Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Tert se oom Martiens

Deur Herman
Datum gepubliseer: 4 Januarie 2018 Aantal woorde: 1524 321 Kere gelees 8

Tert se Oom Martiens.

Tert se Oom Martiens was ‘n lang sening van ‘n man met ‘n adamsappel so groot soos ‘n golfbal. Die ding het my selfs as kind al verskriklik gefassineer. Soms het die affêre doodstil op sy plek gehang. Amper soos die Maan op ‘n volmaan aand in die hemelruim hang. Ander kere weer, dan het die adamsappel op en af gerol en tekere gegaan dat dit skoon ‘n aardigheid was. Ek glo nie Oom Martiens het vreeslik beheer gehad oor die ding nie. Onwillekeurig – amper soos asemhaal – kon dit tydig en ontydig aan die rol gaan. Soos ons groter geword het, het dit vir ons gelyk of daar ‘n verband kon wees tussen die beweging van Oom Martiens se adamsappel en spanning en/of opgewondenheid. By dit alles het Oom Martiens ‘n ander gawe gehad. Ek weet nie of dit aan vergeetagtigheid toegeskryf kon word nie, maar as hy ‘n storie sou hoor; maak nie saak waaroor nie, sou hy so twintig-dertig minute kans gee en dan dieselfde storie oorvertel met ‘n stert wat selfs die Duiwel jaloers sou kon maak. Hy het gewoonlik begin met: “Ek kan nou nie meer onthou waar ek die storie gehoor het nie …..” en dan vertel hy dieselfde storie met die vreeslike stert. En as dit lyk of jy hom nie lekker glo nie, dan het hy vir Ta’ Malie bygesleep. “Vra vir Malie, daar sit sy” en dan het Ta’ Malie net haar kop stadig op en af geknik. Nie ‘n woord gesê nie. Ek onthou een insident baie goed.

Tert se Oupa Gert was ‘n kranige jagter en ‘n storieverteller by uitnemendheid. Hy het ‘n hele ritueel van ‘n storievertellery gemaak. Eers het hy sy pyp uitgeklop, tydsaam volgestop, aan die brand gesteek en eers ‘n paar diep teue gegee voordat hy begin vertel het. In daardie paar minute vandat hy sy pyp uitgehaal totdat hy die eerste rook uitblaas, het hy sy volle storie agtermekaar gekry. En het hy ‘n gevoel van afwagting geskep wat jy met ‘n koevoet kon breek.

So sit ons een aand in Tert-hulle se sitkamer. Ek en Tert en Pitte was seker so om en by in standerd vyf-ses. Ons kon dalk bietjie kleiner gewees het. Ek kan nie meer so mooi onthou nie. Ewenwel; ons was daar in die sitkamer. Dit was net na aandete. Dit was ek en Tert en Pitte, Oupa Gert en Tert se Ouma, Oom Martiens en Ta’Malie met hulle vier kinders, Tert se pa en ma met sy ander broers en suster. Ons almal daar in die sitkamer en Oupa Gert haal sy pyp uit. Tydsaam stop hy die Rum en Maple tabak in die groot kop nadat hy die pyp deeglik skoongekrap het met ‘n blink toetermanjot wat aan sy bos sleutels gehang het. Hy druk die tabak so effe vas. Eers teen die derde vuurhoutjie wat hy trek kry hy ‘n behoorlike vlam om die tabak aan die brand te kry. Behaaglik trek hy die rook in tot wie weet waar. Sal my nie verbaas as hy ‘n nikotienstreep in sy onderbroek gehad het nie. Toe die pyp goed brand, skuif hy hom reg tussen die kussings op die stoel. Die soet reuk van die tabak skuif tussen ons deur en hang in die sitkamer.

“Vansmelewe se dae” begin Oupa Gert en trek aan die pyp, “vansmelewe se dae het ek op vêr plekke gaan jag.” So tussen die rookwolke wat voor sy gesig hang kyk Oupa Gert vir Oom Martiens met sulke skrefies oë waarin ‘n duisend duiwels dans. Oom Martiens se adamsappel begin roer. “Soos ek sê, ek het op vêr plekke gaan jag. So kom ek een jaar se winter; ek dink dit was in neëntien ag en veertig, dalk vyftig, maar dit was elkgeval daar rond. So kom ek in die noorde van Suid Wes uit. Doer bo. Amper in Angola.” Tert sê later vir my sy oupa het Suid Wes Afrika – vandag Namibië – dalk al iewers op ‘n landkaart gesien, maar self het hy nog nooit ‘n voet daar gesit nie. “Ons het lank gery tot doer bo want die paaie was maar sleg. Plek – plek was dit skaars ‘n tweespoorpaadjie. Ente het die pad heeltemal weggeraak en dan moes ons eers kamp opslaan sodat ek kon gaan pad soek. Die rit op boontoe was maar ‘n tydsame storie. Uiteindelik kom ons toe op ‘n gerieflike plekkie uit met ‘n reus van ‘n Maroela so half tussen drie groterige miershope. Die miershope het ons goed gepas, want daarvan het ek ‘n bakoond gemaak en kon ons gereeld vars brood eet.” Ek kyk vir Oom Martiens. Dit lyk of die adamsappel momentum begin kry.

“Eendag is ek weer die veld in. Ek het soos gewoonlik ‘n lemoen of twee in my knapsak gehad en ‘n bottel water. Die dag was die wild maar bietjie skaars en ek het seker so ‘n uur lank geloop sonder om iets te sien, toe ek skielik iets soos ‘n geweeklaag hoor.” Die pyp het intussen doodgegaan en Oupa Gert skud die assies versigtig af. Hy steek die pyp weer op en blaas sulke dik bolle rook die lug in. “Die geweeklaag was nogal vêr, maar ek kon hoor dit was ‘n dier in pyn. Versigtig het ek deur die ruie bos beweeg en skielik het daar ‘n olifantbul reg voor my gestaan. ‘n Reus van ‘n dier met tande van hier tot doer,” en Oupa Gert beduie tot in die hoek waar die ou sideboard staan. Dis ongeveer vier meter van hom af. “Maggies Oemie!!” sê Oom Martiens met ontsag en die adamsappel bons op en af soos ‘n tennisbal op Wimbledon se hoofbaan. Na ‘n paar trekke aan die pyp hervat Oupa Gert sy storie. “Die olifant kyk vir my en ek vir hom. Stadig, baie stadig sit ek my geweer teen ‘n boomstomp neer. Saggies praat ek met die dier. Ek sien hy bly met sy slurp aan sy een voorpoot vat en ek besef die poot moet seker ondraaglik seer wees. Nadat ek die geweer neergesit het, wys ek hom my hande is leeg, en jy sal my nou nie glo nie Martiens; ek stap stadig nader terwyl ek saggies praat en die olifant laat my toe om aan hom te vat.” “Oemie!?” sê oom Martiens en die adamsappel wip tot teen die plafon. “Ek vat sy voorpoot en lig dit half op. Toe die olifant besef ek is besig om hom te help, tel hy sy poot hoog genoeg op sodat ek kan sien wat aangaan. Toe sal ek sien dat daar ‘n stok omtrent so dik soos ‘n piksteel in sy poot afgebreek het. Die hele poot is toe die ene versweersel. Ek het my jagmes gevat en baie versigtig die stuk stok daar uitgesukkel en die poot skoongemaak met my laaste drinkwater. Terwyl ek besig was, het die olifant die hele tyd met sy slurp oral oor my lyf geruik. Jy weet, Martiens, toe ek klaar was, toe vat daardie olifant my met sy slurp en hy druk my styf teen hom vas asof hy wou dankie sê!” “Oemie!!” En die adamsappel wip by die voordeur uit die hemelruim in.

“Jare later, baie jare later, toe het ek gesien hoe goed ‘n olifant se geheue is. Die sirkus was in die dorp en ek het kaartjies gekoop. Sommer Sikspens kaartjies. Die rykes het heel voor teen die arena in die tien Sjieling plekke gesit. Alles het goed gegaan; tot die olifante ingekom het. Heel voor was daar ‘n groot olifant. Martiens, as ek sê groot, dan bedoel ek gróót. Massief groot. ‘n Reusagtige dier. Met tande van hier tot doer. Toe daardie olifant in die arena inkom, trompetter hy en hy gaan staan op sy agterpote.” Ek kry hoendervleis. “Skielik gaan staan hy stil en druk sy slurp die lug in. Aandagtig staan hy daar en ruik in alle rigtings. Toe stap hy uit daardie arena uit tot hier voor my en hy trompetter dat my ore tuit. Jy sal my nou nie glo nie, maar daardie olifant haal my daar uit daardie Sikspens sitplek uit en dra my tot in die tien Sjieling plekke en sit my versigtig neer. Die mense klap hande en juig my toe asof ek ‘n vreeslike held is, maar die regte storie ken hulle natuurlik toe nie. Dis toe al die tyd die olifant van neëntien ag en veertig in Suid Wes. Kan jy glo!” “Maggies Oemie!!” “Kom ons loop ‘n draai,” sê Oupa Gert en staan op. Die mans stap op ‘n streep by die sitkamer uit en gaan doen wat groot ooms doen as hulle uitstap. Ons kleintjies gaan maar toilet toe wat.

Toe hulle terugkom, is die koffie reeds klaar en die koekies lê ‘n bord vol. Terwyl ons so sit, sê Oom Martiens: “Ek kan nie so mooi onthou nie, maar ek hoor mos die storie van die ou wat doer bo in Suid Wes gaan jag het. Julle kan maar vir Malie vra, daar sit sy.”

Ek verstik in my koekie.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 13
Kommentaar telling: 0

Ek is gebore in Brits, Noord Wes provinsie en het hier skoolgegaan.  Getroud met Ilse.  2 Kinders, Danie en Jacqueline.  Skryf Tert stories vir Brits/Harties Gateway, 'n maandelikse advertensieblad.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 123 gaste aanlyn

Bydrae Totale