Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: WEES BEWUS.

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 14 Oktober 2019 Aantal woorde: 734 102 Kere gelees 1

Wees bewus.
Ons het vandag vyf kilometer gaan stap in die hoop dat ons mense bewus sal maak van die Swart-hond en angs en soveel ander gemoed-aftakelaars wat baie mense se geestesgesondheid bedreig. Ek wens dat dit nooit ons lewens betree het nie. Vir ons is dit ons persoonlike Via Dolorosa ter ere van en in herinnering aan ons Seuna-kind. Vir hom is dit te laat, maar daar is hoop vir ander.

Die slagspreuk op die T-hemde is: ‘verbreek die stilte’. Ons moet daaroor praat. Ons moet die mens wat daaraan lei, help om te praat. Baie stappers het bio afbreekbare blou ballonne aan hul arms vasgebind. Ons mag dit nie laat opgaan hemel toe nie, want dis nou die wet.

Ons het vroegoggend onse baai verlaat, rigting Stellenbosch. ’n Pragtige dag is vir ons bestel. Aangemeld en aangeteken, tree ons aan voor die groot blou opblaas-boog. Daar is ’n ou met ’n mikrofoon, wat opgewek gesels, opmerkings maak en al die stappers aanmoedig. Wanneer hy stil is, speel vinnige musiek waarop mens nie rêrig kan stilstaan nie. Daar is deelnemers van alle ouderdomme, alle geslagte, alle rasse, alle groottes en alle vorme. Klein kindertjies in drasakke op ma of pa se rug of in stootkarretjies. Silwerwit hare van oumas en oupas.

Ons word vooraf die pad, so min of meer beduie, maar is verseker dat daar by elke afdraai pyltjies sal wees om rigting aan te dui. Ons kan maar ook net die ballonne volg. Op die kop 8.30 word ons afgesit en ons trek met mening weg. Deur die hek, skerp regs en weer links, langs die eerste wingerd af.

Voor my is daar ’n groep studente van UWK. Bloedjong meisies en seuns. In heel my lewe het ek nog nooit soveel drillerige, wriemelende, vet boude bymekaar gesien nie. Dit lyk soos oorgewig bulhonde wat in ’n streepsak baklei. Natuurlik steek ons hulle sommer gou verby en ek trek my boude styf, in die hoop dat ek nie ook so lyk van agter nie. Dit kom nou daarvan as jy ander mense in jou gedagtes kritiseer.

Na die Boud-Brigade kom ek agter ’n dame te stap, wat nêrens gaan sonder haar handsak nie. Ma het altyd vir ons geleer, ’n vrou gaan nêrens sonder haar handsak nie. Basta met net ’n beursie onder die arm vasknyp, jy vat jou handsak. Hierdie vrou moes ook so geleer gewees het. En haar sak pas perfek by haar tekkies. Sagte malvalekker pienk.

Ek besluit om eerder end te kry met kritiek en oordeel en die mooi langs die pad te bewonder. Die draad omheining van die plaas is toegegroei onder helder rooi Bougainvillea. Op die agtergrond die majestueuse blou-pers berge. Sovêr die oog kan sien staan die onkruide vol in die blom. Pers en bloupers papier-blommetjies skep ’n see van purper.

Teen die grond langs die pad vergaap ek my aan die absoluut volmaakte bottergeel sterretjies. Op langer stingeltjies pryk skel-geel tosseltjies, ewe kordaat. Niks groter as my kleintoontjie se nael nie. Skaam pienk daisietjies loer oral uit. ’n Struik is oortrek met maagdelike wit trossies blomme. Ek weet nie hoeveel spesies grasse ek gesien het nie. Sommige met silwer pluime en ander met ligpers wollerige jakkalssterte.

Tortelduiwe koer uit hoë bome, die lied van die lewe. Mossies tjirp opgewek en die Kaapse Jan Frederikke met hulle oranje borslappies, roep hulle eie naam: ‘Jan-fre-d’rik, Jan-fre-d’rik!’ ’n Koor van melodieuse voëlgesang. Behalwe die kraaie wat luidkeels en van die noot af, lelik kras.

Om die laaste draai net duskant die plaasdam verras ’n kappertjie-tapisserie my. ’n Ligte briesie kartel daaroor en in my geestesoog sien ek hulle spring op-en-af. Ek hoor hoe klap hulle oranje en geel handjies, terwyl hulle skril uitroep: ‘Uithou, aanhou, julle is amper klaar.’ Laat dié wat ore het dan hoor.

Ons stap nou agter die aroma van spek en boerewors aan, want die mark is ook al goed op dreef. Die reuk van varsgebakte boere brood en ciabatta gryp my aan die neus. Ek is al van die eerste draai af lus vir koffie, wat darem heerlik sal afgaan saam met ’n ou broodjie. Met hernude energie wikkel ek daai boude, drillerig of de not. Ek gee nie meer om wat hulle van agter af sien nie.

Nommers 142 en 144 het klaargemaak. Volgende jaar doen ons dit weer. En elke jaar, solank ons kan. Net vir jou Seuna-kind!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 49
Kommentaar telling: 568

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 131 gaste aanlyn

Bydrae Totale