Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vuurtoring se roep na die spoke strand

Deur Letiia Sachse-Mienie
Datum gepubliseer: 29 Oktober 2020 Aantal woorde: 2944 70 Kere gelees 2

Vuurtoring se roep na die spoke strand

deur Letitia Sachse-Mienie Brons

Die vuurtoring se lig wat my veiligheid moet verseker lei my vanaand na verwoesting. Golwe dans in die skemer op die noot van my verlange. Ver oor die horison sien ek jou lig wat my roep na die strand van spoke. Die wind suis saam met die spoke koor. Hulle staan geduldig my en inwag op die rotse so op ʼn afstand van my verlede.

Ek wil berusting vind, maar my lyf wil net nie saamwerk nie. My hande gryp die stuurwiel styf vas. Ek kry nie die boot gedraai nie. Ek hunker na die rotse maar my lyf weier. My hart is moeg – my brein is moeg – van die verlange na my hartsmense.

Ek wil gaan rus by haar. Daar waar sy en ons engelkind baljaar in die wolke. In my diepste wese weet ek dat as ek vanaand berusting op daardie rotse gaan soek, ek nie in die wolke sal dans nie. Ek draai my rug op die vuurtoring. Ek mag nie toelaat dat sy lig van verwoesting my siel binnedring nie.

Daardie donker stormnag blyk in my geheue asof dit gister gebeur het. Oor die kraak van branders wat knal het die koue lyke van my hart leweloos gelê. Op die vloer, plasse bloed gestol net soos ek in my spore by die voordeur. ʼn Gesig wat ek nie eers my vyand sal toewens nie.

Ek het na hul gestrompel en op my knieë neer geval tussen hul. Voor-oor bukkend het ek my arms oor hul laat sak. Hul nader aan my probeer trek. My trane verdwyn in die rooi weerkaatsing van hul bloed. My vrou en kind se bloed. Onskuldige bloed! “Hoekom?” Is die vraag wat ek skree dat dit weergalm teen ons kliphuis se mure.

Dit was ʼn kwessie van oomblikke toe is die blou ligte sigbaar op die toneel. Die vissermanfamilies verskyn soos die melkweg al langs die strand af. Hulle swyg soos ʼn waas van ligte lig in die naghemel; gevorm uit flitsligte saam. Die blote oog sal hul nie kan onderskei.
Ek sit met ʼn kombers toegevou op ʼn hopie en bekyk die melkweg van vissermanne. Ek voel verlore my alles is weggeneem. Wie sal so wreed kan wees om ʼn weerlose vrou en kind te vermoor? Ek moes hul nie alleen gelos het nie. Elaney se laaste woorde drentel my kop binne.

“My Sakkiesout, gaan vang jou laaste vangs. Ons sal hier wees waar ons altyd wag vir jou. Jou hart sal nie rus totdat die laaste donder van die see oor jou gespoel het nie.” Min het ons geweet dat ʼn ander donker donder oor ons familie sal val daardie nag.

My vriend Barend en sy vrou Vanessa het hul huis vir my daardie aand oopgemaak. Ek wou by ons huis geslaap het in ons bed, maar die polisie het my aangeraai om eerder elders te gaan oornag. Barend het vir my ʼn sak klere gaan pak terwyl Vanessa my na hul huis vergesel het.

Op die stoep het ek en Barend woordeloos gesit en kyk na die sonsopkoms oor die blou see gesig. Stoom van die beker koffie in my hand wasem die vensters van my siel op. ʼn Man mag mos nie huil nie. Hoe maak jy dan as jou hele lewe inmekaar gesak het. Dan is ek nie ʼn man nie, want al wat ek wil doen is huil.

“Barend ek moet hier weg, want ek gaan van my kop af raak. Ek sien nie kans vir die deurdringende oë; versier met jammerte van almal hier in die rondte nie.”
“Waar wil jy heen my maat? Sê net hoe ek en Vanessa dinge makliker vir jou kan probeer maak en ons doen dit.”

“Ek wil gaan skree waar niks of niemand my sal kan hoor. Ek wil gaan daar waar die klamheid van die seelug die klamheid van my trane sal verdoesel. Ek wil die sout op my lippe proe sodat ek kan sekermaak wat verbitterdheid is.”

“Dit is reg! Ons kan vertrek sodra jy reg is. Ek sal Vanessa vra om vir ons versnaperinge te pak.”
Barend staan op en stap binne na Vanessa toe. Ek bly sit in die stilte.

Ons is daardie selfde oggend weer uit op die see. Ek was nie bekommerd oor nog ʼn vangs nie; nee ek wou net asem haal. My sout trane moes een raak met die sout water van die see sodat niemand kan oordeel omdat ʼn man ook huil nie.

Ek rig my oë op na die hemelruim. Ligte reën op my gesig bring my terug na die hede. Die wolke is saamgepak. ʼn Briesie voorspel die kalmte voor die storm.

Ek stap die kajuit binne. Grypende na die whiskey fles want die nood om my trane op ys te sit oorval my. Vandat hul weg is verkies ek om nie die nugter weergawe van myself te wees nie. Golwe klap teen die boot. Soos ʼn goeie kroegman mors ek nie ʼn druppel, terwyl ek vir myself ʼn lafenis skink nie.

Ek gaan sak terug in my stoel en maak my oë toe. Die gevoel van wat moet gebeur sal gebeur spoel oor my. My gesigspiere trek saam met die eerste sluk van my lafenis. Die eerste sluk brand altyd die seerste. Sonder waarskuwing is my gedagtes weer terug by Elaney en Liney.

Die polisie het my en Barend ingewag op die hawe daardie volgende aand. Volgens hulle verstaanbaar dat ek vertroosting gaan soek het; weg van al die lykende omgee oë.

Hulle het ʼn leidraad wat hul besig was om op te volg. Om die leidraad te bevestig moes ek deur ons kliphuis gaan, opsoek na wat weg kan wees. Ek het die polisie aangemaan dat wat gesteel was nie saak sou maak, want ek was daardie aand beroof van alles wat my my gemaak het.

Vanessa het Barend op haar vroulike leeuwyfie manier gedwing om my te vergesel na ons kliphuis. By die deur het ek hom gestop.

“My vriend, hierdie is iets wat ek op my eie moet aanpak. Sal jy verstaan as ek vir jou vra om eerder buite te wag?”

“Natuurlik, ek wag vir jou hier buite onder die boom.”
Die boot skommel heen en weer. Kalmte reën het die verhoog geopen vir ʼn donderstorm. Ek moet myself anker want op hierdie oomblik is die vloer oppervlakte wat gravitasie dit toelaat om te wees. Ek sluk; die ys is stadig besig om te smelt. Ek neem ʼn asem in, maak my oë toe en dadelik staan ek voor my voordeur.

My hand het gerus teen die deur vir ʼn oomblik terwyl ek moed skep om terug in daardie donker oomblikke in te stap. Ek druk en die deur kraak oop. Hulle bloed nog steeds gestol waar ek hul die laaste keer vasgehou het. Die misdaadtoneel skoonmakers het nog nie hul twee se laaste verkwiste lewende oomblikke kom verwyder nie. Ek stap verby voor die trane my manlikheid weer verneem.

In die kombuis op die kas staan twee bekers met koffie en suiker in. Op die tafel is daar ʼn sportsak vol kruideniersware en warm klere gepak. Die raaisel van wat gebeur het maak my naar.

Ek stap na ons kamer. Alles is in hul plek en perfek soos net Elaney dit kon hou. Sy was ʼn Ma en Vrou duisend. Liney se kamer ook onversteurd. Haar tafel met stoeltjies op hul plek; met die tee en koekies wat sy en haar Ma hoofsaaklik mee teepartytjie gehou het nog uitgestal.

Ek gaan sit op die een stoeltjie langs Lienkie die lappop. Ek wonder wat was die laaste woorde wat Liney aan haar toegespreek het. Ek neem haar in my hand; Liney se reuk vasgevang in die lappop. Hoe gaan ek aangaan, die vraag wat my hart weer teen die vloer slinger.
Ek het die hele huis deur gestap en daar was niks versteurd nie. Alles was soos ek dit agter gelaat het. Ek weet nie wat die polisie verwag het ek moes vind nie.
Speurder Kotze het sy foon vinnig geantwoord. Ek het aan hom verduidelik wat my bevindinge was. Hy het gesê hy sal my die volgende dag kom sien met wat hulle vermoed Elaney se trouring mag wees.

Ek het buite toe gestap om met Barend te gaan gesels.
“Barend, dankie vir jou en Vanessa se gasvryheid en ondersteuning, maar ek wil graag vanaand hier by die huis alleen spandeer.”

“Is jy seker my vriend? Jy is meer as welkom om nog paar aande by ons deur te bring.”

“Ek weet, maar nee dankie ek voel ek moet hier wees.”

“Dit is reg my vriend, laat weet ons net as jy enige iets nog mag nodig kry.”

Ek het vir ʼn oomblik Barend nagestaar soos hy weggestap het. Ek moes seker nog moed bymekaar skraap om terug in daardie kliphuis in te gaan.

Ek het daardie aand self my hartsmense se gestolde bloed van die vloere af gewas. Met elke uitdruk van die bloederige water lap het ʼn stukkie van wat oor was van my hart verbrokkel. Ek kon nie slaap daardie aand nie. Ek het op die rusbank by die venster gesit en wag om wakker te word uit hierdie nagmerrie.

Die volgende oggend agt uur het speurder Kotze aangeklop by ons deur. In sy hand toegevou; ʼn plastiese sakkie met Elaney se trouring. Die vermeende moordenaar is ʼn straatkind wat haar ring verkoop het aan ʼn pandjieswinkel in die dorp. Die kind was haastig om spore te maak nadat hy die ring verkwansel het. Die eienaar van die pandjieswinkel kon net ʼn beskrywing deurgee aan die polisie gepaard met die gedagte dat die kind dalk geestelik versteurd is.

Die polisie het verneem dat dit dalk dié spesifieke straatkind kon wees want hul is al ʼn geruime tyd opsoek na hom. Hy was betrokke by ʼn hele paar huis inbrake en aanranding sake. Hy is ʼn dwelmverslaafde en sal tót die uiterste gaan om sy volgende ‘fix’ te kry. ʼn Fluitende voëltjie het gesing en die polisie in die straatkind se rigting gewys. Hulle wou net by my seker maak of dit Elaney se ring was voor hul hom vastrek. Daardie ring was konkrete bewyse; iets waarna hul so lank al soek om hom finaal op te sluit.

Die golwe bring die boot amper tot die punt van omtuimel. Ek val vanaf my stoel, glas gelig in my hand weer sonder om ʼn druppel te mors. Die heen en weer geruk en pluk maak my kalm. Dit is waarvoor ek gewag het. Dit is my siel se uitgang oomblik na my Elaney en Liney. Ek neem die laaste sluk soos ek opstaan. Nog enetjie dink ek sal goed wees.

Totale duisternis heers, terwyl die sterk wind veroorsaak dat die golwe om my hulpelose boot torring. Ek skink nog ʼn whiskey só in die oog van die storm. Ek strek my arm voor my uit; glas in die lig. Ek stel my eie heildronk op die lewe wat ek vanaand beplan om agter te laat. My lyf moet onwillekeurig saam speel as gevolg van my whiskey lafenis. Tot op hierdie see bodem sal ek vanaand daal of my lyf nou wil saam werk of nie.

Skielik is daar ʼn helse klap geluid. Die weerlig helder die eens stikdonker hemelruim op. ʼn Ruk wind smyt my soos vuilgoed op die nat boot vloer neer. Ek stamp die agterkant van my kop. Dit voel asof ek die aardbol se as is, want alles draai om my. Ek dryf in en uit bewusteloos vlakke.

Elaney verskyn bo my. Wat veroorsaak die oomblik van waansin? Is dit die hou teen die kop of die whiskey trein wat ek ry. Ek knik my oë ʼn paar keer. Haar beeld nóg duideliker met elke knip. Ek ruik uit na haar. Die hoop dat haar aanraking vanaand dalk my lewe mag red oorweldig my.

Na die begrafnis diens het speurder Kotze met sy hand bemoedigend op my skouer my in kennis gestel dat hulle die straatkind vasgetrek het. Met vraende oë het ek opgestaan en saam hom gestap. Hy het aan my verduidelik wat gebeur het daardie aand.

“In die begin by die polisiestasie het die straatkind homself afgemaak as ongeërg. Ten spyte daarvan het ek hom aangehou druk tot op sy breekpunt. Sy ongeërgde houding het spoedige tot niet geval nadat hy die foto’s van Elaney en Liney gesien het. Hy het die foto van Liney vasgegryp en op sy arms neergeval snikkend.” Speurder Kotze maak sy keel skoon en gaan dan aan met sy verduideliking.

“Blykbaar het hy gaan bedel vir geld waar Elaney hom jammer gekry het en ingenooi het. Sy was besig om vir hul koffie te maak; terwyl sy ook vir hom ʼn sak vol goed gepak het. Hy het saam Liney gesit en gesels in die sitkamer. Toe Elaney terug keer na hul het sy vir hom verduidelik sy het geen geld in die huis nie maar sy sal vir hom die sak gee en hom genooi vir aandete. Hy was dadelik omgekrap, en wou geld hê. Volgens hom gryp hy toe na Elaney se trouring. Sy het nie maklik toegelaat dat hy haar oorval nie. Sy het op Liney geskree om te hardloop en weg te gaan kruip.”

Ek is stil soos speurder Kotze my vertel wat gebeur het. Die trane rol oor my wange.

“Sy het die geveg van haar lewe opgesit as jy na die gesig van die straatkind kyk. Die vuilheid van sy gesig kon nie die opgehewe wangbene en rooi krap merke versteek nie. Nadat hy Elaney vermoor het gaan hy toe opsoek na Liney. Volgens hom wou hy haar net verseker dat alles oukei sal wees; nietemin wou sy niks weet nie. Sy het hom geskop, geklap om weg te probeer kom. Hy in sy versteurdheid kon nie verstaan hoekom sy nie na hom wou luister nie. Hy het haar na haar ma geneem en net daar ook haar keel afgesny.”
Ek staan woordeloos; emosies oorspoel my dat ek op die vloer neerval. Speurder Kotze sak af langs my.
“Vertel my asseblief klaar. Hoekom het hy my hartsmense weggeneem?”

Weer maak speurder Kotze sy keel skoon. “Voor hy die huis verlaat het het hy Elaney se trouring geneem. Hy het die ring gaan verkoop en was tot op daardie oomblik by die polisiestasie nog nie weer sonder dwelms nie. Hy het verneem dat as hy nie bedwelmd is nie, spook Liney se gesiggie by hom. Hy wil vergeet van die klein onskuldige lyfie wie se lewe hy doelbewus geëindig het.”

Na die gesprek met speurder Kotze kon ek nie my gevoelens verwoord nie. Ek wou wegsak in die grond. Hy het my na ons kliphuis geneem sodat ek by myself kon wees om die verduideliking te verwerk. Ek kon nie die konsep begryp hoe my vrou se goeie omgee hart haar en ons kind se einde was. Lusteloosheid het my daardie aand teen die kussing vasgedruk. Ek kon net nie meer asem haal in daardie huis nie.

My opsies was min. Ek kon kies om aan te gaan en die dele van wie ek was weer op te tel en van voor af te begin bou. Óf ek kon wag vir ʼn stormagtige nag en my siel se uitgang na hulle gaan soek op die onvoorspelbare oseaan. Opsie twee was my keuse; nietemin het ek in my gewag vir ʼn stormagtige nag hoeveel keer probeer om my berusting op die rotse en strand van spoke te gaan soek.

Elaney kyk in haar beeld met gekweste oë na my.

“My liefde is dit jy? Droom ek?” vra ek sag.

“My Sakkiesout wat doen jy aan jouself? Jy moet lewe vir ons. As jy vanaand daal tot op see bodem gaan ons nalatenskap saam jou. Jy moet opstaan en ʼn nuwe begin maak totdat God jou op jou naam roep. Jy het nog ʼn doel op hierdie aarde. Gaan en voltooi jou doel. Leef voluit, ek belowe ons wag vir jou. Vanaf die verte sal ons jou dophou. Onthou om te vergewe my Sakkiesout, onthou ons.”

Ek kom stamelend orent, soekend na Elaney. Wat so pas gebeur het is bo my vuur maak plek. Meteens is die storm verby. Ek kyk rondom my weer opsoek na Elaney. Die wolke trek oop en my gemoed is rustig. Elaney het net soos die storm verdwyn. Ek het hierdie begeerte wat na vore kom om na die spoke strand te seil. Die keer nie vir berusting op die rotse nie maar eerder vir my nuwe begin.

Elaney se woorde; “Lewe vir ons!” het hierdie begeerte aangewakker. Anker gelig, ek gryp na die stuurwiel. Vinnig en behendig seil ek nou na die spoke strand om my nuwe begin te gaan soek.

Dit is vandag die drie jaar herdenking van my Elaney en Liney se laaste dag op hierdie aarde. Ek sit op ʼn bankie by hul grafte. Ek het vrede in my hart al mis ek hul elke oomblik wat ek asemhaal.

Ek het die straatkind vergewe, wat gelei het dat ek my doel vind op aarde. Ek het my nuwe begin toegewy aan om sulke kinders te help. Ek sal hul op die regte pad lei en hul ʼn veilige hawe bied net soos my Elaney wou. Ek deel met hul die ervaring as die donder van die see oor jou spoel soos jy die hawe inkom met jou eie vangs. Ironies hoe my nuwe begin hul nuwe begin aanstook. Daagliks dink ek terug na daardie aand wat Elaney aan my verskyn het. Haar woorde; “Wag tot God jou op jou naam roep.” gee my berusting in hierdie soms donker wêreld. Met die gedagte van Elaney se beeld, leef ek voluit. Ek wag op die vervulling van die belofte dat ek eendag weer hulle sal sien.

© Letitia Sachse-Mienie




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    4 November 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 2
Kommentaar telling: 1

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 95 gaste aanlyn

Bydrae Totale