Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vaders van lyding

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 23 Junie 2016 Aantal woorde: 939 861 Kere gelees 6

Ons seuns het die afgelope naweek my soos ‘n vreemdeling in ons huis en hul lewens laat voel met hul moeitevolle geskenke en ’n kaartjie met lofbetuiginge wat my beide hartseer en skaam gelaat het. Hoe verdien enige mens, wat nog van ’n ou soos ek, die agting en lof wat uit hul jong harte gestort word?

In selfregverdiging kan die vader wat voorsien en versorg seer sekerlik sy borsie uitstoot en hom ’n klapsoen van tevredenheid gee wanneer sy kinders hom ophemel, maar in hierdie gedagtegang van my is dit aanstellerig om te dink dat iemand met heuning en stroop bedruip moet word net omdat hy doen waarvoor hy allereers op hierdie bodem geplaas is; en dit is om vir sy gesin om te gee.
Ongeag van hoe sy gesin lyk.

Daarmee het die gemoedsbekakking oor die sosiale frustrasies en die tekortkominge in ons samelewing Woensdagoggend oor my kom spoel en vind ek my skielik midde-in die lus om op die hoogste gebou in Parow te klim en terwyl die bosduiwe hul prima neste ontvlug, te bassuin “wat gaan hier aan?!”
Wie het die stringe en stringe snert en sinnelose wyshede op die sosiale media uitgedink waarin ons op ’n winsgewende dag soos vadersdag toegesmeer word?
“my pa jy is vir my ‘n steunpilaar; Pa is rotsvas op die aarde; Pa is iemand om na op te kyk of My pa het my die grootste geskenk gegee …” of wat van die streepsakke vol huldeblyke aan die ontslape vaders.
Is dit regtig altyd die waarheid? En is dit altyd regtig nodig?

Ek sit knus tussen die vier mure wat my werkgewer tot my beskikking stel en terwyl daar gedagtes van dankbaarheid en verwesenliking deur my gemoed hardloop, word dit kort-kort deur die werklikheid van ander se lyding gepooitjie; want wanneer ek by die “goudbeslane poorte” van ons veilige hawe uitstap en die “blink koets” gemaklik by die bewaakte en beheinde werf die “wildernis” instuur, dan is dit die werklikheid van ander se lyding wat my stormloop en hartseer maak.

Dink aan die enkelouers, moeders én vaders, wat in die tragiese nostalgie, of moontlik ‘n frustrerende sug van verligting ingedwing word met die sinnelose viering van Moeders-en Vadersdae. En, wat van die kinders wat die een of die ander ouer in hul vormingsjare, hul jeug, aan die dood of lewendig aan ’n nuwe gesin moes afstaan?
As dit ek was, sou ek moontlik vergeet het om my seëninge op hierdie dae te tel en sou ek reeds die verwagte Sondagmiddagbloute met sonopkoms verwelkom het. Ek sou juis vies wou wees omdat niemand ’n werelddag vir my en my lyding wou staanmaak nie.

Elke kwessie of omstandigheid het ’n aanloop of ’n rede, of so sê die slimmense. My eensydige eenvoudige eenogige verklaring vir die sosiale lyding waaronder ons gedruk gaan, is die vaders. Die vaders van die verlede het by hul vaders geleer wat reg en verkeerd en aanvaarbaar of nie was en hulle het op hul beurt by die voorsate met die kieries en die brandwaens en roltabak geleer wat vaders moet wees…en hulle almal was kol-kol verkeerd!

Die nalatenskap van ons vaders, van ons as vaders, is die grondslag vir die lyding wat hul mense vandag en more ervaar. Die stukkende plekke en wonde wat ons sogenaamde manne op die lewe rondom ons laat, die vertrapte aarde beleid wat ons in die verhoudings met ander, die natuur en by uitstek onsself het, maak sommige van ons vaders die leiers op die gebied van lyding.

Kyk ’n slag om, sien die hartseer agter die woede-aanval van ’n onbeskofte motorbestuurder wat skellend en vingerswaaiend sy misnoeë voor sy tienerseun met die wêreld rondom hom uitstort, of sien die behoefte in die stelle ogies wat strak by ’n minibus se venster uitstaar en die kommer wat in die vars gevormde plooie onder ’n verstote vrou se grys oë hang. Ek, jy, ons moet van klip en klei gemaak wees om nie dan saam te ly nie.

“Hulle” sê vandag se vaders het hul eie unieke uitdagings en eise en dat met die verloop van tyd baie dinge verander, maar skrikwekkend genoeg, bly baie tog dieselfde.
Die vaders van die Ou en die Nuwe Bybel volg nie dieselfde “manier van doen nie” – maar hul Vader is dieselfde. Ons Hemelse Vader se grootste enkele invloed op ons lewens is juis omgee en onvoorwaardelik liefde.
Wanneer die materiële en fisiese versorging weggestroop word – wat bly werklik oor?
Wanneer my kinders kan getuig dat “omgee en liefde” staande gebly het, dan was ek meer as net ‘n biologiese bydraer tot die voortplanting, genetiese verdeling en ‘n behoefte versorger; dan is ek ‘n vader.

Titel: Oor vaders en vadersdag
Hennie Fritz

Ou vaders was niemand se mater nie,
ken jou plek en bewaar jou siel;
moenie stry nie, hy’s nie jou kader nie.
‘n Kind word nie gehoor nie – net gesien.
So was dit van melee se dae en
herinnering hieraan is bra trae.

Vandag se vaders laat die akker groei
gee die kind sy sin as gehoorsame ouer, en
slaan geen boudjies om verhoudings te boei.
Dis net stilbly, sluk, gee en skuldgevoel
want werk en verkeer roof sy tyd
so-by-so, dat logiese denke terugstaan vir spyt.

Nee, gee my die vorige geslag-
my Pa kon raas en meer as Oupa ook lag
soms was hy afwesig en soms net te besig,
maar nooit afsydig en sekerlik nooit ledig.
Altyd gereed om my by te staan
selfs al kos dit ‘n arm en meer as soms ’n traan.
Vadersdag kom dalk van die VSA
maar vaderskap, kom van my Pa.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    23 Junie 2016

    Hennie ek staan stil voor hierdie skrywe van jou!!! DIT is mos waaroor vaderskap gaan!!! Puik en dankie vir die deel hiervan

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 119 gaste aanlyn

Bydrae Totale