Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Wees gegroet, Mnr. Die Grotman Nommer 2!

Deur Ano
Datum gepubliseer: 16 Oktober 2019 Aantal woorde: 793 84 Kere gelees 2

Goodbye, au revoir, adiós, cheers, koebaai en voetsek – tot in ewigheid.

Dit was so saam met bed opmaak vroeg een Saterdag toe Hubby opgewonde vertel dat Derrich Gardner van die nasionale radiostasie, Radio Sonder Mense, die opvoering “Groet die Grotman 2” baie dringend adverteer. En ons moet sommer DADELIK kaartjies koop want dit sal sekerlik gou uitverkoop word, daar is immers net drie vertonings in die naaste teater.

OK… Ek weet ons het oor tyd so bietjie lui geraak om uit te gaan en teater is darem altyd lekker. En is dit nie ons onuitgesproke plig om ons plaaslike akteurs/skrywers/skilders en enige ander inheemse kunsvorm te ondersteun nie? Taal – ons kerm altyd so oor taal, en hier is mos nou ‘n gawe geleentheid om ons taal en kuns te ondersteun.

Siende dat eers NuMetro en toe SterKinekor die wyk uit ons stad geneem het, het ʼn aandjie uit skielik ʼn rarigheid geword. Ons “klub” nie, gaan sit nie in pubs en rugby kyk nie, die Hasiepark is gesluit en sonder hase, dus waarheen nou? Ek verstaan dat Netflix en daardie kanale die rolprent- en teaterbedryf ʼn lelike knyp gee, maar daar is darem seker ander mense wat ook daarvan hou om nou-en-dan uit hul grot te kruip en die teenwoordigheid van ander plesiersoekers te geniet? Die springmielies is natuurlik ʼn lekker bonus, veral as iemand anders dit maak. Dit proe bloot net baie beter sonder die smaak van gebrande pitte.

Ons sitplekke is betaal en met groot opgewondenheid ry ons na die teater vir ʼn paar uur se prettige samesyn. Grotman stap op die verhoog. Oulik! Hy lyk soos ʼn grotman. Dis net, toe die akteur sy mond oopmaak val daar binne die eerste twintig woorde ten minste tien vloekwoorde ook uit. En nie sommer-maar-net flou woordjies nie. Nee, dis die grotes. Daai’s waaraan ek al aan gedink het maar nog nie gewaag het om iemand toe te snou nie. Hier en daar lag iemand in die gehoor en dit is blykbaar ook goeie aansporing want hiervandaan is dit links en regs, soveel dat dit al hoe moeiliker word om die grappies te volg. Al wat ek hoor is … sjoe, nee wag bietjie. Ek kan nie so laag daal deur dit te herhaal nie.

Na ʼn paar minute is snaaks ook lankal nie meer snaaks nie en die eerste bedryf hou ten minste twee dae te lank aan. Kyk, ek is nou werklikwaar nie lelie-wit en onskuldig nie, maar daar is darem seker perke aan alles? Ek wil loop, maar Hubby wil sit want hy het die kaartjies betaal. Nukkerig sit ek daai gestoffeerde stoel vuurwarm en wonder of dit ook die akteur se daaglikse taalgebruik is? Dit vloei immers so gemaklik soos tjoklitmelk. Wie het hierdie teks geskryf en waarom is daar net ʼn ouderdomsbeperking van 13 op die kaartjie, maar sonder om te sê waarvoor? As ʼn fliek ʼn ouderdomsbeperking het van 18, en dit is gemerk vir taalgebruik, weet ek byvoorbaat dat dit nie in my smaak sal val nie.

En ek wonder steeds wat so vreeslik “hilarious” aan die toneelstuk is. Inteendeel, ek is deeglik vies. Die hele tyd het ek die behoefte om te gaan hande was, miskien tandeborsel. Iets om my van hierdie vuil Afrikaner-onder-die-belt-mentaliteit te verlos. Herder, ons is omtrent ʼn onbeskofte en onopgevoede spul agtertangse barbare. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd kry ek skaam om ‘n Boertjie te wees.

Tuis ontmoet ek vir Mnr Google en ons kyk na ʼn paar minute voorskou van die produksie. Man, is dit nou oulik! Iets lig en onsinnig om ʼn vervelige middag korter te maak. My oog vang ʼn vriendin se naam wat hierdie selfde produksie ge-“like” het. Mmm. Nou nie die persoon wie ek sou verwag om soveel vieslike vuilbek te geniet nie! Nuuskierigheid por my aan om na die foto’s te kyk. Ai, kyk hoe geniet die mense dit – in ʼn kerkgebou nogal. Daardie reguit hout banke is verseker nie deel van ʼn teater nie, en ek is oortuig dat hierdie selfde produksie nie daardie dag presies dieselfde geklink het nie. Dalk hang die taalgebruik van die dorp se reputasie af (dit is immers Brakpan). Maar miskien het ons Afrikaner net so ʼn commin platvloerse mamparra geword wat net toilet-humor kan geniet. As die grappies nie 10cm onder die belt is nie, dan is dit nie snaaks nie. Ons staan met ons drankbottels om die kampvuur en burp vloekwoorde uit, vinniger as wat ek Smarties verorber.

Aartklop? Inibos? Oppiwater? Nee wat, nie eens meer doodgewone teater in die buurdorp nie. Dalk is ek tog net ʼn stuck-up, outydse, suur tannie met ʼn knoop in haar pienk geblomde bloemertjie. So be it. Dankie tog vir die vryheid om te kies waaraan ek my oë en ore blootstel want teater in die buurdorp sien my nie sommer weer nie. Yuck.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Riaan Palmer

    16 Oktober 2019

    Baie dankie Ano vir die lekker resensie! Ek het heerlik gelees – jou skryfstyl val presies in my smaak!

    Ek het nogal gewonder oor die Groet die Grotman 2 storie…
    Ons moet darem net vir die rekord sê dat ek ‘n berugte vuilbek is en in ‘n ander lewe ‘n matroos kon gewees het. (Weens die soort werk wat ek doen, het ek nou al alles gesien het gehoor, so niks skok my of laat my meer bloos nie. Ek dink my “sensor” is al stukkend.) Maar ek het in die geskiedenis van tyd nog nooit onder iemand se onderrok of onderbroek in gevloek nie!

    Ons het jare terug die eerste Groet die Grotman gaan kyk met Hannes Muller. Dit was natuurlik die een wat vertaal is deur Koos Kombuis vanaf Rob Becker se weergawe. Ek het dit vreeslik geniet – so ek was nuuskierig oor nommer 2…
    As dit egter die “Molly en Wors” of die “post-2000 Leon Schuster” tipe “onintelligente” humor is, sal ek dit maar eerder ‘n “skip” gee!

    Lekker gelees! Jy kan gerus weer/nog resensies skryf! 😉

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 45
Kommentaar telling: 92

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 104 gaste aanlyn

Bydrae Totale