Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Verhale van die Oniks Labirint Vuur in die Donkerte

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 11 September 2018 Aantal woorde: 2384 348 Kere gelees 5

Blaze trek haar kappie mooi op soos sy die koue tonnels binne tree wat dieper in die Labirint in lei. Partykeer dagdroom sy oor hoe dit moet wees om êrens te woon wat oop is en nie onder die oppervlakte van die aarde is nie.

Sy sug soos die bedompige lug haar omvou. Die reuk van swael verwelkom haar tuis.

Blaze loop vinnig deur die tonnels gevul met feë met koper hare. Party – soos sy – lyk gesond genoeg. Ander is vol brandmerke – die terugslag van die vloek. Sy ignoreer hulle en die verhongerde draak feë. Die ooreenkoms wat sy gemaak het met die Oniks Labirint sal hul oorlewing verseker.

‘Vader,’ groet sy toe sy die troonkamer binnetree.

Lawa borrel in die fontein en gooi oranje lig in die steen vertrek.

‘Blaze. Ek hoop jy het goeie nuus.’

‘Ek het.’

Hy lig sy wenkbroue ongeduldig.

‘Die Onik Labrint en die Eggo Labirint bied on kos, knegte en goeie gesondheid aan in ruil vir vrede.’

‘Ek sien niks nie.’

‘Dit sal binne die week hier wees.’

‘Goed so. Hulle bied baie aan.’

‘Wel, hulle moes. Ek het die Hertog van die Oniks Labirint van die vloek verlos. Hy en sy verloofde, een van die prinsesse van die Eggo Labirint, was baie dankbaar.’

‘Jy het wát gedoen?’

‘Die vloek gelig. Dis die ongesproke deel van die ooreenkoms, volgens legende. Die vloek versprei. Ek het gesien –’

‘Hoe durf jy?’

Blaze hou hom versigtig dop.

‘Elke keer as iemand inmeng met die vloek word ons feë gestraf. Toe ons nog in drake kon verander…

Blaze probeer baie hard om kalm te bly soos haar pa weer aangaan oor wat hulle verloor het. Dit is baie eeue nou dat niemand van die Drake Hof in drake kan verander nie, tog is daar steeds diegene wat gegrief voel oor wat hulle verloor het. Soos haar pa.

‘Die Howe vrees ons nie meer soos hulle eens gedoen het nie. En as jy nog rondhardloop en die vloek lig word ons net swakker.’

Hy kyk na haar met die afgryse wat sy aan gewoond is. Hy sou veel eerder ‘n seun as ‘n saggeaarde dogter wou gehad het. Sy het dit al soveel keer tevore gehoor…

Haar refleksie in een van die goue borde wat op die grond lê vang haar aandag. Meeste draak nimfe het goue or rooi vel. Maar nee, ek moet net spesiaal wees met my onaardige pienk ondertoon, dink sy en kners haar tande. Ek is nie swak nie.

‘Die Howe vrees ons steeds,’ sê sy hardop en staar na haar pa met vernoude oë. ‘Dis hoekom hulle bereid is om vir vrede te onderhandel sonder om van die vloek te weet. Ons moet dit lig wanneer dit toe val: ons eer is op die spel.’

‘Ek sou dink die brandmerk op jou gesig sou jou leer hoe gevaarlik die vloek is. Duidelik nie.’

‘Daar moet ‘n manier wees om die vloek te vernietig.’

‘Dan is jy verban. Totdat jy die vloek vernietig het, is jy nie meer ‘n prinses van die Drake Hof nie.’

Dit voel asof sy in die maag geslaan is. Sy sou in twee gevou het in pyn as dit nie as swakheid sou voorkom nie.

‘Vaarwel, dogter.’
#
Dis weke sedert sy verban is en sy kon nog nie die tonnels vind wat uit die Labirint lei nie. Sy het oor die hele Labirint gereis, selfs die Groene Hof, maar die geheime tonnels bly buite haar bereik.

Miskien as sy ‘n behoorlike draak was, die tipe van legends… Nee. Gedagtes soos dit is gevaarlik.

‘n Beeld van ‘n pragtige rooikop vul haar visie. Sy kners op haar tande en loop die gang af wat na die Orakel lei. Sy kan ‘n oproeping herken wanneer sy een sien.

‘Verbeel jou nou dat ‘n draak nimf my nou sou kom sien…’se die Orakel, haar mond die kleur van bloed.

‘Ek het nodig om te weet waar ek die tonnels…’

‘Ek’s seker jy doen. En gou.’

‘Wat het jy gesien?’

‘Moeilikheid.’

‘Natuurlik.’ Blaze wikkel haar vingers en probeer hard om nie die wispelturige wese in swart te verwurg nie. ‘Sal jy my help?’

Die Orakel hou haar vir ‘n wyle dop.

‘Op een voorwaarde: die volgende keer wat jy leiding nodig het, moet jy dadelik hiernatoe kom.’

Blaze kan die Orakel se aura sien: dit is gevul met kommer tenspyte van haar sangerige stemtoon.

‘Goed so.’

‘Gaan na die dwergmyn. Diep binne daardie tonnels wag ‘n vergete trapskag vir jou. Die dwerge sal nie gelukkig wees om jou te sien nie en hulle sal jou nie toelaat om die verbode trapskag te gebruik nie – so bly buite sig. Wanneer jy die trapskag afgaan, sal jy vind waarvoor jy soek.’ Die Orakel hou haar dop met ‘n stoute glimlag. ‘En Blaze? Gebruik die draak binne jou.’

Blaze knik in dankbaarheid en loop. Die Orakel se tuiste maak haar ongemaklik.
#
Sy kruip deur die dwergmyn makliker as wat sy gedink het dit sou wees. Die dwerge is so vasgenael aan hul mooi speelgoed dat hulle nie eens weet dat sy daar is nie.

Al daardie ongeslypte stene sal die Labirint Howe vrede koop vir meer as net vyftig jaar, dink sy soos ‘n kleuter ‘n groot robyn – amper die grote van ‘n beker – gooi na verskeie stene in ‘n piramiede. Die kind lag soos dit als ineen stort.

Blaze glip vinnig in ‘n ander tonnel in.

Dwerge lyk niks na wat sy vertel is in stories as ‘n kind nie. In die eerste plek, die vrouens het nie baarde nie. Die kinders ook nie. En in die tweede plek, al die dwerge het vel so donker soos pik.

Bedompige lig verwelkom haar en sy weet sy is naby die verbode trapskag. Nie eens die dwerge mors tyd om ‘n plek wat hulle nie veronderstel is om te wees skoon te hou nie.

Blaze voel siek op haar maag soos sy die verbode trapskag binnetree. Sy het die stories gehoor van hoe die dwerge té diep gegrou het en amper wesens vry gelaat wat nie vry moet wees nie.

Sy sluk weg haar vrees en hardloop by die trappe af voordat iemand haar ontdek.

Iets verskrikliks skuil in die donkerte. Dit roep uit na haar, dit probeer iemand oorreed om dit vry te laat.

Dit was absoluut boos.

Sy probeer hard om haar asemhaling eweredig te hou terwyl sy by die trappe afgaan, maar sy kan voel hoe sy beheer verloor. Wat ook al opgesluit is daar onder is werklik magtig.

‘Maar nie so magtig soos ‘n draak nie,’ sê sy. Die volgende keer wat sy asem uitblaas is dit vuur.

Die rankies van boosheid smelt weg en sy kan nie meer hul verleidelike woorde hoor nie.

Voordat sy die bodem tref roep hitte haar deur die muur. Sy stop en wag.

Dit moet ‘n draak wees.

Sy adem stoom uit en die muur smelt weg om ‘n gangetjie te wys.

Sy loop by die gangetjie af, ongemaklik vir die eerste keer in haar leer klere soos dit aan haar klou en sweet by haar afloop. Dit word erger soos dit warmer word en strome lawa oor haar pad loop.

Eindelik maak die gangetjie oop in ‘n grot met ‘n lawa meer in die middel. Maar dit is nie leeg nie.

‘Jy lyk nie soos ek verbeel het jy sou nie,’ sê Blaze vir die draak.

‘Jy ook nie.’

Sy hou die ledemaatlose wese dop soos dit opkrul, net die kop lyk soos ‘n draak s’n. Dit maak tog sin dat ‘n draak wat in die middel van die aarde woon so rats soos ‘n wurm is.

‘Wie het vlerke nodig wanneer jy nie nodig het om te vlieg nie, nè?’ vra Blaze.

Die draak hou haar net op.

‘Okay, hier’s die ding: die vloek op die Labirint deur ons soort is besig om die Drake Hof stadig dood te maak.’

‘Regtig?’

‘Jy klink nie juis bekommerd nie. Of verbaas nie.’

‘Ek het hulle gewaarsku wat die gevolge sou wees. Maar nee, hulle moes net sterker word.’

‘Dis tyd om die vloek te vernietig.’

‘Jy het geen benul wat jy sê nie.’

‘Het jy die brandmerk op my gesig gesien? Dis nie van ‘n geveg nie. Dis van die vloek.’

‘En?’

‘Wat’s fout met jou?’

‘Die wat die las van die mag van vuur het moet ook onder sy gemeenheid woon.’

‘Wat weet jy? Jy is ‘n draak wat in ‘n poel lawa woon.’

‘Ek is soos jy: gevangene in een vorm.’

‘Wat?’

‘Ek is ‘n draak nimf.’

Blaze sukkel om die inligting te verwerk. Vir so lank het haar Hof gely en nou…

‘Hoe?’

‘Die waarheid is ‘n bitter pil om te sluk.’

‘Hoe?’ gil sy.

‘Okay!’ die draak gluur vir haar. ‘Eeue gelede, toe die Labirint jonk was en drake die lug beheer het, was die Drake Hof gevorm deur die magtigste draak feë van die tyd. Ware drake het draak feë verag en wou hulle uitroei. Om ondergrond te leef was die enigste manier om te oorleef. Maar die Drake Hof moes verander,’ sy trek haar gesig in walging, ‘in die mens-vorm wat jy nou dra. En hul mag het minder geword soos hulle ander feë moes veg vir woonplek en kos.’

Blaze kan dit alles in haar geestesoog sien. Draak feë te arrogant en magsugtig om te besef dat hulle op die verkeerde pad is. Nes haar pa.

‘Ek was ‘n jong draak nimf toe, skaars ouer as jy. Ons Hof het meer mag nodig gehad en ek wou belangrik, spesiaal, wees.’ Sy blaas rook uit. ‘Ek was ‘n naiewe idioot.’

‘Wat het gebeur?’

‘’n Druppel bloed van elke bloedlyn was in ‘n magiese beker bymekaar gemaak. Die beker was gebrand in die asem van ‘n regte draak. Ons het hiernatoe gekom. In dié vorm moes ek die ritueel uitvoer en die beker se inhoud bind met die aarde deur die lawa te gebruik. Ek het nie geweet dit sou my ook bind nie.’

‘Hoe het dit die vloek gevorm?’

‘Vir die bloed om mag te voorsien moes opofferings gemaak word. Die vloek het dit gedoen toe die drake feë dit nie meer kon doen nie.’

‘Waar is die beker?’

‘Daar.’

Blaze sien die goue beker glinster in die lig van die lawa.

‘Hoe vernietig ons die vloek?’

‘Met ‘n ritueel. Ons moet dit albei uitvoer.’

‘Die nagevolge vir die Drake Hof?’

‘Die vloek sal gelig word. Maar hulle sal alle bande met hul draak magte verloor.’

‘Ons het dit goed op ons eie al reggekry…’ mompel Blaze.

‘Wat het jy gesê?’

‘Niks. Kom ons doen dit.’

‘Jy besef deur die vloek te vernietig, vernietig jy die bron van mag vir die Drake Hof?’

‘Ek besef dit.’

‘En jy is bereid om jou eie kragte op te gee om dit te doen?’

‘ja.’

‘Goed dan.’

Blaze hou nie van die manier wat die draak vir haar kyk nie. Haar instinkte vertel haar dat sy nie die ou draak nimf kan vertrou nie. Die aura om haar…

‘Gebruik die draak binne jou ,’ hoor sy die Orakel se stem.

Die draak adem vuur oor die lawa en dit kook en borrel. Toe gooi sy die beker met die vervloekte bloed daarin.

Die grot word verskriklik warm. Selfs vir ‘n draak nimf. Skreeuende stoom vul die vertrek soos die beker smelt. Die draak word ‘n vrou met rooi hare en pikswart oë.

Blaze hou nie van die blinkheid in die nimf se oë soos die stoom om haar vou nie. Sonder om daaroor te dink, blaas sy vuur en die stoom wat haar probeer omvou het oorrompel die ander draak nimf.

‘n Verontwaardige gil is die laaste ding wat Blaze hoor van die ander vrou voordat die lawa oprys en alles skoonmaak.

Rustig laat Blaze die lawa toe om oor haar te vloei sonder om haar te brand. Sy kan verskeie kleure in dit sien.

Soos die lawa terug vloei na die middel van die vertrek, hou sy dit dop, onseker hoe sy moet voel oor die kennis wat dit met haar gedeel het.

Sy weet nou die waarheid oor die Labirint en die rede vir die Drake Hof se vloek.

Blaze bewe soos die waarheid oor en oor speel in haar geestesoog. Die draak nimf wat haar probeer vermoor het is die legendariese heks Morgan Pendragon. Blaze het groot geword met die stories van hoe sy amper alle drake en toorkrag uit die mense wêreld uitgeroei het met haar magsug.

Wat die stories nie gedeel het nie is dat Morgan ook die Drake Hof se eerste koningin was.

Blaze leun terug teen die gangmuur, haar nood om die middel van die aarde te vlug oorweldig deur die verskriklike waarheid. Alles wat Morgan haar vertel het is waar. Behalwe dat dit eintlik haar idee, haar towerspreuk was en toe hulle haar verraai het het sy die vloek vry gelaat.

Blaze loer in die verbode trapskag in, maar dis steeds leeg.

Morgan se towerspreuk het almal in die Labirint aangeval, nie net die draak feë nie.

Sy hardloop by die trappe op en wonder hoeveel dit hulle verander het van die ander feë wat nie in die Labirint woon nie. Behalwe die ouderdom ding, natuurlik.
#
Die Wadi Labirint is meesal deur rondreisigers en vlugtelinge bewoon. Dit is nie ‘n veilige plek nie. Maar Blaze weet dat sy nie huis toe kan gaan nie. Haar pa sal bewyse wil he dat die vloek vernietig is – en sy het niks nie.

Met alles wat sy geleer het is sy nie eens seker of sy huis toe wil gaan nie. Wat sê dit van haar dat sy ‘n afstameling van dié Morgan Pendragon is?

Sy hou haar kappie op en teken die kroegman vir nog ‘n vuurwater.

‘Dis waar, sê ek jou,’ ‘n man se kwaai stem kom van die ander kant van die stowwerige kroegtoonbank. ‘’n Beskermer word deur haar eie soort gejag.’

‘Beskermers sal nie so laag daal nie.’

‘En ek vertel jou wat ek gehoor het.’

‘Hoekom? Gee my een goeie rede.’

‘Sy’t gaan staan en verlief raak met die verkeerde ou.’

Blaze hou op luister. Met ‘n grynslag maak sy haar drankie klaar.

Net een Beskermer is mal genoeg om alles op te gee vir liefde: Daphne.

En sy gaan haar help.
##




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 94
Kommentaar telling: 264

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 101 gaste aanlyn

Bydrae Totale