Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Vervoer verskaf

Deur Pannetjie
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2019 Aantal woorde: 1661 31 Kere gelees 1

Fiat 850 Special

Aan die einde van my derde jaar het ek ‘n 1968 Fiat 850 Special by my suster se maat, wat klaar geswot het, gekoop vir R180. (My suster-hulle het die karretjie Taragoppie genoem) Ek het ‘n uitlaatstelsel laat maak wat my R30 gekos het en hom so deur die padwaardigheidstoets gekry. Min het enige van ons geweet die motor sou later ‘n legende in die kleine op Stellenbosch raak.

Die van julle wat nie ‘n Fiat 850 Special ken nie – dit is omtrent so groot soos ‘n Chevvy Spark met ‘n 903 cc enjin wat in sy gat sit met sy verkoelingstelsel ook in sy gat. Oorsee kon dit dalk ‘n suksesvolle ontwerp gewees het maar hier by ons was hulle maar bra geneig om warm te raak. Eintlik was dit die regte honeymoon karretjie – hy is so klein binne-in – al is die ou bruidjie hoe kwaad vir haar nuut aangeskafde man sy kan nie ver van hom af sit nie. Sy bly so voelafstand.

Ons was so ‘n paar maats saam in die klas wat ek gewoonlik na klas met die Fiat koshuis toe gevat het. Sommige dae was ons 8 studente in die karretjie en dan sou een van die manne nog ‘n folio vel met die woord “vol” in die agterruit plak. Maar dit was darem nog beter as die 23 wat ons een karnavaltyd op Coetzenburg in ‘n VW Beetle gewees het.

Kostannie
Die motortjie was baie smal en die kampusowerhede het nie voorsiening gemaak vir sy grootte nie. Oral is hekke aangebring en paaltjies geplant waar studente nie veronderstel was om met hulle motors te ry nie. Dit het net vir die ander studente gegeld.

Huis ten Bosch het ‘n kombuis gehad wat ook vir twee ander koshuise van kos voorsien het. Om die koshuis was ‘n heining waarin ‘n betreklik smal dubbelhekkie was. Vanaf die hek was daar ‘n “ramp” na die kombuis se dubbeldeur wat gebruik is om die kostrollies oor te stoot na die ander koshuise. As jy by die dubbeldeur instap was die kostannie se kantoortjie net links van die deur. Een middag toe die tannie in die kantoor opkyk, kyk sy in die Fiat se deur vas. Gelukkig was ek so naby aan haar kantoordeur dat sy dit nie kon oopkry voordat ek nie gery het nie.

Bekfluitjie
Tussen Dagbreek, Huis Visser en Simonsberg was daar sulke paaltjies geplant om te verseker dat die manne nie sommer kortpad vat na hul koshuis deur die gronde van ‘n ander koshuis nie. Ongelukkig vir die owerheid van die universiteit of was dit gelukkig vir ons kon die Fiat tussen van die paaltjies deurgaan en kon ek by Dagbreek inry en by Simonsberg uitry.

Wilgenhof, wat nader aan die sentrale deel van die dorp geleë is se bynaam was bekfluitjie, maar jy moes al op jou perd gewees het as jy die naam in die nabyheid van Wilgenhof genoem het. Eendag, oppad vanaf die dorp, regoor Wilgenhof haak die manne wat saam met my gery het kliphard af met Beeekfluiitjie, Beeekfluiiitjie. Gou het ek besef die paaltjies moes tot die redding kom. Ek het by Dagbreek ten aanskou van manne van Wilgenhof ingejaag en agter die koshuis is ek deur na Simonsberg en weg. Die aand was daar so ‘n bietjie ‘n onderonsie tussen Wilgenhof en Dagbreek oor die Dagbreek manne wat die verkeerde geluide naby Wilgenhof gemaak het. Gelukkig was ek nie in Dagbreek nie, maar ek het pelle in Dagbreek gehad vir wie ek gereeld gaan kuier het so die Fiat was seker al daar opgemerk wat net die vermoede van die Wilgenhoffers verstewig het dat dit Dagbrekers moes wees.

Eintlik was die manne van Dagbreek nie my pelle nie. Pelle sal nie so met jou maak nie. Een aand het ek weer daar gekuier en toe ek buitekant kom om te ry het hulle die Fiat bo-op ‘n hoop sand neergesit sodat al vier sy ou wieletjies in die lug gehang het.

Blomme
Een lenteaand ry ek by die Standard Bank se stegie verby waar hulle blomme verkoop het. Ek sien die blommeverkopers was net besig om op te pak. Net daar gaan maak ek hulle ‘n aanbod van R10 vir al die blomme wat hulle nog oor gehad het en hulle val daarvoor. Ek laai die Fiat se agtersitplek volle bossies blomme en sit af na die pel van my. Ons beplan gou en spring aan die werk. Net nadat die dameskoshuise gesluit het daag ons by die eerste een op. Hy lui ‘n klokkie van een van die dames wat hy ken en lewer spesiaal vir haar die bossie blomme af en so maak ek ook met die een wat ek in dieselfde koshuis ken. Voort na die volgende koshuis en so lewer ons toe by feitlik elke koshuis vir die bekendes blomme af met die boodskap “spesiaal vir jou”. Nou, die nag was daar ‘n paar van hulle wat met lekker warm harte aan die slaap geraak het omdat hulle so spesiaal was, maar dit was van korte duur. Vroeg die volgende dag het hulle van mekaar begin uitvind en ja ons twee was toe nie meer so gewild gewees nie. Sommige het jare gevat om hul vergewensgesindheid tot aksie te bring.

Koffie
Die dames het klokkies in hul vensters opgehang met ‘n tou wat buite uitgehang het of soms onder aan iets vasgemaak was. As jy by een van die dames wou gaan kuier het jy nie nodig gehad om haar te laat roep deur die persoon op diens by ontvangs nie. Jy het sommer die klokkie in haar kamer gelui. Dit was ook baie gerieflik sou jy nadat die koshuis vir die aand al gesluit was net “haai” wou gaan sê. Ons het ook soms die klokkies gebruik om na ure koffie te kry. As die nodige aandag verkry is met die lui van die klokkie dan word die versoek vir koffie ingesit. ‘n Emmertjie word aan die klokkie se tou vasgemaak. Die emmerjie met ‘n beker vars koffie daarin word dan versigtig laat sak vir die gelukkige koffiesoeker.

Vervoer
Die Fiat 850 Special het een klein gebrekkie gehad en dit was sy linkerkanste deur se “window winder” wat nie soos nuut gewerk het nie. As jy die ruit opgedraai het en die handvatsel los dan draai die ruit sommer weer vanself af. Die probleempie het ek gou met ‘n stukkie kombuistou opgelos.

Glo dit as julle wil, maar ek het darem ook ‘n ryk man, of miskien ‘n pa wat wou hê die ander studente moes dink hy het geld, se dogter op Stellenbosch geken. (Hoe sê hierdie een vriend van my altyd? “Ons spandeer geld wat ons nie het nie om mense wat ons nie ken nie te probeer beindruk”). Haar pa was glad nie teverde dat sy met die algemene Mazda, Toyota, Nissan ensovoorts kan ry nie en het vir haar sy Porsche gegee om mee te ry terwyl sy nog ‘n student was.

Op ‘n dag het ek die “girl ge-date” vir een of ander “party”. Dit is ook een van die woorde waarvoor daar nie ‘n gepaste Afrikaanse woord is nie. Die direkte vertaling sou seker partytjie wees maar dit klink altyd vir my soos ‘n paar laerskool meisietjies wat voor ‘n huis op die grasperk by ‘n tafeltjie sit en koek eet en rooi koeldrank drink. Die ander woorde is seker opskop of dansparty maar nie een het vir my dieselfde betekenis as “party” nie. Daar waar die dinge gebeur – waar die spanningsvlakke tot onder zero gedruk word. Die aand van die “party” was dit koud en nat en sit ek hier af na haar woonstel met die Fiat. Oppad daarheen oorval die plan my mos. Daar stilgehou haal ek die toutjie van die venster meganisme af en balanseer die kontrepsie so dat dit nie afdraai terwyl ek haar gaan haal in die woonstel nie.

In die woonstel gee sy my die Porsche se sleutel, maar sien ek het geglo dat as ek iemand vra vir ‘n geleentheid dan moes ek self die vervoer verskaf. So het ek haar ook oortuig dat as sy my sou gevra het vir die “party” kon ons met die Porche gery het.

By die kar het ek nogal die deur vir haar oopgemaak en nadat sy haar sit gekry het, het ek die opdrag gegee: “Jy moet net die “levertjie” so in posisie hou dat die venster nie moet afdraai nie”, wat sy ewe gedwee uitgevoer het. By die bestemming aangekom het ek weer die deur vir haar oopgemaak en net voor ek die kar sluit het ek die toutjie uitgehaal en die “window winder” weer op sy plek vasgemaak.

Ek het nou wel nie ‘n klap gekry nie maar die kyk was genoeg. Ek het aangeneem sy het die “party” baie geniet want oppad huis toe was die “window winder” vergete en het sy my genooi om die volgende dag saam met haar strand toe te gaan. Toe was dit die Porsche se beurt.

Gratis parkering
Agter die Trust Bank Sentrum op Stellenbosch net aan die oorkant van die straat het die plaaslike munisipaliteit ‘n groot betaal parkeerterrein gebou. Met die ingang het is ‘n kaartjie met ‘n datum en tyd aan jou uitgereik en as jy uitgaan het die blikbrein die “boete” bepaal en moes jy betaal voordat jy uitgelaat word.

Vir die mense wat in die sentrum gaan “shopping” doen het, het die munispaliteit dit goed gedink om so ‘n smal paadjie te maak vir die trollies sodat die mense nie moes sukkel om die trollies oor die watervoor en sypaadjie te kry nie. Waar die paadjie op die parkeerterrein uitgemond het is ook ‘n “no-parking” sone aangebring.

As ons afgesit het dorp toe met die Fiat 850 het ons altyd op hierdie parkeerarea gaan parkeer en dan was die trolliepaadjie ons uitgang. Ons moes bietjie rondkyk of daar nie ‘n spietkop in die omgewing was nie maar dit was beter as geld spandeer op parkering.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    17 Oktober 2019

    ai hoe verlang ek nou na my studente dae!!! Heerlik gelees

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 38 gaste aanlyn

Bydrae Totale