Jongste aktiwiteit:

Twee manne en ‘n fiets

Twee manne en ʼn fiets, deur Stephan Uys

Hulle sê alles gebeur stadiger as jy doodgaan, of as jy dink jy gaan dood. Hulle is reg. Alles word ervaar in stadige spoed. Dit voel of die horlosie se sekondewyser deur dik molasse moet beur van een sekonde na die volgende. Ek reken dit het dalk te doen met die adrenalien wat afgeskei word tydens veg-of-vlug situasies. Of dalk bewys dit net dat tyd werklik relatief is. Maar ek wil nie nou oor tyd se relatiwiteit gesels nie, ek wil julle vertel van my en Pieta se skouer-skuur met die dood.

Ek en Pieta is beste pelle van laerskool se dae af, en so saam-saam het ons twee se beskermengele nie veel “rustyd” gekry nie. Ons het ons Hoërskooldae in Sundra begin en geëindig, en dit nogal voltooi in die voorgeskrewe vyf jaar wat die Departement daarvoor toestaan – ʼn feit wat veel meer te make het met genade as met verdienste. Dit moes daar aan die begin van Graad Elf gewees het toe ek en Pieter die lang donker tonnel na die ewigheid met net so ʼn paar millimeters mis gery het. Ek dink die engel wat daardie dag by die Poorte diens gedoen het, was al besig om die intekenregister nader te trek vir ons arriveerring. Ek weet steeds nie wie was meer verbaas dat ons nie daardie dag ingeteken het nie – ek, Pieter of daardie engel.
Voor ek my storie kan vertel moet ek net eers gou verduidelik hoe dit toentertyd daar by Sundra se hoërskool gelyk het.

Daardie tyd het die skool twee hekke gehad. Die hoofhek was mooi uitgebou met sierstene en “Hoërskool Sundra” het trots gepronk teen die muur. Die pad wat voor die skool verbyloop se teer het sowat ʼn honderd meter voor die tweede hek net spoorloos verdwyn en skielik grondpad geword. Dit was daardie tweede hek wat gebruik was deur die onderwysers en al die leerlinge wat met hul eie vervoer dit tot by die skool gemaak het – of dit nou met ʼn motor, motorfiets of fiets was. Die skoliere wat fiets gery het skool toe het dit maar swaar gehad. Net as jy by daardie hek indraai en jy dink die ergste is verby, moes jy begin trap dat jou kuite krampe kry. Ek het self ʼn paar keer skool toe gery met die fiets, so ek weet presies waarvan ek praat. Jy sien, toe die dorpsvaders en TOD (Transvaalse Onderwys Departement vir die jongetjies wat lees) die skool toentertyd gebou het, was daar besluit om die skool bo-op ʼn heuwel te bou. Die fietsloods was agter die skool, op die hoogste deel van die bult gebou. Van die hek na die loods was daar dus sowat ʼn honderd en vyftig meter se opdraande wat menige Argus fietsryer se moed vir ewig sou knak. Jy kon die skoliere wat fiets gery het herken aan hul natgeswete rooi gesigte en bewende bene.

Maar so steil soos die opdraande was, so hemels was daardie selfde paadjie die middag huis toe. Ek weet nie of die sielkundige las van “nog ʼn dag op hok” bygedra het tot die steilte van daardie opdraande nie, maar ek weet vir seker dat die vreugde van verlossing en vryheid tesame met daardie steil afdraande, die pad huis toe beslis lekkerder gemaak het. Daar was min dinge so lekker as om die eerste paar meter die pedale te trap dat die klippe spat, en dan net vooroor te lê terwyl gravitasie jou teen nekbreekspoed na die plek van ontsnapping neem. Daardie “wind in jou hare” het sommer al die mufheid uit jou kop gewaai. Ons het altyd so dertig meter of wat van die hek af begin rem; nie te veel nie, net genoeg dat jy jou draai veilig daar onder by die hek kan maak. As jy dan daar onder by die hek uitdraai en die pad strek so reguit voor jou uit, het jy geweet jy het ʼn bietjie tyd om te rus en jou kragte weer op te bou – veral op ʼn Vrydag! My en Pieta se storie speel juis een Vrydagmiddag na skool af.

Dit was ʼn laaaang week gewees, en dit was warm. Dit het die vorige twee dae gereën en die somerson het neer gebak op ons. Ek en Pieta het reeds die Donderdag besluit ek sou die Vrydag na skool saam met hom huis toe gaan. Pieta se broer het reeds lisensie gehad, en of hy of sy ma sou ons by die skool kom oplaai. Dit was soos die reëlings gestaan het aan die einde van die skooldag. Die reëlings het egter verander êrens daardie Donderdagmiddag. Vandag se dae sou dit nie ʼn probleem wees nie, want almal het mos selfone. Reëlings word vandag sommer in ʼn japtrap gemaak en verander en sommer weer oor verander. Daardie jare het ons nie selfone en sulke goete gehad nie, en reëlings was reëlings! Ons het wel landlyn telefone gehad, maar daardie dag was daar probleme met Telkom se plaaslike lyne. Pieta het vir my die volgende oggend belowe hy het die nuwe reëlings met ʼn posduif na my toe gestuur, maar die duif het dit nooit tot by my gemaak nie. Ek reken die bure se katte het die arme duif seker opgevreet voor hy die boodskap by my kon uitkry.

So gebeur dit dat my ma ons die Vrydagoggend by die skool gaan aflaai. Behalwe vir my swaargelaaide skoolsak, het ek ook nog ʼn sak met klere en tekkies in – geen gesonde leerling gaan mos vir een oomblik langer in hulle skoolklere bly as wat absoluut nodig is nie. Na so tien minute begin ek wonder wat van Pieta geword het, want ons ontmoet mekaar gewoonlik so twintig minute voor skool begin. Groot is my verbasing toe ek vir Pieta ʼn rukkie later sien. Die man lyk gehawend! Sy gesig is so rooi dat dit verkeer sal stop by ʼn besige kruising. Verder is die man se hemp so nat dit lyk of hy eerste prys gewen het in ʼn nat hemp kompetisie. Toe ek sien hoe die kêrel se bene bewe, toe besef ek Pieta het om een of ander duistere rede met sy fiets na die skool gekom. Dit was so tien minute later dat Pieta genoeg asem het om my van die nuwe reëlings en die verlore posduif vertel het.

Pieta se ouers moes gou Vrystaat toe gaan vir die dag, en sy broer was nog nie terug van die Technikon af nie. Ek en Pieta moes maar self plan maak om by sy huis te kom. Dit sou nie ʼn probleem gewees het as die verbrande katte nie die duif gevang het nie, want dan sou ek ook per fiets skool toe gegaan het. Ongelukkig is die duif weg, en ek sit sonder ʼn fiets by die skool. Ons besluit ons sal ons tasse en sakke op die fiets laai en dan maar stap na Pieta se huis. Ons wou net begin pak toe Pieta met ʼn blink plan vorendag kom – om so saam-saam met die fiets tot onder by die hek te ry. Dit is ʼn fyn kuns om so ʼn swaar gelaaide fiets aan die gang te kry. Ek en Pieta het nog voor ons die fietsie bestyg het, die prosedures eers haarfyn uitgewerk. Om ons ʼn beter kans op sukses te gee, besluit ons om die fiets staan te maak waar die afdraande begin. Dit maak dinge eers moeiliker, want die simpel fiets bly vorentoe neuk. Gelukkig is dit ʼn “backpeddal” fiets. Die fiets se agterwiel word gerem deur terug te trap. Pieta kan dus op die pedale staan deur net agteruit te trap. Ek weet nie of jy vandag nog sulke fietse kry nie, want ek het laas fiets gery by die kardioloog se spreekkamers. Ek was byna dood en het net daar hoog en laag gesweer jy sal my nooit weer op ʼn fiets kry nie – en ek is ʼn man van my woord. Pieta maak sy tas staan op die handvatsels. Hy gaan staan wydsbeen tussen die saal en die handvatsels, met sy sak op sy rug. Ek het my tas op die agterste dra-raam vasgemaak, en ek moet nou my sit kry op die saal met my sak op my rug. Nadat ek my sit onder beheer het, plant ek my voete weerskante van die fiets. Pieta moet nou sy voete op die pedale kry en sy balans behou. Sodra sy balans reg is sal Pieta begin beur teen die pedale. As hy sê hy is gereed, sal ek eers so ʼn paar tree gee sodat die fiets bietjie spoed kan opbou. Die oomblik wat Pieta voel hy het genoeg impak op die pedale sal ek dan my voete optel en hulle neersit op die moertjies wat die agterwiel vashou. Na ʼn bietjie gesukkel is ons op die ysterperd en gereed om die lang pad aan te durf.

Wat ons nie op daardie stadium geweet het nie, maar binne die volgende minuut of wat sou leer, is dat die munisipaliteit die grondpad voor die skool daardie oggend geskraap het. Die padskraper se lem word so skuins gedraai dat dit al die grond wat afgeskraap word teen die pad se rand uitstoot. ʼn Deeglike operateur maak seker die lem is teen die rand van die pad, sodat die pad nie naderhand al nouer en nouer word nie. Die nadeel van hierdie hele skrapery is dat jy naderhand met ʼn groot hoogteverskil sit tussen die pad en die sypaadjie. Direk na so ʼn geskraap is daar dan ook ʼn loodregte en klipharde wal wat mettertyd afgeloop en afgereën word. Maar eers na verloop van tyd, nie direk na die pad geskraap is nie. Alhoewel hierdie verwikkeling nie normaalweg ʼn invloed op ons rit sou hê nie, sou hierdie rit nooit ʼn normale rit wees nie. In teendeel, dit was so amper-amper ons heel laaste rit!

Soos ek sê, ons is uiteindelik reg om te ry. Pieta beur so hard hy kan op die trappe en ek gee ʼn tree of ses net om momentum op te bou. Gravitasie begin sommer hier aan die begin ewe hulpvaardig aanhelp en gou-gou suis die wind deur ons hare. Ek grinnik so breed dit voel of my lippe om my ore haak. So by die halfpadmerk onthou ek met ʼn hol kol op my maag van momentum. Ek is nie ʼn man wat baie tyd aan Wetenskap spandeer nie, maar ek onthou iets van gewig en spoed en helling… en ek begin worry! Ek skreeu vir Pieta dat hy moet begin rem, want die hek wat so klein gelyk het daar bo op die bult word teen ʼn verstommende spoed groter. Piet knik sy kop en ek sien die man skuif sy balans sodat hy terug kan trap. Ek ontspan so ʼn bietjie, want daar is darem nog so sestig meter oor hek toe. Deur die lawaai van die wind hoor ek Pieta iets sê wat ontstellend baie na ʼn vloekwoord klink. Die volgende oomblik skreeu hy vir my dat die fiets se remme nie werk nie. Dis teen hierdie tyd dat ek uitvind dat tyd stadiger verbygaan as die dood oor jou skouer kom loer.

Pieta trap agteruit soos ʼn besetene, maar die fiets se spoed bly klim! Daar was jare gelede ʼn rem vir die voorwiele, maar die remblokkies het alewig die voorwiel vasgedruk en ons het dit al lankal afgehaal. Ek haal my voete van die moertjies af en probeer my skoene op die grond vasdruk. Die spoed van die fiets ruk my bene so ver agter toe dat my tone agter my ore vasslaan. Die pyn is ondraaglik, maar ek besluit ek sal maar later huil. Ek en Pieta is nou besig om ʼn nuwe landspoed rekord op te stel. Ek sien aan die wiggel van die voorwiel dat ons nou meer op genade as rubber ry! Dis teen hierdie tyd wat ons al twee bewus word van die karre wat voor die skool se hek verby ry. Ek skiet gebede op en maak beloftes van goed wees en hard leer, hopend dat ʼn wonderwerk ons van gewisse dood sal red. Ek vermoed in hierdie stadium was ons beskermengele so besig dat hulle dalk vir ʼn week verlof gevra het na die episode.

Ek en Pieta storm op daardie hekkie af teen ʼn spoed wat my laat verstaan waarom spietkops praat van ʼn gatsometer – want jy en hulle weet jy sien jou agterent teen daai spoed. Toe ons deur die hek gaan sien ek ʼn kar van regs af aankom; en ek sien die nuutgeskraapte rand van die sypaadjie – ek sien alles in hoë-definisie slow motion. Ek weet nie of daardie bestuurder eers kans gehad het om te rem nie, so vinnig is ons oor die pad. Daar is ʼn wetenskaplike formule wat slim mense kan gebruik om uit te werk hoe lank dit ʼn voorwerp met ʼn sekere gewig sal vat om tot stilstand te kom. Daardie Vrydagmiddag het ons geen formule nodig nie. Toe die fiets se voorwiel daardie harde loodregte varsgeskraapte rand slaan, toe stop daardie fietsie so skielik soos ʼn steeks donkie. Die fiets se kinetiese energie word oorgedra na ons en ons trek gat-oor-kop reg oor die fiets se handvatsels. Pieta land eerste, sowat twee meter van die fiets af. Ek trek so ʼn meter of wat verder. Jy sien toe daardie fietsie so vinnig tot stilstand kom, toe lig hy sy gat soos ʼn befoeterde perd en skiet my uit die saal. Vir ʼn hele ruk lê ek net stil en probeer agter kom wat is heel, wat is stukkend, en wat dalk ʼn dokter gaan benodig. Pieta beweeg eerste. “Is jy oraait Stephaans?” vra hy met bestuurders-skuld in sy stem. Ek kan dit self nie glo nie, maar ek is oraait! Stram staan ek op en skud die ergste stof af. Pieta het intussen na die fiets gestap. “Tjek net hier!” roep hy in ongeloof. Ek staar na die fiets wat hy so half oplig sodat ek beter kan sien. Die voorwiel is dubbel gebuig en die vurk sit letterlik parallel met die dwarspyp wat fietsingenieurs vir een of ander duistere rede ingesit het tussen die sitplek en die handvatsels. Die fiets is heeltemal afgeskryf! Ons maak boeke en klere bymekaar en maak beurte om die fiets te sleep-dra na Pieta se huis.

Dink nou net, as die verbrande katte nie daardie arme posduif gevang het nie sou hierdie storie nooit gebeur het nie. Geen wonder ek hou nie van katte nie!

©Stephan Uys 2018/10/05




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed