Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Toe vat daai garage-mannetjie my mos vir ‘n ride – of nie

Deur Pannetjie
Datum gepubliseer: 7 Mei 2019 Aantal woorde: 4704 224 Kere gelees 5

Toe vat daai garage-mannetjie my mos vir ‘n ride – of nie

So deur die jare steek die gesegde “spyt kom te laat” al meer en meer sy kop uit. Hoekom het ek nie in die Bybelkunde klas die tyd wat ou Dup nie in die klas was gebruik om ‘n tikmasjien beter te verstaan nie in plaas van om te kyk of ek die ding se armpies ge-jam kon kry nie? Dan kon ek darem ook vandag met twee vingers in plaas van een getik het. Hoekom het ek nie maar op universiteit bietjie vaster gebyt met my aanvanklike besluit om elektroniese ingenieurswese te swot nie. Dit is ook die drade en weerstande se skuld – hoekom moes hulle nou verskillende kleure gehad het en ek kleurblind wees. Toe end ek op met meganiese ingenieurswese en die motorkarre ontwikkel op die elektroniese gebied.

Wie sal nou die dae vergeet wat die toolbox onder die kar se sitplek net ‘n skroewedraaier, twee tange (ingeval een wegraak) en ‘n stuk bloudraad bevat het. Die motorkarre wat ek kon bekostig het darem aan die loop gebly met die karige tools en spares wat in die toolbox was. Die bloudraad was natuurlik die spares gewees.

Daar kom die slim manne van anderkant die water en sit ‘n coil op elke plugdraad, spesiale plugs, distributors wat nie meer ‘n distibutor is nie. Van punte en condensers is daar nie meer sprake nie, maar ek steek nog vas by my bloudraad en tang modelle.

En so leen ek my ore uit. Ek moes eintlik geweet het dit is moeilikheid want die sogenaamde advisieur is ook nie ons taal magtig nie. Hy praat die taal wat oom Jackie, ons engelse onderwyser, graag wou hoor uit die mond van ‘n Namakwalander. Nou wonder ek of hy ooit die voorreg gehad het om ‘n ordentlike ingilse sin uit ‘n opreggeteelde Namakwalander se mond te hoor – ja en hy is ook nie meer daar om die vraag te beantwoord nie.

Die ingilsman, nou weet ek ook nie of ek hom reg verstaan het nie want dis mos my derde taal, het my laat verstaan dat die dae verby is met foutsoek op karre. Daai slim enjin vertel jou sommer alles. Dit het my op daai oomblik geklink soos my vrou – ek het ook nie google nodig nie want sy weet alles. Nog lank voor jy kon droom dat daar ‘n fout op die ou karretjie is sal die slim enjin jou vertel daars fout, waar die fout is en sommer ook hoe om die ou foutjie reg te sien. Nou wie kan nou teen so ‘n versoeking sterk staan. Ultimately ook nie ek nie.

Ek het al probeer om my gat met ‘n staalborsel te krap as hy so jeuk vir ‘n gekopery, maar dit wil nie werk nie. Jy krap dat die bloed loop maar die jeuk bly. Die verbasendste is dat die ding waaroor jou gat so jeuk die jeuk so maklik wegkry as jy hom eers gekoop het, maar dikwels is die ophou jeuk ook van korte deur. Die ander kere kom die spytfaktor weer in volle swang as die emosies eers net bietjie oorgewaai het.

So weet ek al die dinge maar nogtans laat ek my inpraat om een van die tegnologies gevorderde modelle, natuurlik teen ‘n prys, aan te skaf. Nou moet ek darem eerlik wees – voordat die eerste paaiement by die bank afgegaan het en die hongerpyne nog nie te voorskyn gekom het nie het hy wragtag lekker gery.

Maar so ‘n tweedehandse nuwe kar moet darem ook so bietjie op die ooppad gevat word sodat ek darem vir die mense wat ek nie ken nie kan wys ek weet ook hoe om die bank se geld te spandeer. (Is dit nou nie die een sonde van ons tyd nie – ons spandeer geld wat ons nie het nie om mense wat ons nie ken nie te probeer beindruk).

So word die lang pad aangevat – kar onder die regterblad, stuurwiel in die linkerhand, regtervoet opgetrek tot hier teen die kussing- hy het mos ‘n speedocruise so hoekom sal ek nou petrol trap – en die linkervoet wat op die maat van Klipwerf Boereorkes teen die vloerbord tyd hou. Manne maar was dit nou vir jou lekker.

Ai ek wens ek kan die man of vrou kry wat gesê het “lekker is net ‘n vinger lank”. So in die middel van ‘n sitees besluit die modelletjie hy is lus om bietjie te rus. Glad nie soos dit ordentlike karre betaam ‘n vooraf kennisgewing of waarskuwing nie, nee net vrek daar waar niks twee meter hoog groei. Maak nou nie saak wie jy is nie, maar as die besluit nog so vars is om die modelletjie aan te skaf is dit nie so maklik om sommer te erken jy het ‘n fout gemaak nie, jou moer vir jouself te strip en jou eie gat te skop nie. Nee, nee bly dood kalm, trap die clutch in laat hom maar nog so bietjie op eie stoom hardloop met die kop wat klaar ‘n topgear is met foutsoek. Nadat hy sy laaste asempie uitgeloop het, het ek die bonnet oopgetrek, rustig uitgeklim, die deur nogal sagkens toegemaak en omgestap om die bonnet oop te maak. Hier in my kop draai dit oor ‘n ou draadjie wat miskien net afgespring het of ietsie kleins, maar toe ek die bonnet so lig toe weet ek – meganiese ingenieurswese gaan nie hier veel help nie. Dit is net kleur op kleur draad, waarheen gaan almal en waarvandaan kom die spul.

Soos die man by die garage gesê het hulle het baie goeie roadside assistance. Nog lank voordat ek moed verloor het sien ek die motortjie met die lig op die dak aankom en sommer ook spoed aftrek. Op ‘n afstand ken ek sommer ook die logo op die bonnet, lyk net soos die een op my kar se nuus net groter en opgeverf. Vir ‘n oomlik het die tegnologie my weereens verstom. Hoe het die ou geweet my kar staan langs die pad, ek het nog nie eens my eie vrou laat weet ek het moeilikheid nie – nou nie dat sy voor in die ry sou staan as dit by laat weet kom nie want dan kon sy mos net dalkies gedink het ek wat volmaak is het ‘n fout gemaak met die aankope.

Dit flits deur my kop dat die mense wat die fabrikaat verkoop werklik goeie diens wil lewer, elke kar wat hulle verkoop is toegerus met ‘n “staan” verklikker wat seker die ou by die naaste agentskap se wekker laat afgaan as een van die karre gaan staan. Sulke diens was ek nie in ons land te wagte nie.

Toe die karretjie kom stilhou weet ek sommer dis die regte ou. Op die deur staan groot “Roadside Assistance” en die logo daarby gee my die nodige gemoedsrus dat ek sommer gou weer op die pad sal wees en dalk nie eens nodig sal hê om teenoor ander te moet bieg dat my kopie langs die pad gestaan het nie.

Die mannetjie het so ‘n tydjie in die kar bly sit – seker sy tacho ge-zero voordat hy met ‘n vriendelike groet uitklim. “Kan ons help oom” het my laat wonder of daar ‘n onsigbare mens by hom is want vir my geld was dit net hy in die kar en kon ek nie die ons in sy vraag sien nie. Verder het hy seker gedink ek hou van die kar se enjin – laat ek hom nou so tussen niks en nêrens wil bekyk. Hy kan mos weet dat daar fout is met die kar as sy bonnet oopstaan en met hom wat dan spesialiseer in Roadside Assistance moet hy my mos kan help. Maar as jy langs die pad staan laat jy nou nie toe dit sulke dingetjies tussen jou en die helpende hand kom nie.

Ek het mooi vertel hoe die motor sommer van self gevrek het en hy is nie eens onder my voet vrek nie want hy trap mos self die petrol. Hy het so met sy regte been teen die mudguard gaan staan en sy gesig in die rigting van die kar se gat. Met sy linkerhand in die netjies broek se sak en die regterhand wat so vat-vat aan van die oppervlakkige drade terwyl hy meer op die pad kyk of daar nie ‘n mooi antie wil verby ry nie.

Na ‘n rukkie het hy in die kar geklim en tot dieselfde gevolgtrekking as ek gekom: “Hy wil nie start nie”. Met die uitklimslag deel hy my mee die kar moet op die computer kom. Ek vra of ek hom kan help met die ding waarvan hy gepraat het en daar kom dit toe. Hy het nie ‘n computer nie – dis by die agente.

Maar ek het alreeds ‘n plan – in al my vorige karre was die tools en spares maar skaars maar daar was altyd ‘n troefkaart en ek het dit sommer ook oorgedra nie hierdie kar. Nie dat ek dit ooit sou nodig kry nie, maar ek kon altyd iemand anders in nood met die troefkaart help. Ek stap so om die mannetjie se kar en sien die saak is gewen, ek het ‘n sleeptou en sy kar het ‘n haak. Ek lig hom ook sommer in oor my troefkaart maar het nie rekenskap gehou met sy troefkaart nie. “Nee meneer, jy kan nie hierdie karre sleep nie, jy moet hulle op ‘n lowbed laai want sy dif sal seerkry.” Ek kon nie onthou dat ek ooit skoolgehou het nie en nog minder het ek vir hom skoolgehou, maar hoekom hy nou skielik moes dink ek is ‘n onderwyser dat ek wat nou-net oom was sommer meneer geraak het. Maar soos hy alreeds eintlik gesê het het hy my al klaar opgesom as BC (before computers) en dus hoekom die kar op die computer moes kom.

Sy hulpvaardigheid het by hierdie tyd nog glad nie gewyk nie. Hy bied aan om my ‘n nommer te gee van ‘n insleepdiens so drie dorpe daarvandaan met ‘n lowbed – dan kan ek met hulle reël vir die vervoer van my ou karretjie. Hy maak ook plegtig verskoning dat hy nie die ou kan bel nie want sy baas gaan elke maand sy selfoonrekening met ‘n breinaald en flits deur en as daar nou net een ou nommertjie op is wat nie direk werksverband is nie dan is hy so goed as gefire. Met die begin soek hy vir die nommer op die selfoon en daar lui die ding in sy hand. “Hello ou pêl, yes dis darem nou lekker om weer van jou te hoor……….Hoe sê jy waar is jy…………By die huis.. nee man maar jy kan mos nou nie van jou eie telefoon af vir my bel nie, wag ek bel jou nou terug ek het mos darem ‘n company fone. En daar druk hy sommer die foon dood, soek soek daar by die call log en druk weer ‘n knop of twee en die volgende oomblik is hy en die pêl weer bymekaar, skoon vergeet van die nommer wat hy vir my aan’t soek was.

Ek staan maar in afwagting vir die nommer wat ek moet kry en gou het die mannetjie my gedagtes ver van die breek kar hier langs die pad. Hy en sy maatjie was besig om die talent van die vorige aand te bespreek. Die girl met die kort rompie waarvan die rooi gatflos amper bo en onder die rompie uitgesteek het, die blondie met ’n moesie, soos wat ek aan sy beduie vir sy pêl verstaan het, sit op ’n plek wat nie te veel son moet kry nie. En sommer ook wat die en daai die vorige aand gevat het, hoekom hulle nie sommer net brandy en coke vat nie. Nadat al die prate van die vorige aand gepraat was het hulle begin beplan aan die aand wat voorlê – hoe hulle nou die antie met die gatflos en die een met die moesie bietjie sal naderkrap. So is die naweek ook sommer beplan. ’n Naweek by die dam met die twee dames wat my toe geklink het sonder die gatflos sal moet wees en dit was ook tyd vir die moesie om ’n bietjie son te sien. In my stilligheid het dit my net laat wonder of hulle nie besig was om die eiers te tel nog voordat die hoenders, wat die eiers moet lê, uitgebroei is nie, maar gelukkig sou ek darem nie nog daar in die omgewing wees om hulle naweek kasenades gade te slaan nie. Met die beplanning agter die blad en die nodige sterktes toegewens is die gesprek met ’n luidrugtige “cheers” be-eindig.

Skielik was ek weer terug by die werklikheid – die vrek motorkar en o ja die nommer waarvoor ek wag. Ek moes maar die mannetjie herinner aan die beloofde nommer want op daardie stadium was sy kliere besig om hulself te vul vir wat voorlê. Hy het so ’n veraf uitdrukking in sy oë gehad soos ’n man wat besig was om ‘m diesel Isuzu te start en kon nie dadelik snap wat se nommer ek nou aan’t soeke was nie. Toe hy besef dat hy eintlik besig was om vir my ’n nommer op die sogenaamde “company phone” te soek voordat hy die groot gesels gekry het was hy ene verskonend met die woorde: “Sorry maar ek moes eers die oproep maak”. Nou het ek gewonder as hy daar in die joint sit en ’n call-out kry of hy ook so entoesiasties sal wees oor die werk wat met sy plesier inmeng soos wat hy was met die plesier wat met sy werk ingemeng het.

Met die nommer sommer op die telefoon gestoor bel ek die insleepman. Nadat ek hom van my penarie vertel het het ek darem besef al my geluk is nog nie by die venster uit nie. Sy lowbed was sommer baie naby waar hy net besig is om ’n kar af te laai en sou sommer weldra by my wees. Ek sê- vra sommer of ek maar saam met die lorrie kan ry na die naaste dorp waar daar agente vir die breek kar is. Hulle het net ’n lisensie om karre te vervoer, nie mense nie maar hy kan my ’n nommer gee wat ek kan bel was die antwoord. Die mense spesialiseer daarin om gestrande persone te vervoer.

’n Vreeslike vriendelike dametjie, wat sommer laat dink het aan die twee wat so ’n wyle gelede onder bespreking was, het my verseker dat hulle bussie sommer binne ’n kits by my sal wees want hy is juis oppad in my rigting en sal plek vir my hê.

Met al die logistiek uitgesorteer het die roadside assistance sy doel uitgedien en my vaarwel toegewens en met die woorde “sien jou nou net daar anderkant” is hy daar weg. Met die wat ek weer alleen geraak het het ek begin wonder of ek nou my vrou sal laat weet van my ongelukkige keuse van ’n kar, maar gelukkig voordat ek die daad by die gedagte kon voeg stop daar ’n lorrie wat lyk of dit die een is wat my moet help. Ek het darem tyd gehad om te besef die ontwerpers broek en hemp met die bekende logo op wat die roadside assistance aangehad het, was nie veronderstel om ’n overall te wees nie. Sy hande raak nie eens vuil nie hoe dan nog sy klere.

Baie beleefd en hulpvaardig het die drywer sommer man alleen my ou tjorrie op sy lorrie gelaai. Ek kon sien die man dryf al daai lorrie vir jare en van karre laai sal niemand hom niks vertel nie. Dis nou ’n joppie wat hy verstaan. Anders as die aasvoëls in die stad het hy seker gemaak dat die kar nie beskadig word in die oplaai en vervoer proses nie. Dit is seker nou nie die hoogs geskoolde werk wat daar is nie, maar die man het my respek afgedwing. Ek kon sommer sy passie vir wat hy doen sien. Die lorrie blink soos ’n spieel, niks lê rond nie, elke ding het sy plek en niks word aan die noodlot oorgelaat nie. As ’n man sy job so doen dan mag hy hom maar doen.

Terwyl ek my vergaap aan die man wat so bekwaam is met die laaiery het my lift ook aangekom. Ek wou my goedjies uit die kar se boot haal maar is verseker dit sou nie nodig wees nie. Ek en my kar sal nie te ver van mekaar beweeg nie.

Met die kar op die lorrie goed vasgetrek is ons daar weg. Ek met die gereëlde geleentheid tesame met ’n span ander mense in die bussie en my kar op die lorrie.

Ek het myself maar voorgestel aan die man langs my in die bussie en hom vertel hoekom ek vandag saam met hom in die bussie is om net te hoor dat hy maar eintlik in dieselfde bootjie is. Hy is ook oppad na dieselfde dorp waar daar vir hulle slaapplek gereël is terwyl hulle kar wat deur dieselfde lorrie op die vorige dorp afgelaai is herstel word.

Dit het my sommer baie hoop gegee. Die tyd wat verlore gegaan het sal mens mos darem kan verduidelik deur bietjie stilhou en rus langs die pad en met die dat die lorrie eintlik reeds betaal was en net oppad terug was so ook met die bussie sal die petalje darem seker van so ’n aard wees dat die vrou nie met die eerste oogopslag op die kredietkaartsaldo sou opmerk dat daar fout was met my kopie nie

Die situasie is eintlik nog verbeter toe die ou agter my vertel dat hy ook moet help betaal aan die bussie want hy is ook ’n gestrande wat vervoer nodig gehad het en ek het later verneem dat daar nog ’n ander kar se mense ook in die bussie was.

Almal veilig by die tydelike bestemming wat ook die sogenaamde agent vir my karretjie is kon ek darem toesien hoe hulle my tjorrie aflaai en in die werkswinkel instoot waarvan die deur mooi gemerk is: ”GEEN KLANTE VERBY HIERDIE PUNT”.

Ek kon nie daarmee saamleef nie, want ek wil mos die computer sien waarop die kar moes kom. Ek het my al voorgestel dit moet omtrent ’n ding soos ’n spaceship wees waar jy die kar intrek en hy van uit elke hoek met elektroniese oë bekyk word om te kan sien waar daai draad af is.

Intussen verneem ek by die die man wat die bussie bestuur het wat ek vir die trippie skuld, maar hy verseker my ons sal bietjie later boeke regmaak. Die lorrie drywer deel my dieselfde mee.

Ek is daar na ’n ou wat ek in ’n kantoortjie gesien sit het om te hoor of ek nie darem tog kan kyk hoe my kar deur die spaceship ingesluk raak en later weer soos Jona van ouds heelhuids uit die walvis se pens kom nie. Die man moes seker die ongeloof op my gesig gelees het en ook sommer ook geoordeel het dat ek nou nie eintlik sou verstaan wat hulle doen nie so daar was geen gevaar vir hulle besigheid nie. Hy het saam met my gestap na die kar wat nou al in so ’n parkeerarea ingestoot was.

Die volgende oomblik kom daar ’n man met ’n vaal jas. In sy hand het hy ’n ding amper soos ’n telefoonboek maar toe hy op die bestuurdersitplek gaan sit en die ding oopvou toe sien ek dit moet nog elektronika wees en wou dit sommer ook ken. Hy het net soos die ding daar op my lessenaar by die werk gelyk wat hulle ’n laptop noem. Belangstellend vra ek die man wat saam met my gestap het wat die ding in die man agter die stuur se hand is. Hy roep hom toe ‘n “diagnostic computer” en maak seker dat ek weet daai ding is nie sommer van hier nie, hy is amper duurder as die kar wat hy nou moet aan staan en werk. En wat daai computer nie weet nie is ook nie die moeite werd om te weet nie. Sowaar die ingilsman wat my in die kar ingepraat het het nie gelieg nie.

My nuuskierigheid het my oorgeraak. Ek het so bietjie nader gestaan sodat ek kon lees wat regs onder die skermpie van die ding geskryf staan. “Compaq nc 8230”. Wragtig dis dieselfde bleddie ding wat ek alreeds vervang het met ’n beter model – dis ’n dood gewone skootrekenaar met sagteware wat diagnoses kan doen op karre. Dit sal seker kan deurgaan as ’n elektronies kardokter.

Die man het ’n draad van die computer onder die kar se dashboard ingeplug en ’n aan’t soek geraak op die skerm vir die regte kar, model en wie weet wat nog. Na so ’n tydjie draai hy die sleutel en wragtag die enjin vat en loop ook sommer soos ek hom gewoond geraak het. By die tyd was ek sommer al redelik naby aan die man met die elektroniese kardokter in die hand en vra hom wat dan nou fout was. “nee oom dit was net ’n sensor wat sy settings verloor het”. As ek dit geweet het kon ek maar daar waar die kar langs die pad gestaan het bietjie pad-op gestap het. Dalk sou ek die verlore settings in die pad gekry het.

Die slim man verseker my ook dat dit nie sommer weer sal gebeur nie en dat ek maar met ’n geruste hart daarvandaan sou kon ry. Sy woorde was egter nie genoeg om my gerus te stel nie want ek glo die dood moet ’n oorsaak hê en hier is nie ’n oorsaak vir die settings wat verloor het nie.

By die tyd dat die kar nou weer volgens die tegnikus reg was, was al die ander mense wat saam met my in die bussie was al weg, die busdrywer en die bussie was nêrens te vinde en die lowbed met sy drywer het ook verdwyn en die Roadside Assistance het ook nie by sy woord gehou nie. Ek het hom nog nie weer tesiene gekry nie.

Ek “figure” toe uit dat al die mense vir wie ek nou geld skuld seker my nood gesien het en ook die toestand van my beursie met die kopie ervaar het en bereid was om die skuld af te skryf. Of miskien sal hulle maar by die owerhede my adres kry want hulle kon mos darem die kar se nommer afskryf. Hoe dit ookal sy dit was later se worries – of so het ek gedink.

Vir die geld wat ek die garage skuld word ek daar na ’n man in so ’n klein kantoortjie verwys. Met die instapslag ken die man my al aan my kar en bied my ’n stoel aan. Min het ek geweet ek sou die stoel nodig kry. Met vingers wat daar oor die keyboard speel soos ’n wafferse pianis bring hy sommer gou-gou ’n stuk papier te voorskyn. ’n Rekening, nie ’n rekening nie, ’n allemintige rekening. Oudergewoonte het my oog net hier na die regter onderste hoek van die papier gedwaal en die syfer wat daar verskyn het het my laat snak na my asem.

Die man moet al gewoond wees aan die tipe reaksie want voordat ek ’n woord kon uitkry het hy aangebied om die rekening te verduidelik.

Road side Assistance = soveel tyd teen die tarief en soveel km teen daai tarief asook twee telefoon oproepe.
Insleep van voertuig = soveel tyd vir laai, vervoer en aflaai teen die tarief en soveel km teen daai tarief
Huurmotor = Soveel km teen die tarief

Ek het niemand gevra vir roadside assistance nie – hulle het uit die bloute daar opgedaag maar toe onthou ek die vraag –“oom kan ons help” en my antwoord was mos nie nee nie. Maar hoekom moet ek vir die afstand afgelê betaal want hy sou mos in elk geval daar gery het al het my karretjie my nie daar in die steek gelaat nie.

Hoekom moet ek ’n retoer trip betaal vir die lorrie wat in elk geval al ’n betaalde trip daai kant toe gehad het. Hoekom moet ek die bussie teen volle tarief vir ’n retoertrip betaal as daar nog ’n klomp ander gestrandes ook in die bus was.

Die antwoord was kort en bondig: “Meneer dis ons tariewe en as jy nie tevrede is nie kan jy met die bestuurder praat – hy sal Maandag terug op kantoor wees, maar jy kan eers jou kar kry as jy betaal het”.

Ek was nog nie tevrede nie en wou hoor van die telefoonoproepe wat gemaak is. Ek het dan my eie foon gebruik en self die insleepman en die bus gereël. Ek is meegedeel dat die roadside assistance gebel het om die ure wat hy spandeer het om my kar te probeer regmaak deur te gee asook die insleepdiens wat hy moes bel. Ja hy het my vir ’n ride gevat – ek betaal nou vir die lekker geselsie met die pel en kan nie eens deel in die plesier wat moontlik vir hulle voorlê nie. Net daar wens ek sommer dat die twee anties nie gehoor moet gee aan hulle wense nie.

Ek verneem ook hoeveel ure hy spandeer het om my karretjie te probeer herstel en ook hier moes ek betaal vir sy onvermoë. ’n Hele uur en ’n half vir die minuut of twee wat hy vir die anties wat verbygery het gekyk het en die minuut wat hy my diagnoses bevestig het. O ja en darem ook die twintig of dertig sekondes wat hy die nommer op sy selfoon gesoek het.

Gelukkig is die penningmeester net so jammer soos ek dat die betroubare hoogs opgeleide roadside assistance nie daarin kon slaag om my motor te herstel nie. Ek het oorweeg om die saak in die klein kantoortjie verder te probeer voer, maar het besef die antwoord sal dieselfde wees:” Meneer dis ons tariewe en as jy nie tevrede is nie kan jy met die bestuurder praat – hy sal Maandag terug op kantoor wees, maar jy kan eers jou kar kry as jy betaal het”.

Vroutjie sou lank voor ek by die huis was al geweet het van die skade want dit sou soos ’n aarbewing deur die bank trek, maar betaal sou ek seker maar moet. Voordat ek betaal, het eers bietjie herkou aan die sakie. Die eienaar wat eers Maandag terug sou wees kan seker maar permanent op vakansie gaan want dan sal die gestrandes nie met hom kan praat nie en min sal seker bereid wees om sommer hulle blink waens daar te los. Hy moet egter ’n man wees met ’n kop vir besigheid – eers as dit by die betaal slag kom besef jy die een besigheid genereer op ’n slinkse manier besigheid vir die ander en jy moet vir almal betaal. As die laptop in die roadside assistance se kar was sou hy seker in staat gewees het om die verlore settings op te spoor en kon ek darem vroutjie die skok van bankkrotskap gespaar het.

Ek is ook seker dat die man wat langs my in die bussie gesit het is by ’n plek wat aan dieselfde garage eienaar behoort ingeboet.

Ek het gewonder oor die laptop wat nie in die Raodside Assistance se kar kan wees nie. Die IT company het seker die garage sien kom en laptops sonder batterye aan hulle verkoop sodat hulle nie die garage kon verlaat nie. Nie eens een van die ander vier wat op die werksstasies gelê het het seker batterye gehad nie. Maar weereens is die nodige versekering uitgeneem met die woorde op die deur: “GEEN KLANTE VERBY HIERDIE PUNT”.

Vir almal van julle wat ry met die karre met die sirkels en sterre en ovale op die nuus – as die road side assistance vra of hy jou kan help maak seker hy hoor die – NEE -want anders gaan jy by die huis en bankbestuurder moet gaan verduidelik.

Onwillekeurig het die ou jood in Springbok se woorde deur my kop gemaal: “ Business is business”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 35 gaste aanlyn

Bydrae Totale