Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uittreksel uit Juweel van die Oosgrens

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 16 November 2020 Aantal woorde: 3950 118 Kere gelees 1

Kaalgestroop.

“Celeste, jy is uiteindelik hier!” roep Fleur opgewonde uit, haar Franse aksent nog net so duidelik. Haar niggie se opgewondenheid is ʼn lafenis vir die somberheid wat vir lank Celeste se metgesel was. Selfs die stof doen ʼn rieldans om haar voete om by te hou met haar vrolikheid.

Afstand en omstandighede is die grootste redes vir die 10-jaar lange skeiding, maar die oomblik toe Celeste uitreik na haar enigste oorblywende familielid in die Graham’s Town omgewing, was die antwoord ʼn joviale ja.

Die laatmiddagson se hitte het so bietjie getaan na nog ʼn dag van hittige intensiteit. Die eensaamheid het verder bygedra en daar was tye wat Celeste verlore gevoel het. Indien dit nie was vir die bystand van die twee mans nie, sou sy heel moontlik ʼn einde aan als gemaak het.

Die tog vanuit Addo Drift tot in die Zuurveld was vermoeiend en gespanne. Sy was moeg, vuil en lus vir ʼn sagte bed. Die onrustigheid in die area het ook sy tol geëis. Deur die onherbergsame wildernis moes hulle permanent op die uitkyk wees vir die berugte Xhosa magte en wild. As wit vrou was sy heeltemal afhanklik van die beskerming van die drywer en voorloper. Alhoewel sy hulle vertrou het, was slaap min.

Waar dit moontlik was, het sy geloop om die eentonigheid te breek en soms perdgery wanneer sy verkenning moes doen. Hulle was altyd op hul hoede vir enige vyandigheid wat mens en dier ingehou het.

Die Oosgrens se skilderagtige natuurskoon het skuiling gebied aan verskeie roofdiere waarvan die tweevoetige soort die wreedste is. Hulle kon net nie hul waaksaamheid verslap nie en was slaap ʼn luukse. Haar lyf was nie meer die lang togte gewoond nie en sy het dit deeglik gevoel.

Bo-op die kop het sy die plaashuis beskou met hernude krag. Die plaas het soos ʼn oase hulle nadergewink en die laaste paar myl is haastig afgelê. Selfs die osse was haastig om die groenigheid en koelte te bereik.

Toe hulle die werf inkom, lei die drywer die osse behendig onder die koelte van die bome in. Dit al klaar is ʼn hemelse gevoel. Die osse se vrolike gebulk en gemaal vul die lug en hulle skop behoorlik stof op wat neerdaal in ʼn swierige warrelwind voor dit tot ruste kom op mens en dier.

Bly om uiteindelik ʼn bekende gesig te sien, bondel Celeste haar romp om haar enkels en spring af, haar gehawende velskoene duidelik sigbaar.

“Welkom op Môregloed, liewe nig.” Met stram bene kom Celeste op die grond te lande en probeer haar moeë spiere strek. Kans vir strek is egter min soos wat sy in ʼn liefderike druk vasgepen word. Die reuk van varsgebakte brood wat aan Fleur hang laat haar onmiddellik ontspan. Met ʼn klapsoen word sy nader getrek en Celeste lag verleë.

“Dankie Fleur, hoe gaan dit met julle?”

“Goed, goed. Kom in, jy moet uitgeput wees. Die koffie is hoeka al gereed.” En saam swaai hulle in die rigting van die huis.

Die vreugde om weer familie te sien maak al die heimweë wakker … heimweë na haar ouers, die dinge wat was voor haar lewe dramaties verander het. Die eensaamheid rol van haar af ten spyte van haar lyf se seer. Dit is ʼn goeie seer wat haar opnuut laat besef dat sy lewe – ʼn dankbaarheid wat haar gemoed lig, ʼn gevoel wat vir baie lank weggesluit was.

Op die drie-dae reis het sy baie tyd tot nadenke gehad. Daar was tye wat haar swartgalligheid haar wou aftrek tot in die donker dieptes in. Dan was daar tye waar selfs die hitte nie haar gevoel van afwagting kon demp nie. Die natuur se helende aanraking het wondere vir haar gedoen. Dit was net God se genade wat haar kon bring tot hier.

“Ek is bly om hier te wees. Dit was ʼn lang reis, maar die moeite werd. Dit het my kans gegee om die land se skoonheid te geniet,” benadruk sy haar gedagtes.

“C’est vrai, ons het ʼn mooi land,” stem Fleur saam. “Ek self was lanklaas weg van die huis af, maar net om hier rond te stap gee my opnuut waardering vir die pragtige natuurskoon om my. Ons is werklik geseënd hier.”

Met die stap na die voordeur bekyk Celeste die werf met verwondering. Die naam van die plaas is beslis ʼn toepaslike keuse. Hier sal sy weer heel kan word.

In die agt jaar wat Fleur en haar man hier woon, het hulle wonders verrig. Vanuit die gereelde briewe wat sy ontvang het, weet Celeste dat hulle feitlik met niks begin het nie en met baie harde werk het hulle die plek in ʼn lushof verander. Die area se vrugbaarheid het bygedra tot hul sukses en die opbrengste is beslis goed.

Met haar eerste blik op die Hollandse gewelhuis het haar asem amper weggeslaan. Jaloesie wou sy groenkloue kom inslaan, maar sy het die gevoel vinnig onderdruk toe haar nig haar weereens omhels het. Sy gun dit vir Fleur.

Reeds met die intrek by die werf het Celeste die huis gadegeslaan. Alhoewel klein, soos die meeste huise in die area, skep dit ʼn lafenis vir die vermoeiende siel. Die witgekalkte huis met sy groen houtluike en stoep is afgerond met ʼn pienk bougainvillea wat in volle blom is. Dit lok jou vriendelik nader na die koele rustigheid. Riempiesbanke met klein sytafeltjies staan gereed vir die besoekers. Terselfdertyd kan die lieflike tuin geniet word. Roosbome in volle blom vul die netjiese beddings met kleure van pienk en wit wat die stoep omring in baldadigheid. Kleinerige bome, duidelik nog nie uitgegroei nie, omraam die tuin. Die plaas is in ʼn goeie toestand en selfs die buitegeboue komplimenteer die hoofhuis. Dit is so anders as waaraan sy gewoond was.

Kinderstemme vanaf die kraal verbreek die stilte en onmiddellik verbly dit Celeste se hart. Die kinders was een van die redes waarom sy die aanbod aanvaar het. Sy sien baie daarna uit om die twee seuns waarvan Fleur so baie in haar briewe van gepraat het, te ontmoet. Kort na haar en Aldert se huwelik is hulle vort en sedertdien het die familie uitgebrei. Met nog een op pad is hulle duidelik ook nog nie klaar nie. Weer wil die jaloesie-duiwel haar vreugde kom steel, maar sy onderdruk die gevoel blitsvinnig. Hoe dan anders, dink sy, Fleur gloei van geluk en vreugde. Haar helder blou oë verklap dit. Die blonde krulle word getem deur ʼn lae bolla, maar dit verhinder nie die ongetemde krulle om speels rond te fladder soos sy beweeg en opgewonde gesels nie. Fleur was nog altyd ʼn pragtige vrou. Sy onthou hoe die jong mans in rye gestaan het vir haar hand, maar uiteindelik het ʼn jong boer haar hart vermurwe. Die huwelikslewe pas haar beslis goed.

“Dit is so lank gelede dat ek jou gesien het,” sê Celeste met ʼn sagte stem om haar gedagtes terug te bring na die hede.
“Hoe gaan dit met Aldert en die seuns?”

“Dit gaan goed met hulle. Aldert is op patrollie en sal eers oor twee dae weer terug wees.”

Celeste kan sweer sy sien verlange sowel as vrees in die blou dieptes. Alhoewel hierdie land enige avontuurlike persoon se droom is, word hulle voortdurend gekonfronteer met vegtende stamme. Die Xhosa-oorlog van drie jaar gelede is nog duidelik in almal se geheue vasgevang. Met die nuwe militêre basis in Addo behoort daar ʼn bietjie meer hulp te wees. Hóé doeltreffend dit is, sal hulle nog moet sien. Darius het niks van dié nuwe verwikkelinge gehou nie. Inteendeel, hy was baie gekant daarteen. Met ʼn ophaal van die skouers onderdruk sy haar gedagtes.

Baie van die Khoi- en Xhosamense wat saam met die boere werk is vreedsaam, maar soos dit gaan met diversiteite, nooi die toestroming van mense ʼn paar moeilikheidmakers saam wat die boere en die goedgunstige stamme wil uitroei. Diefstal is aan die orde van die dag en die grense moet deurlopend gepatrolleer word. Dit neem die boere weg van hul huise vir weke op ʼn slag, wat die vroue weerloos laat. Alhoewel die plase ver van mekaar is, is die gemeenskap nou saamgebind en werk hulle saam om ʼn beter wêreld vir die toekomstige geslagte te bou.

“Ek gaan gou vir Jacob roep om na jou mense om te sien. Het julle enige probleme op die pad gehad?”

“Nee, gelukkig nie. Abe het mooi gekyk en Isaac was baie betroubaar.”

Die twee niggies stap die koelte van die huis binne en Celeste kyk waarderend om haar rond. Die houtvloer is blink gepoets. Sy kyk na haar stowwerige voete wat sy by die deur probeer afskud, sonder goeie sukses. Sy voel dadelik ongemaklik.

“Kan ek net eers opwas, s’il vous plait.” Stof kleef aan elke deel van haar lyf, maar net om hande te was sal al klaar ʼn groot verligting wees. Stilweg haal sy die stowwerige kappie af. Haar donker hare voel klewerig en taai teen haar nek. Om dit te kan los maak sal ʼn verligting wees, dink sy stilweg.

“Où sont mes voies?” Fleur slaan haar hande saam: “Natuurlik, waar is my maniere. Kom ek gaan wys jou,” roep sy laggend uit. “Vergewe my my ongasvryheid. Ek het so uitgesien om jou weer te sien. Die tien jaar was hopeloos te lank.”

Celeste lag verlig. Fleur is presies soos wat sy haar onthou. Sy is vol lewe en geluk wat oorborrel en als verander om haar. In haar teenwoordigheid kan jy nie depressief bly nie. Dit is net nie moontlik nie. Sy het haar werklik baie gemis.

“C’est bien. Ek gaan jou wys waar jy jou goedjies kan uitpak, dan bring ek vir jou ʼn beker koffie en berei vir jou ʼn bad voor. Ek is seker jy wil die stof van die lang pad afwas, droit, en dan kan ons gaan aansit vir ʼn heerlike maaltyd.” Haar rok fladder om haar soos sy gesels en Celeste sug verlig.
“Mon Cœur, dit klink baie goed.” Met haar hand teen haar bors is haar dankbaarheid sigbaar. “Dankie dat ek hier kan kom bly. Dit beteken die wêreld vir my.”

“Jy is altyd welkom, Cœur. Ek het Pappa belowe dat ek na jou sal kyk. Dit is vir my net so ʼn voorreg. Om die waarheid te sê,” en skielik praat sy agter haar hand asof iemand haar afluister, haar oë glinsterend, “dit is meer uit selfsugtigheid dat ek jou hier het. Vroue in hierdie area is ʼn skaarste. Baie is nog bang om te kom weens die aanhoudende aanvalle van die inboorlinge.” En weer vat sy Celeste om die lyf. “Ek mis vrouegeselskap en die kleingoed sien vreeslik uit na jou kuier. So sien, ons is albei daar om mekaar te help.”

Hulle stap die songevulde sitkamer binne en die geelhoutvloer skitter in die laatmiddag son. Celeste weet sommer, naas die stoep, gaan dit haar gunsteling vertrek wees. Groot stewige houtmeubels vul die vertrek met die geur van politoer en houtolie, treffend van die huisvrou se sorgsaamheid. Geborduurde kussings en geblomde gordyne versag die hout en gee dit ʼn egte vroulike afwerking. Dit lyk uitnodigend en gesellig. ʼn Bos rose in ʼn kristal-vaas rond die prentjie af.

Ingenome volg sy Fleur deur die huis. Die skemer gang lei hulle verby twee deure. By die derde deur maak Fleur dit oop en Celeste volg haar. Binne is die geelhoutvloere blink gevryf en die reuk van politoer oorweldig haar. Dadelik stap Fleur na die venster en maak dit groot oop. Die politoer vermeng met die lug en ʼn skoon sitrusgeur verfris haar sintuie. ʼn Groot bed neem ʼn groot gedeelte van die kamer in beslag, met klein handgemaakte tafeltjies aan beide kante. Op elk is ʼn pragtige lamp reg vir gebruik en vars linne rond die prentjie af. ʼn Lang spieël langs die venster weerkaats ʼn moeë vrou in haar twintigs terug. Die swart rok hang soos ʼn sak aan haar benerige lyf. Die beeld lyk verwaarloos, stowwerig en gekreukel met hare wat smeek vir aandag. Vinnig draai sy weg na die oop venster. Die pragtige uitsig op die grysblou berge in die verte is ʼn koel lafenis vir ʼn moeë siel.

Hoe wonderlik is dit om in ʼn huis welkom te voel, dink sy moeg. Die afgelope twee jaar het sy ʼn bitter eensame vrou geword. Die vrou in die spieël is ʼn skokkende teenstelling van die nuwe omgewing. Wanneer het ek so oud geword?

“Fleur, dit is ʼn lieflike kamer,” uiter sy in verwondering. Net om asem te haal laat haar vry voel.

“Dit was glad nie moeite nie. Dit het my ʼn verskoning gegee om iets met die kamer te doen toe jy instem om te kom. Kom ek wys jou die res van die huis, dan kan jy jouself gemaklik maak.”

Die kamer oorkant hare behoort aan die kinders. Dit is tipies van twee seuns wat daarin woon. ʼn Kettie hang oor die deurknop; ʼn paar insekte in bottels staan op ʼn houtlaaikas en spierwit dolosse lê in ʼn mandjie. Op die geweefde matjie lê ʼn paar tekeninge, kinderhandjies duidelik sigbaar op die lei. Miniatuur bruin baadjies hang aan die hoek teen die muur en klein velskoene staan netjies teen die muur. Bont gehekelde komberse lê oor die voetenend van elke bed. Net soos die res van die huis spreek die vertrek van liefde. In die gang af hoor hulle ʼn geskarrel en stemme en Fleur draai terstond om.

“Die seuns is al klaar in die kombuis, reg om te eet, Cœur. Ek gaan hulle gou versorg voordat hulle weer moet uit vir melktyd.” Fleur se stem verander na dié van ʼn trotse moeder. “Sonder hulle sou die alleenheid baie dae ondraaglik gewees het,” fluister sy sag. “Hulle neem al die pligte op hulle, veral as Aldert op patrollie is. Hulle glo hulle is die manne in die huis wanneer hy weg is. Hulle is ons trots en vreugde.”

Celeste volg Fleur die gang af. “En die kleintjie wat jy dra, hoe ver is jy?”

Fleur streel oor haar maag en antwoord met teerheid in haar stem. “Een van die dae. Ek hoop dit is ʼn dogtertjie.”

ʼn Erge verlange kruip deur Celeste se gemoed. Om kinders van haar eie te kan hê, ʼn huis te skep en hulle alles te leer wat sy weet, is haar grootste begeerte. Hartseer vul haar gedagtes en sy wonder vir die soveelste keer watter man ooit weer na haar sal kyk. Darius het haar van haar vrouwees ontneem en koud en bitter agtergelaat. Die vernedering het haar leeg gelaat. Hy het alle hoop op ʼn mooi huwelikslewe in haar vernietig.

“Eendag sal jy weer gelukkig wees, Cœur. Ek weet nie wat daardie man aan jou gedoen het nie, maar weet net dat nie alle mans so is nie. Jy sal miskien vroeër geluk vind as wat jy dink.”

“Ek dink nie ek sal ooit weer trou nie.” Die bitterheid is duidelik hoorbaar in Celeste se stem. “Hy het my verneder en mishandel. Wat kan ek vir iemand gee?”

“Jouself. Jy het soveel om aan enige man te bied, Chéri.”

Fleur se sagtheid dring haar gemoed binne. Haar opregtheid is ʼn salwing, maar vir nou is sy net nie reg om dit te glo nie. Hulle haak bymekaar in en stap terug na haar kamer.

In die hoek staan haar karige besittings. Die kontras is so opmerklik dat Celeste ʼn traan wegpink. Sy het niks van Darius saamgebring nie. Sy wil niks hê wat haar aan hom of die mislukte huwelik herinner nie. Al wat sy het is dit wat sy van haar ouers ontvang het. ʼn Skommelstoel wat sy voor die venster wil plaas, haar pa se dokterstas, haar ma se naaldwerkstel en ʼn paar lakens. Net een trommel het klere en snuisterye in. Sy weet sommer dat dit verlore sal lyk in die swaar houtkas. Die klere waarmee sy in die huwelik gegaan het, is waarmee sy uitgekom het.

ʼn Sinkbad, staangemaak op ʼn grasmat, wag reeds vir haar en tevrede draai sy na Fleur. “Ek gaan jou los sodat jy kan opknap, dan gaan sien ek gou om na die seuns. Wees rustig en geniet die bad.”

“Dankie, Fleur. Ek voel sommer al klaar weer nuut.”

“Ek wil hê jy moet meer as nuut voel, Cœur. Jy moet weet dat jy geliefd is en waardevol is soos die goeie boek vertel. Jy is hier om volkome te herstel en ʼn nuwe lewe te begin, ver groter as wat jy tot dusver geken of beleef het.” Met ʼn klapsoen op Celeste se wang verlaat Fleur die kamer en trek die deur agter haar toe.

ʼn Rustige stilte daal oor Celeste neer en sy sluit haar oë. Die oomblik is so groot dat sy dit net wil indrink. Dié nuwe wêreld is so anders as waar sy was. Sy fokus in op die geluide om haar. ʼn Voël tjirp naby haar kamer en die geluid van sonbesies vorm ʼn mooi agtergrond. Verder weg blêr ʼn skaap, opgevolg deur ʼn haan se kraai. ʼn Hen kekkel baldadig, ʼn hond blaf. Sy luister na die gebulk van die osse soos hulle weggelei word en Abe se stem soos hy hulle aanjaag. Alles vorm ʼn harmonie in die stilte … ʼn tasbare genesing vir haar siel en gees; presies net wat sy nodig het. Dan dink sy weer aan Fleur se woorde en onwillekeurig roer iets diep binne haar. ʼn Verwagting neem plek van die swartgalligheid. Die roering so stil, so eenvoudig, dat sy nie anders kan as om te glimlag nie.

Vinnig pak sy haar skamele klere uit en sit alles weg. Haar pistool en geweer los sy in die trommel en sluit dit deeglik toe. Die sleutel hang sy weer terug om haar nek.

Later, na die warm en verfrissende bad, staan sy voor die spieël met die gordyne styf toegetrek. Om die skemerte te breek het sy die lampe aangesteek om na haarself te kyk. Die beeld wat na haar terug staar ontstel haar. Met vinnige hale bedek sy haarself met haar lang hare. Dit val in sagte krulle oor haar skouers en verberg haar geraamte. Haar middel is klein, haar eens vol heupe benerig. Net haar borste is nog ferm, maar rosyntjie grootte. Haar lang bene is goed gedefinieër, maar dun. Alles tekens van ondervoeding. Sy was slegs een bord kos per dag toegelaat; en dan ook skamelend. Die volk het hulle oor haar ontferm en hul kos met haar gedeel. Almal op die plaas het geweet wat aangaan in die huis. Die beste kos was net vir hom en sy houvrou gehou. Die volk het hom verag.

Wie sal ooit in dít belangstel, wonder sy wrang. Afsku veroorsaak bitter gal in haar mond en met ʼn veeg van die hand vee sy ʼn verdwaalde traan weg. Toe die stemmetjie haar wil verseker van haar skoonheid, onderdruk sy dit summier. Darius se stem fladder deur die lug, ʼn venynige sweepslag wat haar sprakeloos gelaat het. Sy beleef weer sy weersin, die afkeur in sy grou kykers op hul eerste nag saam. Die klik van die deur toe hy haar kamer verlaat en die skril lag van sy houvrou. Daardie klik was soos ʼn bliksemstraal wat deur die vertrek geklief het, die verwerping ferm gemessel in haar binneste. Die daaropvolgende teistering en vernedering laat haar inmekaar smelt en sy knyp haar oë toe, wil die beeld uit haar kop dryf. Met driftige hale borsel sy al die koeke uit haar hare tot haar kopvel skreeu van pyn voor sy dit los om droog te word.

Daar is min vrouens wat daarop kan roem dat hulle nog ʼn maagd is na twee jaar se huwelik, iets waaroor sy baie dankbaar is. Sy aanraking was nie liefdevol en sag nie. Die vuis en tong se hale het haar onskuld vertrap. Dit het haar van haar onskuld ontneem, haar lyf ʼn ope kaart van sy geweld. Haar vel weerspieël die lang, uitmergelende tye op die landerye.

Ten spyte van die hitte is sy dankbaar vir die klere wat elke duim van haar bedek; haar skuiling teen die nuuskierigheid en ʼn skans teen haar opmerksame niggie se vraende oë. Van die oomblik wat sy daar aangekom het, het Fleur se deurdringende kykers haar met medelye betrag. Dit was simpatie wat sy nie wou hê nie, dit sal haar sag maak. Sy moet opstaan en simpatie gaan dit nie doen nie. Sy het lank genoeg weggekruip agter haar vernedering.

Daardie vernedering was vererger deur sy openlike keuses. Sy was die slaaf in die huis. Alhoewel sy wettig sy vrou was, was sy gelyk aan die werkers op die plaas. Haar taak was vermoeilik deur die langdurige blootstelling van mishandeling deur sy houvrou.

Om te ontvlug het sy meer tyd op die lande deurgebring waar die volk haar alles geleer het omtrent die boerdery. Hulle was haar familie en sy het vir hulle gesorg soos ʼn moeder vir haar kinders. Op die dag van sy dood het sy die brief aan Fleur gestuur en binne ʼn week het sy die antwoord gekry om te kom. Daardie selfde dag was haar paar besittings gepak en die osse gespan.

As ʼn laaste afskeidsgroet het sy die plaashuis aan die brand gesteek. Alles wat aan Darius behoort het, is verbrand. Vuur was haar vertroosting en genesing. Abe en Isaac het aangedring om saam met haar te kom en onwillekeurig het sy ingestem, iets waaroor sy eintlik baie bly was. Hulle bystand het gehelp op die lang roete.

Elke aand het die twee werkers gesorg dat die kampplek veilig ingerig was en die kos voorberei. Die kos het meestal bestaan uit klein wild wat hulle deur die dag gevang het, met brood wat hulle saamgebring het.

Liewe Mara … sonder haar sou sy dit nooit kon maak nie. Sy sal die vrou mis. Mara en die res van die volk het besluit om terug te gaan na Kaap de Goede Hoop. Werk was meer volop daar as op die grens. Met groot hartseer het sy hulle gegroet en gekyk hoe hulle met die ander wa vort is.

Die afgebrande huis was die enigste getuie dat daar mense geleef het. Drie vars grafte onder die boom het sy eie storie vertel. ʼn Storie wat nooit oorvertel sou word nie, die bitterheid daarvan soos aalwynsap wat jy liefs vermy. Sy het op die wa geklim en Abe opdrag gegee om te loop. Die sweep in Abe se hand was behendig geklap terwyl sy fluit die lug deurklief het; en die osse het stadig aan die beweeg gekom. Celeste het nie weer terug gekyk nie.

Met die mediese kennis wat Celeste onder haar pa se wakende oog geleer het, was sy reg vir ʼn nuwe lewe. Hier op die grens kan sy ʼn verskil maak en haar studies sal nuttig te pas kom. Sy was ook goed met ʼn musket en pistool, daarom was sy nie bang om alleen te kom nie. Van haar ma het sy geleer om te bak, waarvoor sy bekend was.

Liewe Mamma en Pappa, ek mis julle geweldig. Sy het so baie by hulle geleer, selfs om te lees en te skryf, iets waarop sy baie trots is. Sy mis haar ouers, hul liefde vir mekaar, die verhale van die land van herkoms asook hul wysheid en vertroosting. Sy is egter dankbaar dat hulle nie meer daar was om die verbrokkeling van haar menswees gade te slaan nie.

Na beide se afsterwe het Darius op die toneel verskyn. Agterna het dit baie vrae by haar gelaat. Die antwoorde is saam met hom graf toe en al wat sy kan doen is om van vooraf te begin.

Toe sy uitvind van die uitstaande skuld op haar pa se plaas, was sy gedwing om te verkoop. Darius het haar ʼn huweliksaanbod gemaak en sy het dit aanvaar. Sy wou ʼn dak oor haar kop hê en hy wou ʼn vrou hê. Dit was ʼn huwelikstransaksie wat erg skeefgeloop het.

Trou was nie deel van haar toekomsplanne nie. Indien wel, sal dit vir liefde wees en nie vir gemak nie. Dit is ʼn belofte aan haarself.

Juweel van die Ooskaap is nou beskikbaar direk by die skrywer: lynelle@kreativcollectiv.com




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Amanda

    17 November 2020

    pragstuk, lekker ligte leessof

  2. Amanda

    17 November 2020

    pragstuk, lekker ligte leesstof

  3. Lynelle

    17 November 2020

    Baie dankie Amanda.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 75
Kommentaar telling: 19

Ek is 'n voltydse skrywer, blogger en help graag om ander se droom te verwesenlik. Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer, daarna het nog boeke gevolg. Ek hou nie daarvan om myself te beperk tot een genre nie, en skryf oor als wat my interesseer. Ek skryf meestal in Engels maar geniet ook om myself in Afrikaans uit te druk. Boeke uit my pen is 1. A Pirate's Wife, geskiedkundige romanse. 2. Bella's Choice, eietydse roman. 3. Blood Mines, toekomstige spanningsverhaal. 4. GedagteKringe, 'n Afrikaanse Bundel, gevul met artikels, korts stories en staaltjies uit my lewe. 5. Juweel van die Oosgrens sal eersdaags beskikbaar wees en is 'n historiese roman. 6. Love at War wat vroeg volgende jaar beskikbaar sal wees is 'n geestelike drama wat handel oor keuses en die nagevolge van die keuses. Ek het ook help skryf aan Worthy to be Loved - 'n Geestelike dagstuk boek saam met Driekie Grobler, Spore van Genade - 'n Liefdadigheidsprojek saam met Alta van Zyl en Kontreistories - in samewerking met SA Skrywers en Elsabe de Beer. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Om ander te help is vir my 'n voorreg en het ook Wordplay Writer's Community gestig waar skrywers die geleentheid het om hul werk te wys en vir hul liggaam, siel en gees ook sorg. Ek is 'n opgeleide lewensgids wat mense help op hul kreatiwiteit te ontdek en uit te leef. Om meer van my te leer besoek gerus my webwerf kreativcollectiv.com.  

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 78 gaste aanlyn

Bydrae Totale