Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Wie is daar?

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 20 Junie 2019 Aantal woorde: 509 118 Kere gelees 2

Alhilal bin Zayed, ’n Arabier van die Liwa distrik, is per kameel op reis deur die heuning kleurige duine. So dagreis weg van sy kameel plaas af. Hy was by ’n skou vir kameel boere en is meer as tevrede met die pryse wat sy diere daar verwerf het. Dit beteken dat hy nog meer Durham in sy sak sal hê na die volgende kameel veiling.

Die smelt-warm Arabiese son bak fel neer op mens en dier. Dis eers toe Alhilal die sand dwarrels in die vêrte bespeur, dat hy besef ’n sandstorm trek in sy rigting. Hy beter vinnig beskerming prakseer. Hy halt sy rydier, trek sy tent uit die saalsak en slaan vinnig tent op.

Teen die tyd dat die eerste sandkorrels oor hom neerdaal, is hy veilig binne in sy tent. Die flap is stewig toe gerits. So wag ’n kenner van die woestyn, ’n sandstorm uit. Dit maak geen sin om voort te beur soos ’n blinde nie. In so storm is sig beperk tot die kameel se voorpote en nie ’n tree vêrder nie.

In die donkerte van die tent sluimer die Arabier liggies in, totdat hy ’n gekrap aan die tentflap hoor. Hy trek die ritssluiter net ’n klein entjie oop en loer deur skrefies oë na buite. Stomgeslaan besef hy; dis nie ’n mens nie, maar sy eie kameel wat op sy knieë voor die opening staan.

Met ’n bewerige stem vra die kameel: ‘Meester, ek bibber van die koue. Mag ek asseblief net my voorpote in die tent druk?’ Alhilal laat dit gelate toe, want ai siestog, die dier moet hom nog huis toe dra wanner die storm verby is.

Net toe die Arabier se kop weer knik, is daar weer ’n krapgeluid aan die tentflap. Weer maak hy net ’n skrefie oop en weer is dit die kameel met ’n bek vol sand en nat oë, wat smeek: ‘Meester, die sand kriewel tot agter my mangels en my oë krap soos skuurpapier en traan sonder ophou. Mag ek nie asseblief tog maar my kop ook in die tent hou nie?’ Meester het ’n goeie hart en kan nie anders as om hom jammer te kry nie. Hy laat maar gedweë toe dat die kameel sy kop op sy voorpote binne-in die tent sit. Hy rits die tent toe tot teen kameel se nek.

Alhilal sluimer egter nie weer in nie, want twee klam, tranerige en jammerlike oë hou hom dop en hy voel heel ongemaklik. Vir ’n tyd lank probeer hy die twee kykers ignoreer.

’n Uur later klou Alhilal verbete sy geruite doek oor sy kop vas. Sy oë is vreeslik krapperig en sy neus is so vol stof, dat hy proestende deur sy droëmond asemhaal.

Hy sit buitekant die tent, want stukkie vir stukkie het hy die kameel toegelaat om die tent binne te dring. In sy gedagtes hoor hy sy oupa Jaghar se woorde:
‘Ou seun, jy moet altyd in jou pasoppens wees vir wie of vir wat jy jou tent se flap oopmaak!’




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Toom

    23 Junie 2019

    Briljant!
    ‘n Sterk beeld van vertroue; hoe ouers se raad tog betekenis het.
    GvT

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 554

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 86 gaste aanlyn

Bydrae Totale