Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: VERDWAAL? WIE? EK?

Deur Martha
Datum gepubliseer: 12 November 2019 Aantal woorde: 1069 45 Kere gelees 2

Ek loop al lank met die ding in my kop – ek is waar ek is en ek is wie ek is as gevolg van waar ek was. Hmm, ek sien jy frons. Met ander woorde, ek is vandag marthamaria omdat ek die pad geloop het wat g’n ander skepsel geloop het nie. Dieselfde geld vir jou en jou en jou. Dus, as ek nie daardie pad met sy kronkelpaadjies en verdwaalpaadjies geloop het nie, was ek soveel armer.
As kind het ons ure spandeer om dit reg te kan kry: Die hasie wat deur die gangetjies moet loop om by die wortel uit te kom en baie ander soortgelyke speletjies. Ja, ons ken dit vandag as ‘n labirint en/of ‘n doolhof. Die Engelse labyrinth/maze, glo ek, is meer bekend op die oor.
Glo my, ek het nie geweet daar is ‘n verskil tussen die twee nie. Al wat ek weet, is dat ‘n mens soms lekker kan sukkel met die potlood om uiteindelik daardie hasie by sy wortel te kry.
Hoekom, het ek myself afgevra, bou of plant hulle hierdie strukture? Nou glo my vry, soveel soekenjins soos wat daar op die internet is, soveel oorspronge is daar van die labyrinth/maze. Geestelikes het dit begin om te kan ontspan. Mitologiese figure het dit begin om hulle teenstanders daar binne te kan verslaan. Ander het dit begin om weg te kruip ten tye van oorlog. Nog ander het dit gebruik om ‘n skelm liefde ongesiens te kan ontmoet.
Die verskil tussen ‘n labyrinth en ‘n maze (doolhof) is eintlik baie klein en mag vir jou en vir my nie juis ‘n verskil maak nie. Ek meen te sê, as jy verdwaal het, het jy verdwaal. Dit maak nie saak wat die ding se naam is nie, ha?
‘n Labirint het kronkelende, geboë gange en vorm ‘n ‘eenmalige’ of eenrigtingpad van buite na die middel. ‘n Doolhof, daarenteen, is gevul met dooie punte. Die idee is om ‘n paar keer te verdwaal voordat jy die regte pad kan kry.
“It is a confusing path, hard to follow without a thread, but, provided [you are] not devoured at the midpoint, it leads surely, despite twists and turns, back to the beginning.” — Plato
‘Sê nou maar’ is ‘n lekker sê, alles wat ‘n mens wil hê …
Wel, sê nou maar ‘n mens het iets gewen elke keer wat jy in die doolhof verdwaal en dan later die regte pad gekry het om verder te kan stap. Sê nou maar jy het nooit geweet wat die prys is wat jy gewen het nie, maar dat dit ‘n opgegaarde skat is wat eers eendag, baie later, sigbaar sal wees?
En sê nou maar jy verloor elke keer dubbel daardie skat as jy ‘n uitkomplekkie kry en wegstap sonder omkyk? Ja, reg geraai – jy sal ook eendag (dalk) bewus word van die feit dat jy eintlik ‘n groot verlies gely het … dat jy eintlik maar ‘n loser is.
En is dit nie maar wat die lewe is nie? Is dit nie maar hierdie groot maze wat ons blindelings moet stap en vashaak en omdraai en weer probeer om by die einde te kom nie?
Wanneer ons begin stap, is ons opgewonde en sien uit na die lewe. Jy het nie die vaagste idee van wat wag nie, maar loop sal jy hom loop. Vreemd genoeg, dit wil mos altyd vir jou lyk of die een voor jou die pad so maklik kry en so salig aanstap. Maar is dit nie dalk daardie een wat hom voel-voel en dink-dink loop nie?
Ek het by ‘n punt gekom wat ek weet dat elke verdwaalslag vir my ‘n skat gebring het. Nee, verdwaal is mos nooit lekker nie, ek weet. Verdwaal kan vrek sleg wees. Dit is mos sulke tyd wat jy so alleen voel dat jy glo daar is nie ‘n ander wese naby jou nie en niemand weet of traak oor jou nie. Is mos so, nie waar nie?
Ek dink aan die swaarkry tye in my lewe – tye wat ek gewonder het waarom op dees aarde moet alles so verkeerd neuk. Waar het ek die spreekwoordelike pad dan so byster geraak dat ek nou in hierdie gemors sit?
Jy kan nie eintlik gaan staan nie, want wat word dan van jou? Jy kan ook nie terug nie, kan jy? Vorentoe, dus. Soms vat dit ‘n hele paar probeerslae om weer aan die gang te kom, want jy bly jou vasloop in doodloopstrate. Omdraai, weer probeer, dalk weer omdraai en weer probeer, om uiteindelik weer ‘n klein entjie te kan vorder. Is mos nou sulke tye wat party ouens ‘n uitkruipplekkie soek, maar ook maar later besef jy moet maar aanhou probeer.
Ag, en ander kere sou mense sê jy het ‘n luck gestrike, want kyk nou net hoe goed gaan dit met jou! Jy loop behoorlik met ‘n huppel in jou stap en het nog tyd om te sien hoe mooi alles om jou is. Hoog bo jou vlieg die voëls en hier voor jou spring dalk nog ‘n hasie of twee ook uit om die pad net nog mooier en beter te maak. Dis sulke tye wat jy kliphard kan loop en sing en jy is so baie bly jy lewe!
Wanneer jy dan oor ‘n dag of wat weer vir jou vasloop in ‘n afdraaipad, gaan dan sit en rus ‘n bietjie, toe? Rus en kyk op – jy sal sien daardie mooi voëls is nog steeds daar. En as jy lank genoeg sit, gaan daardie hasie weer ‘n draai by jou voete kom maak, jy sal sien. Moenie moedeloos word nie. Moenie wegkomkans soek nie, rus net eers ‘n bietjie en jy sal sien, môre is toe glad nie so sleg soos wat jy gedink het dit sal wees nie.
Vandag weet ek dat die skat wat ek na elke verdwaalslag ontvang het, is wysheid. Wysheid om by die volgende vashaakplek ‘n beter keuse te kan maak. Wysheid om liewer nie daardie draai in die pad te vat nie. Wysheid om te weet wanneer om liewer te gaan sit en ‘n bietjie dinge te bedink en oordink. Wysheid om myself nie meer te kasty as ek vashaak nie. Wysheid om myself te waardeer vir elke aanhou en uithou. En helaas, wysheid om vir myself te kan sê: Stadig oor die klippe, Martha, jy is eintlik baie orraait!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 40
Kommentaar telling: 11

Ek is 'n Namibier in murg en bloed. Ek hou my lewe lank skook, met hier en daar 'n kort tussenpose. Ek is getroud, het drie kinders en (op die oomblik) drie kleinkinders. Dit het my my lewe lank gevat voordat ek die moed gehad het om te begin skryf. PUBLICATIONS Books: Tuiskoms, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2018), 193 pages. ISBN 978-1-928413-65-3 Hagar, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2017) 270 pages, ISBN 978-1-928413-70-7   Short stories: ·         My lewe in ink – ‘n versameling van inspirerende dagstukkies. Published by Carpe Diem Boeke (2002) ISBN 1-919912-07-X Martha’s contribution: Jesus, ek is blind! (page 180) ·         Keur van verhale 4 – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers. ISBN 978-1-928413-40-0 Martha’s contribution: Die Misverstand (page 72) ·         Kierangspruit se Sirkus – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers ISBN 978-1-928413-90-5 Martha’s contribution: Rocco se hartseer vertoning (page 82) ·         Verspeelde Matriekafskeid Published by Huisgenoot (8 February 2018) and read on Maroela Media  (2 February 2018) ·         In die grasie van jou wese – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers   ISBN 978-1-928415-57-2 Martha’s contribution: (V)oorbegin

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 105 gaste aanlyn

Bydrae Totale