Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Terug in tyd deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 14 Augustus 2019 Aantal woorde: 1373 165 Kere gelees 1

“Wat maak jy?” vra Melandi met ‘n defnitiewe toon van frustrasie. Vandat Pieter dit in sy kop gekry het om terug in tyd te gaan sien sy hom bitter min. Hy is alewig besig met iets in die werkswinkel. Wanneer sy vra dan sê hy net: ‘Jy sal sien.’
“Amper klaar dan kom ek.” Hy is so verdiep in sy werk en kyk nie eers op waar sy in die deur staan nie. Twee jaar gelede het hulle die huis gekoop in die platteland juis om weg te kom van die alledaagse dinge wat hul tyd in beslag geneem het. Die ink was nog nie eers behoorlik droog op die kontrak nie toe rig Pieter die ou stoor in as werkswinkel. Van daar af sien sy hom per geleentheid en leef hulle eintlik in twee wêrelde. Sy probeer verstaan en ondersteun waar nodig maar dit raak darem nou baie erg. En sy is lus om uit te kom, iets te doen voordat die vier mure haar gaan verswelg.
“Ek gaan sommer kos by die Griek bestel. Waarvoor is jy lus?” maar sy kon net sowel met die masjiene gepraat het, diè wys meer reaksie as haar man.
“Vyf minute dan is ek daar,” Melandi sug, om ‘n gesprek met Pieter te voer is net so goed sy praat met haarself. Met ‘n laaste blik na die rekenaar gedoente en flitsende rooi ligte draai sy om en verdwyn die huis in. Die stoel met leerbande vertel sy eie storie, sy het al gevra maar kry net ‘n afwesige kyk.
Die staanhorlosie slaan hoeka al 7 uur in die eetkamer. Dit gaan weer ‘n aand van alleen wees, boek lees of miskien moet sy bietjie aan daardie storie werk wat sy begin het vir die skrywers groep. Sy het in elk geval niks anders om te doen nie.
“Micos, I am wonderful, thanks for asking. How is the family?”
“Wonderful to hear, greetings to Mamma Rosa. I like to place an order for two please.”
“Yes the usual, thanks Micos.”
“Yes, takeaways, can you deliver?”
Glas in die hand verdwyn sy verby die muurhorlosie na haar eie werkshoekie wat deel uit maak van die groot plaaskombuis. Die vertrek was die rede dat hulle die huis gekoop het in die platteland. Met ‘n paar veranderinge in die huis het die plek ‘n veilige hawe geword alhoewel sy dit deesdae eintlik maar alleen gebruik.
By haar tafel wys die digitale horlosie dit is alreeds 7:30 en sy sug. Die ‘nou-daar’ iets van die verlede en sy hoor hom mompel van uit die werkswinkel. Die hele plek is so opgestel dat hulle by mekaar kan wees maar terselfdertyd hul eie plek het. In die begin was dit wonderlik om so by mekaar te wees, maar soos tyd aangestap het, het sy die werkswinkel vermy. Dan hoor sy Pieter swets iets allerverskrikliks en draf na die plek langsaan.
“Wat gaan aan?”
“Ek kom nou, gee my net ‘n paar oomblikke.” Kom die bars antwoord. Teensinnig draai sy om en beantwoord dan die interkom en druk die knoppie vir die afleweringsman. Die geure kielie haar hongerpyne en sy sit die pakkie op die groot ou kombuistafel neer.
“Kom jy? Die kos gaan koud word.”
“Moet tog nie so karring nie, ek kom nou.”
Met ‘n glas rooiwyn gaan sit Melandi by die gedekte tafel. Pieter se plek leeg en sy skep van die heerlike bredie waarvoor Micos so gewild, in.
Die mikrogolfoond se digitale horlosie wys dit is alreeds 8:16 en haar man is nog steeds besig. Ten einde laaste maak sy die kombuis aan die kant sit sy bord kos in die mikrogolfoond en stap doelgerig na die deur wat die werkswinkel en kombuis skei.
“Ek gaan maar inkruip en ‘n fliek kyk,” praat sy met die rug wat nou gebukkend oor die masjien staan. Die rooi ligte het nou verander na groen en flikker soos Kersliggies vir haar. Geen antwoord kom vanuit die baas van die masjien nie en sy sug verwese.
Die ding met tyd is alles oorheersend vir haar man. Hulle maak al horlosies bymekaar vandat hulle getroud is; dit is nou al 32 jaar. Haar huis is gevul met die ritmiese klanke van horlosies se konstante tik-tok. Baie dae hoor sy dit nie eers meer nie. Vriende en familie het al gekla en gesê dit is darem te erg, en sy het hom altyd ondersteun maar Pieter vat sy stokperdjie darem nou te ver. Vandat hy ‘n artikel gelees het in die Reader’s Digest is hy oortuig dat hy terug wil gaan in tyd. Om wat daar te maak het sy al menigmaal gevra; sy antwoord was net altyd dieselfde. Dit sal interessant wees. Maar sy dink daar skuil iets anders daar agter. Die hele beheptheid het begin ‘n jaar na hul enigste kind, Heinie dood is. Hulle was net 12 jaar met hom gegun, twaalf wonderlike jare gevul met lag en speel en lekker vakansies. Vandat hy weg is het die huis stil geword en die vakansies al hoe minder. Lag is nou net iets wat sy hoor op TV of tydens vriende- en familiekuiers.
Pieter is oortuig hy kan tyd terug rol en so weer vir Heinie sien. Sy verstaan sy verlange na sy enigste kind is by tye onuithoudbaar, sy mis hom immers ook, maar om te glo dat hy hom weer sal sien is rerig net ‘n bietjie dik vir ‘n daalder. Hoekom Pieter so aandring daarop verstaan sy nie. In die begin was sy bedkassie en die kombuistafel besaai met notaboeke, gevul met diagramme en wiskundige berekeninge. Sy het dit so aanvaar en hom ondersteun. Wanneer mense kom kuier het praat hy oor terug rollende tyd asof dit die natuurlikste ding onder die son is. Uit beleefdheid het die mense geluister maar agterna het hulle gedink hy het sy varkies verloor. Sy het probeer verduidelik maar naderhand opgehou.
In die bed trek sy haar skootrekenaar nader, die nuutgevulde glas wyn op die bedkassie en begin ‘n paar gedagtes neer te tik op die geopende Word dokument. Die horlosie in die regterhoek van die skootrekenaar wys dit is amper 10:30, toe die kamer ‘n kwaai ruk gee. Fronsend staan sy op, trek haar pantoffels en kamerjas aan en draf die gang af verby die Oupa klok wat sy tyd uit beier in ‘n diep stem; ‘n erfstuk van haar oupa aan moederskant. Verby die musikale horlosie wat hulle nog in België gekoop het, die laaste vakansie saam met Heinie. Heinie was so beïindruk met die vakmanskap dat Pieter dit onmiddelik gekoop het. Hul bankbalans was goed in die moeilikheid daarna maar Pieter was oortuig hulle moet Heinie ondersteun. Die groot hoender horlosie wys dit is net na half elf toe sy deur die kombuis sweef met vinnige passies, haar hart in beklemming toe sy die mistigheid onder die deur van die toe werkswinkel sien.
“Wat op aarde gaan aan Pieter?” roep sy benoud uit terwyl sy die deur oop maak. Die leë vertrek lyk spookagtige in die nag stilte en verdwaas skakel sy die hoofligte aan. Melanie knip haar oë ‘n paar maal en stap dan teen die drie trappe af en staan op die, nou verlate sement vloer. Daar waar haar man gestaan en peuter het aan die masjien ure gelede lê nou net ‘n elektriese draad gehul in warrelende mis. Die skerp lig waarmee hy gewerk het, omgeval en skyn nou vir die rakke.
“Pieter!” roep sy benoud “Waar is jy?”
Dan val ‘n voorwerp op haar skouer en land op die vloer. Dit weergalm deur die leë vertrek en sy tel dit vinnig op. Met ‘n verdwaasde uitdrukking staar sy na die klein horlosie in haar palm. Sy onthou die horlosie. Dit was ‘n verjaarsdag geskenk van sy ouers toe hy sestien geword het. Die datum wys 16 September 1996 teen die wit agtergrond, drie dae voordat hul seun weg is op 19 September 1996. Verstom gaan sit sy plat op die yskoue vloer.
“Pieter?” en kyk weer om haar, ‘n geritsel laat haar opkyk en ‘n papiertjie kom al warrelend af na haar en vang dit sonder moeite. Die woorde laat ‘n benoudheid in haar opvlam en sy lag terwyl trane teen haar wang afrol.
“Heinie stuur groete, ek is nou-nou terug.”
©Lynelle Clark2019




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 65
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 85 gaste aanlyn

Bydrae Totale