Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vreemdeling met ‘n fiets

Deur Nico Schamrel
Datum gepubliseer: 24 November 2020 Aantal woorde: 2917 56 Kere gelees 2

VREEMDELING MET ’N FIETS

Daar is ’n losieshuis – Vryheid – net duskant Vaalvlakte, dolleeg behalwe vir ’n weduwee en haar dogter wat ’n eenvoudige lewe saam voer; waar niks meer saak maak nie, waar eensaamheid deel is van ’n bestaan in afsondering. Dat juis hiér ’n man met ’n fiets ’n einde sal bring aan jare se wag vir vryheid – en ’n einde – was onvoorspelbaar.

Die wind het vergete al die bordjie ‘Kamers te Huur’ van die skewe hek afgewaai. Tyd laat die wit kalk skilfer terwyl dissels en ’n droë bougainvillea die ou naambord toegegroei het. Wat eens ‘n voortuin was, lê in puin, ’n godverlate niks wat bak in ’n gloeiende son. Die agterplaas, ’n dor, vaal vlakte met werfhoenders wat moedeloos skrop vir iets om aan te pik. Al beweging in die grondpad voor die huis is ’n windjie wat soms ’n tolbos rol.

Daar word nie veel gepraat nie. Nog minder ken hulle meer iemand op die dorp. Die draadloos is al lankal stukkend. Die stowwerige boeke geel en deur gelees, sonverbleikte tydskrifte vertel van oudmodies en lankal gelede se dinge. Tog is daar in weduwee en dogter se gedagtes ’n begeerte vir afsluiting – ’n einde. Vryheid en verlossing; die sonde kom in vreemde gedaantes. In soveel afsondering begin jy jouself verloor. Jou verstand ook.

In die lang gang hang rame sonder gesigte – foto’s lankal verwyder, herinneringe uitgewis. Net ’n wit-en-swart foto van die losieshuis is nog ongeskonde. Hang ook maar skeef van die bries wat deur die selde-oop voordeur inwaai.

Met oggendtee op die stoep sit al twee en dink aan die einde wat hulle so na hunker; vryheid van skuldgevoelens, vryheid wat die gewete sal stil.

Onverwags stop ’n ou lorrietjie met ’n geskud voor die losieshuis. ’n Vreemdeling klim uit die passasierskant en maak die agterkant van die lorrietjie oop. Die lang, skraal man, in ’n netjiese kerkpak, ’n swart tas en ’n hoed op sy kop, haal ’n dikwielfiets agter uit. Die skedonk verdwyn om die hoek en eers dan kom hy oor die pad gestap. Die grondpadstof hang halfpad hang in die lug. Hy lyk bleek teenoor die droë gras, die grys bloekombome en die helder blou lug.
Die lendelam hekkie swaai skeef oop aan sy een skarnier. Die vreemdeling skrum verby die hekkie met die tas en die swart dikwielfiets. Eers toe hy die stof uit sy baadjie skud en sy hoed afhaal om te groet, wis die weduwee dat sy een oog dwaal na haar dogter en die ander oog kyk na die stoepkamer. Sy vroetel vir ’n sakdoek in haar voorskoot se sak. Is dit vryheid wat haar groet, wonder sy.

“Middag, meneer. Kan ek help?” Haar stem klink dood wanneer sy die woorde saggies prewel.

“Ek is op soek na ’n kamer, Mevrou; om te huur, net tydelik.” Hy loer weer na die stoepkamer.

“Glo my, dis die skoonste kamer wat jy ooit sal kry, nie waar nie kind? Dit is haar trots, sy wat my kind is, maak alles skoon. Dit is ’n stoepkamer sonder ’n venster.”

“Dankie, ek sal dit neem. En die badkamer?” Hy kyk weer na die dogter. Sy sit in stilswye en staar na die grondpad.

“Die kamer het sy eie badkamer sonder ’n venster. Jy loop nie in die nag rond nie en jy bly op die stoep as jy vars lug soek.” Sy beur regop. Haar kop voel dronk. Haar stem eggo onwerklik binne ’n holte.

Dogter sit asof die vreemdeling nie bestaan nie.

Weduwee haal ’n groot sleutel uit haar voorskoot se sak, sluit die kamerdeur oop en sit die lig aan. Hy ruik bekend; effense pyptabak, die soet reuk van Brylcreem aan sy gitswart hare, skeerseep wat nog liggies aan sy hemp se kraag klou.

“Wat bring jou na Vaalvlakte?” vra sy onderlangs terwyl sy na die kaal wit gekalkte mure staar.

Hy ignoreer haar vraag: “Jou man …,” sê hy, en sien haar vinnige blik, haar wegkyk na die badkamer se kant toe, hoe sy haar skrik en verbouereerdheid probeer verbloem.

“Jou man, is hy hier of …,” Hy voel haar ongemak aan.

Die dogter staan in die hoek van die stoep en kyk na haar ma. Kyk hoe staan sy weer daar in die kamerdeur. Sy skud haar kop.

Die laatmiddag se son blink deur haar gryshare. Daar is skielik ’n gloed op haar gesig; haar oë kyk diep, asof sy hom dalk van iewers herken. Haar mond net té effentjies oop. Verbasing?

“Maak toe die deur, ma,” sê die kind.

“Hy is weg … lank terug. Ons weet nie waarheen nie,” antwoord sy. Duiwe koer op die dak. Sy hoor hulle skinder. Die stoepkamer se mure wil saampraat. Die mure se stem is toegeverf, wit gekalk, lankal al, laag-op-laag, kwashale oor uitgekrapte woorde. Kyk na die mure, praat sy in haar binneste, sien jy nog woorde iewers? Kan hier nog iewers iets wees wat kan praat?

Godsonmoontlik nie, nee. Haar kind het daarvoor gesorg.
“Jammer, het ek mevrou ontstel? Ek het nie bedoel om …”

Sy val hom in die rede: “Ja, ek maak maar die deur toe.” Hy weet sy staan nog buite en wag. Dan hoor hy die voordeur toegaan, ’n sleutel in ’n slot wat draai, gordyne wat toeglip. Wat hierdie kamer kan vertel as die mure kon praat, dink hy toe hy op die nou bedjie gaan lê en na die plafon staar.

Vryheid kom in vreemde gedaantes.

“Daar is bobotie in die oond en my tuisgemaakte blatjang. Jy hou daarvan.” sê sy vanaf die einde van die donker gang waar die lig vanuit die kombuis op haar skyn.

“Ma, asseblief, moenie weer begin nie. Ma is weer paranoïes. Niemand weet nie en niemand sál ooit weet nie.” Hulle staar vir ’n oomblik na mekaar asof geeneen gepraat het nie. Stilswye. In die kombuis gaan sit hulle by die tafel. Was dit nie nou net oggend nie? Dis so donker. Dogter sit die lig af en steek die lamp aan. By die lamplig lyk alles anders. Dit verdof die waarheid. Dit steek realiteit weg in skaduwees. Nou sit hulle, hande gevou, net soos die aand toe hulle ’n plan beraam het. Dieselfde aand toe sy wakker word. Laat. Hy het tuisgekom ná nagskof by die stasie.

Sy hoor sy fiets wat kirts-kirts maak om die huis, dan agter stop, hoe hy die fiets krap-krap regop stut teen die watertenk. Tot middernag gekuier by die houvroujuffrou. Sy kon die roet aan hom ruik. ’n Piksoentjie soos gewoonlik. Dan die geur van gekneusde rose wat iewers skuil om sy skouer.

Sy het die houtvloere blink poleer. Sy voetspore loop kamer toe, terug, na die badkamer, terug. Vaal is die vloere.

Die badkamer – blinkwit bad en wasbak, krane vlekloos, die spieël rein – hang af wie daarin kyk. ’n Roetswart ring, baardstoppels, seepstrepe. Die spieël onrein.

’n Warm bord kos; gebraaide hoender, self geslag met ’n skerp byl. Aartappels, wortels en soet patats uit die tuin – alles netjies opgeskep in ’n erfstuk bord. Rooi rose en geel madeliefies in ’n potjie op die tafel. Hy is blind, sien niks raak nie. Krap met sy vurk alles deurmekaar. Hy vra nog soetwyn. Sy skink. Krap-krap aan sy kos. Nog wyn. Sy skink. Tamatiesous, gooi die kos bloedbelope. Sy moet sy werksbroek óórstryk. Die nate is skeef. Is sy skeel?

Dan vlieg die bord kos oor die blink vloer. Erfstuk flenters. Rooi druppels soetwyn mors oor sy wit frokkie. Sy weer sy vuis af en dis mis. Delila het al sy kragte ontneem.

Hy gaan slaap warm tussen kraakvars lakens. Haar seer vreet haar slaap weg. Sy sit regop by die kombuistafel. Dogter maak die gemors skoon.

“Ma, dit kan nie langer so aanhou nie. Kyk hoe lyk ma. Ek kan ook nie meer nie.” Sy fluister. Die mure het ore. Die duiwel ook. Daar is ’n uil op die dak wat roep.
“Ek begin hom haat, maar hier diep binne my is daar nog hoop. Ek kan nie net oppak … ons kan nie net oppak en loop nie. Waarheen?” Sy snuif, haal ’n sakdoek uit en vee haar trane af terwyl sy opstaan en die stoel onder die tafel inskuif.

“Gaan slaap, kind. Ek het ’n groot bestelling vir blatjang. Ek kan tog nie slaap nie. Bring vir my die appels uit die spens dat ek kan begin skil.”

’n Groot skottel appels – bloedrooi, skoon gewas, blink gevryf. Skil die appels. Plof terug in ’n emmer koue water.

“Waar kruip mens weg? Hoe verdwyn jy sonder dat iemand jou sien? Hier is geen bus, geen kar. Jy weet tog. Net die stasie en die meester is in beheer. Jy kan nie voetslaan, die grondpad neem na die hoofpad nie. Daar is oë wat jou sien.” ’n Appel plons, waterdruppels spat oor die kombuistafel. Verdomp, vee droog.

“Nag, ma.” Op haar tone kamer toe, saggies.

Sy het eendag probeer. Terwyl sy wag vir die trein, kom hy terug van die houvrou.

“Wat maak jy hier?” Haat in sy oë.

“Ek het maar net kom kyk hoe dit hier lyk en om …” Toe val hy haar in die rede.

“Jou plek is by die huis. Gaan kyk hoe dit daar lyk. Maak skoon die huis.” Toe sit hy sy fiets teen die muur en stap die stasie binne. Deur klap toe. Houvroujuffrou se man bestuur ’n trein.

Die hoofstraat deur die dorp is stil. Die nuwe hoofpad het alles doodgemaak. Loseerders raak al minder en die inkomste ook. Die stasiemeester spandeer sy geld op gekneusde rose, kant en satyn en liefdeswoorde. Treindrywer ry deur klowe, oor oop vlaktes en langs stil paaie. Hy kom nie terug nie. Houvrou bly getroud.
Sy kry ’n messelaar; bou toe die vensters van die stoepkamer, kalk weer die mure. Hy sien dit nie raak nie. Die wurms vreet die appels-, patats- en wortelskille op in sy eie komposgat. Die tuin raak verwaarloos, maar die komposgat kry kos.

Een middag voor ete: daar is bobotie in die oond en ’n bottel tuisgemaakte blatjang op die spens se rak. Hy draai, dink aan sy volgende wolhaarstorie.

“Ek moet weer vir die Engelse juffrou by die skool gaan help. Die stel vir die konsert is nog nie klaar nie. Ek neem sommer ’n mandjie eetgoed saam. Pak iets vir ons.” Sy haal die laaste bottel van die spens se rak af, vee dit af met ’n vadoek terwyl sy die bottel versigtig in ’n mandjie sit.

“Neem dit vir haar. Ek stuur dit as geskenk. Dis my eie blatjang … appelblatjang.” Ja, selfgemaak, van die heks se mooi rooi appels – sneeuwitjie s’n, goudgeel gifappeltjies, selonsroos blare in plek van lourier. ’n Giftige brousel.

“Is dit die laaste bottel?” Dit is haar gelukkige aand. Ja, fyn beplan.

“Ja, dis haar geluk …” Sy lieg. Die res is weggesteek, sonder gif. Dié laaste een is vir jou houvrou. Maar sy sê niks. Dis haar eie, enig in sy soort blatjang. Gebottel in versamelde bottels. Sy pak die mandjie. Twee porsies bobotie, daar is moskonfyt en varsgebakte brood vir ’n soettand. Hy haat haar blatjang. Hy haat haar. Hy eet net winkel blatjang, dis eg en reg sê hy altyd. Hy is gek oor moskonfyt. Net tant Henna se negosiewinkel s’n, vra hy altyd, die in blikke is namaaksels. Met alles wat sy doen vind hy fout. Houvroujuffrou doen alles reg. Vier jaar lank, hy en sy houvrou. Net soos die droogte.

Hulle eet, hy en die houvrou, piekniek op die klaskamervloer. Dit was haar laaste maaltyd. Haar laaste proe van blatjang en haar laaste swanesang. Sy vingerafdrukke op ’n bottel tuisgemaakte blatjang. Sy nat soen se spuug kleef aan haar keel en agter haar oor. Sy voetspore voor die klaskamerdeur, hande om die deurknop, Brylcreem aan haar hande toe sy sy hare streel. Vingerpunte teen ’n ruit toe hy die venster oopmaak vir vars lug. Daar is niemand om skoon te maak en weg te vryf nie. Die halfgeëte moskonfyt met kaas, besmet met sy spoeg.

“Wat het julle gedoen … !” Hy kom skree-skree die huis binne. ’n Verwoede leeu wat sy wyfie kwyt is. Haat spring in sy oë rond. “Wat de hel het julle gedink doen julle?” Hy weet hy is vas; gevang in sy eie sonde.
“Kruip weg in die stoepkamer,” sê sy. Sy sluit die deur. “Bly net stil. Niemand sal jou hier kry nie.”

Sy en dogter maak die huis skoon; politoer vloere, die badkamer blink, die spieël bly onrein. Vryf-vryf, maar die sonde en onreinheid bly weerkaats. Alles word afgevryf; meubels, deurknoppe, prentrame, draadloos en sy kosblik. Haal sy gesig uit rame uit. Uit die oog, uit die hart. Uitgevee, alles, die hele nag deur. Sy klere, besittings, tot sy tandeborsel en skeermes in die komposgat gegooi.

Hy durf nie ’n geluid maak nie; nie toe nie, nie wanneer daar mense kom en gaan nie, nie wanneer die polisie hom soek nie, of wanneer iemand kom navraag doen en ingeval mense straat-af stap nie. Hulle kom deursoek die huis. Niks. Daar is ’n kas voor die deur van die stoepkamer. Hulle kyk verby alles.

“Hy het gevlug, weg,” sê sy. Hy hoor haar.
Al soek hulle hom, hulle sal hom nooit kry nie. Sy vryheid daarmee heen. Hy is ’n kluisenaar, ’n gevangene in sy eie sonde binne sy eie sel. Geen kos of water. Hoe lank voor die dood? Honger maak jou mal. Hy eet sy eie tong. Hy hoor hoe hulle kom navraag doen, dag na dag. Hy’s weg, sy vryheid gaan soek, sê hulle.

Die kamer is koud, klam en ruik na muf. Met ’n spyker skryf hy teen die mure; belydenisse, haat, hulp krete, berou, hartseer, verlange, vrese, die waarheid, sy leuens – woorde wat diep graveer word soos hiërogliewe. Hoe dan anders? Hier is jy, jouself, jou ek – alleen met jou eie gedagtes en sondes. In jou kop woel jou eie vrae en jou eie antwoorde. Hier worstel en baklei jy met jouself. In hierdie harde barheid moet jy jou eie slegte gedagtes konfronteer – die satan binne jou. Elke minuut is die duiwel daar, besig om met jou gedagtes speletjies te speel. Hy wil met jou onderhandel; in vele stemme wat gelyktydig praat – vertel jou van vryheid en keuses. Hy soek jou siel. Jy wil skree, maar die duiwel het jou van jou stem ontneem. Sy vuishoue teen die dik mure eggo in sy eie spelonk. Jy wil die duiwel uit jou kop teen die muur stamp. Hy bly sit en klou aan jou siel. Druk jou ore toe, maar die duiwel sit en lag tussen die woorde teen die mure en wonde aan jou lyf.

Spyker skryf ’n laaste sin ‘Gee my net my vryheid’. Spyker word ’n moordwapen. Polse sonder bloed en hartklop. Die wraak van ’n geskonde vrou is bitter – dit laat die hel lyk na ’n paradys.

Toe die reuk van dood liggies in die lug hang, laataand, sleep hulle hom die tuin in. Hulle spit hom toe; ’n diep graf, sy eie kompos gat, klippe en skille en vrot vleis. Hulle plant ’n bougainvillea – wortels wat om hom groei, sy beendere tot stof verwurg. Maar bougainvillea het nooit gebloei nie. Langer en langer word die ranke; oor die Vryheid-bord, dak binnegedring, sy lote dieper en dieper in die fondamente en plate gewikkel. Versprei vrot en vreet aan balke. Vreemd, elke droogte oorleef – selfs hiérdie een. Dis amper vier jaar se geen reën.

En nou, hier sit sy weer. Die lamppit was laag gebrand toe sy saggies fluister: “My kind … daar is iets vreemds in die lug.” Sy kyk na haar eie ou hande.

Daar was; donker wolke pak saam, blitse wat vinnig op mekaar volg, ’n harde dreun, donderslag ruk deur die lug. Reën stort neer, seëninge, emmers vol. Die dak lek. In die stoepkamer loop die reën in strome teen die wit gekalkte mure af; grys stroompies, wit water op die vloer, hiërogliewe ontbloot. Gee my net my vryheid. Ek is onskuldig.

Die water stroom die huis binne – deur krake, onderdeur kosyne en buitedeure. Leë bottels dryf op die water.

“Wat gaan ons maak? Kyk die water, dit word erger! Wat van die man op die stoep?” Sy gryp na haar kind se hande. Die dood koggel haar in die skaduwees wat dans in die lamp se lig.

“Niks … ons doen niks.”

“Die man in die stoepkamer … ons moet help … nie weer nie. Nie weer die wraak … ” Sy snik.

“Watter man, ma? Daar’s nie ’n man in die stoepkamer nie.” En dogter blaas die lamp uit.
Eerder die donker as om die dood te sien kom in die lig. Vryheid is hier; laat die afsluiting en einde genadig wees. Vry is die gewete. Daar is bobotie in die oond, moskonfyt en vars gebakte brood vir ’n soettand.

Van die inwoners is daar geen teken meer nie; iewers begrawe, ’n koue moddergraf. Nog nooit was ’n vreemdeling met ’n dikwielfiets en ’n tas afgelaai nie. Die verlossing van die sonde en die vryheid van jou gewete kom in vreemde gedaantes. Wraak ook. Daar is wel ’n swart dikwielfiets op die stoep, vir jare daarna, verskans agter ’n wit gekalkte muur. Die stoepkamer se mure staan ontbloot; die woorde koud, klam en muf. Soms ruik jy gekneusde rose, maar dit gebeur min.
Ná die aand van die vloedreën bloei die bougainvillea vir die eerste keer, elke jaar, een bloedrooi bloeisel.

Uit: ENGELA (Kortverhaalbundel). Outeur: Nico Schamrel




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 10
Kommentaar telling: 10

My werk wissel tussen fiksie, roman, komedie en erns. Verskeie van my kortverhale is gepubliseer in drie bundels - Vlerke, Ses Dae en Tydpalet - asook op verskeie platforms. Ek het ook 'n Croyez-benoeming ontvang vir 'n kortverhaal wat in 'n keurbundel verskyn.  Ek werk tans aan my eerste Afrikaanse kortverhaalbundel - Engela - asook 'n boek (komedie). http://pendit.co.za/

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 89 gaste aanlyn

Bydrae Totale