Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Teedrink by Ouma

Deur Ela
Datum gepubliseer: 18 Maart 2019 Aantal woorde: 1179 200 Kere gelees 2

Teedrink by Ouma

“Rita, jy gaan laat wees vir werk, toe, opstaan!”
“Dis my afdag, Ma,” kreun haar slaapstem. Rita kruip dieper onder die duvet in.
“O gaaf, dan kan jy by jou ouma ’n draai gaan maak. Ek moes vir haar medisyne neem, maar ek is seker sy sal bly wees om haar enigste kleinkind vir ’n rukkie vir haarself te hê.
Rita kreun, kruip dan onwillig tot op die kant van die bed. Haar oë is nog toe. Die son se warm strale streel oor haar gesig.
“Ag, ja, dan is dit so. Koebaai afdag!” Met ’n sug trek sy aan vir haar besoek aan haar ouma.
In die kombuis staan Rita se ma granate en ontpit. Die skotteltjie voor haar is al mooi vol van die bloedrooi granaatpitte.
“Hier is ’n paar beskuitjies vir haar en moenie die granaatpitte vergeet nie. Sy is so lief daarvoor.”
Die bloedrooi pitte en die houer met beskuitjies verdwyn saam in Rita se rugsak. Met ’n gesmoorde sug swaai sy die rugsak op haar rug.
“Nou ja, dan gaan ek maar eers.”
“Wees versigtig en moet nou nie die kortpad volg nie. Al is dit hoe veilig, ’n mens weet nooit watter karakters loop in die parkie rond nie. Bly op die sypaadjie.”
“Ja, Ma.” Met ’n sug stap Rita buitentoe en laat die deur moedswillig toeslaan.
Dit is ’n lieflike oggend. Die sementpaadjie na Ouma se skakelhuisie, een van ses, kronkel langs ’n pragtige park verby. Ma Tersia het nou wel mooi gevra dat sy eerder op die sypaadjie bly, maar die park is so mooi hierdie tyd van die jaar. Dit sal heerlik wees om rustig deur die park te wandel. Dalk kan sy tog op die manier so ’n stukkie van haar afdag rustig deurbring. Wat sal dan tog nou verkeerd gaan, dis helder oordag!
Rita verkyk haar aan die plante in blom, die geilheid van die varings. Die voëltjies is net baie stil. Vreemd. Hier is gewoonlik ’n massa verevolk wat wedywer om gehoor te word.
Meteens val ’n hand op haar skouer.
“Hallo, mooi ding, en waar loop jy helder oordag rond? So ’n jong dingetjie, moet jy nie by die skool wees nie?”
Rita skrik haar yskoud. Sy kyk om. Die man se oë is emosieloos, sy mond slegs ’n dun spleet. Sy lang haarslierte hang op sy skouers.
“Dit het niks met jou te doen nie. Los my uit.” Vol bravade probeer Rita sy hand afskud. Ineens versterk die man se greep. Sy amper-swart oë glim ’n vreemde lig. ’n Beangste gevoel neem van Rita besit. Iets is nie pluis nie. Hierdie man beplan iets boos. Sy moet wegkom! Sy probeer losruk.
“Nie so haastig nie, poppie. Ek kan mos maar saamstap, of hoe?” Hy stoot Rita voor hom uit.
“Hm, mooi ou lyfie, net reg vir vat.” Sy hande gly oor Rita se heupe. “Ek is hoeka lus vir ’n happie sagte vroulikheid.”
Die volgende oomblik word Rita ru op die grond neergegooi. Die vreemdeling is dadelik bo-op haar, die dooie oë van netnou nou baie na aan hare en glansend van wellus. Sy knyp haar eie oë toe.
“Nee, maak oop daai blou ogies, poppie. Ons gaan mos pret hê en ek wil sien hoe jy dit geniet!”
Rita byt op haar lip, kners op haar tande. Sy weet sy moet ontspan. Om nou te begin skop en skree, gaan moontlik net haar dood beteken. Sy proe die bloed in haar mond, voel die afgryslike waarheid wat met haar lyf gebeur in elke greintjie van haar wese, tot binne-in haar siel. Ag, Ouma, ek kom, ek bring jou medisyne en beskuitjies. Granaatpitte ook, Ouma, sappige bloedrooies. Wag vir my, Ouma, ek is nou daar. Ons gaan saam tee drink, eina dis so bitterlik seer, ek voel vuil, Ouma, verneder. Hoekom sy? Hoekom, Ouma, Ma waar is julle?
Na ’n ewigheid staan die vreemdeling op, skud sy klere reg. Hy trap haar met sy een voet in die grond vas. Sy bly gelate lê, verneder, geknak. Sy kan in elk geval nie haar bene vertrou nie. Haar onderlyf brand soos vuur en net haar vrees onderdruk die histerie wat dreig om na die oppervlak te borrel.
“Bly jy nou maar net daar lê, dingetjie, tot ek weg is. En dit het nie gebeur nie, nê? Ek weet waar om jou te kry, waar jou huis is. So hou jou mondjie tjoepstiltoe. En o ja, dankie vir die afleiding!”
Die man verdwyn tussen die struike. Laat hy tog aanhou stap, asseblief. Sy sal liewer doodgaan as om weer ’n keer deur hierdie lewende hel te gaan. Ouma, wag vir my, ek kom, ek bring vir jou beskuitjies en granaatpitte.
Lank nadat die man tussen die bosse verdwyn het, lê Rita nog doodstil op haar martelbed van gras en struike. Die trane het lankal die wyk geneem. Sy voel leeg. Sy sien nie kans om op te staan nie. En as sy opstaan, waar gaan sy heen? Vir wie vertel sy van hierdie geweldige vernedering aan haar lyf, haar siel?
Toe sy seker is sy kan haar bene vertrou, kom Rita pynlik en bewerig orent. Sy besef opnuut dat die gebeure ’n werklikheid was. Eers dan kom die trane. Huilend strompel sy verder tussen die struike deur. Die voëltjies swyg steeds, stille toehoorders van ’n wrede en onmenslike daad.
Van ver af sien Rita die ry skakelhuisies waar haar ouma woon. As sy kon, sou sy haarself in ’n drafstappie verder gedwing het. Vinnig, na veiligheid; Ouma se huis. Rita probeer so loop dat niemand haar pyn sal sien nie. Net Ouma kan maar sien, want sy sal verstaan. Ouma se wysheid is so wyd soos die Heer se skepping. Sy sal smaaklik en rustig die een granaatpit na die ander in haar mond sit, dit met haar tong rol en dan sluk. Net so rustig deel sy gewoonlik haar lewensjuweeltjies met haar geliefde kleindogter. Vandag sal ook nie anders wees nie. Ma het juis die mooiste pitte uitgesoek.
Rita sukkel die twee trappies op. Haar bene protesteer steeds, die pyn is effens minder, maar die onthou van die afgryslike daad wat met haar gebeur het, maak haar siek. Sy is naar, skaam, verneder.
Alles lyk so doodgewoon, rustig en alledaags. Die buurvrou krap in haar tuintjie tussen haar dahlias, die buurman aan die anderkant sit rustig op sy stoep ’n uiltjie en knip. Ouma is seker binne besig om koekies te bak, of sit in die sonnetjie met ’n hekelwerkie. Soos altyd.
Sy voel skielik ’n vreemde ongemaklikheid, ’n bangheid. Iets is nie pluis nie.
Rita maak die deur oop en stap die huisie binne. Dan versteen sy.
“Hallo, mooi ding, nog nie genoeg gehad nie? A, het jy vir ouma kom kuier? Dis goed so. Kom binne, poppie, ek is reg vir nog ’n rondte.
Rita se oë dartel van links na regs deur die klein vertrekkie, op soek na Ouma. Dan sien sy dit en haar hart stol in haar keel.
Bloed, so rooi soos granaatpitte …

©Bets Koen
12 Maart 2019




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    19 Maart 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 9
Kommentaar telling: 2

Drie bundels gepubliseer, verskeie verhale en essays in gesamentlike bundels, verhale gepubliseer in Vrouekeur en Kuier  

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 75 gaste aanlyn

Bydrae Totale