Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uitslae en Kommentare – Oktober 2019 Kleur projek

Deur Anze
Datum gepubliseer: 30 Desember 2019 Aantal woorde: 3917 190 Kere gelees 3

Projek opdrag:

Die deurlopende tema vir Oktober se projek is as volg:

1. Kies enige kleur en beeld die kleur uit in jou skryfstuk.
2. Moenie die kleur se naam op enige plek gebruik nie, maar maak van suggestie gebruik. Skets vir die leser ‘n prentjie in hierdie kleur.
3. Versterk jou skryfstuk deur van sinestesie gebruik te maak.

• Gedigte:
Nie langer as 16 versreëls nie.

• Verhale:
Nie meer as 600 woorde nie.

• Rubrieke:
Wend humor in jou skryfstuk aan.
Nie meer as 300 woorde nie.

• Artikels:
Koppel die hooftema aan enige onlangse nuus.
Nie meer as 200 woorde nie.

Groete
Ink-Moderator

Baie geluk aan hierdie 10 Lede!

WENNERS

GEDIGTE:

GOUD

WENNER: No. 3 – Anzé Bezuidenhout met My nuwe Kanaän
2DE PLEK: No. 18 – Carma Shaw met Want die liefde is nie blind nie
3DE PLEK: No. 24 – Carma Shaw met Afskeid

SILWER

WENNER: No. 1 – Loretta Szikra met Nuanse van verlange
2DE PLEK: No. 25 – Charleiene Collins met Die kyk
3DE PLEK: Geen

BRONS :

WENNER: No. 14 – Amanda Meyer de Meillon met Towerland lentedans
2DE PLEK: No. 13 – Andries Fourie (Seirdna) met Digterskleure
3DE PLEK: No. 4 en No. 8 – Jessica Venter met Reënboog inspirasie EN Paula Paxton met Koel van my oë

GORREL Geen wenners

ARTIKELS Geen wenners

RUBRIEKE Geen inskrywings

VERHALE

WENNER: No. 3 – Riaan Palmer met ’n Storie vir sommeliers
2 DE PLEK: No. 4 – Suzette Strydom (Palet) met Gebede en wense
3DE PLEK: No. 1 – Riaan Palmer met Skarlakenkoors

KOMMENTAAR:

GEDIGTE:

BRONS:

2. Die dag toe Signac by Seurat beknies

Tóe die santekraam wat swymel in peripetie
om murgpere van hul vere té sku
en die vermurwe kwas slempend
die naak doek betas
het die fees kwintessens
die purperwinde oor die kraal
van die ou trein op sy verlate ou spoor
laat stoom en
met die klapwiek
van die voëls
is die meester
in ‘n gleuf odieus
toe die donker wolke
sy lig verflou.

Toe die (hele klomp) wat (kritiekloos oorgegee is) in (beslissende wending)
om (avokado’s) van hul vere te (skaam)
en die vermurwe kwas (smullend)
die naak doek betas
het die fees (in kern)
die purperwinde oor die kraal
van die ou trein op sy verlate ou spoor
laat stoom en
met die klapwiek
van die voëls
is die meester
in ‘n gleuf (???)
toe die donker wolke
sy lig verflou.

Kyk as ek jou vers “vertaal”. Maak die steeds vir jou sin soos jy dit bedoel het? Ek lees die kleur hierin raak omdat jy dit by die naam noem en vind geen suggestie nie. Dit opdrag was juis dat dit nie pertinent genoem moet word nie.

4. Reënboog inspirasie

met elke sonsopkoms
blink hoop op die horison
as moedeloosheid my vreugde steel

musiek ewenaar die ritme van my hartklop
ek verloor myself tussen die lirieke
van my gunsteling songs

waar die see se deinings speel
skep my siel asem
dis waar ek tuis kom

langs die stilte van ‘n bosveldvuur
onder ‘n stergevulde maanligaand
omvou vrede my hart

maar my beste inspirasie
kry ek tussen my hartsmense
hulle verf my palet reënboogmooi
en maak my lewe die moeite werd

Ek sien die kleure wat jy hier beskryf baie duidelik. Jy het egter nié ‘n enkele kleur gekies nie maar dit word nie in die opdrag verbied nie.
Jy het nie van sinestesie gebruik gemaak nie, maar dit maak nie afbreek aan jou vers nie.
Dit is ‘n geslaagde inskrywing.

5. skemer oë

ver oor die see
hang daar ‘n skildery
geskilder in die mooiste
herfskleure wat die oog vang
my siel sweef oor die duine
wat donker rooi verkleur
binne sig maar gedemp
verskyn haar gesig
ernstig maar oop
haar oë wakker
en haar mond
glimlag sag
so verdwyn
die dag
uit my
hart

Die opdrag lees duidelik dat jy nié in jou gedig direk na die kleur moet verwys nie.
Ek kan jou vers, alhoewel dit baie mooi is, nie beoordeel nie.

7.Laslappies van geel

Elke kleur vertel jou ‘n storie
want kleur kom nooit alleen nie
wanneer jy kyk in die lug, of op die grond
wonder ek opnuut waste kleur is die son?

Vanwaar kom die geel
wanneer hy opkom
die rooi met sonsondergang
en die silwer rantjies om donker wolke

Sy laaste strale wat seesand
verkleur tot die mooiste goud
wat lyk soos heilige grond
waarop jy te bang is om te loop

Al die laslappies van geel
dis hoe ek die lewe wil sien
wat my hande verseël
wanneer ek dit vir geluk na die son toe hou

Die opdrag lees duidelik dat jy nié in jou gedig direk na die kleur moet verwys nie.
Ek kan jou vers, alhoewel dit baie mooi is, nie beoordeel nie.

8. Koel van my oë

Koel is die sig wat weerkaats in my oë
wat deurskynend vloei,
kristalhelder met ‘n swympie kleur,
deursigtig, kalm, vry!

Vars is die lug
van die hemele bo,
waar die arend sy vryeval af-ets
teen jou skakering mooi getooi.

Rustig die klank
wat my siel diep ervaar
in die maanverligte nag,
wat swart laat verdamp,

na die mees mooiste nag
wat die donker soos pik verfraai…
na die kleur van saffier.
Ryk en vol mag is my koningskleur

Kom ons behandel jou vers stuksgewys.
Die eerste kwatryn sluit jy met ‘n uitroep: hoekom? Jou woordkeuse het deurgaans ‘n sagte (ligte) metrum en dan sluit dit hard asof die skrywer die “vry” wil uitskree. Ek sou nié ‘n uitroepteken daar gebruik nie. Die punktuasie deur die vers kon in my opinie meer funksioneel aangewend geword.
Die laaste kwatryn, in die laaste sin sou dit werk om ‘n akuut “mag” te plaas.
Jy het nie van sinestesie gebruik gemaak nie. Algemene voorbeelde is “warm kleure” en “donker stem”.
Jou vers is nietemin lieflik en die beelde is tasbaar. Die inhoud is vir my baie mooi.

9. Vuurmonster van die nag

te lank die smaak van smaad
wat ‘n agtergeblewe lewe in die mond laat
saam word daar vannag gepraat
3 hurkende skaduwees hou beraad
oor ‘n knetterende donker daad
‘n duister daad wat hard sal praat

ruik en voel die blinde haat
wat bars deur wonde se dun naat
proe die haat van verraad
haat wat opskiet soos saad
mag word gebraak dit is te laat!
hoor ons nou met vuur praat

vuurspuwende donker daad
vlamme vreet aan verraad
lewens hang aan ‘n draad
als het hul niks gebaat
die brullende monster wat niks agterlaat
niks, afgeëts teen die kleur van wraak
3 verkoolde skelette van ‘n donker daad
smeulend in die as van verraad

Die geruik van die syfer 3 in die eerste en laaste strofe, enook die herhaling van ‘daad”, “praat” en “haat” pla effe. Afrikaans beskik oor genoegsame sinonieme vir al hierdie terme, en selfs met verandering sou jy die assonansie steeds in jou vers behou.
Jy het ‘n kleure en kleurskema’s verwys in jou gedig sonder om dit werklik by die naam te noem. Dit is geheel geslaagd. Jy het sinestesie geslaagd deel gemaak van die gedig.
Die gedig is donker en somber en indien dit die beplanning was, het jy daarin geslaag.
Ek dink tog dat as jy meer woordekonomies was, sou jou gedig selfs sterker gewees het.

10.Gebonde in blou

Jy framboos as ek eerlik is
en sê van die mooiheid
waarmee jou kyk
my tydig gebonde hou;
in die blousel daarvan
verdrink ek gedurig,
gedurig as die son
oor ons sterf in karmoesyn.

Dankie vir jou deelname.

11.Smag na groen gras

‘n Mengsel van kleure
kleur die mooiste kleurplaat
in die natuur in
stop en kyk en sien die hele prentjie raak

Groenigheid is ‘n simbool van vrede
‘n simbool van lewe
gras en blare
groen is die kleur van liefde

Dit is ook ‘n kleur van dood
wat vergaan in die winter
Hy laat my neerlê in groen weivelde
is elkeen wat glo se begeerde

Waarom dan groen wees van jaloesie
word weggevoer in die groen glans
die oop vlaktes die berge
voel alles groen-sag en strelend

Die opdrag was duidelik dat daar nie direk verwys moet word na die kleur in die gedig nie. Suggestie moes gebruik word. Alhoewel ek dink jy het ‘n aangename gedig geskryf kan ek dit nie beoordeel vir hierdie projek nie.

12.Kies jou kleur

NOU is die werklikheid en dit is soos ‘n geboorte,
gevul met allerhande soorte probleme en vrees.
In hierdie boek probeer ek vir jou die lewe uitrek,
en om dit te vul met geur en kleur van my eie Ek . . .

Die boek is leeg, die blaaie bleek, sonder woorde,
tog is dit gevul met geheime wat net jy kan lees.
Ons is saamgebind, ineen geknoop, en nou skryf ek,
in ‘n kleur wat jy kan lees en blydskap in jou sal opwek.

As ek uitkyk na more wat nog kom sien ek my kans,
daar is nuwe lewe wat kom en dit prikkel elke spier.
Alles wat ek ervaar is te danke aan ‘n wonderlike krag,
wat kom vanaf jou wat my siel behou tot in ewigheid.

In die lig van jou ewige glans voel dit of ek kan dans,
as ek terugkyk na gister dan besef ek dat NOU is hier.
In enige kleur of geur wat jy kies, dit is jou nag en dag,
sonder die maan of son skep jy ‘n nuwe werklikheid.

Jy het die opdrag van suggestie nagekom in jou gedig.
Ek hou van die storie-trant, maar ek wil wonder of ‘n meer woordekonomiese anbieding nie beter sou wees nie? Die hoofletter gebruik by “NOU” en “Ek” laat my wonder watter funksie behoort dit te hê? Jy het ook nie van sinestesie in jou gedig gebruik gemaak nie.
Jou gedig is aangenaam.

13.Digterskleure

daars ‘n kleur in elke digtersiel
daars ‘n kleur in elke daad
‘n ligter kleur vir liefde
en ‘n donker kleur vir haat

daars ‘n vaalheid aan die more
van ‘n son wat ophou skyn
en ‘n grouheid aan die nadag
van ‘n ou mens aan die kwyn

daars ‘n voorkleur en ‘n nakleur
in alles wat jy doen
wat afhang van jou liefde
en hoe jy jou versoen

die kleure in jou lewe
keer altyd terug na jou
soos die hande van die hemel
wat die heelal vas moet hou

uit ‘n mengelmoes van kleure
soos ‘n skilder met sy kwas
kies jy dan ook jou kleure
wat by jou digkuns pas

Jou eerste strofe, ‘n voorstel:

“daars ‘n kleur in elke digtersiel
daars ‘n kleur in elke daad
‘n ligter kleur vir liefde
en donker vir haat”

Sien jy die impak op die metrum en ritme indien jy nét die laaste sin meer woordekonomies maak?
Ek dink jou gedig is besonders met ‘n vars aanslag.
Die konstruksie en woordkeuses is ook mooi.
Baie geluk met ‘n lieflike gedig.
Jy het egter nie van sinestesie gebruik gemaak nie, maar dit neem niks van jou gedig weg nie.

14.Towerland lentedans

Suutjies murmer feetjies
liefdesliedjies langs die stroom,
die kleine handjies fladder
vlugtig deur my droom.

Ek ruik die kleur van perske bloeisels
wanneer hulle staffies saggies swaai,
die spookasem geur klingel
as hul rokkies vrolik draai.

Lente strooi sy mengelmoes
van draairoomys kleure
en donswatte bolletjies
in speserygeweekte geure.

Die sinestesie in “Ek ruik die kleur van perske bloeisels” is aangrypend en mooi.
Toe ek die gedig begin lees het ek gedink dit sal ‘n kindervers wees met die verwysing na feetjies, maar groot was my verrassing dat die inhoud egter sterk en gepas volwasse is. Jou vers is heerlik ontwikkel en die inhoud is werklik besonders.
Jy het die opdrag van suggestie ook mooi nagekom. Dit is ‘n treffende gedig.
Baie geluk hiermee.

15.Sonneblomme van Van Gogh

ou afoor trommel
langs bye wat mompel
plak hy ‘n stoeltjie
onder die hemelse doek

die helder son dompel ‘n
sonneblom helder kwas
van ‘n veer geplakte heelal wat
saam soet olie meng

lig skadu’s donker
donker die swaar kwas
gloed die vlam van ‘n brandende
sonneblom

die tyd draai aan
die hitte wat kraak
oor die velde wat ritselend sing
en afoor wat sy gesag smeer

Jou vers het baie vars gekyk na ‘n bekende gebeurtenis in die geskiedenis.
Ek hou van die inhoud hiervan.
Jy het egter nie van sinestesie gebruik gemaak nie maar genoegsaam aandag gegee aan suggestie.
Dit is ‘n besonderse verse n ek het dit baie geniet om hieraan te lees.
Dankie vir jou deelname.

16.Vrystaat se sonsak

Hy trek sy straal oor heuwels saam
teen die berg hange, weg van die maan
Dit is mooi dit is sag
`n nuwe kleur, eindig die dag

`n Houthuis breek die kleur
Of gee dit êrens `n nuwe geur
Wat ookal gebeur, dit verkwik my siel
nog `n laaste keer

Ek wens ek was `n skilder
Iemand wat `n kwas kon swaai
dan maak ek vir jou `n prentjie
van die laaste lig, dit is o so mooi

Erens in die verte, trek dit nou klein
die kleure is stadig besig om te verdwyn
Sien jou weer môre ou vriend
Nog `n Vrystaat se sonsak seël.

Kyk na jou punktuasie en die verskil wat my voorstelle maak:

“Hy trek sy straal oor heuwels saam
teen die berg hange, weg van die maan
Dit is mooi dit is sag
`n nuwe kleur, eindig die dag”

Hy trek sy straal oor heuwels saam
teen die berghange, weg van die maan –
dit is mooi, dit is sag
en `n nuwe kleur eindig die dag

Jy moet waak teen die gebruik van hoofletters in jou gedig indien dit nie deur punktuasie voorafgegaan word nie. Jy het nie van sinestesie gebruik gemaak nie maar genoegsaam aandag geskenk aan suggestie. Indien jy jou punktuasie aanpas sal jou gedig sterker wees.

19.kleurspatsel-bloesels

Ek sien die spookasem geur van perske puntjies
hulle koppies opdraai in volle blom.
Voel die warm sang van nuwe vrug
wat die somerson verwelkom.

Fynvlerk bloeiknop balarinas baljaar in die wind
Ek hoor die witvlek vlerkies van ‘n blommekind
Ek ruik die roesbruin kleur van die ou kromhout
Proe die heuning in kleure van geel en goud.
‘n Nuwe seisoen wat stilweg ontvou
In kleurontploffing verdwyn wintergrou.

Jy het sinestesie en suggestie in jou vers gebruik soos die opdrag vra.
Let daarop dat jy nie hoofletters gebruik in jou vers as dit nie deur punktuasie voorafgegaan word nie. Die inhoud van jou vers is pragtig met opvallende nuutskeppings.
Jou vers lees heerlik. Baie dankie vir jou deelname.

20.Jacobsbaai

op die drempel van die see
weg gesteek in ‘n hoekie
lê daar ‘n pragtige baai
met ‘n strandmeer
wat getuig van
ewige getye
laag en hoog
vorm dit ‘n boog
van blou water golwe
wat met wit kruine troon
oor rotse wat die baai soom

Die opdrag vra vir suggestie en nie ‘n direkte verwysing na ‘n kleurskema nie.
Ek kan hierdie vers dus nie beoordeel nie, en dit is jammer, want dit is werklik ‘n mooie vers.

22.Bytjie se soetliefiestroop

Die bokmakerie gaan sit
op die energiebal se blomme
en koes-koes vir die heuningby
wat suinig sy soetliefiestroop
maak daar eenkant in dié blom
beklee in stuifmeelstof,

daar verder roer die
energiebal se arms
die yamabuki se tuiste
in die vroeë dou ure,
waar hy rustig sy ogies oop fladder
en droom vir bytjie se soetliefiestroop ,

heuningbytjie vlieg swaar na
die korf van eeue generasies
en deel liefs sy soetliefiestroop
vir die jong uit.

Dit is ‘n baie goeie vers. Die verwysing na Yamabuki, vir die wat nie weet nie, is ‘n Koi vis? Is ek reg?

Ek wil ‘n paar klein voorstelle maak:
In jou laaste strofe:
“vlieg die by swaar na
Die korf van eeu-oue generasies
en deel liefs sy stroop
aan die jonges uit”

Mert klein aanpassings soos hierbo maak die gedig se klimkas ‘n sterker impak.
Suggestie is teenwoordig maar jy het sinestesie nie bemeester nie. Dit neem egter niks weg van jou pragtige vers nie.
Baie geluk met ‘n mooi vers.

23.Somerspel

Jy maak my mal…mal, MAL !!!!!
Jy lag met wye mond en gooi jou arms oop
tienduisend fyngetinte kleurskakerings
spog welig waar jy veld en vlei
met nuwe kleur herdoop.
Jy hang jou vel teen berg en rant, oor dal
baldadig diep duik jy in lowerryke klowe.
Jy stort jou hele lyf in styf-verweefde woude
teen verste kranse streel jou kleur in veerlig-fluist’ring.
Jou voetstap huppel vrolik voort
oral waar jou kleure hoort.
Padlangs loof die helder gras met juiging
bossies kop-knik in hul buiging.
Ek pluk jou kleur en sit dit op my hart se drumpel neer
ons speel die somerspel rojaal-uitbundig soos n kind
in die elmboë van die wind.

Jou vers sou by my ‘n groter impak gelaat het as jy nie die betrokke openingsin gebruik het nie. Ek kan nie die emosie vereenselwig met die res van die inhoud in die vers nie. Jou beskrywing van die seisoen is pragtig en mooi en daarom maak die aanvang vir my afbreek aan jou vers.
Jou vers sou ook funksioneel kon baat met drie strofes eerder as ‘n enkele geheel.
Jy het van suggestie gebruik gemaak maar nie van sinestesie soos die opdrag gevra het nie.
Jou vers is egter steeds aangrypend.

26.Kleure van jou . . .

In die kleure
van jou
menswees
is hoe ek
jou bemin

as jy ontwaak
soos ‘n sagte brose sonneblom
jou gesig draai na die son

en soos die ure
aanstap

jou mense wees ontvou

soms in
staal harde ontsteltenis
wat aan jou lyf vasklou

soms in jou sonstraal
luidkeels-lag
wat almal vir nog
laat wag

soms in
jou sweet oorgetrekte
bloesende gesig
arbeid sal jy arbeid
want ophou
dra net geen gewig

dan telkens die vulkaan
met sy lawa slingerend hoog
versier die hemelboog
soos die passie vuur
in jou are brand
oorlopend ons sinne verslind

tot die vaak
snoesig soos ʼn kuikentjie
jou wakker kom steel
jou smarag oë toeval

jou wegvoer na die soom
van ‘n watte blanke wolkie droom

die dag in vol kleur
agter laat . . .

in die kleure
van jou menswees
dit is hoe
ek jou bemin

Die opdrag is duidelik:
Nie meer as 16 reëls nie. Ek kan dus nie jou vers beoordeel nie.

SILWER

1.Nuanse van verlange

As die volmaan weer
soos ʼn gloeiende topaas
boepensblink eklips,
wanneer die aarde kortstondig
voor die son insink
om die maan se lig te steel –
wens ek ons byeen
in die oomblik verbind,
voor sy smeulend deur die melkweg
die pad na haar lig weer vind.

Daar is pragtige nuanses in jou vers. Mooi suggestie ook, maar jy het nagelaat om van sinestesie gebruik te maak. Ek hou in besonder van jou gedig omdat die woordkeuse mooi is. Die spesifieke “wens ek ons byeen” is vir my pragtig.
Jou vers is voortreffend.

6.Sonnet vir my lentekind

Met winter se nadraai was jy hier;
betyds om die somer te bring
Jy’t die asveld vrolik met lente versier –
my hart het van liefde gesing.

Liefde wat diep geanker lê
wat nimmernooit sal vergaan;
meer as wat ek ooit wou hê,
meer as wat ekself verstaan.

Rondomtalie skoppelmaai
lag ons speels die tyd verby –
soos my wêreld om jou tiekiedraai
wentel jou welstand om my;

waar jy liefde volkome volmaak kan vind
soos myne vir jou my blommekind.

Ek lees geen verwysing, nuanse of suggestie na kleur in jou vers raak nie. Lente- en blommekind verwys vir seker nie na kleur nie.

17.Vrede

vasberade loer nuwe lewe
deur die donkerste grond
stoot sy arms blaar vir blaar
soos wyd gespreide vlerke
reikend na die son
hongerig omhoog
om elke straaltjie sonskyn
gulsig op te slurp
om met ‘n helder stem
VREDE
oor die wêreld uit te roep

Suggestie oor kleur is teenwoordig maar geen sinestesie nie.
Ek hou van die inhoud en die vers lees maklik en ritmies.

25.Die kyk

Jou oë stol
modder
soos die borrel van die are
deur jou hart –
sonder die seën
van sagte reën
of die soet
van sjokolade
is daar geen sagvoel,
kalfie, bokkie
…of genade

Dit is so ‘n treffende vers.
Suggestie en sinestesie is teenwoordig.
Ek dink jy het ‘n kragtoertjie bewerk.

GOUD

3. My nuwe Kanaän

ek bloei in granaat
terwyl ek hurkend sit
opsoek na die verlore skyn
van die son se krag

soms vind daar
smokkelhandel
in die kobalt
van my gedagtes plaas;
word donker oorloë
in amber geveg
terwyl braambosse in oker brand
vloed riviere kleurloos
klankloos weg

dan weer skitter die gewyde spasies
in flonkerspasies
met ‘n tikseltjie kleur
wat my heelal voltooi
en aan my ‘n nuwe
Kanaän bind

Dit is ‘n besoonders aangrypende vers. Die woordkeuse, die konstruksie en die aanbieding is werklik lieflik. Ek oorweeg om sinestesie raak te lees in die “gewyde spasies wat skitter”.
Ek wonder oor die funksie van die herhaling van “spasies” in die laaste strofe en wonder of ‘n funksionele sinoniem nie beter sou lyk nie.Baie geluk met ‘n geslaagde vers wat ryk is met suggestie oor kleur. Die opdrag is getrou nagekom.

18.Want die liefde is nie blind nie

Ek weet jy loop soms met ’n blink vlei langs –
’n vlei waarin die wolkelose hemel
(in die koelte van die oggend)
vir eeue reeds skakeer.

Ligte briese wapper deur jou hare,
pluk-pluk aan jou pante –
die kleur van konings is jou hemp.

En hoe sal ek jou oë beskryf
– soos kraanvoëls
in gras- of koringlande

en soos klingelende tinte van saffier
wat adellik oor dobbertjies en eende
tot vér verby die verste rante
op die horisonne tuur.

Die kleursuggestie hierin kry ‘n lewe van sy eie. Dit is ‘n onoortroffe gedig.
Ek lees ongelukkig nie sinestesie raak nie.

Jou gedig beïndruk verby slegs akademiese suiwerheid, maar sny tot in die sielspasie van die leser.
Baie, baie geluk met hierdie treffer.

21.Sonsak oomblikke

in die skadu’s van die Outeniqua
het die son skaam in oker
oor bergkranse gebloos
terwyl wegkruipskadu’s
pendule in apostelgelid
onder die wind se
penniefluitklanke
van gisterdinge

Dit is ‘n pragtige vers. Jy het egter nagelaat om van sinestesie gebruik te maak. Die kleursuggestie is duidelik en mooi.

24.Afskeid

Verlorenvlei, Verlorenvlei
jou weggaan skroei tot roof in my
dit sny ’n spoor van oe ten as
waar gister helder strome water was

en los my in die ligverlate
donker stege, lamploos strate
wat na die doodse stilte lei

Verlorenvlei:
die duister het die maan gesluk
die sterre het die nag ontglip

en oor die strandmeer neffens Elandsbaai
sal meeue tot in sterwens draai;
pik en teer – dié vloei deur my

Verlorenvlei … Verlorenvlei – Dit is ‘n besonderse gedig maar ek weet nie of ek suggestie van kleur en sinestesie hierin raaklees nie. Ek wil tog dink dat “donker” “lamploos strate” en “sterre” ‘n sagte refleksie na of van kleur behoort te wees. Jou vers is egter steeds aangrypend.

GORREL

1.Deur God geverf! – Die gorrel is kleurvol. Dit is soms verstommend hoeveel kleur daar werklik om is. Dan as ‘n skrywer ons weer daarop atent maak is dit heerlik.
Dankie vir jou deelname.

RUBRIEKE – GEEN INSKRYWINGS

ARTIKELS:

1.Blind was my wêreld – Heerlik dat daar sulke goeie engele om ons is.
2.Die kleurgrens van liefde – Ek weet nie of jou aanbieding werklik ‘n artikel is en nie eerder ‘n rubriek nie. Onderskei tussen nagevorsde inligting weergee (artikel) en opinies lewer (rubriek).

VERHALE

1.Skarlakenkoors – Heerlike verhaal.
2.’n Bloedrooi kruis – Let asseblief daarop om nie lang sinne sonder punktuasie te lewer nie. Verder, die afkappingsteken (apostroof) word verkeerdelik gebruik. Let op die sinkonstruksie en woordorde.
3.’n Storie vir sommeliers – Ek het heerlik gelag terwyl ek hierdie verhaal gelees het. Kostelik.
4. Gebede en wense – Pragtige, nostalgiese en teer verhaal




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 250
Kommentaar telling: 2781

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 71 gaste aanlyn

Bydrae Totale