Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vlooie op Roossenekal

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 11 September 2019 Aantal woorde: 1967 46 Kere gelees 2

“Vir wat krap jy so?”
Marthinus het die antwoord geken. Maar hy wou hoor hoe sy dit sê.
“Dis baie droog in die hitte. Seker maar ‘n droë vel…” Antwoord Elsa met die oortuiging van ‘n Arabier wat sand in die woestyn probeer verkoop.
“Verkeerd.” Het hy emosieloos reageer. “Pak jou goed.”
“Wat?” Die paniek was vlak in haar stem. “Martiens…” Het sy wanhopig probeer.
Hy’t uitgevind.
Vanaand is daar moord.
Jy sukkel nie met Marthinus de Kok nie.

Dis Buks wat in die kroeg die waarheid loop vertel het. Nou weet die hele dorp se mans. En ieder en elk van hulle is so kwaad soos ‘n pofadder wat in ‘n spyker getrap het.
Dit was dus ook geen verrassing vir konstabel Nokwe toe hy die oproep kry en vir Frans Ferreira, kurkdroog soos ‘n boerbeskuit, onder die berg wit poeier moes uitgrawe nie. Die lyk was so uitgedroog dat toe die paramedikus hom probeer optel, toe verkrummel die helfte van die een been sommer tot stof. Dis eers nadat hulle die droë spulletjie wat oor was van Frans, met borrelplastiek toegedraai het, dat hulle hom kon vervoer.
Die lykskouer het ‘n enkele toets gedoen – net om sy vermoede te bevestig. Frans Ferreira was lewendig begrawe onder ‘n hoop vlooipoeier. Die poeier het elke druppel vloeistof uit die jong man se liggaam getrek, totdat net die stuk biltong-mens – of mens-biltong – oorgebly het. Dit moes ‘n stadige en pynlike dood gewees het.

Elsa het geweet waarvoor sy haar inlaat toe sy met Marthinus trou. Hy was 4 toe plant hy sy eerste mieliepit by die kleuterskool. Op 7-jarige ouderdom het Marthinus kaalhande S’faans se sukkelende stoetbul reggehelp – ‘n grillerige taak wat meeste hardebaard mans nie wíl of kán doen nie. Hy was 12 toe hy sy eerste vuisgeveg gewen het. Nie dat dit regtig ‘n vuisgeveg was nie. Marthinus het vir Bakoorbertus (wat op daai stadium ‘n opgeskote man van 23 was) met die plathand teen die oor geklap. Tot vandag toe nog kan Bakoorbertus die Atlantiese Oseaan hoor as hy sy vinger in sy oor druk. (Hy weet dis die Atlantiese Oseaan want hy kan Kaapse Seeperdjies hoor runnik.)
Op 18 het die hele kontrei se Brahmaanbulle draaie om Marthinus geloop. ‘n Bul is nie bang nie, maar ook nie dom nie.
Niemand was dus stom van verbasing toe Marthinus aankondig dat hy gaan boer nie.
Elsa het veilig gevoel by Marthinus, en nie twee keer gedink toe hy haar vra om te trou op 21-jarige ouderdom nie. Daar was maar min keuses op Roossenekal, so as die beste vangs op die dorp jou om jou hand vra dan gee jy jou hand sonder om te oem of te am.
Die ding is, toe die hand aanvanklik gegee is, was Marthinus ‘n eksemplaar van die perfekte man. Meer spiere as enige iets anders en het hy darem die moeite gedoen om te bad en ‘n lekkerruik dingetjie te spuit (selfs al was dit nou Glade se laventel toilet-sproei). Maar na 20 jaar se getroude lewe is dinge anders. Gravitasie het Marthinus se spiere op so knop getrek om sy midderif. Sy baard herinner aan ‘n arend se stokkiesnes – nie net hoe dit gelyk het nie, maar ook die feit dat as jy daarin rondkrap sal jy ou stukkies vleis en bene daarin kry. Tydens oestyd of kalfseisoen sien Marthinus soms vir dae nie die binnekant van ‘n bad nie, en dan hang die reuk van kraal, soos ‘n aasvoël wat ‘n karkas sirkel, oor die dubbelbed. Stadsjapies reken mos boere sit heeldag op die stoep en tuur oor die lande. Maar dis onkunde daai. ‘n Boer werk. Daar is altyd ‘n krisis op die plaas. ‘n Kalf wat vassit. ‘n Luiperd wat amok maak. ‘n Draad wat getrek moet word. ‘n Pomp wat nie pomp nie.
En arme Elsa word koud en droog gelaat.

Niemand is seker hoe of hoekom Frans Ferreira op Roossenekal beland het nie. Die talle tatoes oor sy lyf kon net beteken dat hy uit die stad uit kom. Hy was 19, met ontwerper spiere. (Dis nou spiere wat jy in ‘n gimnasium kry, en nie van harde handearbeid nie.) Sy vel was blink en glad – heeltemal haarloos soos ‘n seuntjie van 10. ‘n Bos blonde hare wat eintlik in ‘n sjampoe advertensie moes wees. Hy was doodeenvoudig prentjie mooi. Michelangelo sou sy erfporsie gee om ‘n beeld van Frans te kon maak. Sonder ‘n vyeblaar.
Frans het onverklaarbaar oornag verskyn uit die niet. Ou Doris wat altyd die till geslaan het in die drankwinkel was weg, en daar staan Frans, spierwit breë glimlag, agter die toonbank.
Daar het ‘n vreemde energie oor Roossenekal neergedaal. ‘n Opgewondenheid. Die nuus oor Frans loop deur die distrik en al wat ‘n vrou is dink verskonings uit om drankwinkel toe te gaan. Skielik begin al die vroue op die dorp te drink. Die Kaapse wynbedryf kry ‘n hupstoot van al die verkope. SA Brouerye kan nie voorbly nie, en moet naderhand weekliks ‘n trok net vir Roossenekal stuur. Selfs Mevrou Dominee wat ‘n geheelonthouer is begin haar Diet Coke by die drankwinkel koop, selfs al is dit R5 duurder as by die Porra. Al die boerevroue, soos Elsa, wat lankal moed opgegee het, grawe lipstiffies en buustelyfies met valletjies, onder uit laaie uit. Tannie Gerda stof op 89-jarige ouderdom weer haar tertpanne af en begin weer Tipsy terte bak, net sodat sy kan gaan Old Brown Sjerrie koop.
Aanvanklik is die mans van die distrik glad nie gepla nie. Hulle klakous vroue moedig hulle aan om meer te drink. Buiten vir al die drank wat die vroue by die huis aandra, lyk hulle vroue weer vir hulle mooi, vir die eerste keer in jare. En nie eers te praat van die skielike lus nie. Dis asof daar ‘n hernuwing tussen hulle vroue se dye ontstaan wat die mans laas ondervind het op wittebrood.

Maar soos die dae aangeloop het, het ‘n lelike ding sy kop begin uitgesteek. Twee om presies te wees. Eerste was die feit dat die drankwinkel se besigheidsure skielik baie chaoties geraak het. Telkemale kom daar kliënte by die drankwinkel aan, net om voor toe deure te staan. Partykeer was daar ‘n nota op die deur met ‘n vinnige geskribbelde verskoning soos “Gesluit vir voorraad opname” (2, 3 keer ‘n week?) of “Toe weens kragonderbreking” al het die neon naambord helder en duidelik die teenoorgestelde flikkerend aangekondig.
Die tweede probleem wat die dorp aan die praat gehad het was die pandemie van vlooie. Uit die bloute het alles en almal vlooie. Die vroue. Die dubbelbeddens. Die lakens. Die klere. Die honde en katte en hamsters en bosduiwe. En uiteindelik die mans ook. Die koöperasie en die apteek kon nie voorbly met die vlooipoeier nie.

Dié aand sit die manne in die kroeg en kla oor die min reën en die baie vlooie. Die dorp se kroeg, Watergat, het amper sy gat gesien met die dat daar so baie drank in oorvloed in al die huishoudings was. Die manne het egter in solidariteit met die eienaar, Jan, besluit om steeds die kroeg te ondersteun. Weg van die vroue, kinders, vlooie en die res van die wêreld se probleme.
Die wewenaar, Buks van Staden, het in stilte gesit en luister na al die klagtes. (Buks het vir jare met boerboele geteel, totdat hy uitgevind het daar is meer geld in Sandton en Yorkshire terriërs.) Uiteindelik het Buks gepraat toe daar ‘n oomblik van stilte is.
“Sien julle dit nie?” Het hy gevra sonder om ‘n antwoord te verwag. “Die vlooie… Ek het gesien met die honde. Vlooie spring nie net deur die lug van een slagoffer na ‘n ander een toe nie. Hulle weet mos nie waar hulle gaan land nie! Nee, hulle is slinkse goed. Hulle wag dat twee honde styf teenmekaar is, dan loop hulle net oor. Of hulle lê en wag in die beddegoed. As honde beddegoed deel, dan het iedereen van hulle vlooie.”
Daar was ‘n verslae stilte in die kroeg.
Bakoorbertus wat maar bietjie stadig was vandat hy ‘n Marthinus-klap weg het, het diep gefrons en uiteindelik die stilte gebreek. “Ek verstaan nie Oom Buks. Sê Oom ons vroue slaap op die honde se beddegoed?”
Buks het sy kop stadig geskud.
“Nee Berrie. Dis daai Frans kind… Hy’t vlooie.”
Meeste begraafplase is nie so stil soos die kroeg daai aand nie.
Buks besef nou is die tyd vir raad, want die wind was duidelik uit die klomp mans se seile. “Al wat werk vir vlooie is om die honde te skei van mekaar. En dan kakiebos te brand – orals. ‘n Vlooi vlug voor die voet vir die reuk van kakiebos-rook. En jy hang die beddegoed oor die rook. Sal nooit weer vlooie sien solank daai reuk daar is nie.”
Oomblikke later was die kroeg leeg. Die mans het die veld ingevaar en al wat ‘n kakiebos is gepluk. (Tot vandag toe nog sal jy nie ‘n enkele kakiebos op Roossenekal kry nie.) Nóg later hang daar ‘n massiewe bol rook oor die hele distrik. As jy jou plante ken, sou jy die reuk van kakiebos herken.
Marthinus was ál een wat bly sit het in die kroeg. Hy’t geweet as hy daar opstaan gaan daar moord wees. Hy’t lank daar bly sit en saggies huil. Sy hart in ‘n duisend stukkies gebreek. Hoe kon Elsa dit aan hom doen? Jan wou graag die kroeg sluit en gaan kakiebos soek, maar hy was te bang om vir Marthinus se sê hy moet waai. Uiteindelik het Marthinus ophou huil en saggies gepraat.
“Jan, kan ek asseblief jou telefoon leen. Ek het ‘n paar oproepe om te maak.” Jan het gedweë die telefoon aangegee. Hy’t gemaak asof hy glase skoonmaak, maar verstom geluister hoe Marthinus een na die ander oproep maak. Uiteindelik het Marthinus tevrede gesug, die telefoon op die mikkie gesit en die donker ingestap.

***

James Jameson was nie ‘n goeie mens nie. Mense wat hom geld geskuld het, het raaiselagtige wonde en gebreekte bene opgedoen. Mense wat James probeer indoen het of by hom probeer steel het, het verdwyn of is dood in fratsongelukke.
James Jameson se windhonde was wêreldbekend. As jy ‘n paar miljoen rand gehad het om te belê in honderesies, dan het jy ‘n hond by James gekoop. Jou belegging was altyd dubbel en dwars beloon. James se honde het gewen. Punt.
Tot een goeie dag – of eerder slegte dag – wat Rasputin, een van James se beste honde in die middel van die resies gaan sit het, en begin krap het. Die hond het vlooie gehad.
Al James se honde was verban van die resiesbaan, en dit het die Jameson Telery bykans geruïneer. James Jameson was buite homself van woede. Die vlooie het saam daai Theuns Theunissen kind opgedaag. James het die hawelose kind jammer gekry en hom werk gegee in die hondehokke. Dáái besluit het James op die ou einde miljoene rande gekos en sy reputasie onherroeplike skade verrig. En toe vlug die swernoot soos ‘n dief in die nag. As hy wat James was óóit daai kind in die hande moes kry… Die dood is eintlik te goed vir hom.
Dit is laat een aand toe James Jameson wakker gebel word.
“Wat!?” James het nie lus gehad vir nonsens hierdie tyd van die nag nie.
“Hallo? Is dit James Jameson windhond-telery?”
“Ja. Wat wil jy hê?” Gewoonlik was James bietjie meer beskaafd teenoor kliënte, maar dit was ‘n slegte dag. Dit was ‘n slegte jaar.
“Jammer ek pla Meneer Jameson. Dis Marthinus wat praat. Ek bel hier uit Roossenekal. Ek dog maar net ek laat weet jou, daar’s ‘n kind hier op die dorp… Frans Ferreira.”
“Wat de hel gee ek om!?”
“Hy’t vlooie.”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 26
Kommentaar telling: 19

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 95 gaste aanlyn

Bydrae Totale