Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: VASHOU

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 28 April 2019 Aantal woorde: 837 266 Kere gelees 3

Ons het pas uit Sodom en Gomorra verhuis na die paradys. Dis nou van die ou Transvaal, iewers tussen Potchefstroom en Johannesburg, na die Wes-Kaap. Al was ons nog nooit beroof daar nie, hoor mens van soveel inbrake en kapings en rowe. Selfs moord. Dis genoeg om enige mens bewerig te maak.

Tog het ons nie bedoel om weg te hardloop na veiliger hawe nie. Net na die mooier hawe en die Here se beste handewerk toe. Daar waar ons eers gewoon het, het hy sweerlik net klippe oorgehad toe hy dit geskape het.

Drie weke nadat ons ingetrek het, kom ons een aand laat terug van die restaurant (ons nuwe besigheid) af en toe die motorligte op die ruit langs die voordeur val, sien ek my twee brakkies aan die binnekant. Sterte wat swaai en ogies blink.

Ek snak effe na my asem. Hoe het dit dan gebeur? Het ek hulle sowaar vanoggend in die huis toegesluit? Met ’n sug hoop ek hulle het nie iets stukkend gekou of op die matte gebollie nie. Ek is tog nie nou lus om ’n gemors skoon te maak nie.

Terwyl ek die sleutel in die sleutelgat druk, loer ek weer deur die venster. As ek netnou geskrik het, is ek nou erg geskok en ontsteld. Mens kan nie glo twee klein hondjies kan so groot gemors vermag nie. Daar lê papiere oral. Ek kan nie vinnig genoeg oopsluit om binne te kom nie.

Skaars anderkant die drumpel verander ek opsluit van opinie. Hierdie is nie die hondjies se gemors nie, dis ’n inbreker(of twee) se boosdoener-werk. Kort van asem loop ek van vertrek tot vertrek.

Die ander voordeur op die stoep klap-klap in die wind. Die honde kon dus uitgegaan het as hulle wou, maar duidelik wou hulle nie. Ek het dit nie oop vergeet nie, maar ons los mos altoos die klein ruitjie oop vir Sammy kat. En vandag ook vir ’n kleinerige dief. Of twee.

My koffietafel staan wydsbeen mankoliekig. Flenters. Eenkant staan ’n skotteltjie water. Op die mat lê ’n eetlepel en die patch and solution. Dit noop my om dadelik in die garage te gaan kyk. Wragtig, nes ek vermoed het! Albei die kinders se fietse met die lekkende binnebande en pap wiele, is weg! Skoonveld!Duidelik het iemand vir ’n slaggie tyd gehad om dit heel te maak. En dit op my sitkamer mat, verdomp! Die kinders is dadelik woedend.

In ons slaapkamer het iemand op die boks vol foto’s afgekom. Dit lê soos konfetti gestrooi. Op die bed. Die hele vloer vol. En ál die ander vloere op die grondvlak ook.

Ek pluk ons kaste se deure oop, maar dit lyk nie of enige iets weg is nie. My lamsleer pakkie hang nog net so. Bokka se leerbaadjie ook. Daar is nie ooptes tussen die skoene nie. Die rakke lyk onaangeraak. Dit maak nie sin nie. Eers toe ek in die kinders se kamers kom.

In Lollapot se kamer lê haar klere gestrooi oor die bed en vloer. Onderstebo omgedop. Haar hardloopskoene is weg. Ook haar blou sweetpak. Dis sovêr ons nou kan sien.

In Seunakind se kamer is dit heel netjies. Daar is een kort broekie op die laagste rak. Een t-hempie op die volgende rak. Twee onderbroekies, die kleinstes, op die derde rak en een paar rubber plakkies op die vloer. Verder niks. Alles weg. Sy visvang kissie, visstokke, messe versameling, rugsak en die omkeerbare baadjie wat ek vir hom gemaak het. Alles. Hy is magteloos woedend en trane maak wel op in sy oë.

By nadere ondersoek vind Lollapot haar baadjie en rugsak is ook weg. ‘Hoekom laat die Here toe dat sulke goed gebeur, hê ma?’ wil Seuna weet. Ek probeer hulle kalmeer deur die positiewe uit te wys. Hulle kon soveel meer skade aangerig het. Hulle kon vir Jakkals en Gypsy beseer het. Hulle kon brand gestig het. Hulle kon al die kos gevat het, maar hulle het nie. Dit alles beantwoord egter nie sy vraag nie. En verlos nie sy moedelose verontwaardiging nie.

Die oproep na die polisie bring verstomming. Daar is nie eers een voertuig beskikbaar om vingerafdruk deskundiges te stuur nie. Dit blyk dat ’n hele bus vol gewillige boosdoenertjies na ons Baai aangery was uit Kayelitsha, om verskeie inbrake uit te voer. Ons sal in die ry moet val vir die aandag van ’n polisieamptenaar. En die ry is blykbaar lank.

Die volgende dag ry Seuna saam met Bokka. Hy het intussen besef dat enige iemand wat ’n baadjie of ’n rugsak soos syne aanhet, die skuldige moét wees. Dis mos bowendien enig in soort. Die enigste wat ooit gemaak was. Sy oë flits van link na regs, weerskante van die pad.
Mettertyd, na hy bietjie gedink het vra hy: ‘Pa, as ons hom vang, sal pa hom vashou sodat ek hom kan slaan? Voor ons hom polisiestasie toe vat.’
Tot vandag toe, was niemand gevang waarvan ons weet nie. In my innigheid vra ek ook soms: ‘Hoekom Here?’




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    11 Mei 2019

    My liewe magtie! Ek vererg my sommer in n ander bloedgroep in, net hier waar ek sit. Dat mense darem so eie met n ander se goed kan omgaan is my dinges se deksel. Wie gee hulle die reg om deur mens se aardse besittings te grawe en die beste uit te soek? Grrrrr

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 44
Kommentaar telling: 558

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 64 gaste aanlyn

Bydrae Totale