Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Wat sou jy kon doen met ‘n miljoen?

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 3 Augustus 2019 Aantal woorde: 1023 60 Kere gelees 1

Skryf vir ons in minder as 1000 woorde hoe ‘n miljoen jou lewe sou verander … of nie.

Die liedjie van Lucas Maree het op gespring toe ek die eerste keer die opdrag sien. Dit is eintlik ‘n debateerbare onderwerp en was daar ‘n tyd wat ‘n miljoen baie was maar in vandag se terme is dit eintlik kleingeld vir die meeste. Kyk maar net wat karre en huise kos, dan praat ons nie eers van meubels nie.
Dit bring my dan by die vraag sal dit my lewe verander; ek glo dit sal my lewe baie verander.
Van 2000 moes ek leer om te oorleef met plus minus R600 ‘n maand. Indien ek ‘n paar boeke verkoop is dit bietjie meer. Of wanneer iemand bereid om te betaal vir dienste gelewer. Daar was wel tye tussen in wat ek ‘n inspuiting gekry het en meer gekry het. Daar was selfs tye wat ek minder as R600 verdien het. Selfs niks, vir baie lank. So my behoeftes het oor tyd geminimaliseer en leef ek net met die nodigste. Om my winkel toe te vat is nie ‘n bederf nie want wat koop ek in elk geval en waar sit ek dit? Spasie is maar min. Glo dit of nie maar vir lank het ek ‘n fobie gehad oor winkels. Kon glad nie in ‘n besige sentrum ingaan nie dan het ek in paniek en angs uitgeslaan. Tyd en met baie geduld van ‘n vriendin en Isak kan ek dit darem nou doen maar wanneer jy nie geld het nie vermy jy dit in elk geval. Maar dit is nou nie meer ‘n monster nie.
Vir agtien maande lank kon ek darem weer bietjie asem haal, het op vakansie gegaan en was bederf met gereelde haarafsprake, parfuum, manikure, ensomeer maar die harde werklikheid het vinnig weer sy weg na my gevind en bevind ek my weer by my ouerhuis. Dak en voedsel word nou deur my pa verskaf sodat ek darem nie nodig het om op straat te leef nie. Iets waaroor ek baie dankbaar is.
So om die vraag te beantwoord wat sal ek doen met ‘n miljoen is eintlik baie maklik vir my. En ek sê dit met die grootste nederigheid.
Nommer een sal ek my en my dogters bederf vir ‘n dag by die spa, net om die skok te kan verwerk natuurlik. Miskien ‘n paar maal die bankrekening oopmaak net om seker te maak ek droom nie.
Die volgende dag sal ek ‘n lugredery agentskap besoek en ‘n kaartjie boek Amerika toe, om by my seun te kuier vir ten minste ‘n maand lank. My seun bly al daar vir agt jaar en in die tyd kon ek hom nog net eenmaal sien, dit was in 2016, toe hy kon oorkom vir tien dae. Toe moes ek hom deel met familie en vriende. Op daardie stadium het ek ook ‘n tydelike werk gehad so my tyd saam hom was redelik beperk.
Vandaar af sal ek met ‘n finansiele adviseur gaan gesels, oor hoe die res van die geld vir my kan werk. Juis omdat daar soveel deure en geleenthede vir my sal oopgaan sal ek my geld slim moet gebruik en natuurlik moet strek. Want ‘n miljoen kan net sover gestrek word so die goue reël sal wees, wees slim en dink verder as die hier en nou.
‘n Kar sal defnitief die volgende item wees om te koop. Nie ‘n groot of duur kar nie, miskien weer ‘n Sparkie wat goedkoop is om te onderhou en lig op petrol is. My vorige Sparkie is gesteel deur ‘n man wat my werk belowe het in Stilbaai. Dit het nooit gerealiseer nie, en sit ek vandag sonder ‘n ryding. Om ‘n lang storie kort te maak het hy die kar verkoop vir R20 000 en my paar aardse besittings vir drie maande lank toegesluit onder die voorwendsel dat hy dit vir my stoor. Die skurk is darem nou agter tralies en dien ‘n drie jaar tronkstraf uit. Maar ek sit nogsteeds sonder ‘n ryding. So ‘n regte soet-suur kombinasie.
Die volgende stop sal wees ‘n klerewinkel, net om weer ‘n paar ordentelike kledingstukke te kan hê, klere wat ek self gekies het en nie ander mense se tweedehandse klere nie. My dogters wil ek ook ‘n bietjie bederf so daar sal ‘n paar pakkies op hul bed beland. My een meisiekind was in haar amper 33 jaar nog nooit by ‘n ginekeloog nie en omdat sy ook sukkel met gewrigspyne sal ‘n dokter of twee ook besoek word.
Dan sal ek ‘n huis soek om te huur. Die huur sommer ook ‘n jaar vooruit betaal sodat daardie las van my af is. Dit sal ‘n plek wees waar ek kan werk en besigheid doen sommer van dieselfde perseel af. Dit moet groot genoeg wees, in ‘n redelike besige area met bome en ‘n netjiese tuin. Dit sal my ook die vryheid gee om te eet wat ek wil, doen wat ek wil sonder dat ek die heeltyd onder ‘n vergrootglas is.
My besigheidsplan is sover op ‘n notaboekie aangeteken maar ek sal dit beslis dan nader trek om doelgerig aan die besigheid te bou. Die plan is om ‘n boekwinkel oop te maak, maar nie net ‘n normale een nie. Nee, dit moet dienste lewer en ‘n platform wees vir mede skrywers en lesers. Dit moet ‘n veilige hawe wees vir elke skrywer waar hulle raak gesien word en iemand hul boeke sal lees.
Die slotsom van die hele storie sal wees ‘n miljoen sal beslis my lewe verander. Op my eie het ek al baie dinge gedoen om my eie situasie te verander. Werk gesoek is bo aan die lys, ek het al ophou tel van die hoeveelheid kere wat ek my curriculum vitae weggestuur het met geen resultate nie. Daar is tye wat ek die depressie vloer slaan maar die luukse daarvan is maar kortstondig. Ek verloor my eerder in storie skryf of my gedagtes neerpen in radioprogram formaat om so ander te help as om my te verknies in die te korte. Die miljoen ‘n droom wat miskien eendag ‘n werklikheid sal wees.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 61
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 114 gaste aanlyn

Bydrae Totale