Jongste aktiwiteit:

UITSKRYF EN GEDÊPSTE BLOMME

UITSKRYF EN GEDÊPSTE BLOMME

Uhm – ekke sit op daai omgevalle ou boomstop op my geliefde ou Ghwarriegat en… Enne ek dink sommer aan mooi-goed en eina-goed en liefhê-goeters. Sommer aan al die goeters wat my cheekygat vrouweesgemaak onder my neus druk.
En. Terwyl ek hier met julle gesels kan ekke nie anders as om weereens te besef dat dit ‘n Godswonder en baie HeroGenade is dat ek nou hier kan sit en woordemaak!!! Enne, wel; daarom is ek so onsettend, onbeskryfbaar dankbaar dat ek aan ‘n Man behoort met Vuurvlam-oë en ‘n spierewit, forse Arabierse resiesperd. Hy: my Hero wat my uit elcheappo se gatsak gaan uithaal het toe niemand iemand omgegee het nie. So bly; nê – ek gly sommer kaalbas met net ‘n roos in my mond by ou Tafelberg af. Of….Of gaan trap die askoek (of jive die polka) op die Burgermeester se stoep. Hmmm; ek weet; ekke weet, Bokkie my babie – albei dinge gaan my in die tronk laat beland en vir Vyfster sien ek nie rêrig kans nie; want ek dink nie mense gaan oor hulle voete val om my borg te betaal nie. So ek sal my maar moet gedra en ewe (skyn)heilig maak of ek (feitlik)ordentlik is?
Ek weet nie wat die toekoms inhou nie en om heel eerlik te wees, ek wil ook nie weet nie. Behalwe dat; of…. Per dalks moet ek liewersters tula. Wel, cause why omdat en oordat as ek aangaan dit sal wees soos om kleilat in die Hemel te gooi! Maar mens mag nie met aarde-modder en klippe in die Hemel speel nie – honor bright. Cause why omdat en oordat as Meneer jou vang dan sal Hy jou so hok jy sal toestemming moet vra om te gaan piepie. Al piepie engeltjies nie einlik nie; behalwe op jou tong as jy ‘n regte jokmond is. En dan sal Hy jou na die Hemel se argiefbewaarplek toe stuur om ál daai Kronieke (eintlik Kroeknieke), stamboomgoeters uit te skryf en soos ‘n Bloemlesing se resitasie uit jou kop uit te leer: Adam, Set. Enos, Kenan, Mahalalei, Jered, Henog, Metusalag, Noag. Noag se seuns was Sem, Gam en Jafet.Gonnatjie Piet! Blikkies en hengerasie mister hasie! Daai ou mense van Meneer se Bybel se tyd het darem maar baie snaakser name gehad as die ander ou mense wat gebore gewas het toe die Bybel al klaar geskryf gewas het. Mahalalei is baie vreemder as Bodewyn, Zuurvogel of Josefis – toe, stry?…. Vrek, dit was vreeslikbaie erger as om ondetste-bo aan jou tone opgehang te word in ‘n vlermuisgrot met net ‘n halwe sny droge brood en vier druppels water eenmaal ‘n week!
Eljoënai se sewe seuns was Hodauja, Elaisb, Pelaja, Akkub; uhmmm, die ander drie, nê, is onterf deur hulle pappa oordat hulle ietsie groooot (huh-uh, mag nie eers vir jou sê nie) verkeerds gedoen het en toe trek hy hulle name met ‘n dik swartpen dood uit sy testament. Al staan dit per ongeluk nog in Meneer se Bybel.
Maar gelukkig het ons Meneer ‘n Johnson and Johnson-sagter wolkiesaghart; But you love me, Daddy. Is. Cause why omdat en oordat as Meneer gesien het mens is rêrig-êrig jammer, nê, dan het Hy jou eers gouers vergewe as wat jy kan sê: ‘Tjips tjops en ‘n tiekie se bietjie se suigswiets!’ Njannies en honor bright.En Hy het nie eers ‘n engeltjie gestuur om jou uit daai argiefbewaarplek te kom haal nie – huh-uh, Hy het sommer self gekom.
Meneer is niks se niks lui of stuck-up nie en vir liefhêgoeters vergeet Hy partykere se soms skoon Hy’s veronderstel om grênd te wees. Oordat Hy die Emplojeerder (sjoe, dis ‘n groot woord; maar party dogtertjies ken eers baie goed van groot woorde) en Eienaar én Beheervoeder van die ganske-hele-tamaaie heelal is! …… Geborge in Sy innige Pappa-arms. Spoegbekkie.Tjoklitbekkie teen Sy magtige bors het die vergifnis onveranderlik verseël. Honor bright, dit het. Cause why omdat en oordat al wat Meneer ooit inruil vir vergewe wou gehad het was ‘n baaaaaieee laaaaaaaaaaaaaaaaaaaang vashoudrukkie.
Meneer was die liewerste lief vir vashoudrukkies gewees. Oordat dit vir Hom lekkerder en beterder gewas het as suigswiets, peanut butter of spookasem! Of engeltjies wat koorsing oefen…. Hou my vas.Hou my tog net vas; en as mens Hom nog blyderder wou gemaak het, nê, dan moes jy jou armpies om Sy nek gesit het en vir Hom Persalm 23 opgesê het…. Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie – dit was vir Meneer die beste en mooiste persalm wat Dawid in sy hele en ganske lewe geskryf het!
Meneer en Dawid was beste tjommies en het altyd baie daar op die Hemel se groene gras onder ‘n groot wilgerboom gesit en gesels oor die ander verbytyd toe koning Dawid nog lewendig op die aarde gewas het. Is!
Dawid was eers ‘n regte-egte koning en armysoldaat. Hy het vir Meneer gefight toe hy lewendig op die aarde gewas het; en Hom gebeskerm teen mense wat Sy Naam tweesent wou gemaak het – hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree.Ek was ook lief vir Dawid. Oordat hy vir Meneer gebaklei het soos Petrus vir my Hero het. Elke keer as hy Hom gesien het, het hy Hom eers gesalueer. Dis hoe respekte in die army werk. Jy kap jou hakke so vinnig teenmekaar en dan bring jy jou regterhand met so elmboogbuig na jou voorkop toe. Dis nie maklik vir sivies nie, hulle moet eers baie oefen…. Ek weet tog eers hoe, my pappa het ons geleer hoe om te salueer. Hy het geweet van armygoeters oordat hy ook ‘n armysoldaat gewas het…..Enne ek dink hier moet ek net vir almal van julle sê: Salute.

Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag jy vandag helemal wegverloor binne-in die onbevange labrinte van God se ongetemde Wees. En O ja – ps…. Ek’t vir Nikodemis gevra om vir jou blomme uit Meneer se tuin te dêps.
©Liza Daniells




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed