Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Was dit, PLAGIAAT?

Deur Toom
Datum gepubliseer: 10 November 2019 Aantal woorde: 2464 61 Kere gelees 2

Was dit, PLAGIAAT?
Hoe kom mens aan die idees wat jy kry? Aan die temas wat jou beweeg? Aan die goeters wat jy wil skryf?
In ‘n vorige artikel het ek daarop ingegaan: „WIE skryf WAT, HOE maar veral HOEKOM?” (Op ink.org.za, 2017):
„Soos die wind oralheen oor die land waai en oralvandaan
kom, waai die gees onbeheers, ongeteuel deur die ruimtes
en beroer iemand te enige tyd êrens. Dan word jy gepak. . .”
Dit wat ek gesê het, bly, vir my, geldig. Maar hoe is dit met daardie wind van die gees wat waai?
Sedert die bybelse tyd het die mens heelwat oor aardryks- en weerkunde geleer. Ons vandagmense weet mos of die „heersende wind” normaalweg uit suidoos kom, of dit ‘n winter- of somerreëngebied is, hoe ‘n haelwolk lyk. Ons kan al Woensdag vasstel of dit die naweek gaan reën en in die TV aankondig. . . En heelwat meer. Die beeldtaal van die bybel bly beeldtaal, is egter klaar en duidelik. Ons weet mos hoe dit bedoel is.

Maar die gees nou. Hoe beweeg dit? As ek in die pad van die wind gaan staan, gaan my hoed weggewaai word. Maar hoe gaan staan ek in die pad van die gees? Hoe kan ek (bewus) „gepak” word?
In ons verligte, kritiese eeu kan ons baie dinge wat vroeër geheim was, verklaar. Die sielkunde het blykbaar enige sulke geheimnisse onttower. Maar daar is nog altyd ‘n „gees”. Die begrip gees kan omskryf word, kan egter nie defineer, nie vasgehou en ontleed of in ‘n reagensie­glas gegiet word nie.
Ons gaan eerder daarvan uit, hoe die gees belééf word. Wanneer, waar en hoe ervaar ek die gees?
° Op die sportveld is twee mannskappe: Die toeskouers „vang gees”, hulle word geesdriftig, ‘n „spangees” heers. Ja, goed, maar daaruit kom geen inspirasie vir ‘n skryfstuk nie – buiten jy is ‘n sportjoernalis. So is dit ook met skoolgees, kompaniegees, dorpgees en soortgelyke geselskap­like dryfvere. Dit kan ons groepgees noem; dit kan positief of negatief wees. Byvoorbeeld, ‘n gesamentlike poging om iets goeds teweeg re bring, ‘n gevoel van sending of ‘n baanbrekergevoel (bv. „Fridays for Future”); ‘n teendelige voorbeeld — die mob, ‘n skaar mense wie se woede handuit­geruk het. Die groepgees kan dus goeies én slegtes beïnhou. Hy is vanself neutraal. En hy kán die bron wees van ons eie bestrewing.
° Die bottel- en die boomgeeste laat ons weg, saam met al die ander dwelmgeeste, want ons word nie bewus daardeur gepak nie, maar onwillekeurig „in die ban” gesleep, al sóú sommige kunstenaars meen dat dit hulle bevleuel.
° Die estetiek kan ek ‘n gees noem: Die drang (of die dwang?) om iets mooies, iets vreugdevolles te wil skep. Iets wat ek self gemaak het, net vir jou, vir julle. Seker is ‘n soort teen-estetiek ook denkbaar, iets so lelik dat dit jou asem wegslaan. En wanneer ek jou lank genoeg bombardeer het, vind jy dit tog groots, imposant, oorweldigend. Daar praat ons nie meer van „mooi” nie, liewer van stom-geslaan-wees, van oorweldiging. Ons word meegesleur. En ons kan dit jawel geniet. (Die gees is nog altyd neutraal; hy kan positiewes asook negatiewes beweeg. Dit wil sê, die mens kan ‘n plus- of minus-teken daarvoor sit.)
° Iets kan uit die dieptes van die herinnering opduik, iets vermoedelik lankal vergete, soos in twee van my eie verhale 1. William Shakespere het ‘n boekie met ou italiaanse volksverhale in die hande gekry en het eniges daarvan omgeskryf – nie afgeskryf nie – en het dit vir sy eie werk uitgegee. (Ek het nog nie die plek gesien waar hy aanerkenning aan die oor­spronklike outeure gee nie, miskien het hy dit êrens gedoen. Ek weet nie daarvan nie. Letterkundige navorsers het dit aan die lig gebring.)
Agatha Christie het eenkeer gesê dat sy graag ander mense se gesprekke afluister, byvoorbeeld die mense agter haar in die bus; daar sou sy heel­wat idees gekry het vir ‘n storie, dikwels was dit eer die lokale uitdrukswyse wat sy in haar verhale kon gebruik. Marfin Luther het in die strate van Wittenberg „die volk in die bek gekyk” — of liewer geluister — om by sy bybelvertaling inspirasie te kry juis hóé om die gedagtes uit te spreek wat daar in die Boek staan. By ‘n skrywers­bespreking vir die Kers­feesfilm in ‘n Hollywood-studio kom die voorslag, „Hoe lyk dit met ‘n jong meisie wat met ‘n bottel jenewer op pad is na haar bedlêerige ouma. En in die bos kom sy op ‘n gevaarlike skollie af; daar smee sy ‘n plan om hom aan die bospolisie uit te lewer. . .” Dis mos Rooikappie met motor­fietse, of hoe? Is dit plagiaat? En as hulle aan die einde van die film trou?
Het Shakespere en mevrou Christie plagiaat begaan? En ek?
Ek meen: Nee. En die nie-joernalis wat by ‘n voetbalspel ‘n idee kry vir sy oorlog- of liefdesverhaal, of vir ‘n lied of ‘n skildery, ook nie. Wat ons gedoen het, is om in die pad van die wind van die gees te gaan staan en ons laat aanblaas.
° Fariseer en tollenaar: Die parabel van twee ongelyke mense dui op iets wat ek „bereidskap om die gees te ontvang” (of nie) wil noem. Naas sprokies en legendes dien heelwat bybese temas as grond waarop ‘n eie verhaal kan groei. Dit is aldus só nie plagiaat nie, maar eerder aanleuning aan die idee van iemand anders en die eie gedagtes en idees daaraan verder laat ontwikkel. Dis die (dankbare) gebruik van ‘n hupstoot om die eie fantasie in gang te kry. Joan Aiken het ‘n boek van Jane Austin gelees en gemeen dat een van die karakters dog ‘n interessante persoonlikheid moet wees en het in Jane Austinstyl, ‘n eie verhaal oor haar geskryf ²2. Aangeleun.
° Hoe kom ons aan die menslike gees? ‘n Man loop deur die groue newel en sien voor hom ‘n liggie na regs af beweeg. Soos hy al nader kom, sien hy dat nog ‘n liggie en nog ‘n liggie op die eerste volg. Goedso, dink hy, daar’s tog ander mense. Miskien kan hulle hom help om by sy bestemming uit te kom, miskien kan hy saam­loop. As hy veel nader kom, merk hy dat dit ligpunte is wat namekaar aangaan; dan sien hy, dis geel waarskuwingslanterns wat langs die pad staan om te keer dat ‘n motor in die sloot val. Iemand het die slotsom getrek dat dit die „menslike gees” is: Die mens het mos die eerste vet- en olielampies gemaak, die fakkel, die kers, die elektriese gloeilamp, die kettingskakeling vir ‘n reeks lampe agtermekaar. Maar ís dit die menslike gees?
Die gees self is dit nie, maar die afbeeld van die werking van juis daardie besondere gees, díe van die mens. Sou ons alte noukeurig die „gees” ín die elektriese gereedskap wil sien, sou ons in gevaar staan om die gees te meganiseer. Ons sou die gees van die elektriek, tegniek en fisiek ontdek, maar nie die van die mens nie. Om so te dink, sou ons die mens in ‘n Playmobil-mannetjie in ‘n Lego-omgewing ombou. Die mens laat hom egter nie in genormde boudele ontleed nie.
Van al die skeppings is die mens die „ongenormdste” (sê ek maar). Dink net, byna agt-miljaard ongenormde wese, elkeen met ‘n eie liggaam, siel en gees! Elkeen met eie voorkeure, afkeure, bedurfnisse, vrese, wense, drome en visies.
– ∞ –
Waarnatoe het hierdie sytak van ons gesprek ons gebring?
Dis die mens se vermoë om dinge bewus te beleef wat hom in stand bring om deur die gees gepak te word, om die gees te kan vang. Dis iets wat alleen die mens kan doen, die diere is nie in staat daartoe nie. Dis iets wat die mens slegs alleen kan volbring, ook as en wanneer hy in ‘n span saamwerk. Jou beste spanmaat is hy wat weghardloop(!) na die linke buitelyn toe om jou skop van ver-regs op te vang en vorentoe te dra. Dis hy wat saamdink, sê die breier mos.
Die mens moet wakkerbly; hy moet voortdurend sy oë en ore oophou vir die dinge wat in sy omgewing gebeur. Henry Thorau het onder ‘n boom gaan sit en kyk hoe twee miervolke mekaar beveg en het dit opgeskryf. Eugene Marais het ‘n hele lang beskrywende boek oor die witmier tot stand gebring slegs deur te beskou en te oorweeg – en te skryf. ‘n Student wou ‘n vakansiewerk kry by ‘n firma wat met diere te doen het. As toets of hy daartoe bekwaam is, het die baas hom ‘n dooie mossie gegee; hy sou sê wat hy sien, sonder om dit oop te sny of met gereedskap daaraan te werk. Na vyf minute klop die student aan die baas se deur en vertel wat hy gesien het: Wetenskaplike naam, manlik of vroulik, geskat hoe oud en eniges meer. „Dit kan ‘n kind van twaalf al. Sien jy niks meer as dit nie?” Bedroef gaan die student aan die werktafel terug en begin van voraf die voël te ondersoek. Na ‘n driekwartier kom die baas in en vra of hy iets het om te berig. „Wag eers, wag eers,” sê die student, „ek moet nog. . .” „Laat staan,” sê die baas, „gooi dit in die vuilisblik. Jy kan hier by ons kom werk. Sorg dat jy Maandag regtydig om agt hier is.”
Ons praat van die mens se bewussyn — sy dagbewussyn in vergelyking met sy nag- of droombewussyn. Dis dit wat hom laat besef wat ís, wat hier en nou voor hom plaasvind. Sy fantasie sê vir hom wat hy daarmee kan – of moet — doen.
– ∞ –
Ons kan sê dat iemand in die pad van die gees gaan staan as hy volbewus midde-in die lewe staan en kyk wat om hom gaande is. Sy fantasie, sy vermoë om eie beelde te skep (sy „kopbioskoop” het iemand dit genoem) kom dan en dryf die storie, die gedig, die skildery, „daai nuwe”, daardie uitvinding of skepping voraan.
„Om ‘n atmosfeer te skep, in ‘n lied of gedig of op ‘n politieke
plakaat of as iemand preek byvoorbeeld, kom die verbeelding
se krag, die kuns­sinnig­heid, die binneste gevoele op. . . Dit bring
die mooigeid (en as ek wil, ook die lelikgeid) te voorskyn.”
(Aanhaling uit bogenoemde artikel)
Waarvandaan kom dit, daardie kunssinnigheid, waar woon dit? Binne-in ons. Dis ons hart se taal.
Ek is miskien ou-modies as ek so praat; moderne mense praat liewer van die regte en linke helfte van die brein. Goed dan, ons dagbewussyn word beheers deur die regte breinhelfte en ons droom- of visie-bewussyn word deur die nie-intellektuele, gevoelsbetoonde linke helfte bepaal. Soos die digter sê, die taal van my hart. Daar woon die verbeelding; dis ons fantasie.
– ∞ –
In hierdie samehang sê ons dat die gees nie sonder die ligaam kan uitkom nie. Andersom: Die liggaam sonder gees is mos dood.
Dit hang daarvan af of die dagbewussyn vol ingeskakel is, as die droombewussyn iets kan oorneem en ‘n „visie” laat ontstaan wat dan te werk gaan en ons nuwe kunswerk, ons meganiese uitvinding, sosiale vernuwing, dit wat ons wil skep, in ons binnewese, in ons siel kan vorm aanneem. Ons „skepping” is egter nie net óns skepping nie – dit is die werk van die wêreldgees, die oor- of aangee van ‘n flentertjie van daardie gees wat oraloor teenwoordig is, wat „onbeheers, ongeteuel deur die ruimtes waai.”
Ons fantasie is in staat om hierdie stukkie gees uit die groot wêreldgees uit te pluk en te gebruik, te verwerk. Dit gebeur wanneer ons eie gees die wêreldgees ontmoet, dan neem ons ingewing (inspirasie) oor en die bal is aan die rol.
– ∞ –
As ons die gees wil pak, dan moet ons iets wíl, dit wil sê ons moet iets doen. Wil is dieselfde as doen; „Sou graag wou” (Engl. want to, would like to) is nie genoeg nie. Om te wil is om te doen, alhoewel dit skynbaar meestal taamlik on- of onderbewus afloop. Of die wil daar is of nie, kom die omheenwaaiende wind van die wêreldgees en blaas ons aan. Ons moet willentlik daardie flentertjie beetkry. Dit wil sê, óns moet „gryp.”
Die aanwending daarvan word getoon in die nuwe gedig, ervinding, lied, ontdekking, matematiese formel en so voort wat uit ons uitborrel.
– ∞ –
Plagiaat nou. Watter gees was daar werksaam?
Plagiaat word meestesn beskryf as die werk van ‘n mens wat te lui is om self iets tot stand te bring. Hy skryf af. ‘n Slim skrywer of komponis kan dit so inklee dat dit voorkom asof hy dit inderdaad self geskep het – sonder om te sê waar hy die gedagte gekry het. Soms is die lui plagiaatpleër ook nog so slordig dat sy oneerlike weergawe van ander mense se gedagtes, hul geestesgoed, ooglopend is. Maar alte dikwels is meer tyd en moeite nodig om dit só af te skryf en verbloem, dat iemand kan vra of dit alles geloon het. Dit sou eerliker gewees het om te sê dat hy hierie-of-darie ekspert aanhaal, as en wanneer hy nie in staat is om ‘n eie gedagte oor die tema self uit te dink nie.
Ons sien dat dit om oneerlikheid gaan. Dit kan moontlik wees dat iemand uit ‘n ander kultuur op dieselfde gedagte of idee kom en ‘n soort­gelyke verhaal self uitdenk, ook iemand uit die selfde kultuur, taal of land. Ons dink aan die ervinding van die beeldradio, wat aan­skynend ongeveer gelyktydig in verskillende dele van Europa gebeur het. En die petrolenjin eers, wat binne weke na mekaar deur twee ingenieure in Suid-Duitsland vir patent aangemeld is: Von mnr Daimler en mnr Benz wat nie eers honderd kilometer uitmekaar gewoon het maar mekaar nie geken het nie. Daar is nie die rede van plagiaat nie; ons kan sê dat elkeen tegelykertyd ‘n stukkie gees gepak en aangewend of omgesit het.
Ek sou sê, plagiaat is wanner ek die geestige eiendom van iemand anders neem en verklaar dat dit my eie is. Hieredie iemand anders is waarskynlik ‘n deskundige op sy veld, byvoorbeeld ‘n universiteits­professor of meester van sy ambag; dit kan ook wees dat hy ‘n eenmalige treffer geland het, dus geen ekspert nie. Maar ek het, wetend dat dit sy werk is, hom siteer en nie die aanerkenning gegee wat hom toekom nie. Dit alles het willentlik afgeloop en ek kan nie ‘n uitrede bring nie.
Ek meen, dis nie plagiaat nie wanneer iemand dieselfde gedagtes het as iemand anders, wanneer dit onbewus afloop. Ons sê mos, „Iets is in die lug. Die tyd is ryp vir hierdie of daardie ontwikkeling of vernuwing.” Dan kan dit waarlik daartoe kom dat soortgelyke gedygtes ‘n meertal van mense gelyktydig beweeg.
November 2019………..- ∞ -……………..asoo ………..tje




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Toom

    11 November 2019

    Voetnotas in die teks:

    1) „Die Kersgeskenk,” en „Die Keiser en die Appel”
    2) Jane Austin: „Emma;” Joan Aiken: „Jane Fairfax”

    Ekskuus vur die uitlating.
    GvT

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 202
Kommentaar telling: 199

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 82 gaste aanlyn

Bydrae Totale