Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Verby die grense van vryheid (Brons)

Deur Marsofine
Datum gepubliseer: 3 April 2020 Aantal woorde: 1505 55 Kere gelees Hou van

Sy kyk na hom. Daar waar hy so half pateties op die rusbank slaap. Meteens wonder sy: wanneer het die gesels, opgeraak? Wanneer het die opwinding, verveling geraak? Wanneer het die liefde, gewoonte geraak? En wanneer, is haar hart toe gesluit met ʼn slot en ʼn grendel?
Amanda maak ‘n poging om op haar hekelwerk te konsentreer. Maar, haar poging misluk jammerlik. Onwillekeurig, dwaal haar blik weer na die man wat op die rusbank slaap, haar man. Jare gelede het hierdie gedagte haar hart warm gemaak, nou laat dit haar net met ʼn seer gevoel in haar binneste.
Hy was so ‘n aantreklike man, toe hulle getroud is. Die vrouens het oor hul voete geval vir sy aandag. Sy was beny deur al haar vriendinne, dat sy met so ‘n beeld van ‘n man gaan trou!
Hier lê hy nou: oorgewig, onversorg, slordig – geen teken van die aantreklike man van ‘n paar jaar gelede te bespeur nie. Sy wonder wat hulle sou sê as hulle hom nóú kon sien.
Al haar pogings om hom te bemoedig, te versorg, te help om gesond te leef, word net in die wind geslaan. Sy het al mooi gepraat, gesoebat, kwaad geraak, en nou is sy nog net magteloos. Die aanvaarding het nog nie gekom nie. Die aanvaarding bly nog iewers ver weg.
Wanneer sy met hom praat oor sy ongesonde eetgewoontes, sy onversorgdheid, sy teenstand om sy persoonlike higiëne te handhaaf, kom die antwoord kortaf: “Vat my soos ek is, of los my. Ek hoef niemand te beïndruk nie.”
Al hierdie dinge het haar nie so erg gepla nie, want sy is maar meesal alleen by die huis. Callie is gewoonlik by sy vriende, iewers in ‘n kroeg of by een se huis besig om te drink. Oral anders as waar daar gewerk moet word.
Maar nou, nou dat hulle gedwonge agter slot en grendel moet sit, dag in en dag uit, nou is dit soos ‘n seer oog vir haar. Sy gril behoorlik as hy by ‘n vertrek instap. Dan bid sy net dat hy tog om hemels naam nie aan haar moet raak nie.
Amanda sluk swaar aan die knop wat skielik in haar keel is. Haar goedversorgde hande lê stil op haar skoot. Daar verskyn ‘n ver af uitdrukking in haar smarag groen oë. Haar gedagte neem haar ver terug, na tye van geluk en vryheid.
Daardie dag het die son al begin aanstaltes maak om te gaan rus, die windjie het al begin om die hitte van die Namibvlaktes see toe te jaag. Callie het opgewonde in sy moeder se plaas kombuis in gestorm, haar hand gegryp en met haar na die wild kar gehardloop. Sy het probeer uitvind waarheen hy so haastig op pad is met haar, maar hy het net bly lag en gesê dat dit ‘n verrassing is vir sy Namibroos. Hul hare het uitbundig in die wind gedans soos hy met die oop kar oor die vlaktes gejaag het. Skielik het hy by ‘n klein duintjie gestop. Vir haar die deur oopgemaak en weer haar hand gegryp en teen die duintjie op gehardloop met haar. Soos twee uitbundige kinders het hul gelag van die vreugde om saam te wees.
Toe hul die kruin van die duintjie bereik, het sy na haar asem gesnak. Voor haar het die Namibvlaktes, kaal en wyd uitgestrek gelê. Asemrowend mooi. Regs van hulle was een eensame doringboom, halfpad teen die duintjie af. Verder was die Namibvlaktes net versteur die die tweespoorpad wat soos ‘n slang gekronkel het, so ver die oog kon sien.
Callie het haar omhels en vuriglik gesoen. Sy kop opgelig, in haar oë gekyk, sy paar blou oë was so vol liefde dat haar hart net wou bars. Die volgende oomblik het hy voor haar neergesak op sy een knie en uit sy sak ‘n blou fluweel dosie gehaal. Sy het kon net haar asem oorstelp van geluk ingetrek. In sy diep bariton stem het hy terwyl hy haar hand houvas en na haar opkyk gevra: “my Namibroos, sal jy met my trou?” Sy was so oorweldig en gelukkig, dat sy nie woorde gehad het nie en net haar kop kon knik.
Hy het opgespring en haar weer vuriglik gesoen en haar in die rondte gedraai terwyl hul uitbundig gelag het uit pure vreugde. Hulle was so vry, so gelukkig, so lief vir mekaar!
Amanda skrik uit haar mymering op toe sy die trane nat en koel op haar hande voel val. Dit loop soos ‘n kraan wat oopgedraai is. Trane vir die mooi, die kosbare, die intense liefde wat hul vir mekaar gehad het, wat net verdwyn het. Verdwyn het sonder genade, sonder waarskuwing. Haar leeg gelaat het, leeg en kaal gelaat, net soos daardie Namibvlaktes waarvoor sy so lief is. Haar gelaat het soos daardie eensame boom teen die duin, wat dag na dag spook vir oorlewing. Wat in die wind en weer tog skuiling probeer gee aan die enkele geveerde vriend of selfs ‘n gemsbok skuiling bied. Tog vasgevang in die son en sand moet bly staan.
Sy kry die gevoel dat iemand vir haar kyk. Wanneer sy opkyk, lê Callie haar en dophou. Wat haar egter heel onkant vang, is die seer en deernis wat sy in sy oë bespeur. Stadig kom hy orent, gee twee treë tot by haar en hou sy arms na haar uit. Sy staan op en val in sy arms in, hy hou haar styf vas. Die trane vloei nou vrylik oor albei se wange.
Etlike minute later, lig hy haar ken op dat sy na hom moet kyk.
“My Namibroos, ek het jou lank dopgehou, jy het ver gaan draai vandag.”
“Ja, my Liefling ek het, daar by ons duintjie op die plaas.”
“Ek het so iets vermoed, dat ek die oorsaak van jou trane is. Dit was nie te moeilik om uit te werk nie.”
Sy kan nie vir hom jok as hy so in haar oë kyk nie. “Ja, ek verlang so terug na daardie tyd. Toe ons jonk, vry en lief was vir mekaar. Hier is ons nou noodgedwonge in isolasie, en skielik het ek jou, die man wat ek lief het, meer gemis as ooit.”
Hy druk haar stywer teen hom vas: “My vrou ek is ‘n idioot! Vergewe my, vergewe my asseblief? Ek belowe om van vandag af daaraan te werk om myself terug te vind. Om weer die man te raak waarop jy trots was en waarvoor jy lief was. Hoe kon ek jou, my eie Namibroos, al die tyd so afskeep en dit om my besig te hou met snert?”
“Callie, ek het jou nog altyd lief! Nogtans sal dit wonderlik wees om die man wat ek jou as leer ken het terug te kry. Ek ken nie die man wat jy geword het nie. Ek hunker na die uitbundig, kreatiewe, gelukkige man, wat oorgeloop het van vreugde.”
“My vrou, glo jy my, hierdie isolasie het my so pas meer vry gemaak as wat ek in jare was. Hier agter slot en grendel het ek weer besef hoe waardevol jy vir my is. Ook het ek besef hoe ek myself verwaarloos en jou afgeskeep het. Sodra hierdie isolasie verby is, gaan ons terug na ons duin. Daar sal ons weer ons belofte aan mekaar hernu en nooit sal ons weer anders as vry wees nie. Selfs al word ons gedwing om agter geslote deure te bly, want ons is vry in ons liefde vir mekaar.”
“Wag, laat ek my gaan bad en skeer! My mooi vrou verdien beter as ‘n man wat soos ‘n boemelaar lyk!”
Amanda kyk hom met ‘n lied in haar hart en ‘n gebed op haar lippe agterna. Die Vader het haar vandag gehoor! Sy kan nie wag om die pad verder saam met haar eie Callie te stap nie, vry, vry van die las van eensaamheid! Vir te lank was haar hart toegesluit vir liefde, vir omgee, vir lewe.
ʼn Halfuur later kry sy die geur van naskeermiddel, nog voor sy haar man sien. Wanneer hy die sitkamer binnestap, kan sy nie glo dit is haar man nie. Die man wat vir die afgelope jare soos ʼn boemelaar gelyk het. Hy is skoon geskeer, netjies aangetrek en hy ruik verruklik.
Hy hou sy arms na haar uit: “Kom hier, my Namibroos, ek het baie vermorste tyd om in te haal.” Hy vou haar teer in sy arms toe, plaas sagte soentjies oor haar hele gesig voor hy haar weer hartstogtelik soen. Wat het hom besiel om hierdie juweel van ʼn vrou vir so lank te verwaarloos! Hy is so bly dat hulle nog vir ten minste twee weke hier agter slot en grendel gaan wees, dit gee hom die geleentheid om sy vrou weer te ontdek!
Drie maande later staan hulle op hul eie Namibvlakte duintjie en kyk weereens in verwondering oor die vlaktes uit. Die gevoel van vryheid en liefde in hul harte nou nog meer kosbaar as jare gelede. Liefde het die slot oopgesluit en geluk die grendel oopgemaak!
©Marsofine Krynauw
2 April 2020




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    7 April 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2020 – Grendel projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 29
Kommentaar telling: 15

Op 16 jarige ouderdom het ek begin dig nadat ek my Pappa skielik aan die dood afgestaan het, hy was my enigste ouer, my anker, en my vriend en my verlies  het my geïnspireer om my emosies vas te lê op papier. Die lief en leed van my vriende en verdere verlies van my seuntjie David op 4 maande wat my deur die jare telkens aangehelp het om my hand aan die pen te slaan en my gedagtes op papier vas te lê. Die lewe wat sommer net met my gebeur het en die genade van my hemelse Vader dat ek dit kon omsit in woorde. Het ook op skool ‘n groot liefde vir poësie gehad, en my grootste liefde was RAKA van NP van Wyk Louw. Met die aansporing van my Afrikaanse onderwyser, Mnr Niewoudt, het ek net nog ‘n groter liefde ontwikkel vir die digkuns en gedigte en die ontleding daarvan. My liefde vir die natuur as ‘n Namakwaland se blommekind en verder deur die besonderse vrou wat die enigeste ma is wat ek geken het Tannie Ellie aangespoor is deur haar eie liefde vir blomme en haar pragtige tuine.  Totdat ek in 2017 besluit het om dit te waag om in te skryf vir die ATKV Pluimpies.  En my nominasie vir ‘n toekenning het my laat begin droom oor my eie bundel.  Daarna het ek Heleen Malherbe van Malherbe Uitgewers elektronies ontmoet, saam met Marietjie Espach het sy die bundel van alle Namibiese skrywers en digters uitgebring Stemme uit Namibia 1 waarin daar van my gedigte opgeneem is. 2018 het ek weer besluit om in te skryf vir die ATKV Pluimpies en eers nadat ek gehoor het ek is weer genomineer vir ‘n toekenning, het ek geweet nou is die tyd om met die wêreld te deel wat uit my pen vloei en hopenlik sal dit mense wat dit lees inspireer en sal hul hulself kan vereenselwig daarmee. Dit sal ‘n bundel wees geskryf in verskillende lande op my reise met my werk, oorspronklik op servette in restaurante, op kasregister strokies, op enige papier met ‘n skoon strokie op daardie oomblik wat die woorde begin waai en later oorgeskryf in een van die vele joernale wat sommer net so ongeerg oral in my huis lê vir wanneer die woorde vloed my brein oorstroom. Dank aan Willem Woes wat die visie gehad het om die WOES webtuiste, platform vir Afrikaans, te begin en die geleentheid aan mense soos ek met ‘n droom in my hart en woorde wat waai, te gee om blootstelling en kommentaar van mede versie skrywers te gee om te groei en te leer van mekaar, want sonder WOES sou ek nooit bly skryf het nie. Dan Heleen Malherbe van Malherbe Uitgewers, wat my droom verwesentlik het, en Wooorde wat Waai, my digbundel ‘n werklikheid gemaak het vir al haar raad en bystand met die samestelling van die bundel.  Heleen is regtige die ‘Fairy Godmother’ vir sovele skrywers en digters en verdien die grootste eer en dank. In die laaste helfte van 2018 het ek my hand aan kortverhale gewaag en dit was van die begin af ‘n sukses storie.  Intussen is ek aangemoedig om Afrikaanse Fiksie te skryf en het tot op datum 3 manuskripte wat goedgekeur is deur Malherbe Uitgewers en in die proses is om voorberei te word vir druk. Dig en skryf is my passie en ek dank my Vader dat ek dit kan doen.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 69 gaste aanlyn

Bydrae Totale