Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Via Dolorosa na Liefde

Deur Jessica Venter
Datum gepubliseer: 26 April 2018 Aantal woorde: 1920 349 Kere gelees 2

Dis ’n warm oggend in die klein dorpie, Galilea. Sara is besig om wasgoed op te hand. Haar moeder, Maria, is baie sieklik. Bedags werk haar vader, Jakob, dan versorg sy haar moeder. Haar maag herinner haar dat dit middagete is en sy gaan die huis in. Haar moeder se bord is reeds reg en sy vat dit vir haar.
“Moeder, hier is middagete.”
Sara help haar eers om gemaklik te sit voordat sy haar bord kos gee.
“Dit lyk heerlik.”
“Roep as moeder nog iets nodig het.” Sy staan op en stop eers by die deur.
“Ek sal so maak. Dankie.”
Met ’n kopknik stap Sara uit. Die deur gaan oop en haar vader kom in.
“Sjoe. Maar dit is warm vandag.” Hy vee met sy arm die sweet van sy voorkop af.
“Ja, dit is. Middagete is reg.”
“Ag, jy is ’n engel. Baie dankie.” Hy gaan sit by die tafel. “Het jy gehoor Jesus is in die dorp?”
Sara se hart bokspring in haar bors. “Nee. Wanneer het Hy gekom?”
“Gister.” Hy vat ’n hap brood, kou eers klaar voordat hy weer praat. “Hy het by die olyftuin gaan bid saam met sy dissipels.”
“Sjoe. Hy is so ’n voorbeeld vir ons almal.” Sy sug en gaan sit oorkant haar vader.
Hy kyk ’n oomblik na haar. “Ek weet jy wil gaan.”
“Maar wat van moeder?”
“Ek is die res van die dag hier. Kry jou goed en gaan.”
“Is vader seker?”
Hy knik net met ’n mondvol kos.
Opgewonde spring sy op. Met ’n vinnige soen op sy wang, kry sy ’n jas en haar waterflessie. “Sien julle later,” roep sy toe sy die deur agter haar toe trek. Verbaas sien sy hordes mense rondskarrel toe sy in die stofpad afloop. Met ’n frons wonder sy wat aangaan. Die volgende oomblik loop sy teen iemand vas. Sy kyk op, in twee donker oë vas.
“Jammer,” stotter sy.
Hy glimlag. “Dis geen probleem.” Sy stem is diep en dit stuur ’n rilling deur haar lyf.
“Wat gaan aan?” Sy wys na almal om hulle.
“Het jy dan nie gehoor nie?”
“Wat?”
“Die soldate het Jesus gisteraand gearresteer.”
Geskok trek sy haar asem in. Angs druk haar keel toe. Dit is sleg. Baie baie sleg.

Daar is ’n groot skare voor Pilatus se hoofkwartiere. Sara probeer haarself tot haar volle lengte uitrek om oor die mense se koppe te kan sien. Maar dit help nie. Pilatus vra die skare wie hy moet vrylaat. Die skare skreeu oorverdowend dat Jesus gevange geneem moet word. Toe vra hy wat met hom moet gebeur. Soos een man skreeu hulle, “Kruisig hom.”
“Nee,” fluister Sara hees. “Hulle kan mos nie.” Sy sien die man raak waarteen sy vasgeloop het. Hy kyk om hom rond en sien haar raak. Met ’n halwe glimlag kom hy nader.
“Hulle kan Hom mos nie net so kruisig nie.” Sara moet hard praat om bo die skare se geraas gehoor te word.
“Hulle het reeds besluit.”
“Maar hoekom?” Sy voel verward. Haar hart is seer.
“Jesus sê Hy is die koning van die Jode.”
Sy skud haar kop. “Dis mos nie ’n rede om Hom te kruisig nie.” Vrees druk haar keel toe. Toe sy opkyk sien sy hoe Pilatus sy hande in onskuld was. Woede vul haar hele wese. “Dit is so verkeerd. Dis moord.”
“Vir seker is dit. Ongelukkig het die skare die keuse gemaak.”
“Kan ons dit nie probeer keer nie?” vra sy hoopvol.
Hy kyk haar met hartseer in sy oë aan en skud sy kop. “Daar is soveel valse getuienisse teenoor Hom ingebring. Hulle sal ons saam met Hom doodmaak as ons iets probeer. Ons kan niks doen nie.” Weer kyk Sara op en sien hoe Pilatus die deur agter hom toemaak. Onskuldig. Sy snak na haar asem toe sy sien hoe die skare tekere gaan. Haar hart trek pynlik saam toe sy besef dat Jesus aan die mense oorgelewer gaan word. “Here, help hom,” pleit sy sag toe sy omdraai en wegloop.

Van veraf sien Sara die skare raak. Sy probeer nog tot verhaal kom oor die wreedheid van mense toe sy Jesus raaksien. Hy is gegesel, ’n doringkroon op Sy kop en ’n pers jas om sy skouers. Die skare skreeu harder en harder. Met die dwarsbalk op Sy skouers volg die skare Jesus na Golgota. Waar hy gekruisig gaan word.
In die skare gewaar Sara weer die vreemde maar aantreklike man. Sy oë stip op Jesus, gevul met vrees en hartseer. Sara beur deur die skare tot langs hom. Hy kyk na haar.
“Is jy ook hier?” Vra hy verras. Sy stem klink hartseer.
Sara knik. “Ek wil naby wees tot die einde.” Haar blik vind Jesus wat voort sukkel. Die skare spot Hom en lag vir Hom. “Hulle besef nie wat hulle doen nie,” fluister sy.
“Totdat dit te laat is.”
By Golgota sit hulle Jesus op die kruis neer. Die houe van die spykers wat ingeslaan word, laat Sara ineen krimp van pyn. Trane vul haar oë en sy draai weg. Haar hande oor haar gesig gevou. Die vreemde man trek haar teen sy bors vas. Sy arms vertroostend om haar skouers. Toe Sara weer opkyk, staan die kruis regop. Drie langs mekaar, Jesus in die middel. Die skare skeur sy klere af en verkoop dit onder mekaar.
“Hulle is varke.”
Sara hoor Jesus sê Hy is dors. Sy maak haar flessie oop en stap nader. Een van die soldate keer haar. “Wat maak jy?”
“Ek wil vir Hom water gee.”
Hy klap die flessie uit haar hande en stamp haar weg. Toe skop hy die fles vir haar. “Daarvoor sal ons sorg,” lag hy.
Die vreemde man tel haar fles op, vee dit skoon en gee dit vir haar terug. “Is jy ok?” vra hy besorg.
“Ja, dankie.” Dit word donker. Sara kyk op. ’n Koue wind laat haar bibber. Sy kyk na Jesus en haar hart pyn van vooraf.
“Dis amper verby.”

Drie ure lank is dit donker. Toe Jesus weer vra vir iets om te drink druk die soldate ’n spons vol suur wyn op ’n hissoptak en hou dit teen Sy mond. Toe Hy dit proe roep Hy uit dat dit afgehandel is. Die volgende oomblik blaas Hy sy asem uit en Sy kop val vooroor. Die een soldaat druk ’n spies in Sy sy om seker te maak dat Hy dood is.
“Nee,” roep Sara uit en val op haar knieë neer. Rukkend huil sy. Haar hart voel asof dit in skerwe in die stof lê.
“Kom,” sê die vreemde man en help haar op. Met sy arm om haar skouers, lei hy haar weg.
“Waar gaan hulle met Sy liggaam heen?” vra sy toe sy kalmer is.
“’n Man van Arimatea het Jesus se liggaam gevat en gaan Hom in linnedoeke toedraai. Sien jy daardie graf in daai tuin?” Hy wys soontoe.
Sy knik.
“Hy gaan hom daar begrawe.”
Dit raak stil tussen hulle.
“Tog was Jesus nogtans getrou.”
“Hoe bedoel jy?”
“Hy het nog ’n siel gered. Dis een goeie ding uit die tragiese dag.”
“Ja.”
“’n Redder van siele.”

Sondagogend staan Sara vroeg op. Met haar jas aan, stap sy in die stil strate na die graf waar Jesus lê. Sy wil net ’n rukkie in die stilte van die tuin gaan sit. Die afgelope drie dae was nie maklik nie. ’n Koel windjie roer haar lang bruin hare en sy trek haar jas stywer om haar koue lyf. Sy het altyd vir Jesus gevolg wanneer Hy in die dorpie gekom het. Sy stories en wonders het haar diep geraak.
Twee vrouens kom verby gehardloop maar sy steur haar nie aan hulle nie. Die tuin lê voor haar en sy loop rustig daardeur. Sy stol in haar spore toe sy opkyk.
“Die klip is dan weggerol.” Haar hart klop benoud toe sy nader stap. Stadig stap sy by die graf in. Die graf is koud en ruik bedompig. Haar oë vat ’n rukkie om gewoond te raak aan die donker. Op die plek waar Jesus se liggaam gelê het, is net linnedoeke. Netjies opgevou. Sy snak na haar asem.
“Jesus is weg,” fluister sy.
“Moenie bang wees nie,” sê ’n stem en sy draai verskrik om. Voor haar staan ’n groot man in wit klere. ’n Glans omring hom.
Benoudheid vul haar hart en sy deins terug.
“Jesus is nie hier nie,” sê hy weer.
Sara swaai om en hardloop by die graf uit. Sy kyk oor haar skouer om seker te maak hy volg haar nie. Uit asem kom sy by ’n bankie tot stilstand en gaan sit. Haar asem jaag en haar bors brand. “Kalmeer,” praat sy met haarself. Met ’n skok sit sy regop. “Waar sou Jesus dan wees?” wonder sy hardop. “Wie het Sy liggaam gesteel?”

Sara weet nie hoe lank sy op die bankie gesit het nie. Die vreemde man wat haar vertroos het, kom voor haar tot stilstand.
“Kan ek maar sit?”
“Ja.” Sy skuif effens op om vir hom plek te maak.
“Ons het saam die Via Dolorosa gestap maar ek ken nie eens jou naam nie. Ek is Paulus.”
Sy glimlag vir hom. “My naam is Sara Maria, maar almal noem my Sara.”
Hy glimlag breed. “’n Mooi naam vir ’n mooi vrou.”
Blosend kyk sy af.
“Wat maak jy hier?”
“Ek was by die graf, maar Jesus se liggaam is weg. ’n Groot man het gesê Hy is nie daar nie. Ek het so groot geskrik en weg gehardloop.”
“Is jy nou ok?” vra hy fronsend.
“Ja, ek is. Wat doen jy hier?”
Hy glimlag weer. “Ek het jou kom haal.”
“Hoekom?”
“Ek het goeie nuus. Jesus het uit die dood opgestaan. Hy is nie weg nie.”
“Wat?” Sy skuif vorentoe op die bankie.
“Ja. Onthou jy Hy het mos daaroor gepraat?”
“Ja. Hoe kon ek vergeet.” Sy skud haar kop. “So, Hy het waarlik opgestaan? Sjoe!”
“Hy het.” Paulus draai na haar. “Sara, ek hou nogal baie van jou.”
Skaam kyk sy vir hom. “En ek van jou,” erken sy.
Sy glimlag verbreed toe hy opstaan en sy hand na haar toe uithou. “Kom saam met my. Dan gaan kyk ons waar Jesus is.”
Sara vat sy hand toe sy opstaan. Hy vleg sy vingers deur hare en druk sagkens ’n soen op haar hand. Met blink oë kyk hy na haar. Toe hulle wegloop kom drie dinge by haar tuis. Eerstens was die man in die graf ’n engel. Dit moes wees. Tweedens het Jesus waarlik opgestaan nadat Hy gesterf het vir hulle sondes. En derdens, Paulus het haar hart gewen. Sy weet dat hy die man is saam met wie sy haar lewe wil bou. Nou en vir altyd. Hulle het die Via Dolorosa saam geloop. Nie net na die kruisiging toe nie. maar na liefde toe.
Dis waaroor paasfees regtig gaan. Liefde, verlossing en oorwinning. Jesus se liefde vir hulle is so groot dat Hy homself laat kruisig het vir hulle verlossing. So het hulle die oorwinning oor die sonde, oor die dood en oor die duiwel gekry. Sy kyk na Paulus en glimlag bly. Haar hart swel van trots en geluk. Paulus kyk na haar. Hy trek haar nader aan hom terwyl hulle verder loop. Die son skyn helder bo haar kop en dit voel asof sy sweef. Hoe gelukkig kan een meisie wees? Solank sy Jesus en Paulus by haar het, sal sy weer die Via Dolorosa loop. Die Via Dolorosa na liefde toe.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    26 April 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2018 – Paasfees projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 89
Kommentaar telling: 4

Ek is gebore in Pretoria en het daar groot geword. My ma was ‘n enkelouer en het my dus alleen groot gemaak. Ek is al 15 jaar getroud. Ons het twee kinders, ‘n seun, Armand en ‘n dogter, Bianca. Ons bly in Randfontein tussen al die mynhope maar dis my tuiste. Ek het sekretarieël geswot by Randfontein Kollege. My man het sy eie vervoermaatskappy, ek doen al die kantoor werk al vir baie jare. My stokperdjies sluit in lees en skryf. Ek doen ook tans ‘n digterslypskool kursus. My passie vir skryf het eers ‘n paar jaar gelede ontpop. Ek het al drie boeke deur Kwarts Publishers gepubliseer. Hulle is beskikbaar in Bargain Books, op Amazon as e-boek asook op Kwarts Publishers se eie webblad. Ek het ook laas jaar ‘n ses maande kursus in kort verhale voltooi deur Die Skryfbesigheid asook deur Liberty University het ek ‘n kort skryfkursus voltooi aan die hand van Karen Kingsbury. Ek is tans besig met ‘n ses maande kursus in die skryf van Romanse aangebied deur Madelie Human.   Ek help by honde rescue, genaamd The Dachshund Haven. Ek doen elke week al hulle facebook plasings en ek hanteer al hulle admin. 

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 109 gaste aanlyn

Bydrae Totale