Titel: VERSTENGELDE PALET
Deur Anze

naby die houtbankie in die park,
dáár het jy vir my ’n toorbos geplant
en jou glimlag het die bome laat bot
terwyl die wind uitbundig blare tart
in die duiwe se kir
is jou naam gespel
en tussen die boomblare
het die son soos blokkiesglas
geflenter en stom
jou naam geroep
jou kreukelhande
het die pad gesoek
na my wat neffens jou
in die skadu sit,
ons was mekaar
se anker en kompas
wat in elkander
skuiling sou vind
skugter het die bloeisels
in jou oë tot vrug gekom
en die geluk het helder
oor jou mond gebreek
daar waar ons ineengevleg
op óns parkbankie sit
© Anzé Bezuidenhout
GEDAGTES
‘n Besonderse skakering. Ek lees dit weer en weer.