Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Waarneming weerlê teorie

Deur Pannetjie
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2019 Aantal woorde: 2126 27 Kere gelees 2

Waarneming Weerlê Teorie
Die mannetjie raak groot op ‘n plaas in die Karoo tussen Carnavon en Victoria-wes. So met sy spelery op die plaas merk hy soms sulke lang maer wolke op wat meeste noord-suid lê. Eers het hy nou nie iets gedink van die wolkies nie maar soos hy groter raak het dit hom al meer en meer opgeval. Soms is daar geen ander wolk in sig nie dan kom die maer wolkies voor. Veral hier laat namiddag. Soms net een en ander tye is daar sommer so ‘n paar van hulle langs mekaar. Partykeer is hulle lang reguit wolke en ander kere is hulle aanvanklik reguit wolke om net hier in die middel ‘n pens te maak. Ander maak weer holrug. Baie keer verdwyn hulle ook net so skielik soos daar gekom het.
Op ‘n mooi dag merk hy die wolk moet gemaak word want dit kom hier van die suide en so word die wolkstreep getrek na die noorde. Ander kom weer van die noorde en word na die suide getrek. Hy verbeel hom ook hy sien aan die punt van die wolk die wolkmaker wat blink teen die son. Vir hom was reën in die Karoo maar ‘n skaars artikel en het hy vir homself uitgemaak dis die slim mense wat wolke wil maak om meer reën te bring vir hulle. Sommige dae het hy nogal hoop gekry vir die wolke want dan wil dit lyk of die wolke kan oopsprei soos reënwolke maar alles verniet. Reën het die wolke nie gebring nie.
So kom hy te hore van ‘n professor wat ‘n praatjie kom hou in Carnavon oor teleskope (glo goed waarmee jy ver kan kyk) en hy sorg dat hy dit nie mis nie. Die professor vertel vir hulle van die kykgoed wat jy tot tussen die sterre kan sien en daar neem ‘n nuwe gedagte gestelte aan. Hy kan mos die kykding gebruik om te kyk hoe die wolke gemaak word. Na die aanbieding het hulle ‘n koffetjie gedrink en hy sien sy weg oop om die professor in te vra oor die kykding. Hy beduie vir die professor presies wat sy probleem is en hoe die professor hom nou sou kon help met sy probleem. Die professor het hom met groot diplomasie verduidelik die wolkmakers is eintlik nie wolkmakers nie. Dis vliegtuie. So half afgehaal wou hy by die professor weet wat maak hulle met die vliegtuie. Net daar kry hy toe so ‘n ligte lessie in lugvaartkunde. Maar dis ook net wat hy nodig gehad het want die nag kon hy nie slaap nie – hy het die hele nag oor die vliegtuigbesigheid gelê en peins. Die kant toe en daai kant toe en hier teen skemer toe byt die vliegtuiggogga die mannetjie. Daai oggend gaan maak hy nog ‘n draai by die plaaslike biblioteek en soek boeke oor vliegtuie. Die antie by die biblioteek help hom ook mooi en daar is hy vort plaas toe met genoeg vliegtuigleesstof.
Nie lank nie toe ken hy al wat vliegtuig is se naam, hoeveel brandstof hy vat, hoeveel vrag of mense hy kan laai, hoe ver hy kan vlieg. Man jy kan dit net vra en hy het die antwoord. So het hy darem ook uitgevind vliegtuie is ewe handig in oorlogstyd as in vredestyd. Die kersie op die koek is die manne wat toertjies doen met vliegtuie. Van die prente het hy teen sy muur geplak.
Op ‘n stadium word hy saam genooi Kaap toe wat hy sommer daar en dan laat verstaan hy gaan saam en hy wil daar by die plek uitkom waar al die vliegtuie wat daar by hulle verby vlieg land en opstyg. By daai lughawe het hy ook dag en nag gesit en kyk hoe die groot blinklywe uit die lug uit val met so ‘n rookwolkie agter die wiele as dit die teer tref. Ander wat weer met groot lawaai spoed bymekaarmaak en so skelm skelm die lug aanvat. Dit was vir hom amper oorweldigend.
Die besoek aan die Kaap het hom nog meer laat byt aan die vliegtuig besigheid. Op stuk wou hy sien hoe die goed gemaak word. Kort voor lank kry hy ook sy kans om met een van daai groot blinklywe oorsee te vlieg. Eerste ook op sy spyskaart was ‘n besoek aan die Boeing fabriek. So was hy dan amper ‘n dag voor die tyd in die Kaap by die lughawe om tog net seker te maak hy verpas nie die vlug nie. Om self in een van die groot vliegtuie wat die wolke maak te kan vlieg was ‘n gedagte wat tydelik sy hele lewe oorheers het. Om dit op te volg met ‘n besoek aan die fabriek – die lewe sou net nie beter kon wees nie.
Alhoewel hy alles geweet het van die lengtes en breedtes en hoogtes en massas van vliegtuie het dit hom verbaas hoe groot die vliegtuig werklik is toe hy aan boord gaan. Met die opstap loer hy so in die kajuit in na al die liggies, metertjies en knoppies. ‘n Nuwe wêreld gaan vir hom oop. Met die vlug het hy darem die geleentheid gehad om so vining ‘n draai in die kajuit te maak om al die metertjies van nader te bekyk en eerstehands te verneem waarvoor elkeen gebruik word. Hy was ‘n gemaakte man.
Die nag voor sy besoek aan die Boeing fabriek was slaap ook maar skraps gewees. Hy was net te opgewonde. Die hele nag het hy prentjies gesien van wat daar moet aangaan en vrae uitgedink wat hy moet vra. So het die tyd ook aangebreek en was hy ook glad nie teleurgestel nie. Daar is store so groot dat ‘n mens dit nie eintlik kan beskryf nie. In die hele Karoo is daar nou net mooi niks waarmee jy die grootte van die store kan vergelyk nie. Hoe vertel jy nou vir iemand as jy nie vir hom ‘n prentjie kan gee nie. In elkeen van die store staan sommer ‘n paar vliegtuie in verskillende fases van vervaardiging.
Dit is nie van deurstap nie – nee jy ry die fabriek deur. Al sy vrae wat hy die nag lê en oordink het word beantwoord en nog meer vrae kom op hoe verder hulle ry. Sy gids is ook net te gewillig om inligting te deel en sy vrae te beantwoord.
Op ‘n stadium sien hy daar in die hoek van een van die masiewe store ‘n seil getrek oor iets wat ook so half vliegtuigagtig lyk. Hy verneem sommer ook dadelik wat onder die vreeslike stuk seil is. Eers wou die gids hom op ‘n ander spoor sit maar besluit toe die mannetjie van die Karoo kan seker maar die waarheid hoor. So word hy vertel van die vliegtuig wat hulle beplan en gebou het wat veronderstel was om die wêreld se mees beweeglike vliegtuig te wees. Dadelik kon hy sommer ‘n toepassing vir so ‘n vliegtuig sien. Nie net sou hy ideal wees om toertjies te doen nie maar hy sou lekker gebruik kon word om in oorlogsituasies waar jy onder die grofgeskut van die vyand moet uitkom.
Die gids het hom verder meegedeel die vliegtuig het eintlik net een swakpunt. Met die uitvoer van ‘n sekere “maneuver” kraak die een vlerk waar dit teen die romp vaskom. As hulle dieselfde “maneuver” na die ander kant toe doen dan kraak die ander vlerk. ‘n Paar van die “pilots” het al noue ontkomings gehad met die vlerke wat net wil afbreek. Hulle het nou al versterkings aangebring en raad gevra by al wat struktuurkundige mens is maar niks wil help nie. Hulle het toe maar besluit om die projek te skraap. So na ‘n tydjie vra hy die gids of hulle al oorweeg het om daar waar die vlerke kraak ‘n ry gaatjies reg in die rondte van die vlerk te boor. Die gids, wat seker nie hul struktuurman was nie, sê hulle het nog nie probeer nie maar hy sal die boodskap deurgee na die slim manne. Nodeloos om te sê was die slim manne nou nie eintlik aangetrek deur die raad nie. Hoe sou jy dan nou ‘n swakplek wil maak om iets sterker te maak. Iets wat breek swakker maak dat hy nie moet breek nie.
Na so ‘n paar dae se herkou aan die saak gee die baas van Boeing opdrag dat die projek hervat gaan word – hulle gaan weer die vliegtuig terugvat na sy oorspronklike spesifikasies en dat 3/8” gaatjies elke duim reg rondom die vlerke geboor gaan word waar die vlerke kraak. So gesê so gedaan. Na die vliegtuig vluggereed gemaak is was dit omtrent ‘n mooipratery om ‘n “pilot” te kry om die vliegtuig te vlieg. Die geskiedenis was teen hulle veral met ‘n paar wat al noue ontkominge gehad het. Gelukkig is daar darem toe een wat sy hand opsteek en aanbied om die stokke te vat. Hy het dit maar eers baie rustig gevat en so die moeilikheidsgraad van die “meneuvers” stelselmatig verhoog. Na elke vlug word die breekplek behoorlik ondersoek maar sover so goed. Later is dit tyd vir die breek-meneuver maar hy deurstaan die toets. Hulle trek sommer al wat vliegkenner is in om aan nog “meneuvers” te werk sodat die vliegtuig behoorlik getoets kan word. Maar breek wil hy nie breek nie. Hulle het uit “maneuvers” uitgehardloop sonder ‘n ou haarkrakie.
Die manne met die dik brille bepeins en bespreek die situasie. Verskillende teorië sien die lig. Party van hulle teenstrydig met die leringe van die tyd. Niemand is egter bereid om ‘n uitspraak na wat nou eintlik gebeur het te waag nie. Ten einde raad besluit hulle die regte man om die teorie uit te lê is die man wat die raad gegee het. Hulle stuur vir hom ‘n telegram met die boodskap hy moet weer kom besoek op hulle koste.
Alles word bespreek en so vlieg hy weer oorsee op ‘n tweede besoek aan Boeing. Hulle kom laai hom op die plaas met ’n lang motorkar Kaap toe. Daar slaap hy in die Mount Nelson hotel vir die vroeë vlug die volgende oggend . Hy word met dieselfde slap motor lughawe toe gevat. Daar gekom word hy sommer onmiddelik voor in die ry ingedruk by die inboekstasie. Tot die onsteltenis van ander in die ry. Daar deur is dit reguit VIP sitkamer toe. Die keer vlieg hy sommer besigheidsklas. Warm vadoekies, gekookte etes, sitplekke wat lekker platvou en alles.
Daar anderkant die water word hy weer met ‘n ander lang plat kar kom haal en sommer reguit na die fabriek gevat. Daar gekom toe is daar mens van oral. Die raadsaal wat ook amper so groot is soos een van die store sit vol mens. Elkeen met ‘n dik boek en pen om seker te maak die teorie wat hulle vandag gaan hoor word behoorlik geboekstaaf.
Met die wat hy instap in die raadsaal spring almal uit respek vir die slim man op en word hy gegroet en welkom geheet so asof hy deel van die boeing familie is. Daar is sommer so ‘n atmosfeer van opgewondenheid in die vertrek. Nadat die hoofdirekteur van Boeing hom welkom geheet het en probeer het om hom welkom te laat voel raak dit doodstil in die saal. Dis amper of almal te bang is om asem te haal. Die tegniese guru van Boeing staan op en verduidelik nou vir die teenwoordig van die projek wat hulle geloots het – om die mees “maneuverable” vliegtuig ooit te bou maar dat hulle nie in staat was om die ontwerp van die vlerke reg te kry nie. Kraak op kraak het gevorm ten spyte van hul beste pogings, maar die man van die Karoo het hulle probleem opgelos. Hulle het die veranderinge soos hy voorgestel het aangebring en daarna moes hulle nog nuwe “meneuvers” ontwerp om te kyk of hulle hom nie kan breek nie, maar breek wil hy nie breek nie. Net vir duidelikheid verduidelik hy van die gaatjies wat hulle geboor het waar die vlerke gekraak het.
Toe die tegniese guru gaan sit is dit weer die beurt van die hoof direkteur wat hom plegtig bedank vir dit wat hy met die wonderlike teorie vir die maatskappy beteken het. Eintlik is hulle nou los voor in die bou van beweegbare vliegtuie danksy die wonderlike teorie. Die hoof direkteur vra hom toe om vir hulle te verduidelik hoe sy teorie werk, waar hy daaraan gekom het en sommer waar hy al toepassings daarvan gesien het.
Nadat hy so bietjie ongemaklik rondgetrap het oor al die aandag wat op hom gevestig is en ook met verbasing op sy gesig vra hy: Menere waar het julle al ooit toiletpapier gesien wat in die gaatjies afskeur?




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 28 gaste aanlyn

Bydrae Totale