Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uitslae en kommentaar Augustus 2020 OOP-projek

Deur Anze
Datum gepubliseer: 2 Oktober 2020 Aantal woorde: 4248 184 Kere gelees 2

Baie geluk aan hierdie 8 lede!

WENNERS:
GEDIGTE GOUD
(1) 21 Anzé Bezuidenhout met Onsigbare pyn
(2) 22 Anzé Bezuidenhout met Die lied van die reën
(3) 11 Caren Kearley met Metamorfoos

GEDIGTE SILWER
(1) 10 Morné du Preez met ‘’n Offerhand by die kampvuur
(2) 2 Morné du Preez met Ars Poetica
(3) 20 Andries Frourie met Verlore dans

GEDIGTE BRONS
(1) 13 Elmarie Van Kampen met Asem
(2) 4 Driekie Grobler met Formidabele vrou
(3) 5 Driekie Grobler met Seisonaal

GORREL
(1)GEEN

RUBRIEKE
(1)GEEN

ARTIKELS
(1)GEEN

VERHALE
(1) 5 Riaan Palmer met Die groot honger
(2) 3 Riaan Palmer met Vrees vir woorde
(3) 1 Elsa Meintjies met Geduld oompie, geduld

KOMMENTAAR:

GEDIGTE:
BRONS
Tonnel van vrees (1)
Die temastruktuur van jou vers verwar. Jy skop af deur na “hongersnood” (tekort aan voedsel) te verwys en dan na die eerste twee sinne in die eerste stansa, verander die tema van jou gedig na die gruwel van plaasaanvalle. Ek prober ontsyfer of jy die twee “gebeurlikhede” met mekaar in verband wil bring, maar ek sukkel daarmee. Plaasaanvalle sal ook as een woord geskryf word. Dan sluit jou vers met die woord “stom” wat ook skielik uit die lug val met geen verband tot die res van die strofe nie. Kom ons kyk ook bietjie na jou sinkonstruksie en die woorkeuses. Ek gebruik die derde sin in jou eerste strofe as ‘n voorbeeld:
“bebloede plaas aanvalle [sic], vreesaanjaend deur die donker nag”
1. Soos reeds hierbo genoem sal plaasaanvalle een woord wees.
2. “Vreesaanjaend deur…” sal eerder “vreesaanjaend in” wees.
3. Vreeswekkend sou ook in hierdie geval ‘n beter woordkeuse gewees het.
Verder, let op die gebruik van punktuasie. Jy maak wel genoegsaam gebruik daarvan in jou vers, maar daar is plekke waar dit skort en andere waar dit vir my oorbodig is. Ek dink jou vers het baie potensiaal en jy kan gerus daaraan redigeer indien jy dit goed dink. Wees altyd en voortdurend verseker dat krit op jou werk slegs gedoen word om ‘n positiewe bydrae tot jou ontwikkeling as digter te lewer, en dat, al is dit soms grotesk en rof, dit altyd (sonder uitsondering) in die mooiste gees gedoen word.

Fragment (3)
Wat my dadelik opval by jou gedig is die tipografie wat waarlik soos ‘n “fragment”, “kleipotsskerf” lyk. Ek skryf hierdie sin in my kommentaar voor ek ‘n enkele woord van jou gedig gelees het. Ek is nou nuuskierig om te sien wat die inhoud vir my inhou. Ek gaan die mees opvallende elemente in jou gedig eerste bespreek.
1. Koppelwoorde: (koringland) (plaasheining) (sand-aarde) (wintersonstrale). Lees Hoofstuk 12 & 15 in die AWS rakende koppelwoorde en koppeltekens.
2. Die gedig is in ‘n sekere formaat getipografeer, end at die woordkeuses seker daarby ‘n groot rol gespeel het. Ek vind tog dat die gedig op sekere plekke aan koppel- en lidwoorde ontbreek.
Dit is egter steeds ‘n aangrypende gedig.

Formidabele vrou (4)
Die inhoud van jou vers is té belangrik dat ek dit bloot net lees en ligtelik kommentaar lewer. Dit vra vir ‘n behoorlike krit. Die konstruksie van die vers is lywig en kripties op plekke en verloor dus die impak wat bedoel is daarmee. Jy maak gebruik van inversie bloot om ‘n rympatroon te behou. Dít lei tot dwangrym wat in geen wyse mooi en goeie poësie tot gevolg het nie. Lid- en koppelwoorde help die digter om te skryf soos ons praat. Lees weer jou vers en verbeel jou jy gesels op die foon. Sou jy die inhoud van jou gedig woord vir woord só in ‘n gesprek gebruik? Ek gee toe, digterlike vryheid bied speelruimte, maar goeie digwerk word gebore uit ‘n eerlike aardsheid. Verstaan my asseblief reg, ek sê nie vir één oomblik jou vers is nie eerlik nie, inteendeel, dit spruit uit ‘n ongeveinsde plek, tog kortwik die kriptiese aanbieding die robuustheid van jou vers. Nietemin vind ek jou vers vol vitaliteit en nodig in die tydstip van die geskiedenis. As jy wou, stuur vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com en dan skaaf ons saam hieraan. Dankie vir jou deelname.

Seisoenaal (5)
Jou vers sluit op ‘n sterk klimaks wat, in my beskeie opinie, die fondasie vir goeie poësie is. Jy sluit jou eerste stansa deur van inversie gebruik te maak sonder dat dit funksioneel of enigsins nodig is. Om die volgorde van woorde te verander (inversie) is soms nodig, maar dit moet doelgerig wees. Jy het dit gedoen om “dartelend” en “stormwind” vir rym aan te wend maar dit was nie geslaagd nie. Vervang “gesystap elke stormwind” met iets soos “koestend vir elke stormwind” en lees hoe anders dit klink.
Kom ons praat bietjie oor ritme. Ek gaan hier na jou tweede strofe verwys:
Ta-tum ta-tum ta-tum ta, as voorbeeld, is hoe ek elke versvoet (digreël) lees. Dit is ook hoe metrum (digmaat/ritme) in gedigte ontwikkel en bepaal word. By die vryevers, soos jou aanbieding hier, is daar nie ‘n voorskriftelike meter nie, maar dit help indien jy vir jouself een bepaal. In jou 2de strofe wissel jou mate tussen 5 en 10 lettergrepe (mates). v/v 1 =7, v/v 2 =7, v/v 3 = 10, v/v 4 = 5 en v/v 5 = 5. Ek vind persoonlik, en andere mag van my verskil, dat die laaste versvoet van ‘n strofe die spesifieke stansa dra. Indien die meter daar “verkeerd” is laat dit die “sluiting” stomp. ‘n Maklike oplossing vir ‘n meter-dilemma is die gebruik van hulpwerkwoorde (van wyse) soos byvoorbeeld “kan”. Die laaste sin in jou tweede strofe sal dan so klink: “waarmee ek trots kan pryk”. Dit verleen ‘n ekstra maat en sluit dus nié stomp nié. Ek hoop dit maak sin.
Jy het ‘n enjambiese aanbieding maar ek dink punktuasie sou jou vers kon versterk. As een voorbeeld: strofe 1, reël 1 en 2.
“ek was jonk en vry, of –
het in die lente…”
Die ruspose daar maak ‘n groot verskil. Daar is ook ander plekkies in die vers, maar ek laat dit in jou hande.
Jou vers is besonders wat die natuurlike seisoene met die verandering in die mens inverband bring. Al die voorstelle ten spyt, het ek jou vers baie geniet. Welgedaan.

Deur gate en krake (6)
Hierdie vers ervaar ‘n identiteitskrisis. Waarom sê ek so? Die skrywer beskryf die bleekheid van die winter in die eerste reël, volg dit op in reël twee om die slegte toestand verder te omskryf, maar dan gebeur iets merkwaardigs: die skroeiende son (in die seisoen waar die koue arms van die wind loei) verweer saam aan die rame. Daar bestaan in hierdie ganse kosmos nié genoegsame digterlike vryheid om ‘n skroeiende son in ‘n winterlandskap in te sleep nie. Nooit nie! Nee! Verder, indien jou vers met ‘n hoofletter begin sal hy met een of ander punktuasie sluit. Jou strofe 2 en 3 kan gerus ook met kleinletters begin aangesien die voorafgaande nie met punktuasie sluit nie. Die gebruik van antitese met “grafstil” en “gil” is vir my ‘n slim klimaks waarop die gedig eindig. Die beeldspraak in jou vers is skerpsinnig en met die nodige redigering kan die volle potensiaal van die gedig ontsluit word.

Leierskap (7)
Die herhaling van “sterk” in jou vers pla die oor. Daar is genoegsame sinonieme wat maklik aangewend kan word nl.: bekwaam, flink, taai, talryk, kundig en vermoeënd, om maar ‘n paar te noem. Jou vers sou baat by die gebruik van punktuasie. Ek weet nie of jy al reeds het nie, maar lees gerus Theodore Roosevelt (26 ste President van die VSA) se “Citizens of the republic (man in the arena)” toespraak. Jou vers het my aan dit laat dink.

Liewe vrou (8)
Ek lees jou vers só:
“jy is meer werd as edelstene*
(Dawid sê dit so mooi)
as die samelewing etikette plak,
jy harder veg,
en die lewe jou telkens wil breek;
vind jou waarde in God

liefste vrou,
vrou is jý, maar ook ma;
gebede wat jou mense dra,
traanwoorde wat vrylik vloei
want jy voel binneste-diep

kroon van Sy skepping is jý,
uniek geweef in skoonheid
van ‘n omgeehart

onthou,
jy is lieflik,
lyflik
v-r-o-u

Die mooi vers van jou kan baat by beklemming wat maklik gedoen kan word deur korter, kompakte sinne en funksionele punktuasie. Dit staan jou vry om die voorstelle te gebruik of te ignoreer.
Dit het geen uitwerking op die beoordeling daarvan nie. Dit is ‘n eerlike gedig en dit is mooi.

Die klein dingetjies (9)
Hoe bevoorreg is die digter tog nie, om universele waarhede, uniek en eenvoudig te kan verwoord. Ek het nie veel kritiek aangaande die vers nie, maar daar is twee dingetjies wat jy kan oorweeg.
1. Die derde sin eindig met “met” en ek sou voorstel jy maak dit eerder deel van die vierde sin. Dit help met die ritme daar.
2. As ek kon, sou ek die vers só sluit:
“alles wat na niks lyk, tel tog.”

Oulike, leersame vers.

Asem (13)
Hierdie, my liewe digter, is een van die sterkste, mees aangrypende verse wat ek in my leeftyd gelees het. ‘n Leser wat ongeroerd hieraan lees besef nie die onoortroffe genialiteit en spitsvondigheid wat hierdie vers weerspieël nie. Min digters, wie se werk aan my bekend is, slaag daarin om ‘n grootsheid oop te skryf in ‘n kompakte vers. Ek is oorbluf en grensloos beïndruk. Daar is net een klein voorstel: oorweeg om ‘n akuut-aksent op beide o’s in “voor” te gebruik. Jou vers staan uit!

Wonder van die Karoo (14)
Ek dink werklik dat jou gedig kan baat by geselekteerde rusposes wat maklik en funksioneel met punktuasie bereik kan word. Let op die gebruik van lukrake hoofletters in jou vers. ‘n Vers behoort ook met ‘n leesteken te sluit indien dit met ‘n hoofletter begin. Die gedig is swaar aan beelde en ek wonder of jy nie daaraan kan slyp nie. Die volta (ommekeer) is duidelik sigbaar tussen die twee strofes wat in sterk kontras met mekaar staan. Jou vers beskik oor groot potensiaal.

Jou handeroom-geskenk (15)
Die verband tussen die emosionele en die eenvoudige aksie (seker tydens Covid 19, nie só eenvoudig nie) van handewas is interessant en opvallend. Dit is natuurlik ‘n worstelvers en nét die betrokke partye sal werklik verstaan wat die onderliggende toon beteken. Ek dink egter dat die handewas as ‘n metafoor, baie slim gebruik is, veral in die omgewing waarin ons nou omgaan. Goeie vers.

Snipperseer (16)
Dit is seer-aangrypend. Ek wil voorstel, as ek enigsins mag, dat jy die lang sinne breek om by die toon van die vers te pas. Die lang sinne laat die leser asemloos en gee nie genoegsame tyd vir oordenking nie. Ek hou van die “gebottel” metafoor om die verlange te omskryf.
Sterkte, as die gedig biografies van aard is.

Vitamien vriende (17)
Die idee (tema) in die vers is ‘n interessante een. Daar is egter klein jakkalsies wat verniel. Lang sinne, sonder meriete, laat die vers lomp. Ek vind die vers effe kripties – so asof en
ek nie die draad kan deurtrek nie. Die titel is in ‘n positiewe toon. Strofe 1 tot 3 en strofe 5 herhaal die toon maar strofe 4 nie. Ek wonder of die vers geheel sonder strofe 4 nie ‘n meer kragtiger vers kon wees nie. Ek daag jou uit om mooi Afrikaanse woorde vir byvoorbeeld “vooma” en “marshmallows” te soek. Skep Afrikaanse alternatiewe as dit moontlik is. Jou vers bevat ‘n mooi konsep, maar ek dink dit kan baat by bietjie redigering.

Mede-ouerskap (18)
Jou vers, as konsep, is ‘n mooi “gebaar” en ‘n uitlaatklep om die frustrasie én prestasies van die situasie te omskryf. Die gedigkonstruksie egter, is minder geslaagd. Die gedig is swaar en woordoorbodig. Daar is ‘n duidelike gebrek aan punktuasie aangesien die enjambiese aanbieding bloot net nié slaag nie. Waak teen die behoefte om die leser met ‘n lepel te voer. Kort en kragtige sinne wat die emosies ondersteun sal jou vers baat. Jy kan swaar hieraan knip vir ‘n sterker resultaat. Kontak my gerus op inlmoderator@gmail.com indien jy wil hê dat ek ‘n hand verleen.

Smeekbede vir uitkoms (23)
Jou vers is ‘n opstel. Kontak my op inkmoderator@gmail.com.

Soos gras (24)
Jou vers kan baat by funksionele rusposes wat maklik deur punktuasie bewerk kan word. Ek sou nie die vers met ‘n ellips sluit nie. My persoonlike mening aangaande ‘n ellips aan die einde van ‘n vers is dit: die ellips laat die vers oop vir teenstrydighede. Indien die skrywer ‘n stelling maak, soos in jou geval “die lewe is goed”, en die sin sluit nie, kan die leser twyfel aan die meriete daarvan. Ek weet nie of ek dit genoegsaam verduidelik en of dit sin maak nie?
Jou vers is nietemin goed en met sorgsame punktuasie kan dit ‘n selfs sterker gedig word. Die “oopbek-blinktand” het my laat glimlag.

SILWER

Ars Poetica (2)
Toe Horace (19 VC) die “kuns van Poësie” op die mensdom “losgelaat” het, het hy die voorskrifte swaar, streng en duidelik gemaak, maar, nie sonder interpretasie en spasie vir torring nie. Die kuns van digwerk in jou weergawe is ‘n interessante, amper filosofiese, heen-en-weer bekgeveg wat plaasvind tussen die skrywer, die gehoor enook ander woordsmitte. Dit is natuurlik, as ek reg verstaan. Jy ontgin die invloed van buitestaanders en die “plek” waar dit die eie stem laat. Is eerlike poësie getronk en het die digter maar een keuse, om te skree? Ek hou in besonder van jou omgang met die “Ars Poetica” as ‘n eie interpretasie en ervaring. Jou vers laat my dink, en as een van dié belangrikste doele van vers maak, het jy sonder twyfel geslaag. Jou vers sluit sterk tong in die kies. Sal jou woorde terg (die leser uitlok) nét om later te brand? Jou vers is grooter as bloot nét die woorde op papier.

‘n Offerand by die kampvuur (10)
Pastelhart sal een woord wees. Die leser sal verward wees met die sin “fluisterend in my sy” (laaste reël van strofe 1) totdat die tweede strofe se ” wat uit my ribbebeen skeur” gelees word. Die woord hiernamaals (in jou 4de strofe) het ‘n metafisiese, esotoriese en godsdienstige betekenis en daarom weet ek nie of dit die regte woordkeuse vir gebruik hier is nie. Dít natuurlik, as jy juis ‘n subtiele verwysing na lewe ná die dood wil gebruik, sal die woord korrek wees. Ek dink egter nie dit was jou idee en voorneme nie. Jy kan maklik “lê” met “vlei” vervang om die vers in ‘n rymsiklus te sluit. Ek hou van die vers en veral die sagte verwysings na intimiteit. Mooi gedoen!

Nagdig (19)
Ek sou graag wou weet wat die beeld van die ruiter en die perd in jou vers suggereer. Ek kan my eie interpretasie hê maar sou tog aan jou brein wil pik. Ek het nie veel krit hierop nie. Die vers lees ritmies en die 3de strofe staan vir my uit. Die digter moet doen wat die digter moet doen, al is dit in die middel van die nag.

Verlore dans (20)
“Donou” word in sekere bronne aangegee as korrek maar die mees algemene Afrikaanse spelling sal “Donau” wees. Jy gebruik die alternatiewe spelling en dit is goed en aanvaarbaar. Dit is ‘n heelike ligte en ritmiese vers met ‘n selektiewe kruisrym. Die meter daarin is goed en die inhoud is goed versorg. Mooi gedoen.

Soet wraak van Herodias (25)
Ek dink sekere “gelowiges” mag aanstoot neem met die “soet” in jou titel. Ek doen nie, want ek glo aanstoot word “geneem” en nooit “gegee” nie. Die gedig omskryf die Bybelse weergawe van ‘n vrou wat met ‘n geskeide man (Herodus Antipas) getroud is, haar dogter Salome en dan Johannes die doper, wat hulle huwelik as skandalig en téén Moses se wette indryf, beskryf. Dit is ook waarom sy hom dood wou sien.
Ek lees jou vers en wonder dan of soet nie in jou titel beland het omdat jy dit in die laaste strofe “moes” gebruik om jou rymskema te laat werk nie? Ek hou van gedigte wat in en om die geskiedenis krap. Dit is egter nie altyd “vars” as Bybelverhale gebruik word nie, nét omdat dit al honderde kere deur vorige digters gebruik is. Dit neem egter níks weg van jou vers nie omdat ek amper seker is dat die spesifieke verhaal nie tot geyktheid verdig is nie. Mooi werk.

Geparsde hart (26)
Jou gedig, neem ek aan, is bloot metafories, en het die “genesigsproses” van ‘n swart olyf geen werklike betekenis nie? Ek moet bieg, ek is totaal verward met die eerste twee sinne van jou vers.
Sommige van die woordkeuses in jou vers is swaar, en ek gaan verduidelik hoekom.
1. Skarlakenrooi gebruik jy as ‘n byvoeglike naamwoord omdat dit die seer beskryf. In skrille kontras dus met die “swart olyf” (waaroor ek nog verward is). Was dit jou idee om ‘n kontras daar te stel en is “skarlakenrooi” nie bloot oorbodig nie. Dit sou minder oovallend gewees het indien jy nie (2) lewensparsvloer in die volgende sin gebruik het nie. “Parsvloer” is nie werklik ‘n Afrikaanse woord nie (eerder dorsvloer) maar as neologisme sal dit ‘n s.nw. wees en “lewens” is ook ‘n selfstandige naamwoord. Dit kan moeilik oortuig as ‘n koppelwoord en dit lees bloot net lomp. Waak teen oorbeskrywing want dit dra nie altyd by tot die gedig nie. Jou vers is gewoon reeds emosioneel en kan dus baat by minder as meer.
Selfs die woord “genade” kon suksesvol weggelaat gewees het.
Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com indien jy hieroor wil gesels.
Jou vers het baie potensiaal.

GOUD

Metamorfloos (11)
Stap ons “oor” ‘n pad of “met/op”? “Oor” slegs as ons dit kruis en jou vers dui dit nié so aan nie. “Doringtakke” sal een woord wees. Die gebruik van “gister” (strofe 1, reël 11) is nie mooi nie. Soek na ‘n alternatief. Die titel van jou vers beteken, los vertaal: “onveranderlik” of die “onvermoë om te verander”. Ek probeer die klou by die oor kry maar sukkel werklik om die inhoud met die titel in verband te bring. Ek dink, nietemin, dit is ‘n baie sterk vers wat ongelooflik sterk eindig.

Binnedisse (12)
Die gedig, as konsep, is vir my ‘n interessante ene. Daar is ‘n paar dingetjies wat ek wil aanspreek.
1. In die eerste sin gebruik jy “jou” en dan ‘n paar sinne verder die meervoud “mense”. As die fenomeen (soos in jou gedig bespreek word) van toepassing is op die mensdom as kollektief, behoort “jou” vervang te word.
2. Sluit jou gedig met ‘n vraag, al is dit dalk retories? Dan hoort daar ‘n vraagteken gebruik te word.
3. Die herhaling van “dis” in “bydisse” en “opdis” in die laaste sin klink lomp. Miskien kan “opdis” met “voorsit” vervang word?
Interessante vers.

Onsigbare pyn (21)
Die gebruik van “wat” (1ste sin, 2de strofe) is nie korrek nie. “Wat”, ‘n voornaamwoord (in 4 kategorieë nl. vraende, byvoeglike, betrekkings en onbepaalde) dui nie op “tyd” nie, maar “wanneer” (as bywoord of voegwoord) wel. Dus, in jou vers, “huil die nagkoepel sterstof” ná ‘n gebeurlikheid (wat in strofe 1 bepaal en beskryf word) en dui daarom op ‘n volgorde wat tydbepalend is. “Wat” moet hier met “wanneer” vervang word.
Ek kan nie bepaal òf die “verlange” òf die “onheil” die “onsigbare pyn” (jou titel) veroorsaak nie, maar dit is bloot semantiek en dus nie belangrik nie. Ek persoonlik sou rus en herkou bewerk, en veral in strofe 2, maar jy het opteer om enjambies te dig, en dit is jou prerogatief.

Die lied van die reën (22)
Ek hoor “geklingel”, “geraas” “korhaan se groet”, “snuiwend” en “plonsend” wat almal klanke / klankaanduidend is. Ek trap egter klei deur die lied van die reën hierin raak te lees. Dit bly ‘n besonderse mooi en sintuiglike gedig.

GORREL

Skuimwit branders (1)
Level 3? Vlak 3 klink mos beter.
Skeppingsplan sal een woord wees.
Lang sinne, sonder punktuasie laat nie alleen die skrywer oop vir foute maak nie, maar dit lees ook moeilik. As voorbeeld verwys ek na jou sin wat met “Ek voel die sagte seebries…” begin.
Waak teen oorbeskrywing; gee jou leser die geleentheid om ‘n eie prentjie te skets deur met nét die nodige te terg.
Hoofstuk 15 en selfs Hfst. 12 in die AWS sal jou goeie leiding oor koppelwoorde gee.

My grootste irritasie (2)
Ek wil ‘n paar dinge bespreek.
1. Die gebruik van die ellips het sekere norme waarby die skrywer móét hou. Dit is nie bloot ‘n plekhouer vir onvoltooide gedagtes nie, maar speel, soos enige ander spelreël, ‘n belangrike rol in die netheid en aanbieding van jou werk. Die ellips is ALTYD drie kolletjies […]. Lees reël 13.21 tot 13.25 in die AWS.
2. Oordrewe beskrywing van gebeurtenis, plek en omstandigheid maak leeswerk swaar en volgverlore. So ver terug as 1827 sê Samuel Taylor Coleridge “prose is words in their best order and poetry is the best words in their best order.”
Wat beteken dit? Prosa het struktuur maar eerder ‘n gewone, verstaanbare dialek. As die skrywer matelose energie spandeer om nét beskrywend te wees en daardeur die storielyn onverstaanbaar manipuleer, verloor dit waarde. Natuurlik moet die skrywer van die tegniek gebruik maak en atmosfeer skep, maar gebalanseerd bly.. Woordkeuse en woordorde. Ek gebruik een van jou sinne as voorbeeld: “My konsentrasie is verlore by die voorlegging.” Die leser sou verstaan as jy bloot “my konsentrasie is verlore…” geskryf het. Nou klink dit asof die voorlegging vir die breek in kondentrasie verantwoordelik is. Die leser weet reeds waar die karakter is en wat sy/hy daar doen. Dit is dus onnodig om dit te herhaal.
Ek sal wil sien hoe hierdie gorrel daaruit sien as jy bietjie redigeer.

Augustus maand is Vrouemaand (3)
Jy het anekdoties omgegaan met die vernielsugtigheid van een man op een vrou se fisiese- en sielswese. Die causeur maak dit duidelik dat dit nié biografies is nie en dít is in baie gevalle vir baie skrywers ‘n werklikheid. Beligting van ‘n gebeurlikheid hoef nie ‘n geleefde realiteit te wees om ‘n impak te hê nie. Wat my egter pla in die skryfstuk is dat die titel geen betrekking op die inhoud het nie. Ek sou wou sien dat die skrywer besoek bring aan nie nét die omstandighede nie maar ook aan oorbrugging daarvan.
Verder, die gebruik van Engelse woorde soos “gaslighting” en “shurrup” is bloot net lui. Afrikaans is só ryk aan die mooiste en beskrywende woorde dat dit bloot nie nodig is om roekeloos te leen nie. Ook, drie en sestigste sal uitgeskryf word. Jou bydrae belig ‘n werklikheid, en dit is nodig, maar die aanbieding is lomp en slordig.

Vrouemaand – ‘n gorrel vir ‘n vrou (4)
Spelling, woordorde en sinstruktuur kort aandag. Die gorrel is woordswaar en lomp. Om ‘n onderwerp te belig moet jy die aandag van die leser behou. Jy het my aandag as leser verloor deur die omslagtigheid.

RUBRIEKE
GEEN INSKRYWINGS

ARTIKELS

Haar breingewas gaan grys in Mei – asook in Vrouemaand (1)
Kontak my asseblief per epos by inkmoderator@gmail.com

Geestesversteuring en onregverdigheid gedurende inperking (2)
Die artikel belig depressie en die uitwerking van ‘n soms ongebalanseerde korporatiewe omgewing.
Wat die aanbieding betref vind ek as leser dat daar op sekere plekke ‘n “inligtingoortolligheid” is. Ek gaan een voorbeeld gebruik ter illustrasie. Die skrywer meld, naby die einde van die artikel, dat die ene Hanlie ‘n projek van stapel gaan stuur. Die projek word ligtelik aangeraak maar nie genoegsaam dat die leser dit ten volle verstaan nie. Dus, die inligting is oortollig want dit dra nié tot die artikel by nie. Jy het ‘n goeie poging aangewend maar die artikel kort redigering.

VERHALE

Geduld Oompie, geduld (1)
Dit is ‘n ligte, ietwat humoristiese storie waarmee baie lesers hulself kan vereenselwig. Jy het dit keurig gedeel.

Rooi Stiletto’s en die jeans (2)
Stilleto skoene sal sonder die apostroof geskryf word. Die gebruik van numeriese waardes moet beperk word. Die gebruik van nr.12 is korrek maar dan 2 engele sal eerder twee engele wees. Afkortings (soos asb.) moet vermy word. Indien saar na ‘n instansie soos bv.die WNNR verwys word is dit gepas. Let op oordrewendheid want dit kan die komiese tydmaat demp. Jou storie het my laat glimlag.

Vrees vir vrees (3)
Jy het ‘n ongelooflike storie geskryf wat slim ontwikkel en op ‘n totaal onverwagse uitkoms voltrek word. Aan die begin van die verhaal wou ek amper dink dit is eerder ‘n artikel tot die leser begin besef die ervaring word in eerste persoon vertel. Jy dig baie wysheid toe aan die “karaktertjie” met veral ‘n aanhaling uit die mond van Theodore Roosevelt. Verwysings na “sens”, “die Dood” ensovoorts mag dalk verwarrend wees, maar ek wil myself oortuig dat jy daardeur na die afsterwe van saad, vóór daar lewe kan wees, verwys. Die gebruik van “Hom” in hoorletters kan en mag na die geestelike verwys. Jou verhaal is swaar beskrywend en gewoonlik sal dit my as leser hinder, maar in hierdie geval geniet ek dit eerder – dit is na als ‘n ongelooflike traumatiese ervaring vir al die partye.
Welgedaan. My gedagtes, emosies en sintuie was onder beleg met die lees hiervan.

Die dag toe Sue se switch flip (4)
Eerstens, jou titel: buiten vir die onnodige gebruik van linguafranca (sleng/mengeltaal), wat bloot lui is, het dit ook geen betrekking op die storie nie. Daar is geen aanduiding in die storie dat Sue haar “moer gestroop gekry / breker laat brand het / warm onder die boordjie was” nie. Die storie eindig ook stomp sonder behoorlike ontwikkeling. Wat sou die “les” in die storie wees?

Die groot honger (5)
Die storie kan maklik as gruwelik beskou word as dit nie op ware gebeure geskoei is nie. Ek kan onthou, en is nie werklik meer 100% seker wie dit saamgestel het nie, van ‘n boek wat gepubliseer is met dagboekinskrywings van die gebeurlikhede tydens die beleg van Leningrad. Jy het die geskiedenis goed vertel deur ‘n fiktiewe storie daarom te bou. Welgedaan.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 263
Kommentaar telling: 2963

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 73 gaste aanlyn

Bydrae Totale