Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uitslae en kommentaar- Januarie 2020 projek

Deur Anze
Datum gepubliseer: 6 Maart 2020 Aantal woorde: 8476 191 Kere gelees 1

Baie geluk aan hierdie 8 lede!

WENNERS

GEDIGTE
BRONS AFDELING
WENNER : No 7 Zebulon Kochk met Geen grysliggenesing
2 DE PLEK : No 1 Morne du Preez met Twee trane
3 DE PLEK : No 37 Annemarie van der Merwe met Onaangeraakd

SILWER AFDELING
WENNER : GEEN
2 DE PLEK : GEEN
3 DE PLEK : GEEN

GOUD AFDELING
WENNER : No 26 Carma Shaw met My Mei
2 DE PLEK : No 23 Carma Shaw met Die lampman is dood
3 DE PLEK : No 20 Anzé bezuidenhout met Verspilde lewe

GORREL GEEN

RUBRIEKE
No 1 Kiekies met Volkome vrou

ARTIKELS
No 2 Ano met Besoek aan ‘n anderste plek

VERHALE
WENNER : No 1 Riaan Palmer met Die inwoner
2 DE PLEK : GEEN
3 DE PLEK : GEEN

Kommentaar:

GEDIGTE:
1.Twee trane

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
die een die oorskot seer, die ander oor ‘n gebakte peer

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
die een bloei, die ander die helder groengras dal

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
dis die alleenkind obduksie uit sy moeder se skoot

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
dis die padda in die keel idioom

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
dis die droë oopmond Karoo sé rooistof-stoep

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
die een dra liefde, die ander leed

Twee trane val oor die ontlykte Aarde
en net dalk as jy sou kyk, sou jy kon bespeur
die een en die ander een is albei een-
van God.

Ek sou kon raai dat daar ‘n paar filosowe is wat hierdie gedig met die grootste omslagtigheid sou wou ontleed. Ek hou van gedigte wat seer-diep grawe, en dan soos granaatsap, bloederig en taai oor die papier vlek. Vergewe my bloed en taai metafoor maar ek doen dit juis met opset. Die woorde is taai en klou aan gedagtegange sodat die leser nie eenvoudig kan lees en aanbeweeg nie.

Ek wil nie pedanties wees en oor semantiek redekawel nie, maar ek dink jy het ‘n flater begaan in koeplet 3, 4 en 5.

Kom ek verduidelik. In die ander koeplette behandel jy die “twee trane” deur elkeen te beskryf. In die genoemde koeplette versuim jy om dit te doen. Dit skep dus verwarring. Verstaan ek dit verkeerd?

Die herhaling van die eerste sin deurgaans wil vir my steurend voorkom. Ek het dit ernstig bedink maar ek kan nie met ‘n alternatief troef nie. Ek gaan dus nie poog om dit te verander nie.

Die akuut klem oo “se” in die 5 de koeplet is onnodig of op die verkeerde plek.

Ek moet bieg, die gedig het my behoorlik laat dink omdat die inhoud nie nét uitgeskud is nie, maar date k duidelik kan sien dat jy elke woord geweeg het.

Jou gedig is swaar, in die mooiste sin van die woord. Gewigtig.

Ek wonder ook waarom jy “Aarde” voordurend met ‘n hoofletter geskryf het?
Baie geluk met ‘n besonderse vers wat jou talent behoorlik belig.

2.Blou-silwer trane

Kyk jy ook in die aand na die sterre
en wonder, droom en wens
kyk jy ook hoe die maan
donsig mooi sy weg deur die donker baan

En hier waar ek staan
waar stukkies, bietjies
inmekaar begin pas
vir die glimlag op jou lippe sag

Begin my hart versag
laat my dieper en dieper
vir liefde en geluk
in jou siel in delf

Blou-silwer trane
glim op my wang
hemelblou skyn my hart vir jou
waar ek styf aan hierdie droom vashou

Kom ons behandel die akademiese:
Indien ‘n gedig met ‘n hoofletter begin moet dit met ‘n leesteken sluit. In jou eerste kwatryn vra jy vrae, en daarom behoort daar iewers ‘n vraagteken geplaas word.

Ek sou voorstel dat jy geheel van die die hoofletters in jou gedig afsien. Dit is juis mooi enjambies aangebied en vra nie vir dit nie. Die inhoud van jou vers is skaflik en dit lees mooi.

3. GROEN GRAS

die gras lyk groen
as die reën dit soen

maar wat as droog
van son
oor die aarde kom

die gras lyk mooi
in die maan se rooi

maar wat as vaal
van wind
die stingels verslind

die gras lyk soet
aan die berg se voet

maar wat as kou
van ryp
aan die soetigheid gryp

die gras lyk goed
in die môregloed

maar wie sal
ooit weet
voor hy daarvan eet …

Ek wil sommige van jou woordkeuses en metafore bespreek:

Kyk na my voorstelle hieronder. Ek het die tipografie verander net ter wille van spasie dus moet jy dit nie sien as ‘n voorstel nie. Ek het sekere begrippe verander sodat dit “verstaanbaar” is. Alliterasie en assonansie is mooi maar ons moet daarteen waak om dit nie na te jaag en sodoende dwangrym te pleeg nie.
“die gras lyk groen
as die reën dit groet
maar wat as droog
en geen reën
oor die aarde kom
die gras lyk mooi
in die maan getooi
maar wat as aanslaan
van wind
die stingels verslind”

Ek hou van hoe jy jou vers ontwikkel…die gedagtes werk as ‘n eenheid sodat jy die vers op ‘n klimaks kan sluit.
Ek sou ook die vers eerder met ‘n vraagteken as ‘n ellips sluit.

Jou oorspronklike tipografie is interessant.

4. Opdrag vir ‘n Reëngebed

roer jou stingels grasveldlande
wuif jou halms in die wind
hef jou grootheid oor die rante
buig jou berg se rots my kind

skink die dieptes van jou branders
in ‘n vredes nagmaalkelk
hurk jou volmaan voor die melkweg
laat jou son se skyn verwelk

slaan jou oë op, dorre aarde
skud die stof af uit jou roet
stomgebuig in knielgedaante
smeek die Koning vir ‘n vloed

Die Gedig se inhoud bevat besonderse woordbeelde en metafore. Ek wil tog aanraai, in hierdie geval, dat jy dit sal orweeg om punktuasie te gebruik. Enjambiese aanbiedinge is mooi, en soms nodig, maar soms is orde in die chaos meer belangrik. Jou vers se inhoud is sterk maar gaan vir my verlore omdat ek self moet soek na die rusplekke hierin. Dit sal vir die leser soveel meer beteken indien jy as skrywer aandui hoe en waar ‘n leser moet rus.

Daar moet plekkies in jou vers wees wat vir jouself moet uitstaan en punktuasie is die perfekte gereedskap om dit te belig.

5.Geloof soos ‘n meeu

dou voordag wil ek antwoord
ek sal antwoord op Sy roepstem
ek sal offer wat Hy van my vra

geen duin of stille sitplek
kan daardie sekerheid vir jou bring
groei daarin en word volwasse

geen aardse besitting
kan langdurige geluk aan jou bring
geniet en wees dankbaar

leer hoe om te besit
leer eers hoe om te gee sonder verwagting
dan sal jou dae sagter word

elke mens het ‘n duin
waar hy of sy op stil raak
koester dit en glo

Sinonieme vir douvoordag is skemer en vroeg byvoorbeeld en daarom sal dit een woord wees. Een begrip = een woord.

Die is asof die eerste strofe losgemaak van die res lees. Ek kry nie ‘n draadjie wat regdeur die vers trek nie.
Jou vers sal baat by ‘n paar lidwoorde om die vloei te help. Indien ‘n vers nie lees-glad is nie, steur dit die ritme.

Ek stel voor jy doen ‘n bietjie redigering hieraan om die vers te ontwikkel tot sy volle potensiaal.

6. die lewe van ʼn boer

so dikwels word verwys na plaaslewe
met sterre in die oë – so romanties
omstandighede wat hyself nie kies
die dae en seisoene is mos gegewe

wanneer die seisoene begin draai
vol verwagting vul dit mens en dier
almal voel dit – die uitkoms is hier
oë smeek op horison as wolkies waai

smagtend na lewendgewend water
jy ruik en hoor die reën in verte lag
dan begin die senutergende gewag
trane biggel teen wange af veel later

die boer moet aanhou uithou en glo
maar verslae stil word sy gewag al langer
diere word swakker en hy al banger
die boer bly sterk en glo: uitkoms is van Bo …

Ek ervaar jou vers, hoe belangrik ookal die onderwerp, as kripties, ontneem van ritme en vloei.
As ek eerlik is lees jou vers vir my soos ‘n artikel en nie soos ‘n gedig nie.

Die geheim vir suksesvolle en roerende verse is dat jy meer wys en minder vertel. Die leser moet nie altyd met ‘n lepel gevoer word nie.

Ek hou van die onderwerp van jou gedig. Jy kan hierdie vers ontwikkel tot ‘n uitstaande pronkstuk.

7.Geen grysliggenesing

Toe die oopgesperde
hemel
sagglinsterende sterre
buitesluit
en my
koningparadysvoël
(uit sy vlerkskild)
met dollevlug
sy luggesig
vaal okkult met
vasgemiste wolke.

het versperrende reën
se wintervioliere
my dryfysige hart
karig gevoed.

Let asseblief op die punt na jou eerste strofe. Waarom sluit jy jou eerste strofe aangesien strofe 2 eintlik deel is van die oorspronklike gedagte en waarmee jy jou gedagte sluit.

Ek hou baie van hierdie gedig. Ek wonder of lyn 9 en 10 nie uitgelaat kon word sonder dat daar op enige wyse aan die strekking van jou gedig verander sou word. Ek wil nie sê dit pas nie, maar daardie deel van die “gedagte” voel so effe gerek en ek kan nie bepaal of dit bydrae al dan nie.

Ek is egter oorweldig met hierdie indrukwekkende gedig. Jy is baie talentvol en jy behoort aangespoor te word om jou talent selfs verder te ontwikkel. Welgedaan!

8.bewus

die dageraad lê braak oor my duin vandag
blou wolkies soom die horison met mis
eenkant skyn laaste lig van ‘n maan
oorkant dein ‘n rustige see
my hart is stil
gister is oor
vandag is
nou hier
die daeraad lê braak oor my duin
blou wolkies soom die horison met mis
eenkant skyn ‘n maan se laaste lig
‘wyl die see oorkant rustig dein –
my hart is stil
(gister, verby)
vandag is
nou hier

Kyk na die paar voorstel/veranderinge hier. ‘n Bietjie praktiese raad: probeer altyd, en veral as jy enjambies skryf, dat die metrum lig en nie donker is op die laaste lettergreep van jou sin nie. Dit is selfs meer belangrik by die woord wat jy aanwend om jou vers te sluit.

“Dageraad” is ‘n aanvaarbare alternatief maar dit is so effe verouderd; daarom my voorstel van daeraad.
Die ander klein woordorde veranderinge het meer te doen met ritme-aanpassing as enigiets anders.

Jou vers het baie potensiaal, en selfs al gebruik jy nie my voorstelle nie, kan jy jou eie aanpassings maak.
Dankie vir jou deelname.

10.Mi-Amor

Ek koop vir jou ‘n geskenkie
‘n sommer-ma-net geskenkie
toegedraai in spikkelrooi en geelpitgroen granate,
en sien die sterre blink, die sterre blink;
die winde waai kussingsag oor jou baai-

in die ná-môre sal ek jou oggend stem hoor,
tussen die sandkorrels van my gedagtes in weef
en soos ek alleen in die donkerdwaal;
jou liefde, my ligtoring-

jou gesig was vir my ‘n skattekaart
ek was maar x iewers op jou lyf
tussen die ou Piramides
agter die klipkronkelpaadjies;
sakrale oomblike opgesluit in die milieu-

daai een sandkorrel wat diep in my hart splinter
tot tienduisend eindelose stukkies …
van jou.

Voor ek die potensiaal van jou vers bespreek, die klein jakkalsies:
SPELLING: As ‘n digter het jy geen verskoning om spelfoute te maak nie. Die woorde is die enigste gereedskap in jou arsenaal en daarom is dit ongelooflik belangrik!!! Donker dwaal = 2 woorde; oomblikke = 2 x k; oggendstem = 1 woord.
“’n sommer-ma’-net geskenkie” Hierdie sin bevat elisie, maw, die weglating van ‘n klank om ‘n sekere ritme of gevoel te bewerk. Sonder die weglatingsteken, verwys ma na moeder en is dit nie elisie, soos dit hoort nie.

Die vers het pragtige metafore en besonderse, amper sintuiglike beelde, en beskik oor baie potensiaal.
Met ‘n bietjie redigering en aanpassing kan jy dit ontwikkel tot ‘n digskat.

11.Gister, die leermeester

n Fout begaan, is finaal en gedaan;
sleep hom nie saam in die hede,
maar sluit hom weg in die kluis van die verlede
en as môre jou begroet, vat die volgende met jou saam:
Tussen die wag voor jou mond en mooi dink eerste,
bly gister nog altyd die beste leermeester.

Onthou jou hakie by die [‘n].
Punktuasie is belangrik om poësie sinvol oor te dra, maar ons moet waak om dit op die regte plekke te gebruik.
Kom ons gebruik jou eerste sin as voorbeeld:
Die komma is nie funksioneel nie aangesien die komma-punt aan die einde ‘n langer rus bewerk. Het die leser twee rusposes nodig in hierdie een sin?

Die sinne in die gedig is ook swaar en oorlaai en ek wonder of karigheid jou nie sou baat sonder om die begrip te verander nie?
Wees ook versigtig vir ou begrippe soos “kluis van die verlede” en “more jou begroet”. Dit kan geyk oorkom.
Jou vers beskik oor die nodige potensiaal en met ‘n effe skaaf kan dit ontwikkel word tot ‘n goeie vers.

12.Sigbaar – hoorbaar

eers was dit die dowwe kolle
toe kom die grys gordyn af oor haar oë
asof dit nie genoeg was nie verloor sy gehoor
daarmee word dit donker en stil – strafgerig
of is dit maar ouderdom wat so maak
wat het sy verkeerd gedoen
donker nagte en dae
gaan verby
sonder
bewuste
blootstelling
net die gedagtes
wat maal en roer
wat verwyt en huil
stilte en duister
saam is erg
gevoel
sal
verskerp
maar
teen
watter
prys

Ek is ‘n voorstaander van uitdagende tipografie, enook ‘n enjambiese versaanbieding, MAAR dan moet dit met omsigtigheid benader word. Jou enjambiese aanbieding skep verwarring vir my as leser. Nie net laat dit my met groeperinge losstaande gedagtes wat ek moet ontsyfer nie, maar die woordorde en woordkeuses maak die verstaan op die oog-af moeilik. Ek gee eenvoorbeeld:
“net die gedagtes
wat maal en roer
wat verwyt en huil
stilte en duister
saam is erg
gevoel
sal
verskerp
maar…”
Hierdie gedeelte in jou vers is veral verwarrend en dit sou baat met ‘n ander woordorde of dalk funksionele punktuasie.

Jou gedig behoort ook met ‘n vraagteken [?] te sluit.
Ek stel voor jy redigeer hom so effe om dit leesvriendeliker te maak.

14.Die wensput

Die wens put
Die munte val met ‘n plons
in die water en sink weg, na
‘n donker duisternis, wat herinner
aan die kleur van diep in die nag.

‘n Wêreld wat gedroom moet word
om te realiseer. ‘n Wêreld
waar dit geluk gaan koop vir
‘n magdom soekers na hoop.

Radeloos, moedeloos, bygelowig.
Hoop op ‘n enkele brokkie loskoop geluk,
in die wêreld se nood.

Ek gaan ongenaakbaar karring aan jou vers. Nie omdat ek dink dit is swak nie, maar omdat ek die potensiaal in jou idee raak sien. Vergewe indien jy dink ek dissekteer jou vers genadeloos. Ek wil net demonstreer dat jy met bietjie sorg ‘n goeie vers kan skep sonder om voor herhalings en geykte konsepte die knie te buig.

Kyk na my voorstelle:

Munte val met ‘n plons
die water in, en sink
‘n donker duisternis binne
soos die kleur van ‘n diepnag.

In ‘n kring tuimel dit
om drome uit die obskure te realiseer,
soekend na geluk
vir die verkenners van hoop.

Sonder raad, moed en bygelowig
smag hul om losgekoop te word
uit hierdie malle nood.

Dankie vir jou deelname.

15.Wie sal verstaan

Wie sal ooit die hart van ‘n boer verstaan
waar hy stadig kyk hoe alles vergaan,
met ‘n sware, sinkende, stukkende hart
voel hy die natuur en dier se roue smart.

Wie sal ooit die traan van ‘n boer verstaan
waar hy bewoë knielend voor die Here staan,
‘N boer, verouderd van wind, reën en warm son
hy sou die plante water met sy trane as hy kon.

Wie sal die gebroke liggaam van ‘n boer verstaan
waar die hare grys gebleik is en die vel verkoper,
seer lywe, nat van sweet, geskoei deur natuur
om net nog ‘n dag as arme boer te kan verduur.

Wie sal die gemoed van ‘n boer verstaan
waar die hele land net roep ; rand hom aan,
haat, vernedering, minagting en rasisme
terwyl hulle skree; hier is geen kommunisme.

Wie sal die seisoen van die boer verstaan
plant, swoeg, sweet, vasberade uithouvermoë,
sodat net hy kan sê waar kom voedsel vandaan
in terugbetaling ontvang hy net menige betoë.

Wie sal ooit die trots van ‘n boer verstaan
waar hy kom van berg, vallei, vyand en ossewa,
geveg, gebloei, verdedig onder ‘n koue maan
sou hy eenman alleen sy volk en land kon dra.

Wie sal die wese van boerwees verstaan
behalwe hy wat in dieselfde skoene staan…

Ek dink jy doen jou vers ‘n oneer aan deur dit in die vierde strofe te verpolitiseer. Die hart, seer, verlange, harde werk, bloed en sweet van die boer kan en moet behoorlik ververs word maar jy verloor die essensie van die boer as jy die kollig verskuif na enigiets anders as sy hart in die grond.

Jou vers het lang, en soms onsamehangende sinne en sal baat by ‘n behoorlik redigering.

Probeer die hart van die boer verwoord sonder om die focus van sy bydrae te verskuif.

16.Kaalvoetliefde

Kaalvoet staan ek voor jou
my hoof is onbedek,
my hart is in my hande,
my liefde onbevlek.
Jy vra wat’s my begeerte,
wat wil ek hier kom kry,
ek antwoord uit my hart uit,
dis altyd maar net jy…

want dis ‘n kaalvoet liefde dié
waarmee ek jou bemin,
‘n liefde sonder rym of ritme,
sonder einde of begin,
want jy trap kaalvoet spore
op die paaie van my hart,
en so het jy my liefde
lankal reeds vir jou kom vat.

Dit is ‘n lig en aardse vers wat waarin ek ‘n eerlike verwoording lees.
Kaalvoetliefde en kaalvoetspore sal een woord wees. Miskien kan jy ‘n sinoniem soek vir die tweede kaalvoet woord in die tweede strofe. Verder het ek nie veel kritiek hierop nie.

17.Skoppelmaai

Kyk ek ry op my skoppelmaai
en my lag weerklink in die wind se waai
as my kinderhart op die wolke dans
in die skittering van die son se glans,
en ek swaai en ek swaai op my skoppelmaai
maar die wind het bedaar en nou ophou waai
want my grootword hart het vergeet om te dans,
en die son verdwyn en verloor sy glans
maar die skoppelmaai hou steeds aan met swaai
want dis ‘n koue wind wat nou deur my waai
en my oudword hart verlang na die dans,
na die sagte wolke met die sonskynglans
en die laaste swaai op die skoppelmaai
is ‘n lang swart motor wat by die hek indraai…

Die sinne in jou gedig is swaar woordoorbodig. Daar is ‘n oormaat nie-funksionele voeg- en lidwoorde.
Jy kan baat by ‘n goeie redigering hiervan.

18.Paddakoor

Ek sit op stoep
ek hoor hulle roep
ek hoor dit in my oor
die mooiste paddakoor

oor en oor sing die hemelkoor
my hartsnare is strelend getoor
dis die mooiste klanke wat ek hoor
brulpaddas het met my hart bekoor

In die donker maanlig
sit die paddas in die sterrelig
hoog vlieg al die klein vuurvliegies
oor die water flikker al die helder liggies

net soos die mooiste feeverhaal
die goueboek word van die rak afgehaal
klein feetjies het ‘n storieboek opgetel
Paddakoor kom die spokiesboek vertel

Jy val in die strik van “rympie maak”
Die rympatroon in goeie poësie moet nooit gedwonge wees nie. Jou vers ontbreek verder aan nodige lid- en voegwoorde.

Jy gebruik konsepte soos “donker maanlig” en “sterrelig in dieselfde strofe. Dit is in teenstelling met mekaar. Die vers kort werklik baie aandag en skaafwerk. Dankie vir jou deelname.

19.Die nuwe jaar

Die Nuwe Jaar het gekom
my oē is vas gerig op Hom
die vorige jaar het my verstom
ek slaan vir my ‘n nuwe blaaitjie om

wat gaan hierdie jaar na my kant toekom
groot dinge gaan oor my paadjie kom
vrae en raaisels draai om en om
God is my pleister en my gom

Klou net vas aan jou enigste hoop
al draai die wêreld my lewe om
met God sal niks my oorkom
God is my lewensbron

Sonder God kan ek nêrens kom
niemand kan van dit af wegkom
hou vas aan God se rykdom
God is die enigste slotsom

Die vers maak my geheel nie opgewonde nie. Die begrippe is oud, geyk en uitgedien.
Dit het niks te doen met die godsdienstige tema nie, maar met die deurtrapte wyse waarop jy met die onderwerp omgaan.

Daar is geen varsheid in die aanbieding nie. Die inhoud is iets wat hierdie leser al duidende kere gelees het.

Ek stel voor jy redigeer en kyk of jy nie nuwe en vars begrippe en idees kan invoer nie. Jou tema kan dieselfde bly maar jy kan ook die leser opgewonde maak om dit te lees. Dankie vir u deelname.

21. DANS OF NIEMAND KYK NIE

trompetterpienkpronkend basuin Distictis buccinatoria
danstyd aan in my tuin naby Pretoria

kwê sê ‘n geveerde grysaard van bo doen die tango kwê
tussen grenadellakrulle glipgly ek gooi my lyf oor ‘n vrug soos hy dit wil hê
wip-wip dans ek of niemand kyk nie in soetsuursap druppend
stop bo-op my tuinbrug reguit rug

Venesië se water sus een twee drie een twee drie
ek wals saam met Straus verby ‘n ligblou waterstroom ewe vroom
water so koel spoel oor my spierwit hoepelrok
‘n voël spookdans in ‘n hoë boom ek sprei my arms engeldansend en droom

vêr van ‘n swartmamba doen ek die samba
ek dans of niemand kyk nie
bont blomme kondig karnavaltyd aan
kakelaars raas en kwetter ritmies saam

‘n poublom wieg delikaat dramaties in die wind voor die stoep
waar ‘n swartoogtiptol tjir tjir roep
my lyf sweef met ‘n sag kloppende hart
goudgeel sonstrale speel in my hare
ek dans of niemand kyk nie

‘n klein kwikkie met ‘n stokkie verbeel hom hy is Tchaikovsky
veerlig balanseer ‘n speg op ‘n vy saam met my
glimlaggend draai en swaai ek deur my tuin ek sing
ek dans of niemand kyk nie

tussen ballerina blomme punt ek my tone en land iewers tussen stene
dans is in my gene
deur die lewe wil ek aanhou dans of niemand kyk nie

Die vers is swaar en woordoorbodig. As leser verloor ek die draad op verskeie plekke.

Dit spring van Pretoria na Venesië dan terug na ‘n samba…

Ek sou in jou skoene swaar inklim en hieraan snoei om dit net effe ligter en meer woordekonomies te maak. Probeer ook die draad deur die vers te behou.

Daar is baie potensiaal, maar jy het werk om te doen. Ek dink jy slaag met die enjambiese aanbieding

22.Droomvanger

onder ‘n sterlose hemel
dans jou maanlig
oor my voorstoep
veer jou winde
sag teen my wang
jou fluisterstem vertroos my
deurmekaar gemoed

jou sekelmaan skink sy beker
en betower my
met jou silwer sterreprag
steel vanaand my hoop
en vang my drome vas
in die holte
van jou hart

droomvanger
my liefde
lê vir altyd
by jou

Dit gedig is aangenaam. Ek dink jy slaag met die enjambiese aanbieding. Dit is geslaagd. Dankei vir jou deelname.

24.Labirint

My lief,
aan die weskus loop die snoek in donker figure,
het winter weer gebeur.
Soos daardie dag is die see onderstebo,
onthou jy nog?
Onderstebo, met wolke soos bokkoms geryg
aan ‘n grou hemel waaruit vonke waai.
Jou oë se sagte kniel het ons liefde gehou
maar in die trap en steier van die storm
was die einde
van jou reis.
Nou sit alleenheid soos growwe sout vas aan my
gaan ‘n tweespoorpad tussen ons.
Ek luister en luister,
verbeel jou voel-voel treë op soek na
ons geborge ruimtes.
Volg die spoor van die sonkwasriet, my lief,
hoor die wind wat sweef met die grootmalmok –
dit dra jou naam dra jou naam…
Kom nader my lief, kom deur die gange van branders
en vind my, vind my in die middel
van hierdie labirint.

Ek kan sien dat jy hard gewerk het aan die ontwikkeling van jou vers. Jy trap egter in ‘n hele paar strikke. Op sekere plekke maak jy goed en funksioneel gebruik van punktuasie, maar dan is daar plekke waar dit werklik nodig sou wees en ander waar dit gerus weggelaat kon word.

Wees waaksaam om nie die leser sensories te oorlaai met té veel inligting nie. Somtyds maak ‘n koppeling, nuwe woorde en idees ons opgewonde en dan wil ons alles in een vers inprop.
Lees altyd jou vers ten minste 10 keer deur voor jy dit plaas.
Let op ritme en metrum.

Dankie vir jou deelname.

25.Pelgrimstog

vir oom Frik Steenberg, ‘n vriend en digter (1943-2018)

Ek wou nog een maal hier huil
waar kleur in blomsaad rus, die lug wegsterf
as rooi katstert en kalkoentjies oor ver stiltes
klim-klim teen ‘n sandknop uit.
Hier word die onthou, sag gebrei op die skraapklip
droëntyd en hartbreek aanmekaar geryg
soos matjiesgoed, steek vir steek,
en ek dink aan jou woorde:
“lei verlaas my terug na diérbare land”.

By bleek velde wou ek nog een maal huil
dorheid verlore in dorheid onder my voete
met die bokfluitjie se pêpê-lied ‘n trae herinnering,
‘n dowwe skittering aan die stekelkleed van haakbos:
“bring my dáár waar ruimtes is”.
Ek het ‘n arend in vlug gesien nietwaarts swewe
sy vlerke ‘n wit kruis gespan hoog bo die klipperse aarde
en gedink aan jou woorde:
“mý skadu is die plek waar pelgrims woon”.

Die vlaktes word ‘n laaste eerbetoon.
Hiér het jy eens pad getrek oor skalie en graniet
leer verstáán om alle dinge lief te hê:
“die land was wyd en dors en heerlik swaar”
en ek bind jou woorde toe in my abbadoek
haal winterreëns nader, laafnis vir halfwoestyn
pluk vir jou die blare van ‘n boegoestruik.
Ons stap terug vanaf duine wat vlamkameel staan
tot waar koeltes karos lê op Ouwerf.

Ek wou nog een maal hier huil, laatdag,
as nypende son versag oor kaiingsgrifrant
en jou woorde tolbos in die laaste warm wind:
“ek is op pad… ek kom net groet…”
Hier ken die alomkaal ou verdriet.
Wanneer ek wegry met die Elandskloofpad langs
proe ek die klewerige sóét van wildeheuning
in jou strofes, weet ek jóú aardse tog
was vir ruimer teks bestem.

Hierdie vers herinner aan ‘n swaar Wagner simfonie. Die leser moet dronk probeer kophou om al die inligting en beelde te verwerk.

Die gedig is swaar, oorbodig-beskrywend, ritme-ontbrekend en sensories oordadig.

Ek het ongelooflik moeilik hieraan gelees want die digter probeer té veel sê.
Ek kan net sê: woordekonomie kan jou hier baat.

Die idee en metafore is pragtig, die beskrywing van die omgewing en die sintuiglike is heerlik. Ongelukkig is die gedig soos ‘n jaar kursus wat in ‘n naweek ingedruk word.

Redigering gaan jou help.

27.Mammon-liefde

as ek jou warm in my armkring vasklem
hoor ek klingelende klokkies in my oor
as jy klankloos kreun met stil sagte stem
dink ek dit is ek wat jou so mateloos bekoor

min wetend van skuilende storm wat broei
in jou hart waar die liefde goud-deurvlam
stadig maar seker soos ons liefde groei
onbewus van hartseer wat hier sal uitstam

as ons voor kansel trou beloof in eed
die ewig trou en liefde wat ons ervaar
het jy reeds die doel voor oë geweet
hier sal jy die kleine goudmyn kom baar

soos die haan drie maal kon kraai
en ek in die nag oor verraad ween
het jy besluit jy sou my so verraai
gebroke gestroop al wat oorbly: ek alleen …

Ek volg die strekking van die inhoud, maar die sinkonstruksie en woordkeuses op sekere plekke kan verwarrend oorkom.

Die gebrek aan nodig lid- en voegwoorde, veral waar dit funksioneel nodig is, pla.
Dit ritme word ook gestriem op plekke waar die sinne effe langer is.

Ek dink jy kan die vers ontwikkel tot ‘n mooi gedig, maar jy het werk om te doen. Dankie vir jou deelname.

28.Respyt

wanneer hartstog ‘n ou vrou word
en die vertroosting
van aanraking na benede stort
só met die terugtree uit
omhelsing

wanneer herinnerings verseg
om in ‘n hart te bly leef
eensaamheid se kilte veg
om honger hoop
te verweef

dán is dit tyd vir respyt
vir stil word in die wete
dat verlatenheid diep kan lê
en wyd
dat sy aankoms soms
onkeerbaar is – altyd verbete

maar telkens kom ‘n hart wel tot rus
wanneer tyd vir omhelsing weer
naby is
Kyk gou na my voorstel vir jou eerste stansa:

“hartstog is ‘n ouvrou –
aanraak-vertroosting,
in geen omhelsing, ontbreek”

Hoe voel jy oor so ‘n radikale toenadering?
Ek dink die oorweldige geheim in poësie is:
1. Moet nie jou leser voer nie;
2. Sê minder en wys meer;
3. Wees geheimsinnig sonder om jou leser te verwar;
4. Skryf soos ons praat;
5. Vermoor jou lieflinkies.

Stuur gerus vir my ‘n inboks.

29.Nuwe vriendin

My nuutste vriendin ek sit hier op my werkstoel en dink,
dat alles so suiwer en helder in my kop in sink.
Jy is ‘n anker
Jy is ‘n mens in jou eie karakter.

Saam kuier ons.
Saam suiwer ons, ons gedagtes,
sodat ons kan streef na nuwe vlaktes.
Jy’s soos ‘n sagte rooi nuwe wyn
‘n lafenis vir die siel se pyn.

Saam kan ons lag.
Saam kan ons vir nuwe hoop in die toekoms wag.
Dankie Vader vir jou,
want Hy weet hoe kosbaar is jou vriendskap nou.

Waak teen ‘n vers wat eerder soos ‘n verslag lees en nie digkuns weerspieël nie.
Jou punktuasie is swaar en oorbodig op sommige plekke wat die vloei en ritme erg steur.

Die vers lees werklik of jy ‘n inskrywing in jou dagboek maak.
Ja kan die vers mooi ontwikkel maar jy het werk om te doen.

Stuur gerus vir my ‘n inboks indien jy verder hulp verlang. Dankie vir jou deelname.

30.Liefdesverraad

ek het vir jou ‘n roos gepluk
uit die blomtuin van my hart
sorgvuldig het ek dit gevoed
met die trane van my smart

elke druppel het ek bakkieshand
versigtig opgevang
om oor die bloedrooi Judasroos
se kelke te kan hang

in jou uitgestrekte hande
het ek die roos geplaas
jy die hartsverraaier
en ek die stille dwaas

ek het vir jou ‘n roos gepluk
uit die blomtuin van my hart
met die wete dat jou judaskus
my lippe koggeltart

Hipoteties is daar geen fout met hierdie gedig nie. Ek sal egter waak teen betekenisse en denkbeelde wat geyk is.

Die gevaar bestaan altyd in poësie dat iets voorheen reeds gebruik is, en sodoende die grootste gross as geyk gesien kan word. Ons as digters egter, moet voordurend soek om bekende idees te vernuwe.

Die neologisme “koggeltart” is mooi en ‘n aanduiding dat jy wel oor die talent beskik om sin te maak uit my voorafgaande kommentaar.

31.rooiblink politoerstoep

op die verhoog van my lewe
weerkaats skitterblink lugborrels
in die geheue van grootwordjare
in ʼn skakelhuis in spoorwegbuurt
met spieëlblink rooi politoervloere

eerste regte trapfiets hier gekry
kop wat skaars bo die sitplek kom
met my Pippie-Langkous vlegsels
pa wat vashou en agterna draf
tot ek triomfantlik alleen kan ry

die Oukersaand se opwinding
om te wag vir die rooipak-witbaard
vader Krismis op die oopbak-wa
wat net vir die soet kinders sou
kom geskenke aflewer na middernag

koester-oomblikke van lê en wolke kyk
om die snaakse prentjies te kon vind
as ons piekniek hou op Sondagmiddag
aan die oewers van die grote Oranje
smul aan nektarsoet druiwe uit die boord

die Desembermaand-vakansie in Knysna
kamp in karavaanpark langs die strandmeer
braaivleisvuur en malvalekkers in vlam braai
om uitgeput weg te dut met die stemme
wat sag singerig sit en stories vertel

my eerste skooldag met blinkswart
skoolskoene wat krrr-krrr kraak as ek loop
die bruinkarton tassie spoggerig nuut
die warm hartklop van ʼn haasbek
dogtertjie wat uiteindelik kon leer skryf …

Die titel van jou gedig is nie aanduidend wat ek in die vers verwag het nie.
Die gedig is lank en omslagtig.
Die gebrek aan mooi en funksionele voeg- en lidwoorde maak dat jou gedig ontbreek aan vloei en die nodige ritme.

Waak teen geykte idees. Dankie vir jou deelname.

32.’n Ma se hart

My kind …
jou optrede en woorde
skif soos kaf in die wind
een oomblik sag soos satyn
dan weer druppend van venyn
kneeswoorde en dade
(hier en daar, deur die jare)
wat seer letsels laat

my oog sien
wat ander nie kan
my oor hoor
wat ander nie verstaan

getrou gee jy elke jaar
(met Moedersdag)
‘n toegedraaide geskenk
gestrik met trots en prag
en, alhoewel ek dit aanvaar met dank
bloei my hart oor klater
want opregte liefde
(en respek)
kan nie gemeet word in geld
teen suiwer waarde

so, los maar die jaarlikse
enkel dag se onthou-geskenke
die afgewaterde huldeblyke
sien raak my moederhart
verguis, vertrap, versmart
deur onsensitiewe optrede en woorde –
veel eerder sal ek daagliks wil ontvang
eerbied uit jou dade
want slegs dít
sal my kan laat voel
soos ‘n ma van waarde.

Stuur asseblief vir my ‘n inboks sodat ek jou kan help om hierdie vers tot sy volle potensiaal te ontwikkel.

Die gedig is swaar en lomp en kan dieselfde resultaat verkry deur te knip aan die onnodige.
Ek weet dit is nie my plek om voor te skryf hoe jy moet voel aangaande nie, maar dit is my plig om jou te help om jou skryfwerk te ontwikkel tot iets wat besonders is.

Ek help graag verder indien jy sou verkies. Dankie vir jou deelname.

33.God se bedelaar

Daar op die hoek
van die winkel
staan ‘n omie,
bakhand en kromrug.

Sy wange is ‘n replika
van Kimberley se Groot Gat-
hol, leeg
hy’s alleen.

Dié omie se klere
kom van ‘n fabriek
met ‘n lap tekort
met g’n end aan vlekke.

Nogals snaaks- hy’t
‘n bybeltjie in sy
sak wat vir ons
koekeloer.

Partydae sit hy platgat,
moeg gestaan, moeg gevra
sweet tap van sy verkrummelde
gesig- tog glimkag hy.

As ek verby ry wanneer
die maan kop uitsteek
kniel hy voor ‘n
hout bankie.

Sy trane maak die
woestyn groen van
jaloesie.
met die nagwind is hy
Antartika homself.

Voor hy swaar-swaar
homself ophys prewel
hy ‘n jammer-sê gebed.

‘n Engel hou sy
hand vas terwyl hy
droomland haal,
want hy’s God se boemelaar.

Die belangrikste deel van ‘n digter se werk, én sukses, is waarneming. Jy weerspieël so ‘n talent.

Ek wil jou aanmoedig om wyd te lees, baie te skryf en n elke projek deel te neem. So sal jy jou stem in die mark vind. Dankie vir jou deelname.

36. Mooi

‘n Suksesvolle skets
hang (swaar) af
van waar sy
buitelyne
lê.

En al lê ons lyne nou
lelik gegiet in swart
hét jy eens my hart
se mooi, sag omvou.

Ek
helaas
hang steeds
hopeloos te swaar
aan jou lyne vir my mooi.

Ek dink die deursnit leser sal effe sukkel om geheel hiervan sin te maak.

Ek dink dit is ‘n slim gedig maar sommige wordkeuses doen afbreek hieraan.

37. Onaangeraakd

Voel jy my ontblote siel
se diepslaapdroomgevoel?
Kon dit maar skroomloos,
minder broos,
boomreikend beur
oor blou-vêr heen
en poog om ongesproke
spreuke vas te vat
om aan ons grense te verleen.

Want my hart smag
die holte van jou palm.
Maar daar is spasies
wat tussen ons talm:
tegelyk tasbare storm en kalm’.

Vóél jy my wag?

Jou gedig is slim ontwikkel.
Ek hou van die metafore en die ritmiese ontwikkeling wat sluit in ‘n uitdruklike hoogtepunt.
Goeie gedig.

38. Uitnodiging na Reënboog en Reën se troue

o’ broeders en susters en algar wat luister

u word vriendelik uitgenooi na die huweliksbevestiging
van ons broeder Reënboog en suster Reën
wat binnekort gaan plaasvind by Augrabies

jul uitnodiging is reeds oppad soontoe
plek-plek uitgedeel vir besigtiging
so hef jul oë op met lof en danksegging

suster Reën is reeds besig om wuiwend
die skare te nooi na haar bruilof by die waterval
sy’t reeds haar vaal karos wyd gesprei soos gebed haar dra
deur die paradys van stilte met Natuur singend agterna

vir aanwysings volg die reuk van haar parfuum
wat swaar hang in die lug en die klingel
van haar armbande soos broeder Eugene ons herinner

broeders Dassie Klipspringer en Bobbejaan se kind
tree reeds aan op die walle van die Augrabies
wagtend vir die Oranjerivier se huweliksmars

ons sal aanskou hoe suster Reën
dansend al langs die ravyn
by haar beminde Reënboog inhaak vir seën

Son is verantwoordelik vir die beligting by die onthaal
en Wind vir die skoonmaak daarna
elke gas hetsy viervoet of twee is vriendelik uitgenooi
om jul trane te strooi na afloop van die diens

laaste versoek

u is welkom om saam te skaar
vir die dans van die jaar
en jul sorge by die deur te los
waar ‘n engel dit sal pos

laat ons dans soos nog nooit tevore
saam met suster Reën
vir God se grootste seën

*met apologie aan Eugene Marais

Die gedig is omslagtig en herinner eerder aan vonkfiksie as ‘n goed beplande gedig.

Daar is baie potensiaal, maar die vers dra swaar aan al die inligting en woordoorbodigheid.

Redigeer, redigeer, redigeer!

39.Liefdesdans

dans, dans, dans in die lente
dansend ek en jy
soos vlinders op die maat van die lentewind
jy altyd deel van my
ons tol om en om in ons somertyd
twee swaeltjies wat huis toe kom
saam in ons eie liefdeskokon
twee harte word een
in die somerreën
met my asem in jou
is jy deel van my
jou liefde maak my my
jy word ek, ek word jy
jy leef hier binne my
deur die vingers van tyd
‘n dans oor ons herfstapyt
deur liefde geseën
is twee siele een
my liefde maak jou jy
met ek as jy
en jy in my
kan ons saam in ons wintertyd bly

Waak asseblief teen geykte begrippe en inhoud. Hipoteties is daar niks fout met jou werk nie, maar dit is iets wat ek reeds duidende male te vore gesien het. Ontwikkel jou woordeskat en jou vermoë om neologismes te skep. Dankie vir jou deelname.

SILWER

13.Verlange

as die maan so wasig
my gelaat afwit
so wit so wit
net soos my silwer kroon
voel ek hoe verlange
so saam met asem
deur my waai

ek neurie sag ‘n liedjie
van jare ver ver terug
en voel hoe vlerk my voete
die wysie ritmies saam
ek sluit my oë
en wieg en wieg
en nestel
teen die soetheid
van onthou

herinnerings
tol om en om
en dans en draai
en dan
eufories
lê die laaste note
my sag so sag
in droomland neer

My enigste kommentaar: geyk! Waak asseblief teen geykte begrippe en inhoud. Hipoteties is daar niks fout met jou werk nie, maar dit is iets wat ek reeds duidende male te vore gesien het. Ontwikkel jou woordeskat en jou vermoë om neologismes te skep. Dankie vir jou deelname.

34.NSRI

Ek het gedog jy was my reddingsboei,
of my rubber duck,
maar jy’t gesê ek moes bly stoei,
ek sien verkeerd –
die water is vlak:

Ek moes in die arms van die stingray bly,
stekie vir stekie
se stadige dood bly ly,
myself en wie verkul,
want al is sy aard ook hoe,
kan die pyle in sy stert terugkrul.

En kognitief versteurd
het ek bly droom
ek sou uiteindelik
soos in ‘n sprokie
van my kinderdae
op ‘n dolfyn kon ry,

maar ek bly spartel
hidrofobies,
met borrels in my neus en mond,
tussen monsters van die see
en vrot vis rond.

Stuur asseblief vir my ‘n inboks sodat ek jou kan help om hierdie vers tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Die gedig is swaar en lomp en kan dieselfde resultaat verkry deur te knip aan die onnodige. Ek weet dit is nie my plek om voor te skryf hoe jy moet voel aangaande nie, maar dit is my plig om jou te help om jou skryfwerk te ontwikkel tot iets wat besonders is. Ek help graag verder indien jy sou verkies. Dankie vir jou deelname.

Goeie Vrydag

Krisis, daar’s nie water nie,
dit gaan ons sleg vang!
Net nog in die ketel vir
‘n leksel koffie by die brood.
Wyn is daar in bottels (maar darem nooit nie voor die diens).
Asyn is volop op ‘n rak en daar’s bietjie water in die fridge.
Ek kan nie skeer of stort nie!
My hare is so olierig!
Maak dit dan net vas.
Hoe kan ek kerk toe
gaan so vuil en taai!
Moet tande borsel,
want my asem stink!
Ek wil so graag kalm
wees en rustig dink,
onthou toe van daai
vol tenk buite met
darem genoeg om
die kla mee af te vee.

Wonder tog wat is die bohaai.
Jesus was vodde, dors, vol bloed,
met hare wat in toutjies hang
en netnou by die diens,
aan die voete van die
kruis gaan
Hy weer eens,
sy lewe vir ons gee
ons totaal en al skoon was!

Stuur asseblief vir my ‘n inboks sodat ek jou kan help om hierdie vers tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Die gedig is swaar en lomp en kan dieselfde resultaat verkry deur te knip aan die onnodige. Ek weet dit is nie my plek om voor te skryf hoe jy moet voel aangaande nie, maar dit is my plig om jou te help om jou skryfwerk te ontwikkel tot iets wat besonders is. Ek help graag verder indien jy sou verkies. Dankie vir jou deelname.

GOUD

9. Die Stem van Bo

terwyl die skerfiemaan
wagtend biddend en geboë
tussen beneukte wolke hang
turend in dowwe sterreglans
tussen Orion en die Suiderkruis
opsoek na die Ster
wat wysheid sal bring –
die Stem van Bo

boomgeraamtes staan (in
grafdoeke) toegedraai
tastend en blind
in die duisternis se swart
wagtend dat die Lig
verdoemenis sal breek
op bevel van –
die Stem van Bo

dof weerklink die naggeluide
onder die droewige aanslag
van die eens donkernag
waar dit in ‘n kakofonie van klank
nuwe lofliedere bring
op die wieke van
dié neergedaalde wolk
wat in oorwinning eggo onder
die Stem van Bo

Akademies is daar niks fout met jou gedig nie. Die oorhoofse idee is goed maar in geheel ontbreek die gedig aan verbeelding en ‘n encore.

20. Verspilde lewe

agter toe deure walg
‘n oorvol asbak en
‘n omgevalle glas
my vlerke balanseer op
breekpuntsnare terwyl
kraaie die oorskietlag
uit my oë pik
daar hang ‘n bloedmaan
in die skeure van my hart
kromskeef klim my woorde
oor die lotsbesef
van skewe grense

die wete kom ongeraam
tussen die verlede en nou
dalk is daar tog iets
wat mens nog
lewe kan noem

‘n verspilde lewe …

Die gedig is swaar en donker, en dit is nie noodwendig kritiek nie. Poësie is ‘n kanaal vir elke emosie onder die son.

Ek wil egter neig om die slot hiervan so bietjie aan te pas. Ek gaan eerste sê waarom ek sou wou.
1. Die herhaling van “lewe” is effe steurend op die tong.
2. Ek dink nie dit is funksioneel om die vers met ‘n ellips te eindig nie. Waarom sê ek so? Die ellips is (en sal altyd) vir my ‘n “oopdeur” weerspieël. Asof die digter (skrywer) die vertrek laat oopstaan om ander gedagtes in te laat.

My voorstel aangaande die einde dan, soos volg:
“die wete ongeraam
tussen die verlede en die nou;
dalk is daar tog iets
wat mens nog
lewe kan noem:
trouens, ‘n verspilde eksistensie.”

Met ‘n klein verandering kan jy die gedig eleveer.

Ek hou egter baie van die inhoud hiervan, en ek dink dat jy jou besonders van jou taak gekwyt het om innerlike versugtinge te verwoord.

23.Die lampman is dood

hy
wat in stilte sy werk verrig
terwyl niemand daarvan weet nie,
hy
wat die lampe moet aansteek,
die paraffienlampe
moet laat brand

kyk hoe stil lê sy hand
langs sy roerlose liggaam
op die klippe en die sand

hy
wat die lig moes bring,
wat die lampe vir ons voete
op ons paaie moes laat skyn
hý lê nou droomverlore
oor die spore (die ysterspore)
van ‘n trein

*

en wie sal dit vir die vrou vertel –
die vrou met die kind op haar skoot;
wie is sterk genoeg van gees,
wie sal die nagtelike boodskapper wees:
“jammer mevrou, maar die lampman,
jóú lampman … is dood”

Keurige vers. Ek wonder of jy weet dat so onlangs soos 2011, het Belarus nog mans indiens gehad wat lampe elke aand aangesteek het.

Dit is ‘n vars onderwerp. Ek wonder of jy die vers dalk geskoei het op ‘n ware gebeurlikheid? Ek is nogal nuuskierig om te weet wat hierdie vers by jou geïnspireer het.

Goeie ontwikkeling van die staanspoor, en soos enige goeie opera (waarvan ek ‘n groot aanhanger is)sterf iemand om ‘n dramatiese konklusie daar te stel.
Welgedaan.

26.My Mei

toe wingerdstok so roesrooiblaar,
toe klipkranse ’n volmaan baar,
toe heel die lug skarlakenvuur
in lofsang aan die skemeruur

het herfs se wind, so allerstil
haar asem oor my wang gewil;
toe effe koud haar gang gegaan
my (eenling) langs ’n berg laat staan

Twee kwatryne wat ‘n mooi geheel vorm. Jou bekwaamheid om die leser gebonde betrokke te kry in die kleure, die klanke, die reuk, die omgewing, die geheel-daarwees, bewys jou aanleg tot digkuns.
Dit is ‘n opvallende gedig met ‘n gladde uiterlike bou en selfs ‘n groter struktuur in die keurigheid van woordkeuse. Weergaloos!

GORRELS

1.Slenter-dans dankbaarheid
Jou gorrel leer vir die leser ‘n goeie les. Ek kan ongelukkig nie net krit op die inhoud van jou skryfsel nie, maar ek moet ook aan die akademiese aandag gee.
Jou sinskonstruksie is obstruktief omdat dit lank gerek word sonder goeie en nodige punktuasie.
Let ook daarop dat jy nie sekere begrippe en woorde tot vervelens toe herhaal nie. Indien die basis geskep is, en die idee behoorlik gevestig is (in hierdie geval, die slenter-dans) dan kan die leser met baie min leiding aflei wat die skrywer bedoel. Die gebruik van sinonieme in so ‘n geval is altyd baie handig.
Skryf, skryf, skryf en lees tien keer meer. Dit is die enigste manier waarop ons as skrywers ons eie talent kan ontwikkel.

RUBRIEKE

1.Volkome vrou
Die rubriek is ‘n interessante kykie in jou psige. ‘n Delwery in jou oortuigings, jou aannames en jou eie versugtinge. Ek dink jy het ‘n onderwerp, wat nie net bloot filosofies of biologies benader kan word nie, probeer verwoord. Uit jou ervaring natuurlik. Ek krit egter nie jou hipotese nie, maar eerder die taalakademiese aanbieding.
My waarneming:
Jy herhaal “vrouwees” oordadig. Omdat jou leser reeds in die loep gebring is waaroor jou rubriek handel, kan jy baie suksesvol sonder hierdie herhalings slaag.
In geheel, buiten die hakies op die [‘n] wat uitgelaat is in jou aanbieding, is die spelling bo-gemiddeld goed; die woordkeuses en sinkonstruksie is glad nie sleg nie.
Oorhoofs is dit ‘n geslaagde rubriek.

ARTIKELS

1.’n Rebel kind
Spelling: twee-uur; moederhart; huis toe;
Indien jy ‘n sin met “waarom” begin moet dit met ‘n vraagteken sluit.
Sinkonstruksie is slordig.
Jy moet in ag neem dat ‘n artikel geskryf word met gefundeerde en nagevorsde inligting wat geboekstaaf is, o.a. statistieke, akademiese opinies deur kenners ens. Indien jy jou eie opinie of oortuigings wil pen, is dit eerder ‘n rubriek en NIE ‘n artikel nie.

2.Besoek aan ‘n anderste plek
Jy verweef amper ‘n rubriek en ‘n artikel in jou aanbieding. Artikels is gewoonlik streng inligting- en feitgewend. Ek kan jou egter nie geheel penaliseer nie aangesien jy genoegsame inligting in jou skrywe insluit. Jou aanbieding is goed. Die sinkonstruksie is aanvaarbaar. Waak net daarteen dat jou sinne nie té lank word sonder nodige punktuasie nie.
Oorhoofs, ‘n aangename artikel.

VERHALE

1.Die inwoner
Aanvanklik het ek gedink die narrator is ‘n selfopgelegde narsis, vol kwetsende kritiek teenoor almal, maar die einde van die verhaal het my onkant gevang. Dit is ‘n baie slim storie, wat seker nie elke konserwatiewe leser se koppie tee sal wees nie. Die ontwikkeling en selfs die karakterontwikkeling is uiters goed. Jy het jou baie goed gekwyt van jou taak. As ek moet, sou ek net kritiek lewer op sinkonstruksie. Daar is gedeeltes waar die sinne lank en puntuasieloos is.
‘n Heerlike leesstorie, met die mees nodige kinkel teen die einde.
Mooi gepen.

2.’n Nuwe skoon bladsy
Ek begin sommer die krit met jou eerste sin.
“Marlene staan en kyk na vuurwerke in die lug met n’ helder maan aan die agtergrond”
1. Waar word vuurwerke gewoonlik gesien? In die lig. Dit is daarom onnodig vir die skrywer om dit te noem.
2.[‘n] se hakie kom vooraan en nie soos jy dit gebruik nie.
3.Kan die maan “aan” die agtergrond wees, of eerder “teen”?
Die storie spring rond sonder behoorlike ontwikkeling. Dit is moeilik om die storie te volg omdat die skrywer nie behoorlike aansporing doen vir gebeurlikhede in die verhaal nie.
Gebruik minder karakters of gebeure sodat die storie nie so dun gesaai word nie.

3.Memoirs van ‘n hoer se kind
`Die storie ontwikkel redelik goed in die begin. Die sinkonstruksie is ook aan die begin goed. Jy het egter gejaagd geraak en nie goeie storie ontwikkeling in die middel en veral teen die einde gedoen nie. Die engelse woorde moet of kursief of ten minste in aanhalings geskryf word.
Hierdie storie het ongelooflike potensiaal, en aangesien daar geen voorkrifte oor lengte van inskrywings was nie, kan ek nie sien waarom jy nie die goeie werk aan die begin voortgesit het nie. Ontwikkel hierdie storie asseblief, en leer uit jou eie briljante begin.

4.Liefde in die suburbs
Die woordorde in die storie is op sommige plekke uiters slordig en onordelik. Ek haal een van jou sinne aan as voorbeeld: “Veral nie met die planne wat sy vermoed SJ het vir die naweek nie”
Sou ‘n uitgewer na so ‘n manuskrip kyk? Vir seker nie.
As skrywer is woorde, jou verhouding daarmee, jou beste weergawe, jou behoorlike oorweging en besonderse woordkeuses, die enigste wapens in jou arsenaal. Jy het nie ‘n span wat jou rug bewaak nie; nie ‘n komitee wat jou stryd vir jou gaan stry nie. Dit is jy en jou woorde, dis al. Daarmee moet jy bekoor, inspireer en oorweldig.
Ek word hartseer as iemand wat klaarblyklik talent het, of ten minste die gawe om te probeer nie die standaard handhaaf wat hul vir hulself stel nie.
Moet nooit ophou skryf nie, maar neem my raad en ontwikkel jouself tot die beste weergawe van jouself. Jy is ‘n skrywer…bewys jouself!

5.Die skerminkels
Die sinkonstruksie is lank, sonder nodige punktuasie. Die maak die lees hiervan baie moeilik. Die karakterontwikkeling is swak en so ook die storie-kontinuïteit.
‘n Storie behoort ‘n aanhef, middel en slot te hê. Karakters moet genoegsaam voorgestel word aan die leser. ‘n Karakter kan nie uit die newels verskyn nie.
Daar was geen voorskrifte oor lengte in hierdie projek nie, en daarom kan ek nie sien waarom jy ‘n storie wat goed is wil jaag en afrits nie.
Ontwikkel jou storie. Skryf, redigeer, oor en oor tot dit perfek is.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Viooltjie

    6 Maart 2020

    Baie dankie, Inkmoderator vir hou harde werk en waardevolle kommentaar. 😊

  2. Annamarie

    19 Maart 2020

    Sjoe! Dit moet ‘n ontsaglike groot taak wees om soveel skryfwerk te modereer. Die deeglike deurlees blyk uit die sinvolle, leersame kommentaar. Baie dankie daarvoor.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 248
Kommentaar telling: 2770

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 41 gaste aanlyn

Bydrae Totale