Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Verrassing Vir Twee

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 24 Julie 2020 Aantal woorde: 1246 87 Kere gelees 4

Ons is alwéér oppad dokter toe. In die hitte. In die kar sonder enige lugverkoeler. Ek druk my kop so naby aan die oop gleufie van die ruit as moontlik. Ek weet ek is siek – ek is nie dom nie. Maar hoekom moet hulle elke dag ‘n nuwe toets doen en my inspuit? Die enigste rede hoekom ek nog nie by die kar uitgespring het nie is omdat ek nie my ma verder wil ontstel nie. Sy dink ek weet nie dat sy in die stort huil nie…

My ouboet sê ek moet sterk wees. Asof hy die dokter meer as een keer ‘n jaar moet sien. Maar hy weet dinge… Soos hoekom ons ander boetie dood is. Niemand praat daaroor nie. My ma se oë skiet vol trane as sy naam per ongeluk genoem word.

Is dit hoe ek onthou sal word?

Nog ‘n rilling gaan deur my. Ek weet nie of dit van die hitte, die koors of die pyn is nie, maar ek maak nie ‘n geluid nie. My ma sing vir my. Sy het so ‘n mooi stem, maar sy sing net wanneer ek en ouboet nie lekker voel nie. Dit maak my rustig.

Die bande kners op klip. Ek sluk.

“Ons is hier,” sê sy en skakel die kar af. Ek kyk hoe sy die vensters toe maak en seker maak dat sy die sleutel regtig in haar handsak gesit het. “Is jy reg?” vra sy my, hand op die deurhandvatsel.

Ek kyk weg van haar na die ingang van die dokter se spreekkamer. Hoe kan ek vir haar sê dat ek nie hiervan hou nie? Sy sê dan dis vir my gesondheid. En ek weet daar is iets fout met my. Ek het nie die energie om rond te hardloop soos altyd nie. En my maag is seer.

“Ek weet jy wil nie.” Sy sug en kyk ook vir die gebou. “Maar ons moet ingaan. Wanneer ons by die huis kom, kan jy iets lekker kry.”

Ek hou van daardie idee. Sommer baie. Ek klim uit die kar uit en loop saam met haar. Sy lyk so braaf en selfversekerd – ek dink nie enigiemand weet hoe bekommerd sy is nie. Die wagkamer is vol. Ons sit naby die rak met tydskrifte. Dit ruik nie soos dié wat my ma koop nie – dit ruik soos almal wat al in die spreekkamer was en daaraan gevat het. Dit ruik ook soos die ontsmettingsmiddel wat hulle gebruik… Ek weet sommer dat my ma nie een van die tydskrifte gaan lees nie – sy hou nie van kieme nie.

Is sy kwaad vir my?

Die dokter het gesê dat ek siek is van ‘n bakteriese infeksie. Dis mos kieme, dan nie? Is dit my skuld dat ek siek is? My ma glimlag vir my en vryf my kop. Nee, sy is nie kwaad vir my nie. Sy kyk skielik op en knik haar kop.

“Kom. Hulle is reg vir ons.”

Ek loop saam met haar in die lekker koue vertrek in. Dis dieselfde dokter. Ek hou van haar, maar ek hou nie daarvan dat sy my seermaak nie.

“Het sy geëet?” vra die dokter.

“Net ‘n bietjie jogurt. Ek…” My ma kyk af na my. “Ek dink dis tyd dat sy opgeneem moet word.”

Die dokter gebruik ‘n koue ding en luister na my hart. Sy kyk ook na my oë. “Ek stem saam. Dit sal die beste vir haar wees.” Sy reik uit na my.

Nee! Ek tree terug teen my ma. Daar is nie ‘n manier dat ek weer alleen weggaan met die dokter nie – laas het sy my hare afgeskeer!

“Hey, dis okei. Niemand gaan jou seermaak nie. Mamma is hier.” Sy hou my vas en streel my rug. Ek gooi op op haar. Die dokter gee papier aan en my ma maak my skoon. Dit lyk nie of die opgooi haar pla nie. “Ek sal vanaand weer ‘n draai kom maak om te sien hoe sy is.”

“Ek sal skakel as daar enige verandering is.”

My ma knik en gee die leiband vir die dokter. Sy buk af en soen my tussen my oë. “Gaan saam met die tannie. Wees soet en word gou gesond.”

Ek kan sommer sien sy wil huil. Dit maak dat ek ook wil huil. Die dokter trek aan die leiband. My lyf is té seer om te stry. Ek het nie ‘n keuse as om saam met die dokter te gaan nie.
In die groot vertrek met die staal tafels wag drie verpleegsters. Hulle help die dokter om my op die tafel te tel. Sy streel my kop en een van hulle gee my ‘n inspuiting in my boud! Ek draai op die tafel, reg om te baklei. Dit vat al vier van hulle om my te kry om stil te lê.

Hulle skeer my een arm skoon, druk ‘n naald in en plak dit vas. Ek vertel hulle mooi dat ek niks daarvan hou nie. Daarna word ek na ‘n bed gelei. Ek hoor die dokter praat saggies met my, sy probeer my seker oorreed dat dit nie so erg is soos wat ek dink nie. Ek gaan lê en gluur vir haar. Die bed is sag en skoon, maar dis nie myne nie. Sy sit ‘n pypie by die naald in en sê vir my ek moet lekker slaap. Ek gaap en weet niks verder nie.

My lyf is nie meer seer nie. Ek is nie meer naar nie. En die aaklige naald is nie meer in my arm nie. My lyf voel wel styf, asof ek lank geslaap het sonder om rond te beweeg in die nag.
‘n Groot bak kos staan voor my. Ek gaan eers vir die water: my tong sit in my mond vas van die droogte. Die kos is lekker, maar nie soos wat my ma vir my gee nie. My kop ruk op en van die kos mors.

Ek ruik my ma se parfuum! Die dokter maak die deur oop. Ek kyk rond en sien haar dadelik. Sy glimlag en haar oë is vol trane.

“Hey, my meisiekind. Kom hier.” Sy hou haar arms vir my oop. Ek hardloop na haar toe. Sy hou my vas en soen my op my kop.

“Die antibiotika het gewerk. Sy is nou gesond genoeg om huis toe te gaan,” sê die dokter.

“Dankie.”

“Jy kan haar nou lekker bederf met hoender en rys.”

Mm! Dit klink sommer lekker. My maag grom en ek druk teen my ma sodat almal dit nie kan hoor nie.

“Defnitief.”

Sy sit my leiband op en loop met my by die spreekkamer uit. Ander grom vir my en sê lelike goed oor my geskeerde arm, maar ek ignoreer hulle: ek gaan huis toe en hulle moet nog die dokter sien.

Iemand beweeg sommer voor ons by die deur in, sien my skielik en hardloop basies weg. Ek wil lag.

“Respekteer die Rottweiler,” sê die ontvangsdame.

Van die mense lag. My ma rol net haar oë soos ons uitloop.

“Ek is so bly jy is beter,” sê sy en tel my in die kar in. “Ek sal daarvan hou as jy self in die kar kan klim – ek gaan jou nie vir ewig kan optel nie.”

Ek lek haar gesig. Ouboet het gesê ek moet leer spring. Duidelik is hy reg. Sy lag en soen my weer op my kop voordat sy die deur toe maak.

“Kom ons gaan huis toe.”

Ek blaf in goedkeuring.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 100
Kommentaar telling: 265

Bekroonde Donker Fantasie skrywer Ronel Janse van Vuuren skryf oor gatskop heldinne, die dualiteit van menswees en is mal daaroor om volkskunde te gebruik om haar punt oor te dra. Sy is ‘n Rottweiler tropleier, hoender wrangler en perdekneg. Al haar boeke is te koop van meeste aanlyn winkels. In 2016 EN 2018 was sy Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Sy kan gevolg word op Twitter @miladyronel en op haar webtuiste https://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 106 gaste aanlyn

Bydrae Totale