Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: VERPLEEGSORG IN STAATSHOSPITALE

Deur Vonnie
Datum gepubliseer: 5 Oktober 2019 Aantal woorde: 2328 67 Kere gelees 3

Reeds in 1978 vaardig die minister van Nasionale gesondheid en Welsyn die volgende uiteensetting uit en wel op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, rakende regulasies betreffende die inskrywing vir die kursus as verpleegkundige. Daarin word duidelike doelstellings gestippuleer. Dat daar begrip sal wees wat die toepaslike wetgewing van die gemenereg wat op verpleging van toepassing is betref en die waardigheid en waarde van die mens erken en gerespekteer sal word.

Alhoewel verpleging ‘n betalende beroep soos enige ander beroep is, behoort dit aller eers ‘n roeping vir die voornemende verpleegkundige te wees. Die term “roeping” impliseer immers kwaliteit verpleegsorg. ‘n Roeping om jou medemens in al die aspekte van verpleegsorg, wat ‘n baie wye spektrum dek, by te staan… Om met deernis toe te sien dat hy of sy gemaklik is; die pasiënt wat hom of haar nie self kan was nie ‘n volwas te gee, saam met ‘n kollega die bed met skoon linne oor te trek en op te maak; die pasiënt om te draai om sy rug te smeer om sodoende bedsere te voorkom; om diegene te help wat nie self kan eet nie en so meer.

In November 2009, onder die Navorsingsleier dr. D. E. Botha, skryf Hester Geldenhuys in haar voorlegging ten opsigte van verpleegkunde in die Fakulteit gesondheidswetenskappe, skool vir verpleging aan die Universiteit van die Vrystaat: “Dit is die reg van elke pasiënt om kwaliteit verpleegsorg te ontvang en dit is die verantwoordelikheid van elke verpleegkundige om kwaliteit verpleegsorg te lewer. In privaat- sowel as staatshospitale is dit die algemene gebruik om pasiënte tevredenheid met verpleegsorg deur middel van gestruktureerde meningsopnames te bepaal. Navorsing wat in die vroeë negentiger jare gedoen is, het aangetoon dat pasiënte meestal positiewe response verskaf het wanneer hulle hierdie meningsopnames voltooi het”.

Dit is egter sterk te betwyfel of sulke meningsopnames in vandag se tyd nog enigsins gedoen word.

Dan, op 4 Augustus 2019, verskyn daar ‘n berig in Rapport geskryf deur Riana de Lange met die opskrif: Dominees, sangomas help dalk…

Onmiddelik verskyn daar nie net vrae nie maar ook uitroeptekens in die gedagtes van Jannie en Sannie alleman… Bekommernis betreffende die wyse van genesing wat die individu tot op hede verkies het teenoor ‘n moontlike gedwone en enigste toekomstige keuse. ‘n Verwarrende situasie wat met verdrag gaan verander totdat daar vir hulle geen keuse hoegenaamd gaan wees nie. Selfs hul geloofsoortuigingskeuse gaan beïnvloed word, want gaan die sangoma, sy filosofie en hulp nie byvoorbeeld selfs in die hospitaal na enige pasiënt toe deursypel nie?

Soos dit is, is verpleegsorg, of te wel pasiëntesorg in ons Staatshospitale vandag absoluut kommerwekkend…

Ure gelede is Anna Joubert op haar bed uitgestoot teater toe, nadat ‘n geroesde spyker etlike dae gelede in haar vinger gesteek en die wond septies geraak het…
Eindelik die geswier, swier van die bed se wiele by die deur. Dit word teruggestoot tot waar dit vroeër was en doodluiters, sonder om om te kyk en seker te maak dat alles met die pasiënt wel is, verlaat al wat verpleegkundige is die saal.

Muriel wat in die bed langs haar lê, hoor meteens aardige geluide van dié pasiënt se kant af. Sy draai haar kop vinnig in daardie rigting…

Anna se gesig is vertrek en haar liggaam in ‘n rukkende toestand. Onmiddelik besef Muriel (ook verpleegster op haar dag) dat Anna, ‘n diabeet, besig is om ‘n epileptiese aanval te kry weens ‘n baie lae bloedsuikertelling in die teater tydens die operasie. Sy roep na die staf by die diensstasie net oorkant die saal dat die vrou ‘n aanval kry en baie dringend hulp nodig het.

Sy sien egter deur die binnevenster dat dit afgemaak word met ‘n niksbeduidende skouerophaling. Weer eens kry Anna nie net een nie, maar nog tweé aanvalle agtermekaar. Toe eers kom ‘n verpleegkundige traag nader na die erg hulpbehoewende se bed.

‘n Dokter word inderhaas geskakel op ‘n tydstip dat dié genadiglik in die omgewing van dié spesifieke saal is. Meteens wemel dit van verpleegkundiges en dokters wat besig is om die pasiënt te probeer stabiliseer. Trouens, hulle moes die hartmasjien baie dringend nader stoot om hartskokke toe te dien. Die uitkoms kon so tragies anders gewees het.

Sonja, nóg een van die pasiënte wat inderwaarheid ‘n epilepsielyer is, kry ‘n aanval. Weer is Muriel die een wat dit gewaar en na die personeellede roep. Weer eens word dit geïgnoreer en wanneer Sonja weer bewus word van wat om haar aangaan, lê sy in ‘n nat bed omdat sy tydens die aanval geen beheer oor haar blaas gehad het nie. Niemand daag op om haar te help nie met die gevolg dat sy, nog onvas op haar voete, die beddegoed aftrek vloer toe. Sy vee die opblaasmatras met ‘n stuk van die linne af om dit droog te kry. So sukkel sy alleen om die beddegoed weer op ‘n manier op die bed te kry, sodat sy kan gaan lê… Moeg en uitgeput na die aanval.

Maureen sélf, wat bykans ‘n maand gelede ‘n tien uur lange operasie ondergaan het met gips aan haar regterarm en ‘n aarvoedingsnaald in haar regterkantste voet, het ‘n eie storie om te vertel… Sy kon uiteraard nie self was nie en daar het ‘n week of twee verbygegaan alvorens haar man besluit het om haar in besoektyd met een van die staflede se “no problem” toestemming, in die badkamer te gaan bystaan.

Daar gekom, het daar egter ‘n ontnugtering op hulle gewag. Hy het die warmwaterkraan oopgedraai om daarna kouewater in te tap sodat die water net genoeg sou wees om haar te was terwyl sy in die bad staan. Maar waar was hulle verbasing groot toe daar ook uit die koué kraan kokende water stoom. Hulle vind toe ook later met skok uit dat met die trek van die toilet, dit net ene warmwater is wat spoel.

Die hele saak was gerapporteer, maar daar het egter dadels van gekom. Eers vele dae later is daar aandag aan die probleem gegee…

Wonder wat het die ander pasiënte in daardie tyd gemaak met nie-funksionerende ledemate, aarvoedings in hulle arms of bene en so meer.

Ironies genoeg het genoemde drie pasiënte wat in dieselfde saal gelê het, so ver moontlik, mekaar letterlik verpleeg!

Dit is tekenend dat verpleegsorg vanaf 1978 tot nou toe, lugjare van mekaar verwyder is. Waar word die waarde van die mens erken en gerespekteer in genoemde gevalle? En seer sekerlik is dit maar net ‘n paar uitsonderlike gevalle – altemit ‘n druppel aan die emmer – waarvan kennis gedra word.

Dit is baie duidelik dat daar ‘n traak-my-nieagtigheid is wat vandag se verpleegsorg betref.

Om terug te kom na die berig in Rapport wat die dominee en sangoma betref…

‘n Dominee is tog immers nog altyd ‘n “geestelike dokter” en dit het tog seer sekerlik nie verander nie. So ook nie die praktyk van die sangoma in soverre dat die siekes na dié toe kan gaan, indien so verkies.

Volgens navorsing word ‘n sangoma se magte op die veronderstelling gegrond dat die persoon se inkarnasie van ‘n voorvaderlike gees is. En indien die gees deur die persoon se mond spreek terwyl hy in ‘n beskwyming is en boodskappe aan die lewendes openbaar, dit as bewys beskou word dat hy geregtig is om ‘n sangoma genoem te word.

Wanneer hy in ‘n sogenaamde spirituele beswyming verkeer, raadpleeg hy die voorvaderlike geeste om sodoende ‘n diagnose te maak of om ‘n kuur vir die probleem te vind. Afhangende van watter boodskap hy vanuit die geesteswêreld ontvang, word daar dan kwansuis bepaal watter soort kruie onder meer gebruik of aangewend moet word. Daar word selfs magiese rituele uitgevoer, afhangende hoe kragtig die medisyne is wat benodig word om die nodige voorskrif te bepaal.

In die moderne sin van die woord word hy as heldersiende en selfs as “sielkundige” beskou!

Die tradisionele heler prakseer tradisionele genesing op religieuse wyse met die geloof dat sy medikament wat kruie insluit, jou gesond sal maak en juis daarom word jy gesond. Kruiemedisyne afkomstig van kruie wat al vir duisende jare bestaan, ‘n praktyk wat gedurende die twintigste eeu oor die hele Suid-Afrika versprei het. In KwaZulu-Natal alleen, word meer as 1020 plante gebruik. In hierdie provinsie gebruik twee derdes van die bevolking tradisionele medisyne vir hul basiese gesondheidbehoeftes. Interessant is die feit dat voor die jongste eeuwisseling die waarde van handel wat medisinale plante betref, konserwatief op R62 miljoen per jaar geraam is en tot ‘n verstommende R500 miljoen vermeerder het met die byvoeging van die geld wat tradisionele helers vir hul dienste en medisyne gevra het

Die sangoma, net soos die dominee, is nog altyd onafhanklik praktiserend onder ons reënboognasie, dan nie?

Hoe verstaan mens dus die volgende: Dat tradisionele genesers nader getrek behoort te word om Suid-Afrika se sukkelende gesondheidsektor reg te ruk?

” Hierdie is een van die stappe in die Gesondheidsorg-verdrag wat deur pres. Cyril Ramaphosa gedryf is en verlede week deur verskeie rolspelers in die openbare en private gesondheidsektor onderteken is. Die verdrag skep ‘n bloudruk van wat gedoen moet word om die krisis op te los. Hoofstroom- geestelike, godsdienstige en tradisionele genesers moet betrek word by mensehulpbronbeplanning in die gesondheidsektor en -dienslewering, lui die verslag verder”.

Kommerwekkend is die feit dat hoofstroom tradisionele genesers in die gesondheidsektor betrek moet word.

Wat hierdie beriggewing meer ontstellend maak, is die feit dat “volgens die berig die verdrag deur die regering, sakesektor, akademici, georganiseerde arbeid, burgerlike samelewing-organisasies en gesondheidsorg-beroepsliggame onderteken is. “Sleutelingrypings en teikendatums is waarvoor die rolspelers oor die volgende vyf jaar, tot 2024, verantwoordelik sal wees”.

Dit is alles saamgevat in ‘n dokument wat opgestel is “na Ramaphosa se nasionale gesondheidsberaad in Oktober verlede jaar. Die doelwit van die verdrag is samewerking tussen verskeie groepe wat hulle tot beter gesondheidsorg verbind het, sodat alle Suid-Afrikaners toegang het tot doeltreffende en gehaltesorg”.

Nou wonder ‘n mens of die verskillende organisasies en beroepsliggame enigsins insette van die publiek oor hierdie saak in ag geneem het, alvorens daar pen op papier geplaas is. Gaan dit nie uiteraard oor pasiëntesorg nie?

Elke landsburger het tog die reg van keuse of hy of sy hulleself aan ‘n geestelike leier naamlik ‘n dominee, of praktiserende sangoma wil onderwerp?
Die deursnit Suid-Afrikaner mag die vrees ontwikkel dat die sangoma-praktyk byvoorbeeld ook in die staatshospitale ingekorporeer gaan word en waar laat dit hulle met hulle individuele keuses?

Daar is genoeg bewyse dat baie van ons Staatshospitale in absolute chaos verval het… Vanaf vuil, onhigiëniese toestande, tot pasiënte wat op matrasse of komberse op die vloer lê weens oorvol hospitale, om maar net ‘n paar te noem.

Daar is inderdaad baie struikelblokke wat oorkom moet word alvorens verpleegsorg tot sy volle reg kan kom. Die vraag is net: Hoe lank gaan die regering nog ‘n blinde oog op die stand van ons Staatshospitale draai en hopelik eindelik tot die besluit kom om hierdie enorme probleem op te los deur te prioritiseer?

“Die idee van ‘n farmaseutiese maatskappy in staatsbesit kom reeds van die ANC-kongres in 2007, maar dit sukkel steeds om op die been te kom ondanks ‘n aanvoorprojek in 2011 om vennootskappe met die private sektor te ontwikkel om aktiewe bestanddele te vervaardig. Rapport verneem die reguleerder het ‘n agterstand van sowat 8 000 middels wat op goedkeuring en registrasie wag en dat hy die agterstand by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad wil uitwis”.

Hoe belangrik bogenoemde ookal is en die een nie sonder die ander kan funksioneer nie, sit die gesondheidstelsel in Suid-Afrika huidiglik met afgestompte tande, of meer korrek sonder tande, met meer en taaier tameletjies om te kou.

Moet die spreekwoordelike olifant nie eers uit die kamer gekry word nie, want die stukkie-vir-stukkie-eet filosofie gaan beslis nie hier werk nie. Tyd wag vir geen mens nie. Ons benodig dringend meer hospitale en meer fasiliteite en wat meer is, die siekes sal altyd met ons wees en dit impliseer meer verpleegkundiges…

Statistieke van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad op Verpleging (SANC) en wel mannekrag versus die populasie van Suid-Afrika, dui die volgende aan: In 1998 was daar 42, 130, 000, in 2009: 49, 320, 500 en in 2018: 57, 725, 606. Dus ‘n gemiddeld van 15, 595, 606 meer vanaf 2009 tot verlede jaar, 2018. Tog is ‘n te kort aan verpleegpersoneel ‘n gegewe.
Volgens beriggewing wil “die regering teen Desember ‘n plan finaliseer om vas te stel hoeveel professionele gesondheidsorgwerkers daar is en die moratorium op poste in die openbare gesondheidsorgsektor amptelik ophef. Versnel die implementering van beleid om mediese praktisyns wat in die buiteland opgelei is aan te stel om vakante poste te vul”.
Suid-Afrikaanse dokters en spesialiste is oor die algemeen hoogs professioneel en betroubaar in hul beroep, dus is dit nie waar die probleem lê nie…

Dieselfde kan ongelukkig nie van baie van die verpleegpersoneel in van ons Staatshospitale gesê word nie. Daar is baie min of geen besef dat daar met kosbare lewens gewerk word nie. Die beroeps- inpleks van roepingsmentaliteit is hoogs aanwesig. Ook nog iets anders – ‘n mens is amper te bang om dit hardop te noem – diskriminasie tussen van die reenboog(kleur)nasie verpleegkundiges in die werkplek wat verpleging in die algemeen en die uitvoer van instruksies van senior personeellede baie bemoeilik.

Waarom nie eerder werkskepping vir ons eie mense nie? Hoofsaaklik vir (lees) toegewyde verpleegkundiges: Verpleegsters, stafverpleegsters en verpleegsusters.
Ná alles wat gesê is, is die hoofsaaklike dispuut en sleutelprobleem wat hier gevoer word, verpleegsorg in die breë wat vra vir oplossings.

Myns insiens vra dit in die eerste plek vir toegewyde voornemende verpleegkundiges wat hierdie edel beroep as roeping kies.

Tweedens, dat verpleegkundiges wat reeds praktiseer, ook die feit van roeping versus beroep ingeskerp moet word om sodoende te besef dat verpleegsorg oneindig meer as betaling aan die einde van die maand beteken.

Derdens, dat daar minstens twee keer per jaar ‘n verpligte opfrissingskursus moet wees wat betref die uitstipulering van prioritisering – pasiënt altyd eerste – en die benadrukking van verpleegsorg as roeping. So sal kwaliteit opleiding, kwaliteit verpleegsorg help verseker.

(Kopiereg voorbehou)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    31 Oktober 2019

    Oh, my word! Mens moet net nie in hierdie land siek word nie 🙁

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 7
Kommentaar telling: 0

Ek is allereers die trotse skrywer van Afrikaans, my pragtige moedersknie-taal! 'n Gepubliseerde vryskutjoernalis met artikels in van ons Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Vrouekeur en Rooi Rose. Ook digter,  liriekskrywer en komponis. Dus liedjieskrywer van my eie, sowel as ander se gedigte en lirieke en hartstogtelik lief vir musiek en sang. Ek geniet myself gate uit met die skryf van rubrieke, skryf ook verhale en maak ook so nou en dan keel skoon by wyse van 'n lekker ou gorreltjie. En o ja! Na baie, baie jare as skrywer, het ek uiteindelik drie boeke die lig laat sien en is ek nie 'n bietjie trots nie! My biografie Daar huil 'n kind in my, Rubrieke sonder brieke en Gedigte op die vleuels van musiek. Daar...genoeg. Nou moet ek verder aan die skryf kom!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 119 gaste aanlyn

Bydrae Totale