Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uitslae September 2019 – VERPLASINGS projek

Deur Anze
Datum gepubliseer: 12 Desember 2019 Aantal woorde: 4147 151 Kere gelees Hou van

INK SEPTEMBER 2019 UITSLAE  & KOMMENTAAR

Die lede het glad nie die opdrag verstaan of nagekom nie en ek merk dat hulle baie gesukkel het. Lees deur al die kommentare om mooi te kan verstaan waaroor VERPLASING gaan asb.

Om dit eenvoudig te verduidelik: jy praat asof iets of iemand en doen nie as ‘n buitestaander daaroor verslag nie.

‘n Voorbeeld:

“Ek is mier,
en mier-wees is nie maklik nie –
as die korrels kielie
die opening uit
en die werkers in met buit
die dole en gange…”
M.a.w. die skrywer plaas hom/haarself in die skoene (omstandighede) van die karakter.

GEDIGTE:
GOUD:
WENNER: No. 17 – Carma Shaw met My naam is Eva
2 DE: No. 18 – Anzé Bezuidenhout met Ék is ‘n skarlakenvrou

SILWER:
WENNER: No. 19 – Loretta Szikra met Waar die hotnotsvye blom
2 DE: Geen
3 DE: Geen

BRONS:
WENNER: No. 13 – Francois Meyer met Maria Magdelena
2 DE: No. 10 – Charles Skeen (Teárlach) met Lente by die see
3 DE: No. 6 en No. 9 – Gerda- Marié van Rooyen met Die boksvrou EN Suzette Strydom (Palet) met ‘n Verkwikkende ondervinding

GORREL: WENNER: Geen

RUBRIEKE: WENNER: Geen

ARTIKELS: WENNER: Geen

VERHALE:
WENNER: No. 2 – Andries Fourie (Seirdna) met Koue sweet
2 DE: No. 3 – Riaan Palmer met Tannie Sakkie Pampoene
3 DE: No. 6 – Gerda-Marié van Rooyen met Pastoriekind

Baie geluk aan hierdie 9 lede!!
Inkmoderator

KOMMENTAAR

1.Flamink pienk

Na die kaal koue winter
het die bloeisels aan die boom
soos die hemel gelyk
ek kon net nie ophou daarna kyk

Vir lank het ek net daar gestaan
dit is die mooiste mooi
ek’t my asem diep ingetrek
gevoel hoe die sonlig warm oor my hart vlek

Toe pluk ek ‘n takkie
met een bloeisel aan
hou dit styf in my hand vas
terwyl ek soos ‘n eenbeen flamink rond’dans

Ek dink jy moet weer na die opdrag gaan kyk. In die styl van ‘n verplasing lees die opdrag. Jy het nie daaraan gehoor gegee nie. Verder, jou beelde in die vers is direk en glad nie suggestief soos die opdrag dit van jou verlang nie.

Lees gerus weer die opdrag.

2.Droogte en reën

Drooggeteisterde plaasvoorman

hier lê ou Lanie Louw
met sy sorry suur gesig
heel stoksielalleen
toe dit skielik begin reen

uit moedverloor se vlakte
gryp sy drome weer na lug
die winde van verandering
stuur hom op ‘n vêr vêr vlug

stof skuif op
vir ‘n druppel of ‘n drop
droog was die aarde
dof was die kop

gewoond aan die sonskyn,
skaars kos en goedkoop wyn,
wys ou Lanie Louw se trane
die vreugde en die pyn

Verplasing in digkuns beteken, om namens iemand anders te praat en nie nét oor daardie persoon nie. Jy het ook gestruikel met suggestie wat iets indirek oordra, maw, metafories.

Die aanvangsin in jou gedig verwar my. Is dit ‘n sub-titel of is dit deel van die gedig?

Jy het wel geslaag om op plekke van halfrym gebruik te maak.

3.Die Touloper

Elke tree wat hy gee
verbreed die verby,
verhaas die bestel,
wyl die afgrond bly

As sy voet gly
en hy bo kan bly,
sal hy weer glo
hy maak dit daarbo

Met spiere gespan,
bewus van benede,
bevry hy sy gemoed
met gewyde gebede

As sy voet rus,
word hy bewus,
van sy talent en sy gawe
en sy Heer se genade

Jy maak deurgaans gebruik van gebroke rym in jou vers en nie halfrym soos die opdrag vereis nie.
Jy het ook nie die ten volle gehoor gegee aan verplasing nie. Om dit eenvoudig te verduidelik: jy praat asof iets of iemand en doen nie as ‘n buitestaander daaroor verslag nie.

4.Weskus skildery

klanke van see voëls oor die water
weergalm oor duineveld en fynbos
golwe wat breek in eie dreunsang
kwitter en kwakker van wit skuim
wat in lug op trek en barsend vlieg
musiek van die strand en blou see

eeue ou melodie van die skepping
wat was, weer word en gaan wees
spesies kom en gaan steeds verby
mense kom in geslagte en sterf af
duine gevorm en spoel weer weg
op my duin is daar nou nog plek

veldblomme ontpop in kleure mat
geel, oranje, wit en pers geverfde
gelapte komberse wat oor heuwels
strek en soos strepe van verfkwas
vlaktes optower in skilder tonele
wat verskyn en dan weer verdwyn

Jy het nie die ten volle gehoor gegee aan verplasing nie. Om dit eenvoudig te verduidelik: jy praat asof iets of iemand en doen nie as ‘n buitestaander daaroor verslag nie.

Jy het genoegsaam aandag geskenk aan die halfrym opdrag.

Jou vers het baie potensiaal nietemin.

5.Buite seisoen

uitgelate baljaar strandlopertjies
hulle voetjies byna onsigbaar in beweging
vir ongeoefende oog soms net ‘n wit streep
wat al langs die water some paradeer

vanuit my nes op die duine sitplek
beskou ek die blou see wat witpunte lewe
in stewige suid-ooster wat alles wil wegvee
my meeue vriende skeer laag oor en weer

eenkant op ‘n rots sit swartwang albatrosse
met twee wilde eende wat sit en honkend roep
oor die gladde strand stap daar mense buite seisoen
wat voel – voel die weskus water wil beleef

Jy as narrator (skrywer) beskryf die omgewing. Dit is nie verplasing nie. Die opdrag lees dat jy jouself in die skoene van ‘n ander sit. Jy moet deur ‘n ander praat.
Dit lyk of meeste deelnemers met hierdie konsep klei getrap het.
Jy het amper daarin geslaag. Sou jy die verteller as iemand anders geïdentifiseer het sou jou vers 100% korrek gewees het.

Jy het genoegsaam aan die halfrym opdrag gehoor gegee.

6. ’n Verkwikkende ondervinding

Bome bot blomme blom
lente het gekom
oral staan groen gras
uit ‘n dik stoflaag op

Selfs die voëls fluit
met ‘n vrolike fees geluid
lente vou oop soos ‘n nuwe droom
winter-ys gly af van elke boom

Soos toorverf uit die natuur se kwas
skilder hy weer alles prentjiemooi
dit is die allermooiste skildery
vir jou en my

Waar die son koper-geel
op elke nuwe blaar kom lê
wat jou menswees laat borrel
dit is die liefdes en vreugdes,
wat elke moeë siel weer heel

Jy het nie die opdrag van verplasing baasgeraak nie.
Jy het wel genoegsaam aandag gegee aan halfrym.

9.Die boksvrou

Vir Yolandi

Bykans almal skop, skiet en steel
Stokkiesdraai slingergooi Suid-Afrika
Niks orde of wet, bloed is wat ons het
Misdaad hoog, damme droog

Maar jy kom verdryf die donker
sonstraal wat in ons choas flonker
Dankseggingfees en skoendoospresente
Jy giet reën ondanks doemresensente

Jou hart vir ander klop warm
Jy gee jou been en jou arm
Wyk woeste warm wildernis
Laat tog ‘n ander erfenis

Jy het amper daarin geslaag om die opdrag van verplasing baas te raak. In die geval van verplasing, vertel die skrywer nie nét iemand se storie nie, maar word die karakter in die storie.
M.a.w. die skrywer plaas hom/haarself in die skoene (omstandighede) van die karakter.

Jy het mooi van halfrym gebruik gemaak.

Jou vers beskik oor baie potensiaal.

10.Lente by die see

soos dit in een dag winter geword het
is dit vanoggend van vroeg af al lente
my duin straal klein hittegolwe uit wat
blinkend refrein teen die see se deining

naby in die swartland staan die koring
geil-groen,regop en reg om saad te skiet
plek-plek in droeër kolle begin die geel
waar minder reën geval het plante kwyn

die baai is so kalm soos voor ‘n storm
lê soos ‘n spieël uitgestrek tot horison
met groot met gwano wit-geverfde rotse
wat soos renosters net stil staan en wei

hierdie naweek op my duin is daar lewe
die eerste maand met ‘n R is mos hier
nou kom hengelaars en naweekgangers
weer see toe na die koue suid-ooster lê

tussen wit huisies van oos na wes roer
daar mense wat bou en plant in tuine
grys sand-tuine in kleure begin optooi
winter klere word weg gepak vir somer

so vlieg nog ‘n jaar verby oor my duin
maar sit sal ek sit – tot die laaste sonlig
my duin nog kan verlig in oggend gloed

Ek wil amper dink dat jy as skrywer die “duin” hier as karakter aanwend. Ek is egter nie geheel oortuig nie. Dit voel of jy steeds as storieverteller inkyk op ‘n omgewing en daaroor verslag doen. Is dit geslaagde verplasing? Ek gaan jou die voordeel van die twyfel gee.

Die konstruksie van jou vers, sonder punktuasie, maak dit baie moeilik vir die leser om dit te lees. Nodige en funksionele punktuasie kan wel aangewend word al is jou voorneme enjambement.
Jy het genoegsaam aandag geskenk aan halfrym.
Die inhoud van jou vers beskik oor genoeg potensiaal om ‘n geslaagde gedig te word.

11.Gee my ‘n rede

Gee my ‘n rede
‘n rede om weer te glo
te glo in al die mooi
aan sons’ondergang se rooi

Op sagte seesand
in die nag vir die maan te wag
waar silwer drome
my opnuut weer sal laat glo
in die wonders van liefde

Gee my ‘n rede
wanneer ek opkyk na die sterre
daarin te kan verdwaal
aan die ewigheid daarvan vas te hou

Gee my ‘n rede om sonder ophou
my vas te anker
aan die bodem van jou hart
ek wil deur die mure wat my vasdruk breek
en weer vertrou

‘n Lente’bries
oor my voel waai
en bietjies-bietjies
weer begin glo

Jy het nie aan verplasing gehoor gegee nie.
Jy het ook op plekke van gebroke rym gebruik gemaak wat nie in die opdrag gevra word nie.

Jou gedig het mooi beelde en baie potensiaal.
Kyk asseblief na die gedig “Maria Magdalena (‘n Verplasing)” vir ‘n perfekte voorbeeld van verplasing. Dit is ook ‘n inskrywing onder hierdie projek op INK.

Sonsondergang word sonder ‘n weglatingsteken geskryf.

13. Maria Magdalena (‘n Verplasing)

Mense ken my as ‘n hoer
en my suster dink ek’s mal.
“Sewe duiwels dans om my;
Here, ek het al weer geval.”

“Laat haar staan,” het Hy gesê,
“sy’t gekies om by My voete te lê.”

Hy het my opgetel en van vergifnis vertel.
My kruik het gekraak (soos my binneste)
en ek het vergeet om te vra
of hierdie sondaarshande
aan Iemand só heilig mag raak.

Die vlamme van my verlede
word met die reuk van nardusolie geblus
en ek vind rus met die kus van my hare
oor Sy gesalfde voete.

Sewe duiwels dans om my,
maar hulle wéét ek is nou vry.

Jy het die opdrag van verplasing perfek verstaan. Ek hou baie van jou vers, jou aanbieding en sommige van die woordkeuses waarvan jy gebruik gemaak het.
Ek hou van die dialoog wat heerlike halfrym bevat.

Jy het 2 kwatryne gevolg deur ‘n koeplet met ‘n kwintet in die middel van jou vers. Ek hou daarvan dat jy amper twee volta’s, as dit enigsins in poësie moontlik is. Jy sluit jou vers met ‘n koeplet wat ‘n sterk volta (ommekeer) bevat.

Ek hou van die konstruksie van die verse n dink jy het jou mooi gekwyt van jou taak.

Welgedaan.

14.Lente

Transformeer die drooggetapte fors,
soos die bisterbruin kokon
waar larwe papie woon,
tot vlindervlerk prag.

Ontluik die lentegroen
van blaar aan tak eens leeg.
Vou grasieus tot vol ontkiem
om nuwe lewe op te eis.

Spat fuchsia pink en laventel
met spikkel van witter wit
teen asuur blou bloue lig,
uit blom se bloeiselprag.

Pof geure van die lente,
vars en nuut gebore
elk in eie geur
in my neus se holtes op.

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

15. C’est la vie
**
my somerhart
se jong groen loof
deur ‘n liefdeshand
sekuur versorg, vertroetel
het in die winter
verdor, verdroog

waar dit eens
met narsing en mirre
mildelik bedruip is
hyg woestynwoorde
smagtend na lentereën
se liefdesklad

kom laaf my met narra
sodat my winterhart
van vooraf kan bot
uitbreek in wilde prag
gegeur, gekleur
met die belofte
van lentevrug

in antwoord op
“C’est la vie”

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

20.Laatlente

te lank was jy ‘n wurm
kruipende voor hom
gehang aan ‘n spindraad
papie verstrik in ‘n kokon

te lank was ons ontsiendes
gesus in ons winterslaap
ons ore horende doof
om jou kreet te hoor

jy was geslaan met stomheid
maar nou is dit jou tyd
dat lente ook vir jou sal kom
monumente word gebou
om eer te bring aan jou

ons breek jou kokonne oop
vrou-tot-vrou is ons jou vlerke
jy heldin, voed ons met hoop
om uit ons winter te kom
te leef in die lente waar bloeisels blom
jy maak van ons krygers
wat veg vir ‘n somerson

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

21.’n Dag voor lente

My lief;
waar die koffie uit jou hart se skinkkan
kokende vure in my kamers vervlam

Oorhandig die reëval
ñ dag voor lénte
gemengde sinjalere
soos ñ watersprout
tafereel hy op besmette grond ~
skielik hoor jy ñ hik klank
van sagte druppels
uit die hemelprieël.

Dit is wanneer die seine se snerpende stop
nie meer die Hemelsambreel kan omdop.

Let op jou [‘n]. Die teken wat jy gebruik is nie die regte een nie. Wat beteken “sinjalere”, “watersprout”?

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

23.Plasentaplagiaat

Skommelsee, skeurende sluise in vloed;
louwarm spartelasem en bloed.
‘n Helse vuur; vlammende pyn,
kom en gaan en kom en gaan en dan verdwyn

Soos ‘n wildsbok in ‘n jagtersstrik
spartelend na sy vryheid wik;
word in barensnood verlig verlos
lewend gewend liefdes tokos.

In embriogekrulde staat
pleeg jy plasentaplagiaat.
Uit my moederskoot verwek
ontsnap ‘n splinternuwe ek J

Jy het ‘n interessante tema hier beet. Ek is gaande oor die inhoud hiervan wat ongelooflike potensiaal het. Jy het ongelukkig nie die opdrag nagekom in hierdie vers nie, en dit is jammer. Ek sal graag wil help om hierdie vers te ontwikkel tot sy volle glorie. Stuur asseblief vir my ‘n inboks op INK. Kyk na “Jagterstrik” en wat beteken “tokos”?

24.Digterspalet

Vrugwaters vog vloeiend uit die veer;
genesis ontwaking wat niemand kan keer.
In skreeuende stilte, syfer metafore
oor suiwerwit papier.

‘n Pynlike proses van gee en neem en gee en neem,
wyl die skepper sweetend en swoegtend
die wonderwerk in woorde wasem
uitase – geguldig tevree.

In sy hande, soos kosbare silwer,
lê die skepping van sy trane,
sy maaksel – op spierwit papier,
met linte en lyntjies versier.

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

25.Lente

lentetyd is blommetyd
wanneer reën die aarde voed
en alles groen begin lyk
terwyl water oor klippies spoel

met silwer pêrel druppels versier
lentefees gloei in elke plant
terwyl voëltjies en goggatjies
heen en weer vlieg en kletter

bring lente ‘n lied in die hart
maak almal opgewonde en bly
gegeur in elke morestond vars
‘n vrolike groet in glimlag verby

betowerend voel dit op die oë
dankbaar vir glorieryke seën
‘n nuwe seisoen op die horison
waar kleurryk harte steel

sagkens speel liefde ‘n rol
kibbel ‘n melodie oor die klippies
‘n waterstroompie wat afkoel
vrolik speel laggende gesiggies

lente is in die lug
suiwer morestond
vars waai ‘n briesie
in vroeë oggend son

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

SILWER

7.Opregtheid

Niks is meer soos gister nie
dink ek; met die malligheid van my eie saligheid
voor ek ontsnap na ‘n ongekende ewigheid
gee my dan eerder terug
aan alles wat ek gehad het
voor jý my pad kom teer het
met liedjies en lagstories
oor jou onverklaarbare liefde
wat Suidoosters kon opruk
of ligtorings leeg sou laat lyk

want ons is nou elkeen alleen
en ek sê weer
om asem te haal
maak soms opreg seer

Is dit dieselfde gedig wat jy ingeskryf het vir die vorige projek?

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

16.Lente se wip

spring has sprung
soos ‘n meme-haan op vere
soos bo-kant-buurman
se katel sonder klede
en veel minder klere –
bytjies en blomme
warm voëls woel tekere

net soos die were

kom die lewe se voortgaan se rede
met laaste yswind
by waters in vloede
bloeisels se groei onder sneeu
is beloftes soos eiers
in die nes van ‘n meeu

wat openbaar wat bedek was

soos jy elke jaar
so seksie doen
jou mooie korte
onvoorspelbaar
wulpse seisoen

Wat ‘n ongelooflike mooi en slim gedig. Dit is vars, maar…

Maar, jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

19.Waar die hotnotsvye blom

Agter rooikoperduine
waar hotnotsvye purper blom;
lek ék Erebus my wonde,
terwyl ʼn nuwe dag triomfanklik
in ʼn oranjerooi songloed verskyn.

*Erebus: God van duisternis

Dit is ‘n ongelooflike kragtoertjie. Jou gedig is aangrypend. Jy het behoorlik gehoor gegee aan verplasing.
In die sin “waar hotnotsvye purper blom;” maak jy gebruik van halfrym, soos die opdrag verlang.
Ek dink jy het ‘n baie slim vers mooi voorgelê.
Welgedaan.

22.Lente van ‘19

Dit was daardie mooiste seisoen
toe ek kaperbriewe
in my eie posbus wou los
geseël met judas-soene en Lot se geloof

maar meer as dit, wou ek migreer
Noordwaards na my milieu
terug na woestynsand en stof
droë rivierlope en ander dinge
wat my en my herkoms kon herenig

dit was daardie September
toe ek
altare wou bou
om offers te bring
aan alles wat my verbygaan
maar ook alles wat my aanraak

maar meer as dit, wou ek wees
soos die prentjie in my spieël
of die glinster in jou oog,
of die breek van ‘n nuwe dag

Dit is werklik so ‘n mooi en aangrypende gedig dat dit jammer is jy het nie aan die opdrag van verplasing voldoen nie. Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

26. GEDIG IS ‘N FOTO EN KAN DUS NIE HIER GEPLAAS WORD NIE

Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.
Tipografie is baie goed gedoen.

GOUD

8. as die winter breek

by die poorte van Betlehem
plant ek vir jou ‘n olyfboom
met sy wortels geanker by waterstrome,
takke wat tot by die hemel strek,
stories vertel tot aan die blou se blou
waar die voëls kwetter en raas

op sy blare sal ek my liefde los,
uit die stam vir jou ‘n kruis uitkerf
waaraan jy jou smarte kan hang,
sy koelte sal jou trane sus,
terwyl sy olie jou salf en jy
in vrede kan rus

by die poorte van Jerusalem,
sal ek in wit gekleed by die
verskeurde voorhangsel vir jou wag
al is dit ook tot lank na die winter breek

Ek het in die laaste kwatryn afgelei dat jy dalk van “Jesus’ kon praat, maar dit is té vaag dat jy sommer kan aanneem almal wat die vers lees sal dit so begryp.

12.Kind van die aarde

vir hom sal Namakwaland se blomme
aanhou danse dans
en die aalwyne by Springbok
sal rooioranje teen ‘n krans

welwitchia sal oeroud stamme
begrawe in die sandwoestyn
iewers in die Namib
’n nuwe blaar vir hom laat krul
oor die warm van ’n duin

in die vlakte van strandmere
sal pienk flaminke steeds flamink
ewig sal hul walse
weerkaatsings in sy waters ink

en die meeue en die sterretjies*
sal ímmer
deur avondure vlug
(heen en weer, en heen en weer)
net vir hóm
teen die vermiljoenste lug

* sterretjie – ’n tipe seevoël Jy het soos baie deelnemers nie die opdrag uitgevoer nie.
Daar is nie verplasing in jou gedig nie.
Jy het wel van halfrym gebruik gemaak.

17.My naam is Eva

Vind my
teen die hange van ’n Overberg;
roep my naam
en hoor hoedat ek antwoord gee.
Ek reënboog oor die vlaktes en valleie –
daar waar ek verbonde
met lig se breking smee.

Ek vloei in riviere af –
strome wat kronkel deur klowe en ’n poort;
vloed wyd oor dale waarin riete groei
en vergestalt my in die lelies
– wat wit kelk –
langs die oewers van ’n sloot.

Ek fynbos tussen klippe, oor die velde
en pluim in die sade van lang gras.
Ek loof aan die takkies van mimetes,
kontoer in al die krakies
van haar growwe stam se bas.

Ek vlies ewig in die wolke bo die kranse,
glinster teen die ganse hemeltrans,
pols in die fotone
uit elke ster en son en maan –
om te sweef op die ritme
van ’n Goddelike dans.

Sien my in die kleure oor jou landskap,
in die vuur van ’n môrestond se gloed.
Ek edel daar soos amber en robyne
en vlam in elke skemeraand –
só, asof ek jou groet.

Dit is ‘n pragtige vers wat subtiel getrou is aan die opdrag van verplasing.
Jy het ook mooi gehoor gegee aan die halfrym opdrag.
Jou vers is beeldryk, grotesk en ritmies uitstekend.

Baie geluk hiermee.

18.Ék is ‘n skarlakenvrou 

in die groot stad Jerigo
was ek ‘n skarlakenvrou
ék was ‘n skandvlek – ‘n klad
op my trotse familienaam
want my dagloon
is uit my hoerlewe gekry
terwyl ek duiwels
bloots sou ry

sewe dae lank
het die basuine geblaas
terwyl vrees aan my binneste kou

min het ek geweet
vergifnis kan in rooi
oor kleistene hang
al was ek ook
tot my dood toe bang

die rooi van Sy bloed
het my van die duiwels bevry
en staan my naam
in die boek van die Lewe
verewig van smet bevry

oorwinnend het
die basuine sewe dae lank geblaas
en ék is gered – oplaas

Ek dink jy het geslaag in die opdrag van verplasing. Jou halfrym opdrag is ook mooi nagekom.
Dit is ‘n heftige vers wat die storie vanuit “haar” oë vertel.
Werklike goeie poging.

GORREL GEEN INSKRYWINGS

RUBRIEKE

1.Groen voete
Die opdrag vra vir humor. Ek het dit nie in jou gorrel ervaar nie. Ek is ook geheel verward met die tydlyn van jou “storie”. Eers is die oggendson uit, dan drink jy wyn in die nag. Dan spring jy uit die bed met ‘n bont rok? Die leser is totaal verlore.
Verder, let op punktuasie in jou storie. Lang sinne, sonder funksionele punktuasie maak die lees hiervan ook moeilik. “Naggeluide” word nie met ‘n apostroof geskryf nie maar eerder as een woord.

2.Gewaarborg
Die opdrag vra vir humor. Daar is nie humor in jou skryfstuk te bespeur nie.

3.Ontwaken
Die opdrag vra vir humor en dit ontbreek totaal.
Let op spelling.

ARTIKELS GEEN INSKRYWINGS

VERHALE

1.Vir altyd joune
Sinskonstruksie:
Kyk na jou sin: “Vir die spesiale geleentheid moet sy baie deftig lyk en professioneel” en dan hoe dit moet wees:
“Vir die spesiale geleentheid moet sy baie deftig en professioneel lyk.”
“Karsleutel” word sonder ‘n apostroof geskryf, en so ook “wintersdag”.
Lees assebief weer jou werk voordat jy dit aanbied. Dit sal klein foutjies soos woordweglating nl. “en toe sy uitklim vang haar oog die mooiste jas wat _?_ nog ooit gesien het” vermy.
Sinskonstruksie:
“Na ‘n paar duisend rand armer, is sy oppad lughawe toe.” “Na” hier is onvanpas en onnodig. Indien jy sinne bou, lees en herlees dit en maak seker dat jy eerder woordekonomies omgaan. Jou sin sê dieselfde sonder onnodige woorde.

2. Koue Sweet
Pragtige storie met goeie karakter ontwikkeling. Jou aanbieding is mooi en jou storie is lieflik

3.Tannie Sakkie Pampoene
Ek het die humor in jou storie heerlik geniet. So tussen die traan op die einde is dit steeds ‘n heerlike lekker-lees storie. EK het baie hiervan gehou.

4.Berou na die Lente
Jou storie is mooi maar geheel nie oorspronklik nie. Dit sou dalk beter gewees het as jy die verhaal uit die oog van ‘n ander karakter uit die bekende storie vertel het. Jou verhaal is té na aan die Bybelse verhaal om oorspronklik te wees.

5.Gekreukelde bladsye
Wanneer het die mode geword om “ma” in pleks van “maar” te gebruik, sonder ‘n apostroof of in streektaal gebruik? Jou sinkonstruksie het aandag nodig met spasies wat ontbreek en nuwe sinne wat in kleinletters begin. Mens se skryfwerk met basiese dinge wat gekontroleer word is ‘n absolute MOET.

6.Pastoriekind
Jou [‘n] is regdeur die storie sonder ‘n hakie. Die sinskontruksie kort bietjie aandag. Jou storie is egter vermaaklik en humoristies.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Amanda

    17 Desember 2019

    Tokos is ‘n Griekse woord en beteken om voort te bring of lewe te skenk. Hier het ek myself in die swanger vrou se skoene geplaas. Die geboorteproses en dan ook die nuwe baba word beskryf. Plasentaplagiaat – ‘n nuwe lewe geskep uit gesteelde DNA

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 248
Kommentaar telling: 2774

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 78 gaste aanlyn

Bydrae Totale