Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vreugde

Deur Lila Bloeisels
Datum gepubliseer: 3 September 2019 Aantal woorde: 278 90 Kere gelees 2

VREUGDE
Dit is ‘n wonderlike lenteoggend. Lila is buite in haar ouma se vrolike blomtuin.
Sy hoor die bure se kinders in hulle swembad baljaar. Die hondjies blaf aanhoudend; hulle is seker weer by die visdammetjie, besig om vir die visse te blaf. Die son se strale skyn sag en vul die lug met heldergeel sonneblom-strale.
Lila skilder. Sy teken ‘n blomtuin. Daar is papawers, vlieëvangers, rose en peonies. Sy teken bye en suikerbekkies. Vrolike, gelukkige skoenlappers. Hier en daar teken sy ‘n kabouter en ‘n paar feetjies met glimlaggies wat om die maan dans.
Lila kyk na die voltooide prent. Haar gesiggie blom, want dit is vir haar baie mooi. Sy bekyk haar skilderkuns met een hand in haar sy.
Skielik begin alles lewe kry. Die bye vlieg uit die prent en zoem om haar kop. Sy klap verwoed in die lug. Die papawers kry voete en hande en gryp haar om die lyf. Die vlieëvangers hap-hap na haar en die peonies spoeg haar vol stuifmeel.
Die skoenlappers lap en die suikerbekkies bek. Die kabouters spring op haar kop en die feetjies vlieg uit en trek haar hare. Sy probeer loskom, tevergeefs. Die papawers trek haar net stywer vas.
“Ouma, Ouma, help my!” gil sy.
Ouma kom uit die huis gehardloop. Sy gooi die skildery op die grond neer. Die blomme, bye, suikerbekkies, skoenlappers, kabouters en feetjies verdwyn.
’n Doodse stilte daal oor die tuin. Die bure se kinders loer oor die muur, monde oop van verbasing. Die skildery lê op die grond, leweloos.
Ouma en Lila kyk na mekaar, hulle begin giggel. Hulle hou hulle mae vas soos wat hulle giggel, giggel van vreugde.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 12
Kommentaar telling: 2

Ek hou baie van stories skryf, want stories neem jou na 'n ander wêreld. Geniet dit.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 105 gaste aanlyn

Bydrae Totale