Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Tekkie tone

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 4 Julie 2019 Aantal woorde: 492 288 Kere gelees 1

Wie hou nou nie daarvan om skoene persent te kry nie. My dogter trek en gooi uit. Sy weet. Onse voetjies is pasmaats. Dit wat sy nie meer wil hê nie, kom na ma toe en vica versa. So land daar ‘n paar pienk tekkies in die skoendoos.

Ek sit plat op my agterstewe in haar kamerdeur. Manlief is nog besig om tasse en oornagbegasie uit die motor te laai. Ek snuffel deur die geskenkdoos. Sexy swart hakkies waarop ek my nek kan breek. Armbande, hangertjies, my oog vang ‘n paar ragfyn strepies. Ek maak die deksel eerder toe vir later. “Kom julle ons moet die honde uitsorteer. Die pitbulle sal ontbyt maak van die arme worshond.” Ek vlieg op en sukkel vinnig oor al die bagasie na buite.

Gelukkig kan ons die erf in dele verdeel. Ek pak vinnig houtpalette voor die kant hek. Die sy hek kry ‘n hele paar stewige staal plate. Een simpel hoekie moet ek met behulp van ‘n houtbladjie bedek. Hopelik hou dit. Ek maak worsie se drakas oop. Hy dink dis kersfees. Piepie seker ‘n volle tien minute op een plek. Arme hond. Die katjies word in die agterkamer vry gelaat. Ek tel my eie worshond oor die heining. “Kom Dash, hier is vir jou ‘n maaitjie.” Die twee worsies snuffel en meet mekaar. Dan rol hulle soos twee uitgelate kinders in die dooi gras.

Skoonseun besluit om ‘n breuk te vat. Ek neem weer stelling in op die vloer. My oudste pak uit. Ons gesels en deel raad uit oor die nuwe huis. Ek glip die pienk tekkies aan my voete. My hart vries. Die harde stampgeluid kan net een ding beteken. Ek vlieg soos ‘n springhaas op steroids orent. Moet nooit, nooit met nuwe skoene probeer hardloop nie. My huis se vloere is geteel. My nuwe tekkies glad. Ek hap lug met my hande. Ek glyval rakelings verby die rakkie teen die gang muur. Hak my vingers om die kombuis deur en drift soos ‘n wafferse Schumacher in derde rat by die huis uit. Sit worsie mos skeefkoppie vir my en kyk. “Is jy mal ou vrou?”

Die houtbladjie lê eenkant. My worshond speel aan die ander kant van die hek met sy pitboel broers. Hy het genoeg gehad van kruiwa-kruiwa speel. Agtergekom dis die verkeerde span en besluit om liewer terug te gaan na sy familie toe. Die spasie tussen die palisade is net groot genoeg vir sy tenger lyf om deur te glip. Genade op genade het Dash hom nie gevolg nie. Ek beweeg nou liewer ligvoets verder. Verstewig die houtblad en sluip terug kamer toe. Oudste lê en verstik op die bed. “Is jy ok?” Sy skep asem. “Ma kan vinnig val vir iemand met ‘n heup probleem. Is MA ok? Skuus ek moes ma nog sê, die tekkies se sole is baie glad.” Sy krimp weer ineen van die lag. Ja verstik jou pes, more lag ek vir jou.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 34
Kommentaar telling: 20

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 126 gaste aanlyn

Bydrae Totale