Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Tamatieguts

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 31 Augustus 2019 Aantal woorde: 653 232 Kere gelees 2

Het jy al ooit tamatieguts gesien?
Vandag, op die laaste dag van vrouemaand, is die dag waarop ek en my vriendin leer skiet.
Nee, dit is verkeerd. Ek het al geleer skiet (sy ook; met die boog). As klein dogtertjie het ek vroeg al geleer om met ’n oop visier aan te lê en te korrel; die teiken gewoonlik ’n koeldrankblikkie met rooi ystergrond gevul en staan gemaak teen die wal net voor die ou asgat. Regs daarvan die voorste kamp waar die beeste geduldig gewag het dat Oupa hulle moes melk. Links ’n vrugteboord met sitrus en ’n verdwaalde koejawelboom.
Thabazimbi is altyd warm. Amper soos hierdie lentedag. Dit is nog nie eers September nie en die temperature draai al vir weke in die hoë twintigs.
Dit is hoe ek dit verkies. Êrens tussen kinderdae in die Bosveld en ’n paar jaar in die Laeveld het my liggaam lief geraak vir die hitte van die somer. Dit is asof dit al is wanneer ek ’n persoonlikheid het.
Vandag se opwinding deel ek met my vriendin. Al wat mansvriend en kennis is, is altyd aant jag en nou wil ons dit ook probeer. Maar eers moet ons kan skiet. Ráák kan skiet. Te veel bloed en lyding is nie wat ons in gedagte het nie. Die bokkie moet darem onmiddelik val.
’n Vriend van haar het aangebied om vir ons ’n kursus in basiese vuurwapenhantering en tegniek te gee. Hy bring sy korrelgeweer (pellet gun; ek moes dit ook nou eers opsoek … en die Afrikaans klink net soveel meer asof ons nie leuke is nie!), ’n gazebo, ’n waterbottel vir elk en een van daai Jungle energiestafies —ons dames word goed na gekyk en lekker bederf.
Hoe insiggewend, in my lewe het ek nog nooit so baie geleer van skiet as wat ek vandag het nie.
Ons eerste teiken was swart blokkies op ’n kartondoos. Ons het elkeen ons eie blokkie gehad en dit was maklik om te kies wie watter blokkie kry want ek skiet links en Sarina skiet regs. En toe vlieg die klein loodpatroontjies ewe egalig in die stuk karton vas. Nie in die swart blokkies nie, maar darem op die groot bruin reghoek, eintlik net so duskant bo en langs die swart blokkies. En nadat ek geleer het hoe dit werk, kan ek met selfvertroue verkondig: ons groeperings het mooi gelyk.
Ons het ’n paar rondtes (sien julle die vuurwapentaalgebruik) op die blokkies afgevuur —elke keer nader en darem ’n keer of wat mooi op die teiken.
Toe is dit vervelig. ’n Knaap het kom pronk en op ’n ysterdingetjie wat ’n mens ’n silhoeët noem, gevuur. Die “ping” was musiek in ons ore. Ons wil ook!
Die blokkies vergete, het ons op die ysterteiken gemik. Die satisfaksie elke maal wanneer ons daardie lood-teen-yster-geluidjie hoor, was onge-ewenaar. Ons het gevoel soos wenners … en gelyk soos hoërskoolmeisies by ’n Justin Bieber konsert elke keer as die yster “ping” vir ons sing.
Ons instrukteur-vriend, heel in sy noppies met sy goeie studente (of dalk eerder sy goeie vaardigheid as leermeester) het aan ons die volgende uitdaging gestel: tamaties op tandestokkies aan die kant van die boks. (Ek weet nie hoe om die sin meer dramaties te laat klink nie, so gebruik asb jou verbeelding —jy kan selfs ’n “dam dam dam” byvoeg vir ekstra effek).
Ons was reg vir aksie.
Dit is alom bekend dat mans graag biltong uitdeel en tussen monde vol mompel dat dit ’n bok is wat hy self geskiet het. Die ander smul gewoonlik lekker saam en deel komplimente uit. Ek wonder vlugtig of ek ook sal kan noem dat ek my slaai self geskiet het, maar besef gou dat dit waarskynlik nie dieselfde reaksie sal uitlok nie. Kom ons wag eerder vir daai rooibokkie oor ’n paar weke voordat ons daardie uitlating maak …
Maar vir nou is ek heel trots op my tamatieguts!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 22
Kommentaar telling: 7

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 126 gaste aanlyn

Bydrae Totale