Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uittreksel uit my roman

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 19 Junie 2019 Aantal woorde: 1394 130 Kere gelees 1

HOOFSTUK 3
Anna lê in haar bed. Die donker vou haar ligaam in maar haar gedagtes is so helder soos die dag. Dit word nie ingeperk deur die swart kamer met sy swaar luike wat veronderstel is om die gevaar buite te hou nie. Nee, sy het die vertrek met sy ewe donker swaar meubels reeds ontsnap.
In haar gedagtes staan sy buite tussen lowergroen koring net voor dit goudryp word. Voor die stroper op sy pad in netjiese rye sy hand kom vee om dit wat groei met die aarde gelyk te maak. Sy is dáár. Daar waar die lag al menige maal vanuit haar maag kon borrel en diep vanuit haar binneste kon bars, waar dit uit haar lippe ontsnap en in dankbaarheid die stilte met innerlike vrolikheid kon verdryf. Daar waar sy pret gehad het wanneer nat voete in die modder weg sink op elke nakoming van God se beloftes soos wat Hy vir hulle sorg. Ja, elke keer, net wanneer die grond dor, warm en dreigend die dood wou voorspel het die wind water uit die wolke aangeja …
Dan het sy en De Wet hulle verlustig in die genade van die Allerhoogste. Deurdrenk met sy gawe het hulle soos kinders in Sy omhelsing van die aarde baljaar.
Dit was dáár. Daar het De Wet haar nader getrek. Die reuk van reën was reeds swaar in die lug en êrens agter hulle het ’n blits deur die wolke geskeur om sy hand met die aarde in ’n knal te skud.
Haar hare het in los swart slierte op die maat van die wind se fluister gedans en haar wit somersrok het parmantig saam flankeer.
Die hele aarde was opgewonde.
De Wet het haar omhels. En toe, sonder waarskuwing op sy een knieg neergesak. Pas afgestudeer, nog byna kind en onervare, maar gevul met die moed van onskuld, hoop en liefde. Met sentiment het hy sy hart aan haar uitgestort:
“Anna,” het hy na haar opgekyk. Sy vuil-bruin vellies en sy vuil, sonbruin bene —sy spiere gebou uit ure se werk en jare se oefen op rugbyvelde het onbeskaamd, amper trots, deur sy hemp en broek gebult. Sy growwe hande het hy met eerlike arbeid verdien. Sy oë … so opreg … so eerlik … so vol hoop …

“Anna, alles wat ek ooit wil hê is nou, op hierdie oomblik híér. Die grond wat nou gaan water drink, die koring op die land, die stroper wat reg staan vir wanneer die koring geelryp is.
“Hierdie is my pa se plaas, en voor hom was dit sy pa se plaas. Ons sweet word al vir geslagte in die grond ingeploeg. Ek swoeg al vandat my bene kon leer loop. My hart is hier vasgegroei. Dit is deel van my asemhaal, hierdie plek. En hierdie plek sal ook binnekort myne word.
“Maar Anna, ’n man met ’n plaas is net ’n man met ’n plaas. Hier, op hierdie plaas, is God. Hierdie is sy belofte aan my as ek dit reg aanwend. As ek nederig op my knieë bly, as ek my oë onafwykend op Hom rig en as my hande hierdie grond bewerk tot Sy eer en volgens Sy wil. Hierdie plaas is ons bedoelde land.
“En dit, Anna, dít wil ek moet jou deel. My grond, my lewe, my passie. Ek wil saam met jou droom en saam met jou plant en saam met jou wil ek ons eie koring groen en jonk en sterk op die land sien staan.
“Smorens wil ek die brood op ons tafel gaan verdien en saans wil ek my moeë kop op jou skoot laat rus. Ek wil die rede wees vir die lag in jou oë, die glimlag op jou mond … Ek wil saam met jou bid en saam met jou smeek en ploeg wanneer die aarde dor en genadeloos is.
“En eendag, wanneer ons self ons goue jare bereik het, wil ek rustig en geduldig saam met jou wag voor die Groot Stroper ons met Sy oestyd kom haal.”
Met sy los hand haal hy ’n swart fluweel boksie uit sy broeksak. Die bietjie aarde wat altyd deel is van sy vingers kleef aan die sagte materiaal. Hy maak die boksie versigtig oop, binne-in ’n eenvoudige pant silwer van die witgoud met ’n ronde diamant, foutloos; helder en ewig; soos hulle liefde.
“Anna, sal jy my vrou wees? Sal jy jou lewe met my deel?”
Daar was nog wind en nog donderweer maar sy het dit nie gehoor nie. Haar hande was in verbasing oor haar mond gevou, reeds nat van die trane wat sonder keer teen haar wange afrol. Soos die druppels uit die lig was dit dankbaarheid en geluk. Tot op daardie uur was dit die mooiste oomblik van haar lewe.

Hy het opgestaan en haar linkerhand gevat, die ring sonder moeite aan haar vinger geglip en haar opgetel. Haar De Wet, met sy ondeunde oë en growwe liggaam. Sy min woorde en sy baie lag. Daardie dag het hy haar toegelaat om tot binne-in sy siel te kyk.
“Ja,” kon sy prewel. Sy omhelsing het haar toegevou en toe begin die eerste druppels val. Hulle het opgekyk en gelag en hy het haar in die rondte gedraai van pure uitbundigheid.
Sy was so verlief … so lief … Hulle drome was so groot … en nou …
Vandag sal sy haar geliefde eggenoot bêre in dieselfde grond wat hy so lief gehad het. Hy sal deel raak van die aarde, nie meer net sy sweet nie, maar ook met sy bloed en sy liggaam. Hier sal hy rus.
Hy was nog nie ryp nie. Sy oestyd was nog ver.
En haar Katrientjie. Haar pragtige engel-kind wat ligvoets kon trippel en wie se borrel-lag elke hoekie van die huis vervul het.
Hoekom? Hoekom? Daar is geen sin daarin nie. Geen rede waarom ’n kind so vermorsel en verniel moet word nie. Wat kan tog die doel wees? Hoe kan enige mens in soveel ongenaakbare wreedheid ’n onskuldige kind tot niet maak? Haar van die aarde vee? Die vrae maal sonder emosie en sonder verstaan in haar kop.
Hoe moet sy aangaan? Hoe moet sy opstaan en leef? Hoe moet sy sterk wees en haar kinders versorg? Steeds ’n ma wees? Kos maak en pleisters plak? Vertroos? Dáár wees … sorg dat haar kinders nie deur haat en bitter gevat word nie.
Wie gaan vir Waldo ’n voorbeeld wees? Wie gaan hom lei? Wie gaan hom die dinge van ’n man leer? Wie gaan Stella se kêrel bang maak met die haelgeweer en onmenslike jagstories? Haar leer wat ware liefde is? Sy wil wreek maar sy het nie die krag nie. Sy kan nie huil nie want haar trane is reeds op. Hierdie plaas het haar alles gegee. Maar hierdie plaas het haar alles gevat.
As sy hulle kry sal sy hulle skiet. Morsdood. Sonder om daaroor te dink. Sonder om te wonder. Sy sal mik en sy sal die sneller saggies druk. Saggies. Soos wat haar pa haar geleer het toe sy nog ’n klein dogtertjie was. Sy sal koelbloedig en koud wees. Netjies. Foutloos. Tussen twee kaste wit agter twee donker-swart oë sal die gat van die koeël deurbrand.

Sy weet selfs die gedagte aan moord is sonde, maar binne-in haar is iets dood. Sy dink dit het saam met De Wet gesterf. Dit is saam met sy lewe uit haar uit gemartel. En vandag sal dit saam met hom deel raak van die grond. Haar grond.
Sy sal geen ander hier duld nie. Hulle sal haar man nie verder hier onteer en verneder nie. Hulle sal nie ’n bespotting van sy lewe, sy beroep of sy laaste offer maak nie. Hulle sal nie ’n bespotting maak van sy ideale, drome en liefde nie. En hulle sal veral nie ’n besprotting maak van sy godsdiens en van sy God nie.
Sy is Anna Uys. Haar siel het hier lank reeds wortel geskied. Die sout van haar sweet is al tot op die uithoeke van hierdie plaas bewerk en het die grond bevrug. Haar trane het die lande natgelei en die reën nader gesoebat. Alles wat sy het; alles wat sy is. Sy het die prys betaal. Solank as die wind asem in haar longe waai sal sy hier bly, en selfs daarna wanneer sy ook een word met die grond.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Toom

    20 Junie 2019

    Baie mooi!
    Vir iemand wat nie veel praat nie, het hy wragtig ‘n hele lading losgelaat! Vind ek goed, passend.
    Mag ek ‘n wenk gee?
    Ek gebruik ook die drie puntjies (bv om ,ensovoort’ aan te dui) en het ontdek dat die drie bymekaar: … IN DRUK anders uitsien as uitmekaar: . . .
    Die eerstes lyk op ‘n manier meer bekrompe (?) as laasteres.
    Vind ek.
    Dit het niks met die kwaliteit van die verhaal te doen nie.
    Díe is goed. Ek sou dit graag wil lees. Gaan jy dit kapittel-vir-kapittel op ink plaas?
    Gv T

  2. Johnell

    20 Junie 2019

    Baie dankie vir die terugvoer en die raad. Ek sal dit beslis toepas.
    Hierdie is reeds die Hoofstuk 3, en het dit slegs geplaas op versoek. Ek beplan om die roman te voltooi en dit dan uit te gee.

    Groete

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 21
Kommentaar telling: 7

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 47 gaste aanlyn

Bydrae Totale