Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vir Dao Mau

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 31 Maart 2021 Aantal woorde: 1963 44 Kere gelees 4

Ek staan voor die opening van die grot, en staar die onheilspellende donkerte in. Wat wag vir my? ‘n Pynlike, stadige dood of ‘n vinnige heengaan na die hiernamaals?

Ons dorpie is nie veel anders as ‘n dosyn ander soortgelyke dorpies in die Quang Binh provinsie van Vietnam nie. Wel, dis seker nie heeltemal waar nie. Ons dorpie Son Trach is vrugbaar en oorvloedig. Almal het genoeg om te eet, bly in ‘n groot, goed uitgeruste hut en daar is werk vir almal. Dit is ‘n paradys, as daar ooit so iets is. Die ander dorpies in die omgewing is vervalle. Armoede het die mense tot op hulle knieë gedwing. Selfs die kinders gaan slaap honger, en bitter min mense het ‘n hut waar hulle, hulle kop kan neerlê. Meeste mense probeer snags, onder dakkies gemaak uit takke en blare, slaap. Mens sou dink dat enige dorpie wat in die middel van ‘n reënwoud is, nie te sleg sou vaar nie. Dit is dalk ‘n eenvoudige lewe, maar daar behoort genoeg te ete wees vir almal. Die ander dorpies is egter oorbevolk en al wat ‘n dier is, is tot op die rand van uitsterwing gejag. Hoeveel spesies bestaan nie meer nie, want die mense se honger hou nooit op nie? Bome wat vrugte dra is afgesny vir vuurmaakhout of die vrugte word gepluk en in die stad verkoop vir ‘n paar sent, net sodat dit in eerste wêreldse lande ten duurste weer verkoop word aan mense met meer geld as wysheid. En dan is daar die honderde jare se burgeroorloë en klassisme wat ons mense arm en gebroke gelaat het. Dis net die dooies wat ooit die einde van ‘n oorlog sien.

Ons dorpie se voorvaders het egter jare gelede al gesien wat kom. Hulle het besef dat daar net soveel hulpbronne en kos is, om ‘n gemeenskap te onderhou. Gebruik te veel, en daar is niks. Hulle het seker gemaak hulle neem net soveel van die aarde as wat nodig is. Hulle het ook aan die aarde teruggegee, en sodoende ook oorbevolking verhoed. Wanneer die moeson seisoen begin, dan word een van ons die grot – Son Doong – ingestuur. Volgens oorlewering is dit waar Dao Mau, die Moedergodin van die natuur bly. Sy sorg vir ons, en ons sorg vir haar. Wanneer dit tyd is, kom ons almal bymekaar. Ná die seremonie van vrugbaarheid word daar lootjies getrek, om die volgende persoon, wat die offerande gaan wees, te kies. Die persoon trek die mooiste groen kleed aan en juwele van die reinste smaragde word aan die offergawe se vingers gesit. Dan stap ons almal saam na die ingang van die mistieke Son Doong, en sing liedjies van dankbaarheid, terwyl die geliefde dorpenaar die grot instap.
Niemand kom ooit weer uit nie. En ons dorpie beleef nog ‘n jaar van oorvloed en vrugbaarheid.

Die eerste moesonreën het gister geval, en die stamhoof, Ngoc Ma, het die boodskap die dorpie ingestuur dat dit tyd is. Ons het vanoggend gedans, geëet, gesing en mekaar waardeer, want vandag sou die laaste keer wees wat iemand ons vir altyd sou verlaat. Elke een dink altyd dat dit iemand anders gaan wees. Ek ook. Maar hierdie keer was ek verkeerd. Ek het die kleinste klippie gekry. Ek is dié seisoen se offerande aan Dao Mau.

Ek staan voor die opening van die grot, en staar die onheilspellende donkerte in. Wat wag vir my? ‘n Pynlike, stadige dood of ‘n vinnige heengaan na die hiernamaals? Die groen kleed om my lyf voel vreemd. Ek is gewoond daaraan om net ‘n lendedoek te dra. Agter my sing die dorpenaars ‘n opgewekte liedjie. Is hulle so opgewek omdat hulle eintlik dankbaar is dat dit nie een van hulle is wat hier hoef te staan nie? Ek dink terug aan al die kere wat ek tussen hulle gestaan en sing het. Die offer aangehits het om die ondeurdringbare donker in te stap. Tot nou het ek nog nooit regtig oor die dood gedink nie. Wat gebeur as jy doodgaan? Hoe is dit? Hoe voel dit? Dit is lekker om te lewe, en ek vermoed die dood is vreedsaam. Ek dink dit is die oorgang van die een na die ander wat moeilik is.
Ek skud my kop. Ek gaan nie dat vrees my wen nie. Ek gaan nie onthou word as ‘n lafaard nie. Dit is wanneer ‘n mens op sy bangste is, wanneer hy die dapperste is. Ek doen dit vir my mense.
Ek kyk ‘n laaste keer om, gee ‘n skewe glimlag en stap die oneindige donkerte in. Die grond onder my voete is meestal gelyk. Hier en daar is ‘n klip, maar ek stap stadig genoeg dat ek nie my toon stamp nie. My hande is voor my uitgestrek. Die lig van die warm son word flouer en flouer soos wat ek die diepte in stap. My uitgestrekte vingers ontdek die gladde oppervlak van die grot se muur. Ek laat my vingers oor die rotswand gly soos ek die draaie en op-en-af van die muur volg. Dit voel soos kilometers wat ek stap. In die verte sien iets. Het my oë gewoond geraak aan die donker? Dis ‘n flou lig. Ek begin vinniger stap in die rigting van die lig, en dit word helderder soos wat ek nader stap. Het ek in die verkeerde rigting gestap? Is ek weer by die ingang? Ek hoor nie meer die sangstemme van my mense nie. Voor my maak die tonnel oop en ek stap ‘n reuse grotsaal binne. Orals is daar klippe of kristalle wat gloei; genoeg lig gee dat ek sonder moeite die onbekende omgewing kan ondersoek. Ek bekyk die grot van kant tot kant. Ek ondersoek die klippe wat ek nog nooit gesien of eers van gehoor het nie. Die stilte word gebreek deur … voetstappe? Ek steier agteruit. Dis seker Dao Mau, die Moedergodin wat my kom haal. EK staan trots regop soos ‘n kryger, gereed om my plig vir my mense te voltrek. ‘n Figuur kom die grot ingestap. Ek het nooit regtig gedink oor hoe Dao Mau lyk nie, maar ek het glad nie verwag dat sy soos ‘n mens gaan lyk nie. Die figuur stap nader en ek probeer vriendelik en braaf tegelykertyd te lyk, maar dit voel of my bene onder my gaan ingee. Uiteindelik is die figuur naby genoeg dat ek haar kan sien. Hóm kan sien? Dit is dan … Ek ken die figuur. Dit is Trinh Minh wat ‘n paar jaar gelede geoffer is! Ek vergeet van Dao Mau en die dood, en omhels Trinh Minh met meer blydskap as wat ek nog ooit ervaar het.
“Wat gaan aan? Hoe het jy …? Waar het jy …?” Ek het soveel vrae dat ek nie eers een sin kan klaarmaak nie.
Trinh Minh glimlag en sê: “Ontspan. Jy sal nou verstaan.” Hy draai om en beduie dat ek hom moet volg. Ek laat my nie twee keer nooi nie en volg hom tot by die verste punt van die grotsaal. Daar sak hy op sy knieë neer en kruip by ‘n klein tonnel in. Ek volg sy voorbeeld en bly kort op sy hakke. Na, wat soos nóg kilometers voel, word die tonnel groot genoeg dat ons kan regop staan, en ‘n ent verder eindig die tonnel in ‘n groter saal as die vorige een. Ek staan verstom. Dit lyk of ek by ‘n dorpie ingestap het. Die saal is helder verlig deur gloeiende klippe. Daar is kliphuise in die kante van die saal gekerf. Hier en daar brand vure waarop vis gebraai word. En orals sit mense rond wat gesellig met mekaar praat. Hulle word stil as hulle my sien, en spring opgewonde op en hardloop nader. Ek herken elke een wat my kom groet. Le Hoan! Quang Khai! Truong Dinh … Nog dosyne ander! Almal mense wat in die verlede die grot ingestap het as offers aan Dao Mau. Daar is egter ook ‘n paar jongmense en kinders wat ek nie ken nie. Toe almal my klaar vreugdevol gegroet het, begin hulle my alles in die grot-dorpie wys. Die huise, die gemeenskaplike kuierplek waar etes bedien word, waar hulle visvang, die plante wat sonder sonlig groei en heerlik is om te eet, die skool en die klipwerke waar klippe gekap word om nog huise en nuttige gereedskap te maak. Selfs ‘n tempel oftewel dinh waar Cao Son Dai Vuong, die Berggod aanbid word. Pragtige kalsiet en kwarts kristalle wat dit ‘n towerwêreld maak. Diep poele water wat oneindig die lig reflekteer. Dít is die paradys.

Nóg mense wat “geoffer” is het by ons aangesluit. Mense het verlief geraak, saam gebly en die natuur het sy gang gegaan. Op ‘n stadium het daar nie meer mense by ons aangesluit nie, maar ons het dit skaars agtergekom want ons het vergeet dat daar ‘n wêreld daar buite bestaan. Hiérdie was ons wêreld.
Ek het geen idee hoeveel tyd het verbygegaan nie, want tyd het stilgestaan sonder ‘n son en maan. Ek het al ‘n lang grys baard gehad teen die tyd wat die probleme begin het. Ons mense het begin baklei oor kos. Die vissermanne het begin terugkom sonder ‘n enkele vis of net een of twee klein vissies. Die groot groep wat ons was het die voedsame plante ook vinniger opgeëet as wat dit kon groei. Die mense het begin honger word. ‘n Honger mens is soos ‘n gevaarlike dier.
Ek en die ander twee oudstes, Trinh Minh en Thi Xuan, het begin praat. Ons het besef dat ons iets moet doen, anders gaan die mense mekaar doodmaak of, nog erger, begin eet.
“Daar is meer mense as wat daar kos is.” het Thi Xuan die ooglopende verklaar.
“Cao Son Dai Vuong is kwaad vir ons. Al wat ons doen is neem, maar ons gee niks terug nie.” voeg Trinh Minh by.
Ek het egter reeds geweet wat moet gebeur. Oorbevolking en ‘n ongelukkige berggod. Die antwoord was so duidelik soos ‘n gloeiklip.
“Ons moet iemand offer aan Cao Son Dai Vuong …” sê ek saggies. Lank verlore herinneringe het my nie laat besef dat dit nié ‘n oorspronklike idee was nie.
Trinh Minh en Thi Xuan het hartseer instemmend geknik.

Ons het die mense bymekaargeroep en verduidelik wat die probleem is en wat die antwoord is. So is ‘n nuwe tradisie gebore. Ons vier fees. Ons hou ‘n seremonie. Een van ons mense word gekies as offer aan die Berggod, Cao Son Dai Vuong.
Opoffering is deel van die lewe. Dit is veronderstel om te wees. Dit is nie iets waaroor jy spyt is nie. Dit is iets om na te streef. Dit is nie moeilik om te besluit wat jy in die lewe wil hê nie. Wat moeilik is, is om uit te vind wat jy bereid is om op te gee. Om dit te doen wat nodig is vir dít waarvoor jy regtig omgee.

Ons sing en dans en vereer die offerande. Sit pragtige kristalle aan die martelaar se hande.

Die lewe is ‘n sirkel. Dit het geen begin of einde nie. Net die eindelose stryd om oorlewing. Die onafwendbare dood is die reël. Oorlewing is die uitsondering. Leef nóú. Doen wat jy wil, nie net wat jy móét nie. Ons leef nie vir ‘n ewigheid nie. Ons het net hierdie oomblik, skitterend soos ‘n ster, met beloftes van geluk en vreugde – maar dit smelt soos ys. Ons moet dit gebruik voor dit te laat is, want more is jy die offerande vir iemand anders.

Ons stuur hulle uit die grot. Ons stuur hulle na die lig aan die einde van die tonnels. Vir Cao Son Dai Vuong. Vir ons mense.
Niemand het nog ooit teruggekom nie.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    31 Maart 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2021 – OOP-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 45
Kommentaar telling: 31

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 77 gaste aanlyn

Bydraes – Argief