Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Verhale van die Oniks Labirint 10 Vlug van Grys

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 3 Oktober 2018 Aantal woorde: 2227 346 Kere gelees 5

Daphne word met ‘n skok wakker in grys donkerte. Haar hart dawer teen haar bors, reg om die hut in die woud te verlaat of Daphne al reg is of nie.

Versigtig trek sy haar leer uitrusting, mantel, masker en stewels aan. Sy versteek die wapens wat die Groen Beskermer vir haar gegee het in haar uitrusting. Sy gebruik die donkerte tot haar voordeel. Sy weet nie hoekom nie, maar sy weet sommer net dat die Grys Groep uitgewerk het waar sy is.

Miskien was dit nie so ‘n goeie idee om na Veilige Hawe te gaan nie. Alhoewel net ‘n paar Beskermers – soos haar vriend wat daarvan hou om in groen rond te hardloop – van hierdie plek weet, moes sy maar eerder nie soontoe gegaan het nie.

Maar… toe die Groen Beskermer haar gevind het, was sy heeltemal uitgeput. Sy vlug van die Grys Groep – en ander Beskermers wat met hulle saamstem dat sy ‘n verraaier is – al vir weke. Selfs die Groen Beskermer het die silwer vloeistof gedrink sodat hy kan vergeet dat hy haar gesien het. Almal vrees die Grys Groep. Selfs die feë wat haar beskerm.

Daphne loop vinnig by ‘n paadjie af, skaars sigbaar in die grys donkerte, na die donkerste deel van die woud. Die ongediertes van die Labirint – die feetjie katte wat weier om skobbejakke te wees, elfies wat nie knegte wil wees nie, vuil-vos-kabouters wat wegkruip vir die Howe en ander – woon in harmonie in Veilige Hawe in die dieptes van die Groene Hof. Sy hoop dat hulle veilig sal bly van die Grys Groep.

Sy ignoreer haar ingebore vrees vir plante – die Oniks Labirint waar sy vandaan kom het skaars enige – en beweeg deur die digte plantegroei in die rigting van die versteekte tonnel wat haar woud vriend haar gewys het voordat hy gegaan het.

Die grond verander skielik voor haar en sy val amper. Sy kyk af en sien dat groumolle verantwoordelik is. Sy tree oor hulle en beweeg aan. Die manier waarop haar hart klop weet sy dat sy besig is om uit tyd uit te hardloop.

Die woud is lewendig. En dit wil haar nie daar hê nie. Sy verstaan: sy is van die Oniks Labirint, nie dié een nie. Die woud kon dit voel.

Bosse krap, druk, trek en stamp haar uit een tonnel gemaak van gedraaide bome en plante na die volgende. Die bome bewe. Sy kan skaars asemhaal. Al die vreemde plante maak haar bang op ‘n manier wat die res van die Labirint nog nooit kon reg kry nie.

Die woud het ‘n fee natuur en geniet haar vrees. Sy is nie seker dat sy dit kan waardeer nie. Sy ruk haarself reg en draf in die rigting wat sy dink sy in moet gaan en druk die vrees wat Beskermers nie moet voel nie weg.

Eindelik kan sy die rots formasie sien wat die geheime tonnel versteek. Al is dit baie soos die grotte wat sy in die res van die Labirint al gevind het, het dit ‘n dak en mure gemaak van plante.

Sy haal diep asem en vind die spesiale krui om die tonnel oop te maak. Dit het ‘n vreemde reuk. Sy wag nie om te wonder oor hoekom dit bekend ruik nie, sy druk dit dadelik aan die basis van die rots formasie en ‘n opening verskyn. Sy druk die krui in haar sak en gaan die gitswart tonnel binne.

Haar hart hou op om so wild te klop en sy vat versigtige treë. Die tonnel ruik soos nat rots en was baie verwelkomend. Sy kon nie meer die grys groep voel nie. Maar dit kon net die toorkrag van die Labirint wees…

Die geluid van druisende water êrens voor haar maak dat sy stop na vyf duisend treë. Daphne was verlore. Die Groen Beskermer het niks soos dit genoem nie.

Van êrens vêr weg, tog veels te naby, kan sy haar agtervolgers voel.

Sy onderdruk alle vrees en gaan voort. Twee duisend treë later breek ‘n biejtie lig deur die donkerte. ‘n Rivier ruis verby die opening van die tonnel. Die water lyk meer soos gesmelte silwer as drinkbare water.

Daphne kyk om haar rond. ‘n Bootjie staan op die oewer. ‘n Tou brug reik van een kant na die ander kant van die rivier na ‘n ander tonnel ingang.

Albei opsies lyk gevaarlik vir Daphne. Maar sy kan nie terug gaan nie. Sy weeg haar opsies en haal amper ‘n man se kop af wat skielik langs haar verskyn het. Hy is druip nat.

‘Dis raar vir enigiemand om so naby my rivier te kom,’ sê hy en hou haar deur vernoude oë dop.

‘Ek het nodig om weg te kom.’

‘Jy word gejag.’

‘Ja. Hoe?’

‘Die water vertel my alles.’

Hy hou haar dop, kop een kant toe gedraai.

‘Ek sal jou wegvat. As…’

‘As wat?’

‘Jy my toelaat om eers middagete te geniet.’

‘Wat?’ Sy kon nie glo da thy eers wou eet nie.

‘Belowe dat jy nie gaan inmeng nie en ek sal jou vêr hiervan vat’

Sy kan die grys groep hoor nader kom.

‘Goed’

‘Gaan oor die brug’

Sy kon dit gedoen het sonder sy hulp.

‘O, en moenie die water sluk nie’

Sy sit haar swaard terug in sy skede en gaan oor die brug. Die water lig op en hou die brug stewig. Maar dit sproei ook oor haar. Sy hou haar mond styf toe ten spyte van die skielike dorsheid wat oor haar kom die oomblik toe die eerste druppel op haar vel val.

Sy hoor die grys groep opdaag op die oewer. Sy kyk terug en kan glad nie die man sien nie. In sy plek staan ‘n groot perd met ‘n vin vir maanhare en hou die beskermers dop. Daphne kyk dadelik weg en loop vinniger. Sy’t gehoor van hierdie wese en was nie van plan om onder sy toorkrag te val nie.

Die beskermers vergeet van haar en vat aan die perd. En hulle sit vas.

Die sewe beskermers wat haar agtervolg het – nie een van hulle Zinhle wat haar tot dood veroordeel het nie – word na die rivier se dieptes getrek.

Daphne maak dit veilig na die ander kant van die rivier. Sy kyk in afgryse soos borrels vervang word met derms. Sy het nie die krag om verder te beweeg nie. Buitendien, sy was moeg daarvoor om te vlug. Sy het dit net gedoen om haar gedagtes veilig te hou van die grys groep – en sodat al die vriende wat haar gehelp het veilig kan bly. Miskien om deur ‘n waterperd geëet te word is nie so ‘n slegte einde nie…

‘Dit was lekker. Jy het geen idee hoe lank dit is sedert ek laas goed geëet het nie.’ Die waterperd was weereens in die vorm van ‘n man, water wat van hom afstroom. ‘So, noudat die onmiddelike gevaar weg is, weet jy waarheen jy wil gaan?’

‘Jy gaan my nie eet nie?’

‘Nee wat. Sewe beskermers gaan my vir ‘n lang tyd versadig hou. Buitendien, jy het ‘n wil van jou eie. Vervrissend in ‘n Labirint fee.’

‘Jy’s nie ‘n Labirint fee nie?’

‘Nee, my rivier loop bogrond ook. Wil jy sien?’

Daphne hou hom dop, onseker oor iets vir die eerste keer in haar lewe.

‘Kom, wat het jy om te verloor?’

Sy grinnik en vat sy uitgesteekte hand.

‘Onthou: moenie die water insluk nie.’

Hy verander in ‘n vreemde dier met ‘n lang nek, bene gemaak vir swem met webbe wat uitsteek en ‘n rug groot genoeg vir haar om op te sit sonder om heeltemal nat te word.

Hulle beweeg vinnig deur die glimmende water en Daphne hou haar mond styf toe teen die water soos hy haar na die land bo vat.

Tonnels gee plek vir ‘n groot rots formasie op ‘n berg en die waterperd loop uit die water uit. Sy gly van sy rug af en hy verander weer in ‘n man in. Haar oë is vasgenael aan die blou lug wat in alle rigtings strek.

Die water druis af en trek Daphne se aandag van die lug af. Bome, bosse en ander plantegroei herinner haar aan die Groene Hof. Maar die reuk is soos niks wat sy al ooit tee gekom het nie. Langs haar rek die waterperd in sy mensvorm en haal diep asem.

‘Ja, nie baie plekke ruik nog so nie. Jy sal veilig genoeg hier wees. Maar as hulle jou hierheen volg moet jy na die mense se stede gaan. Selfs beskermers sal verlore wees daar.’

Hulle skud blad en hy verdwyn weer in die rivier in.

Daphne haal diep asem. Sy is vry.
#
Die wêreld bogrond is wildvreemd vir haar. Die alleenloper feë wat sy ontmoet handel in draak skubbe en fee verhale so maklik as wat hulle lewe vir geld verrruil. Sy het ‘n woord vir dit van die mense geleer: onderwêreld. Sy sou gedink het dit beteken om ondergrond te woon, maar dis eintlik die kriminele wêreld wat ongesteurd gaan deur die wat hulle lekker normale lewens leef.

Sy bly in die woud waar die waterperd haar heen gevat het, maar sy gaan tog in die mensedorp in wat net buite die woud lê. Sy het nooit gedink dat sy nuuskierig is nie – nuuskierigheid veroorsaak net dood in die Labirint.

Daar is wonderlike dinge om tussen die mense te vind – en tussen die feë wat tussen hulle woon. Sy weet dat niemand weet hoe om haar te hanteer nie: sy’s so vreemd vir hulle as wat hulle vir haar is.

Beskermers is geleer om enige situasie te ondersoek en aan te pas. Sy kan bo grond leef. Sy kan selfs weg bly van die grys groep so lank as wat sy leef. En al laat dit haar met ‘n hol kol op haar maag, haar vriende sal veilig wees.

‘Beskermer Daphne?’

Dadelik op haar hoede kyk sy om haar rond. Sy is onsigbaar vir die mense om haar in die besige dorpsplein. Haar oë val op die rooikappies. Sy het met hierdie groep vantevore gewerk om kos by mense te steel.

‘Jy moenie hier buite wees nie. Kom binne.’ Die hoof rooikappie beduie na ‘n kroeg.

Nie seker wat om te verwag nie, gaan sy saam met hulle.

‘Almal soek vir jou. Om in beskermer leer rond te loop gaan jou net vinniger dood kry.’

‘Dis goed om jou ook te sien.’

‘Die Labirint is in rep en roer. Party voel dat die grys groep te haastig opgetree het. Ander voel dat almal wat ondervra is tereggestel moes word.’

‘Wat dink jy?’

‘Dat om ‘n beskermer tereg te stel net omdat sy haar werk beter as ander doen is absoluut belaglik. En…’ hy kyk rond en maak seker dat niemand anders luister nie. ‘Ek dink daar is meer aan die gang.’

‘Twee weke voordat jy gevlug het het gerugte die rondte gemaak dat die Drake Hof se enigste prinses verban is. Ons het haar sien ondertoe gaan – miskien na die middel van die aarde.’

Daphne knik. Sy het geweet dat Blaze iets beplan het toe hulle mekaar laas gesien het.

‘Daar’s meer.’

Haar aandag beweeg weg van die mense wat drink en woelig is in die middel van die dag. Die uitdrukkings op die rooikappies se gesigte bekommer haar.

‘Die Orakel het dit reggekry dat ander haar voorspellings kan hoor. Almal verloor hul koppe. Veral omdat die laaste voorspelling sê dat die Labirint en almal in dit verdoem is.’

‘Sy’s altyd so vrolik.’

‘Moenie dit te vinnig afskryf nie, Beskermer, sy het mag oor die gedagtes van feë. As hulle haar voorspellings genoeg glo, sal dit gebeur.’

‘Jy dink sy doen dit intensioneel?’

‘Ja. En nee. Van die dinge wat ons in die Labirint gesien het, lank voordat enigiemand haar kon hoor, het ons al gewys dat die Labirint nie lank het as iemand nie iets doen nie.’

‘Die rotte en katte, nè?’

‘Onder andere’

Daphne voel koud tot in haar binneste en sy het die aakligste gevoel dat die Oniks Labirint uitroep in pyn.

‘Daar is gerugte dat die verskeie howe nie meer ooreenstem nie and dat die hoë koningin en haar grys groep die probleem sal stil maak. Vir altyd.’

Die beskermer maak haar oë toe en haal diep asem. Sy kan nie toelaat dat haar emosies haar blind maak nie.

‘Jy moet terug gaan en almal red’

Daphne se oë skiet oop. Sy weet hy is reg

‘Ek het hulp nodig’

‘Ons glo dat die draak prinses in die wadi labirint is’

‘Kan julle my na haar neem?’

‘Ons kan’

Hulle gaan by ‘n tonnel in die kroeg se agter kamer uit. ‘n Paar draaie later is hulle in die droë bruin labirint geken vir sy wetteloosheid.

‘n Paar feë vlieg by die deur van ‘n restaurant uit gevolg deur ‘n draak nimf in swart leer.

‘Volgende keer, vat iemand jou eie groote aan,’ gil sy agter die vlugtende feë aan. ‘Daphne!’ gil sy toe sy haar sien.

‘Nie so hard nie!’ sis een van die rooikappies.

‘Skies man. Wat doen jy hier?’

‘Ons het werk om te doen.’

Blaze knik en lei Daphne en die rooikappies die restaurant in.

‘Vertel my als’
##

Dankie dat jy gelees het. Hierdie is die einde van die Oniks Labirint, vir nou. Kommentaar is altyd welkom.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 94
Kommentaar telling: 265

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 56 gaste aanlyn

Bydrae Totale