iets.
Dis by die vyeboom waar Willem Farmer my geleer het van swaartekrag. Een dag het hy weer die tuin dopgehou uit die skaduwee van die vyeboom. Die groentetuin moet soms dopgehou word. ’n Mens moet blykbaar sien dat alles goed afloop. In elk geval, Willem Farmer het my toe geleer van swaartekrag.
Daar het ’n groot, vet Adamsvy op die grond gelê. Ek het gedink die spreeus het dit afgeskop. Toe verduidelik Willem Farmer my van swaartekrag. Dis moeilik om te verstaan. Dis te moeilik om te verduidelik maar dit beteken dat alles inmekaar pas. Ek weet nie hoe nie maar alles pas inmekaar. Willem Farmer sê dat as dit nie vir swaartekrag is nie kan ’n mens nie praat nie. Jou stem loop blykbaar op swaartekrag. As daar nie swaartekrag is nie kan die stemme nie by mekaar uitkom nie. Of so iets. Blykbaar het die stemme iets nodig om hulle te laat hoor. Iets soos branders.
Willem Farmer het ’n rek van rooi tjoep gehad. Hy kon daai ding skiet. Omtrent elke dag het hy ’n blouduif of twee op die kole gebraai.
Growwe sout. ’n Mens het growwe sout nodig om ’n duif op die kole te braai. My ouma se Boerewinkel het growwe sout aangehou. Party mens het dit vellesout genoem maar dit het goed gewerk op ’n duif.
Swaartekrag is baie moeilik om te verstaan. Dit beteken dat alles een is maar dat alles uitmekaar is. ’n Mens moet onthou dat alles soos ertjiesop is.
Nou weet ek nie so mooi nie. Ertjiesop. Ja, ertjiesop. Dis wat Willem Farmer gesê het. Ertjiesop. Jy kan blykbaar nie die ertjies en die sop uitmekaar kry nie. Alles is soos ’n groot pot vol sop. Ek weet nie waar Willem Farmer aan die storie kom nie. Dis hoekom Oupa sê hy kom nie uit Namakwaland uit nie. Namakwalanders glo nie aan swaartekrag nie. Dis wat Oupa sê.
Die Roomse glo aan swaartekrag. Willem Farmer is ’n Roomse. Vader Baldesellie het blykbaar gesê alles draai in die rondte. Ek sal so dronk soos ’n tol wees as dit waar moet wees. Vader Baldesellie kom van baie ver af. Italië of iets. Oupa sê die Roomse en Kommuniste is dieselfde. Oupa is ’n Sap so hy weet.
Wat snaaks is dat vye grond toe val omdat daar swaartekrag is. Willem Farmer sê die vrye sal oral wees as dit nie vir swaartekrag is nie. Dit meen die vrye sal rondsweef.
Ek weet nie of ek vir Willem Farmer moet glo nie. Hy glo in die waterslang en Oupa sê mense wat in die waterslang glo is primitief. Ek weet nie wat dit beteken nie maar dis iets soos dom. Nie heeltemal nie maar so iets. In elk geval, vye val en as jy in die oggend vroeg daar is, kan jy dit optel en eet. Gewoonlik het die voëls dit geëet en daar is altyd ’n gat wat jy moet uitsny. ’n Voëlbek.
Willem Farmer sê die voëls weet wanneer die vye op sy lekkerste is. So ’n voëlbek is altyd die lekkerste. Dis soos Oupa weet watter waatlemoen is die lekkerste. Hy klop net met sy vinger op die waatlemoen en weet dan of jy die waatlemoen kan pluk. Hy klop altyd met sy middelvinger. Die een waarmee hy sy pyp stop en die twak vasdruk. Daai vinger is al effe swart van die pyp stop. Dit het seker ook iets te doen met swaartekrag. Alles het glo met swaartekrag te doen. Volgens Willem Farmer. Oupa sê hy is laf. Dis oor hy ’n Roomse is.
Oupa rook Springbok twak. En Cavalla Kings.
Een dag kap Willem Farmer ’n haan se kop af met die klein byltjie. Ma wou ’n hoeder gaarmaak vir Sondag se groot ete. Oupa en Ouma kom Sondae eet. Met die Dodge. Net toe die kop waai ruk die hoender los en raak aan die hol. Op dieselfde tyd kom suster Annerie om die huis se hoek gestap en sy en die afkop hoender is in mekaar se pad. Die hoender se kop is af so hy kan nie hoor of sien nie maar Annerie dink nie daaraan nie, sy gil en probeer uit die pad kom. Die hoender storm net vorentoe asof swaartekrag dit agterna sit. Annerie besef uitkomkans is daar nie en sy skree net “Ma!” en maak haar oë toe met haar hande.
Op die ou ent hol die hoender hom kapot teen Pa se vaal Chev. Hy lê net daar en ruk. Annerie het in haar broek gepiepie maar Ma sê ek mag vir niemand vertel nie. Dis glo van die skrik. Ek het gedog sy skrik net vir vaal paddas.
Doller as kopaf het Willem Farmer dit genoem. Ek weet nie wat dit beteken nie. Kom seker uit die Roomse Bybel.
Toe Willem Farmer die hoeder se vere aftrek in die kookwater vra ek hom weer oor swaartekrag. Hy sit die hoender neer en antwoord afgemete; “Alles is daar oor swaartekrag. Alles. Ook hierdie hoender. Alles. Los my nou, ek is besig. Ek moet nog voer loop sny vir die melkkoei.”
Later kom hy oor die bruggie oor die voor geloop met ’n bondel vars lusern op sy rug. Dis met ’n riem in ’n bondel vasgetrek.
“Is lusern ook daar oor swaartekrag?” vra ek.
“Alles.” knor hy. Sy knie is seker weer seer. Sy knie is altyd seer as hy lusern gesny het.
Later toe hy die koei melk verduidelik hy my van swaartekrag. Hy is altyd rustig as hy die koei melk. Hy sê die koei sal nooit sak as jy nie rustig is nie.
“Alles is daar oor swaartekrag. Elke ding is aanmekaargesit uit bitter klein goetertjies. Mens noem dit molekules. Hulle word aangemekaar vasgehou deur iets soos swaartekrag. Die lug, die water, alles. Daarsonder kan niks bestaan nie.”
“Hoe weet jy dit?” wil ek weet.
“Ek het skool gemaak,” antwoord hy trots.
Toe ek later onder die vyeboom sit dink ek weer oor Willem Farmer en swaartekrag. Hy het gesê dis al wat God gemaak het. Swaartekrag. Dit sit alles in plek. Alles.
Seker omdat hy ’n Roomse is.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. neels

    8 Mei 2016

    Hierdie het ek nou baie geniet

  2. Anze

    9 Mei 2016

    dit was nou wraggies n lekker lees hierdie!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 8
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 34 gaste aanlyn

Bydrae Totale