Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: TT-Toets

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 15 Maart 2019 Aantal woorde: 1129 116 Kere gelees 2

Jip, dis waar ek my gistermiddag moes deurbring. Nee, nie in n eksamen lokaal nie, maar by die Radiografie department, by die hospitaal, doer aan die voet van die Helderberg. Dit was weer tyd daarvoor, soos ek elke jaar ‘mag’ doen.

Ek moes ook eers baklei met die mediese fonds, want op ’n dag laat weet hulle sonder skroom of skaamte: ‘Mevrou jou paaiement is volgende maand hoër (heelwat hoër) maar jou betaalde voorkomende ondersoeke word verminder.’ Ek het presies gedink wat jy nou dink: ‘So kan dit mos nie werk nie, dis blatante bleddie roof!’

Dis toe dat ek die Ontdekkers se hulplyn skakel en die vrou wat ewe vriendelik haar hulp aanbied, presies vertel wat ek van haar maatskappy dink. In duidelike terme. Siestog man, die arme vrou aan die ander kant sweet naderhand hoorbaar, soos sy probeer verduidelik. Die waarheid is dat niemand so sleg verstaan soos die vrou wat ’n besluit geneem het om nié te verstaan nie. En ek was so vrou.

Ek wonder nou-nog hoeveel fondslede het haar, as gevolg van daardie besluit van Bestuur en hulle makkers, verskree en geskel. Na ons twee diékant toe en daai-kant toe die saak beredeneer het, vra sy toe gelukkig of ek enige familiegeskiedenis het van vroue in my voorgeslagte wat vroumens-kanker gehad het. En ek het. My ouma aan my ma se kant, is jonk daaraan dood.

Dis toe waar sy vir my die regte vorms aanstuur om te voltooi wat ek dan weer moet terugstuur en hulle sal dan oorweeg om jaarliks vir ondersoeke te betaal. Dis mos wat aan my belowe was toe ek die dag by hulle aangesluit het. So eintlik vind daar kontrakbreuk, van hulle kant af plaas, maar hoe sal ek dit nou kan bewys. Ek sal beter vaar met wind-opbreek teen die swart Suid-Ooster en verwag om te wen.

Na ek nou gal gebraak het en pens-en-pootjies in my eie rede geval het, kom ek weer terug by my toets. Daar sit ek toe in die wagkamer vanmiddag om gemartel te word en dan is ek parmantig genoeg om te erken dat ek daarvoor gestry en baklei het.

Na ek ’n paar bladsye in my boek gelees het en ’n paar magtigings onderteken het, word ek ingeroep deur ’n baie jong Indiër meisie. Eerstens gaan sy al my inligting na en vra vrae: het jy magtiging vir ’n mammogram van jou mediese fonds af? Het jy al ooit ’n biopsie gehad? Het jy enige borsoperasies gehad? En toe vra sy of ek al ooit enige borsbeserings gehad het?

’n Duiweltjie fluister in my oor om te antwoord: ‘O ja, beslis. Elke jaar doen ek nuwe beserings op…’ Die kind kyk my stip aan en ek sien die kommer in haar oë. Eintlik lees ek haar gedagtes in die amper-swart kykers: ‘Praat sy van mishandeling?’ Sy is stomgeslaan en ek laat haar eers bietjie wroeg voor ek haar reghelp: ‘…ek kom doen beserings hier by julle op. Dis julle wat my martel.’ Verlig giggel sy.

Maar grappies op ’n stokkie. Ek word ’n jurkie in die hand gestop en rigting gewys na die aantrekhokkie met die opdragte: ‘Top en onderklere uit, bril af, trek die jassie aan en maak dit voor vas. Sit al jou goedjies in hierdie mandjie en wag hier voor, tot die huidige pasiënt uitkom.

Kort voor lank tree ek langs die massiewe masjien aan en maak eers die linkerkant kaal en toe probeer die Indiër-kind om die bietjie wat ek bedeel was, op die klein stukkie tafelblad uit te lê. Sy trek en sy knie en sy druk en sy draai. Sy stoot my heup in een rigting en my kop in heel die teenoorgestelde rigting. Sy sê ek moet die linkerarm eers in die lig opsteek, vorentoe leun, dan die arm oor die tafeltjie strek maar die skouer uit die pad probeer hou en ’n handreëling aan die oorkant vasvat. Ek verwag dat sy gaan sê: ‘tel jou regter been op en sit jou voet agter jou kop.’

Gelukkig toe nie, maar ewe onmoontlik, wil sy hê ek moet asseblief ontspan. Asof enige mens, enige iets aan jou lyf, ore ingesluit, in so ongemaklike, onnatuurlike posisie kán ontspan. Bid jou aan.

Daarna knyp sy alles wat op die tafeltjie kon kom in daai masjien se wye bek vas. Styf vas. Vir ’n oomblik voel ek soos tuisgemaakte pasta wat drie maal deur die roller is. Ek weet hoe dit voel om in die knyp te wees. Maar ek moet net ‘lekker diep asemhaal sodat hulle mooi duidelike foto’s sal neem’.

Ek wil eerder asem ophou om die pyn te deurstaan. Wanneer sy die masjien se knypers losmaak is al die gevoel weg en ek is te bang om te kyk, want dalk is alles morsaf geknyp. En toe herhaal ons die hele oefening aan die regterkant.

As jy gedink het ons is klaar, wil ek jou net een ding sê: ‘Jy maak ’n groot fout!’ Daarna word die tafeltjie vyf en veertig grade skuins gedraai en dis weer die linkerkant. En weer die regterkant. Ek maak my jurkie dankbaar toe, maar ‘nee’ sê sy, ‘ek wil net nog een laaste foto’tjie neem aan die linkerkant neem, om dood seker te maak ons het alles wat dokter sal wil sien. Dan sal ons die sonar gaan doen.’

In die volgende vertrek moet ek op die nou bedjie klim en beide my pastas ontbloot. Sy maak die regterkant met ’n handdoekie toe en ek moet my arm oor my kop gooi, soos wanneer jy op die strand in die son lê en braai.

In daai posisie is ek goed geoefen. Ek maak sommer my oë toe. Net om hulle weer skielik, in skok oop te sper, toe sy yskoue jelly soos ’n draairoomys oor my spuit. Sy stoot die hand kontrole heen-en-weer-, heen-en-weer oor my vel. Albei kante. En gooi toe weer die handdoekie oor als.

Ek reken dis darem seker hierdie keer die werklike einde en vee sommer die jellie aan die handdoek af. ‘Moenie afvee nie, dalk wil dokter self kom kyk,’ sê sy en ek laat sak my arms slap langs my sye. Wragtig kom die radioloog in, want die radiografis het hom ingelig dat daar dalk iets is om te sien. Goddank, sy was verkeerd!

Ek kry darem vars moed om wat oorgebly het van my bates, te bekyk voor ek aantrek. Dis soos twee twaksakkies met ’n albaster in elk. En die gevoel het nog nie teruggekom nie.

Gisteraand toe ek in my bed lê, voel my borskas en selfs my ribbes of ek in ’n skrum met die All Blacks gesak het. Gevoelig, gepynig, gekarnuffel. Ai, die vreugdes van vrouwees tog.




  • TEMAS
    4 Kommentaar
    1. Anze

      Maart 16, 2019

      Hierdie is presies hoe dit gaan!!! Dankie Kiekies vir hierdie kostelike en vol humor vertelling van daardie gevreesde TT Toets. Heerlik gelees, Jy kan darem ‘n mens geboei hou van die eerste woord tot by die laaste een!! Puik gedoen.

      • Kiekies

        Maart 18, 2019

        Baie dankie dat jy my in my ‘pyn’ kom bystaan het en kompliment. ek waardeer.

    2. Ano

      Maart 17, 2019

      Ek stem! Wie het hierdie liederlike masjien uitgedink? En hoekom moet ons bek hou en aanhou teruggaan vir nog ‘n pannekoek-toets? Wanneer word daar so ‘n masjien vir mans uitgedink??

      En … ek vertrou darem ook nie daardie strale waarmee hulle kiekies neem nie, veral nie na ek gelees het dat dit ook kanker kan veroosaak nie.

      G’n vroumens is ooit veilig nie, maak nie saak aan watter kant van daardie knypers sy dink of staan nie!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 35
    Kommentaar telling: 503

    Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 1,134 gaste aanlyn

    Bydrae Totale