Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: TERRORISME

Deur Toom
Datum gepubliseer: 11 April 2018 Aantal woorde: 776 1073 Kere gelees 4

TERRORISME OOR DIE HELE WÊRELD

[Hierdie stuk is al vyftien jare oud, maar dis grotendeels netso aktueel soos destyds. Ons moet net ‘n paar name uitruil – en dis vris en nuut: Trump in stede van Bush en May pleks Blair en die aantal jare verander. Of hoe? Buitendien het ek nog ‘n stukkie agteraan aangehang.]

Die stryd teen terrorisme word nie op die slagveld met wapengeweld gevoer nie. Eers reg nie gewen nie. Dit moet ‘n politiese oorwinning wees, nie ‘n militêrse nie. Was dit nie Generaal Magnus Malan wat uit Angola teruggekeer het, en sy minister min of meer dieselfde gesê het nie? Om die dertig jaar gelede (noual veertig, vyftig jare – tje 2018). Van daar aan het die regeringsbeleid stadigaan begin verander totdat die wette in die parlement een vir een van diskriminasie-klousules gesuiwer is, en die nuwe tydgees het langsaam vorm begin aaneem. Samesprekinge is met die aanvoerders van die terroriste en saboteurs gevoer; die aangehoudenes is vrygelaat, die eerste verkiesing is gehou, die nuwe staatspresident en die nuwe regerende party is ingesweer. Dit was ‘n moeilike en vir baie mense ‘n bange tyd.

Dàn eers het ‘n soort normaliteit begin plek inneem, ‘n normaliteit wat nog altyd op seer onsekere voete waggel. Maar ‘n normaliteit wat na standvastigheid streef.

Die ou bedeling het die nuwe ‘n suiwer wetboek nagelaat en hom uit die kussings teruggetrek, met knersende tande waarskynlik; en die nuwe bedeling het sy ondersteuners verspreek dat hulle dadelik ‘n beter lewe gaan geniet – hemel op aarde, sê siniese mense – en het versoek om dit in dade om te set. Hoe suksesvol dit was, staan op ‘n ander blad. Maar so het één oplossing vir ‘n politiese skaakmat afgeloop. Die voorafgaande burgeroorlog met bloedvergieting en lewensverlies het solang aangehou tot die wapens neergelê is, en dit het verdere tien of twintig jare kon aanhou – totdat die wapens uit hulle uitgeputte en uitgeteerde hande geval het.

Om die toestand in Irak, Afghanistan, Palestina, Sri Lanka – of oral op die wêreld – te verander, moet die mènse en hulle organisasies nie beveg word nie, maar hulle lewensomstandighede, want dis die gedagtes, die idees, die ideale, ja die drome wat selfs eeuelank leef en leef en aanhou leef, soos ons byvoorbeeld in Ierland (Battle of the Bovne) en Serbië (Amselfelde) nog kan sien.

Dis oral bekend dat die stryd teen armoede met kos en klere, behuising en warmte te bekryg is en nie met polisie-klopjagte of kanonsalvo’s nie. En oral op die wêreld word die ene nie gedaan nie en die andere toegelaat; en die arm kinders van die arm tronkvoëls steel ook. Oral op die wêreld. Kort voor lang steel hulle nie net brood nie. Ons weet dit, ons het dit dog gesien.

Ons sien dit daagliks.

Die liefde sien alles, bedek alles, verdra alles, sê Paulus.

Dit is die werktuig van die vredestigter. En die liefde kan nie met wapengeweld afgedwing word nie. ‘n Mens wat vrede wil afdwing, bring ‘n skynvrede tot stand: Hy bewys sy sterkte deur kragdadige optrede en verkneg diegene onder sy beheer; hy breek hul weerstand met kras wette en onverbiddelike polisie­teenwoordigheid; hy duld geen afwyking nie en tree op met zero tolerance. Ken ons nie hierdie toestand uit ons eie geskiedenis nie? Is daar niemand wat die edelagbare George Doubleyou dit kan verklaar nie? Of sy diensmaag Tony Doubleyou? Dit lyk of ons nog ‘n tydlank met hierdie sogenoemde politikusse opgeskeep gaan sit, dus móét iemand sy kop in die leeu se hok inwaag om hulle dit te sê.

Is daar iemand wat die hoogste „politiese diere” dit kan verklaar: Dat haat en nyd slegs met liefde en toeneiging verslaan kan word? Jy? Ek? Wie?

Paulus miskien? (2005)

Aanhangsel, 2018:

So is dit ook vandag. Iemand kan sê dat dit deesdae in Suid-Afrika in die ander rigting oorgeslaan het. Maar die prinsiep bly staan: Om vrede in die Midde-Ooste te stig, moet die mense aan ‘n ronde tafel gebring word om dit uit te pluis, om te begryp waarom dit gaan, om die teenstaander se gesigs­punt te leer ken en om van voraf ‘n nuwe bedeling in te lei. Dit verg ‘n koel kop, onderdrukking van die eie hitsige gevoelens en onder omstandighede afstanddoen van liefgeworde aansigte.

By ons kon mens sê dat dit niks gebring het nie – kyk na die plaas­moorde. Ek het geleer dat ek van niemand iets (kan) verwag nie. Ek kan iets graag wil hê, kan hoop, daarna verlang, kan wens, ek kan bid. Maar ek kan niks afdwing nie, slegs met goeie voorbeeld vorangaan.

Vra maar vir Paulus.

©.11.April2018_________…ooÖoo…_____________.tje




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    12 April 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2018 – Paasfees projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 207
Kommentaar telling: 209

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 95 gaste aanlyn

Bydrae Totale